Liefde sonder hawe. Annelize Morgan
knik en ander skud hulle koppe. Niemand het dit al ooit in soveel woorde vir hulle gesê nie, maar hulle het wel ’n idee gehad dat dit die geval is.
“En het julle hom al gesien?” vra Lorenzo.
Weer skud die koppe.
“Julle spul skape! As julle hom sien, is dit reeds te laat! Dan word julle doodgemaak!”
Hulle antwoord nie, en Filipe gaan staan voor Lorenzo. Die littekens op sy wang gee sy gesig ’n uitdrukking van groter woede as wat hy in werklikheid voel.
“Niemand bevraagteken dit dat die skip aan jou behoort nie, Lorenzo, maar niemand het verwag dat jy sou terugkom nie. Ek was vyftien jaar lank die kaptein van die skip, en ons het nie te sleg gevaar nie.”
Lorenzo se oë vernou.
“O, jý is die kaptein? Miskien het jy gehoop ek is dood sodat jy die skip vir die res van jou lewe kon kry! Wel, ek het duur daarvoor betaal en ek gaan dit nie aan jou afgee nie!”
Hy kyk om na die ander. “En enigeen wat die skip wil verlaat of my hier wil wegdryf, sal ek persoonlik doodmaak! Het julle my gehoor?”
Nie een van die klomp weet wat om te sê nie. Hulle weet hoe wreedaardig Lorenzo kan wees, en dus besluit hulle om eers lafhartig die aftog te blaas. Eintlik kan hulle nie op mekaar reken nie, want vir ’n frank sal hulle mekaar verraai. In werklikheid is die skip nog Lorenzo s’n en het Filipe nie besitreg daarop nie.
“Dis beter!” sis Lorenzo.
Dan draai hy om na Filipe. “En as jy wil skoert, kan jy skoert, maar die merrie bly.”
“Sy … sy is nie ’n merrie nie, sy is ’n dame,” stamel Jean in protes.
“En wie is jy?” wil Lorenzo weet. “Ek ken nie jou gesig nie.”
“Ek is Jean.”
“Onthou een ding op hierdie skip, seuntjie: jy praat net met my as ek met jóú gepraat het. En dan ook net as jy iets te sê het. Ek weet wie hierdie vroumens is, baie beter as wat jy ooit sal weet. En as ek vir jou sê sy is gemors, dan sê jy ook sy is gemors.”
Solita draai skielik om en stap terug na die loopplank.
“Waar dink jy gaan jy heen?” wil Lorenzo weet.
“Ek gaan nie langer op hierdie skip bly nie!” kap sy terug, draai om en loop verder.
Die volgende oomblik tref ’n leë teeremmer haar vol in die rug. Sy verloor haar balans en val hard op die dek.
“Het jy nou mal geword?” skreeu sy op Lorenzo toe sy opstaan.
“Jy sal bly! Gee haar ’n bal en ketting!” Hy beduie na die naaste manne by hom. “Toe, vir wat staan julle en wag? Gryp haar en ketting haar vas!”
Dis te laat vir Solita om weg te kom, maar sy probeer nogtans. Hulle loop haar op die kaai in en sleep haar terug na die skip. Daar word ’n swaar ysterbal met ’n ketting om haar enkel vasgemaak. Verslae staar sy daarna. Dit sal nou vir haar baie moeilik wees om te ontsnap.
Selfverwyt gaan haar vir die res van haar lewe volg, weet sy. Waarom het sy nie twee of drie jaar gelede al padgegee nie? Al die tyd het sy by Filipe gebly, want hy het goed vir haar gesorg en sy was op ’n manier gelukkig op die skip. Eenkeer het hy haar selfs na die winkeltjies in Marseilles geneem en vir haar geld gegee om iets moois vir haar te koop. Daardie dag het sy gevoel dat sy weer ’n pa gekry het.
Nou staan sy met ’n ysterring om haar enkel wat sy nie kan afhaal nie. En as sy ’n jaar gelede van die skip af padgegee het? Wat sou van haar geword het? Al het Jean saam met haar gekom, waarheen sou hulle gaan? Nie een van hulle het geld nie, en hulle weet niks van boerdery af nie.
Sy was al te veel kere in herberge en op die markte om te besef dat die meeste mense hulle lewe in armoede en ellende slyt. Dis ’n wonderwerk as enigeen bo dit kan uitstyg. Die skip was vir haar ’n uitweg om meer as ’n versukkelde, armoedige mens te wees. Die bietjie geld wat sy gekry het, het sy probeer spaar … En wat help dit haar nou?
