Pirouette. Aniel Botha
p>
pirouette
Aniel Botha
Queillerie
Vir my ouers
I
Brisé
Selfportret
Asimmetriese kontoere
sper die gesig af.
’n Ongelukstoneel.
Wange onherstelbaar
ingeduik, die neus
’n skeefgetrekte wrak.
Skerwe glas blink
op die dowwe vel.
Bokant die ken
’n gapende wond
waaruit woorde
onkeerbaar bloei.
Aan skerwe
Daardie aand voor die opwasbak
het die geërfde Noritake-bord
uit my onbeholpe hande gegly.
Hy was lankal gekraak – dié bord.
Die duisend stukkies op die vloer
bloot ’n kwessie van tyd.
Haastig, voor jy tuis kom, het ek
die bewyse opgevee, toegeknoop
in ’n plastieksak en weggesmyt . . .
Toe self geval en gebreek, dié keer
die skerwe net daar gelos vir jóú
om in ’n plastieksak toe te knoop.
Voorskrif
Neem drie maal per dag, of soos nodig,
’n wilsbesluit, los op in water en drink
op ’n leë maag. Vermy alle suiker,
sout, stysel, supermarkte, restaurante,
slaaisouse, bakkerye en sosiale
kontak. Vir vinniger resultate,
neem in samewerking met sigarette
en bekers vol bitter swart koffie.
Newe-effekte mag insluit
(maar is nie beperk tot):
hallusinasies en nagmerries
van demoniese dekadensies en
pruttende kastrolle kalorieë.
Antisosiale gedrag, angstigheid,
kroniese koue en gewetenlose
leuens kom algemeen voor.
Wees ook op die uitkyk vir
neerslagtigheid, haar-
en gewigsverlies. Staak
onmiddellik in die geval van
lewensverlies.
Bel ’n loodgieter:
die pype is stukkend,
my oë lek.
My hart is ’n geroeste
geiser, die water
so koud ek wil vrek.
Bome kan nie voel nie,
want ’n boom het nie ’n siel
nie, het Pa verduidelik
toe hy die wilde olyf
in die voortuin se skurwe
takke afgesaag het.
Deesdae is ek ook hard,
nes boombas. En leeg:
’n uitgeholde stomp.
Maar niks is ook iets
en soms is dit seerder
om nié seer te kry nie.
Nou weet ek: Pa’s lieg
en bome kan voel.
Game over
Liefde was kinderspeletjies:
sandkastele bou
en modderkoekies bak,
jy hou van my, ek hou van jou.
Ons verloor die spel: son
bak modder tot droë sand,
see eet kastele, spoeg
bamboes uit op die strand.
Maaltyd
Stukkie son,
skyfie maan,
happie hemel
bied jy aan.
Ek sit voor:
skeutjie smart,
proesel verwyt,
bloed, derms, hart.
Woordvraat
Ek gaan na my Woensdagaandgroep
vir eetversteurdes.
Eet! weerklink dit uit die krimpende kring.
Eet! dreig hul honger monde my.
Ek éét, wil ek sê, ek is ’n smulpaap,
’n vraat, ek vergryp my aan woorde.
Dan raak ek aan die slaap, prut
verse in die slow cooker van my drome,
fees tot ligdag toe, braak gal op papier.
Ek éét, wil ek sê, maar ek bly stil,
want hul hol oë eet my woorde op.
Spieëlskrif
Spieëltjie, spieëltjie aan die wand,
sien jy hierdie pen in my hand?
En sien jy my woorde soos skerwe glas
wat breek en sny en stukkend kerf?
Sien jy hierdie pen? In my hand
is ’n spieëlsaal vol leuens
wat breek en sny en stukkend kerf.
My verse is spieëlglad en penskerp,
’n spieëlsaal vol leuens,
weerkaatsings van weerkaatsings.
My verse is die spieëlgladde, penskerp
dubbelskrif aan die muur,
weerkaatsings van weerkaatsings
van spieëltjies, spieëltjies aan die wand.
Die dubbelskrif is aan die muur.
Sien jy? My woorde is skerwe glas.
Wond
Lem die jas van sagte vel oop,
ontbloot ’n vermiljoen kleed: suiwer bloed-
snyerspakkie ten duurste gekoop,
ragfyn steke wat die nate perfek
heg, jongste modegier om
die letsels in die skaamlyf te bedek.
Snags staan sy voor die spieël, naak
voor die eeue oue wond: doodskleed
waarvan