Lorenzo verskreeu die manne en jaag hulle rond om alles op die skip te kry soos wat hy daarvan hou. Filipe probeer met die man redeneer, maar Lorenzo wil niks weet nie.
Dan kom Filipe na haar.
“Ek is bang dat as ek hom te kwaad maak, jaag hy my van die skip af en dan kan ek jou nie meer beskerm nie. Wees geduldig, kleintjie, ek sal jou uit hierdie gemors kry. Laat vandag net verbygaan. Môre sal nuwe hoop bring.”
Sy knik net en dink aan die dagbreek en wat dit vandág vir haar gebring het.
“Haai! Lorenzo!” roep ’n vrou van die kaai se kant af. Sy staan met haar hande in haar sye, haar sigeunerromp eenkant opgevat en vasgesteek sodat die valletjies-en-kantonderrok uitsteek. Haar blonde hare hang in krulle los oor haar skouers, maar die groot ringe aan haar ore is steeds duidelik sigbaar. Sy hou ’n sakkie in haar een hand vas.
“Esmeralda!” roep hy terug en lag dawerend, Solita vir die oomblik vergete. “Jy bly maar ’n vreugde vir die oog!”
Van die bemanning kry ’n gretige grynslag op hulle gesig, maar Lorenzo skel op hulle: “Julle varke! Sy is nie daardie soort meisie nie!”
Esmeralda is die ouderdom wat sy nie meer as ’n meisie beskryf kan word nie, alhoewel sy hard probeer om koketterig te lyk. Haar wange en lippe is ’n bietjie te rooi en haar oë te swart gesmeer.
“Kan ek aan boord kom?” vra sy met haar donker, sensuele stem.
“Skatlam, dit sal ons volgende keer moet doen!” roep hy terug. “Hierdie manne het my jare laas gesien en hulle het vergeet watter soort vark ek is! Oor ’n paar weke is ons terug en dan kom soek ek jou op!”
Hy lag weer luidrugtig, wuif vir haar en vergeet dat sy op die kaai staan toe hy omdraai om sy woede verder ongesteurd op sy bemanning uit te haal.
Solita kyk na die vrou op die kaai. Sy moes eens op ’n tyd mooi gewees het, maar die lewe het haar sleg behandel en sy lyk moeg, lewensmoeg. En sy wonder of sy ook eendag só gaan lyk.
Lorenzo dring daarop aan dat Solita hom moet bedien, maar sy kan nie, want sy moet die ysterbal agternasleep. Sy sleep moedswillig swaar daaraan in die hoop dat hy die idee sal laat vaar, maar Lorenzo is nie die soort wat ’n plan ligtelik laat vaar nie.
Met dagbreek die volgende oggend vaar hulle saam met die gety uit en hy laat toe dat Filipe die ketting van haar enkel afhaal.
“Maar as ons ’n hawe nader, word dit weer teruggesit!” sis hy en gluur haar aan. “Hier kan jy maar probeer wegkom, want dis net water om ons, maar in die hawens sal jy op die skip bly.”
Die vorige nag het hy tot laat in die nanag by die rumbottel gekuier. Om nou nog op sy voete te wees is nogal ’n prestasie, dink sy, maar sy sê niks en antwoord hom ook nie. Vanoggend is haar gemoed baie swaar.
Hy swaai op sy hakke om en skreeu op Jean om kraaines toe te gaan.
“En rapporteer elke siel wat jy sien! As ons ons in Armand du Bois vasloop, sal dit jou skuld wees en dan gaan ek jou vir die haaie voer!”
Filipe kom staan by Solita. “Jy moet die rok maar uittrek, want dit sal vuil word.”
Lorenzo het gehoor wat hy sê. “Sy hou die rok aan!”
“Sy kan nie,” sê Filipe koppig. “Sy moet dit aantrek wanneer sy met die handelaar in Marseilles gaan praat. Sy kry vir ons baie geld vir ons ware.”
Die kaptein se oë vernou toe hy haar aangluur. “Sy sal weghardloop.”
“As jy haar goed behandel, sal sy dit nie doen nie.”
Daar is ’n stilte tussen hulle wat met ’n mes gesny kan word. Solita hou haar neutraal, maar dis moeilik met Lorenzo wat haar met woede en afsku aangluur. Sy kan sy haat vir haar nie begryp nie, want sy het hom nog nooit iets aangedoen nie. Al waaraan sy kan dink wat hom so teenoor haar laat optree, is die besoeke wat haar pa van