Jesus Christus en ons lewe in hom. Johan Malan
Jesus kennis te neem, want dan kan ons teen verskralings en vervalsings daarvan waak.
Persone of Christelike groepe wat ondanks hierdie feite voortgaan om net Hebreeuse weergawes van eiename en plekname te gebruik, en selfs die Bybel so oor te vertaal[3], is met ’n onnodige aksie van hebraïsering besig. Daar is verskeie slaggate op hierdie pad, insluitend ’n wettiese verlossingsleer en lewenswyse volgens die Tora, die onderhouding van Joodse feesdae (insluitend die Ou-Testamentiese Sabbat) en selfs die ontkenning van die drie-eenheidsleer.
God die Seun
Voordat die name en ampte van die Here Jesus bespreek word, sou dit raadsaam wees om eers ’n baie duidelike, Nuwe-Testamentiese stelling te maak oor sy Godheid en ewige selfbestaan. Die uiteensetting in Hebreërs 1 is baie nuttig vir hierdie doel. Die sendbrief aan die Hebreërs is heel waarskynlik deur Paulus geskryf aan Joodse gelowiges, wat onder sterk druk van ander Jode was om hul Christelike belydenis te laat vaar en na die geloof van hul voorvaders terug te keer. Onder die ortodokse Jode was geloof in Jesus Christus as God die Seun en ook Koning van Israel, een van die aansprake wat hoogs omstrede en vir hulle totaal verwerplik was. Dit is vandag nog so. Met die oog op die toenemende weerstand wat die groeiende aantal Messiaanse Jode daardie tyd ervaar het, is hierdie Goddelik-geïnspireerde sendbrief geskryf om hul geloof te versterk.
Zane Hodges[4] sê: “Die sendbrief aan die Hebreërs is ’n ryk gedeelte van die Nuwe-Testamentiese kanon. Op ’n unieke wyse verhoog dit die Persoon en werke van die Here Jesus Christus. In die proses maak dit ’n geweldige belangrike bydrae tot die leerstellings van sy menswording, sy plaasvervangende dood en sy priesterskap. … Die kerk sou onberekenbaar armer gewees het sonder die lering van hierdie geïnspireerde boek.” In die eerste hoofstuk word daar groot waarhede genoem wat in die res van die brief meer volledig behandel word:
Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ’n voortrefliker naam geërf het as hulle. Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ’n Vader wees, en Hy sal vir My ’n Seun wees? En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid. En van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme; maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer; U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ’n kleed verslyt, en soos ’n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.
– Hebreërs 1:1–12
Die volgende is sleutelstellings in hierdie hoofstuk:
1 Die drie-enige God maak sy finale openbaring aan die mensdom deur sy Seun (vers 1–2). Zane Hodges[5] sê: “In ’n verhewe openingsparagraaf stel die skrywer sy lesers onmiddellik bekend aan die onoortreflike grootheid van die Here Jesus Christus. Hy verklaar dat die Seun die uitnemende kanaal van Goddelike openbaring is.” Wat die profete in die Ou Testament gesê het, was ’n geleidelike ontplooiing van God se openbarings om die mensdom voor te berei vir die Goddelik-bepaalde oomblik wanneer Hy deur sy Seun, die Messias, mens sou word. Die Seun is die aangewese erfgenaam van alle dinge en sal vir altyd as Koning regeer. Hy het die wêreld gemaak, en bestaan dus van alle ewigheid af.
2 Die Seun is die afskynsel van die drie-enige God se wese (vers 3–4). Hy is ver bokant die engele verhewe omdat Hy nie, soos hulle, net ’n dienskneg van God is nie, maar die uitdruklike beeld van God. Deur sy Goddelike krag onderhou Hy die hele skepping. Nadat Hy die reiniging van ons sondes bewerk het, het Hy na die hemel opgevaar en gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte.
3 ’n Vader-Seun-verhouding het van sy menswording af bestaan (vers 5–6). Op ’n sekere tydstip het een lid van die drie-enige God deur inkarnasie God die Seun geword. Om hierdie rede verwys ons na “die Seunskap van Jesus sedert sy menswording” (vgl Joh 1:1, 14), en nie na sy “ewige Seunskap” nie. Hy is nie ’n geskape wese wat aan die begin deur die Vader gegenereer is nie, maar van altyd af die selfbestaande God en Skepper van die hemel en aarde. Van ’n bepaalde tydstip af het Hy egter die Seun geword, en van daardie tyd af verwys die Bybel na ’n Vader-Seun-verhouding in die Drie-eenheid.
4 Die Seun is God én Koning (vers 8–9). Onweerlegbare getuienis word gegee dat die Seun ook God is: God sê van die Seun: “U troon, o God, is tot in alle ewigheid, … daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.” Zane Hodges[6] sê: “Die aanhaling in vers 8–9 kom uit Psalm 45:7–8, waarin die finale oorwinning van God se Messias-Koning beskryf word. In hierdie Messiaanse Psalm word die naam God (Hebreeus: Elohim) ten opsigte van beide die Vader en die Seun gebruik.
5 Die Seun is die selfbestaande Here wat vir ewig lewe (vers 10–11). In hierdie verse sê God van sy Seun: “U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ’n kleed verslyt, en soos ’n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.” Hierdie aanhaling kom uit Psalm 102:26–28, en Jesus word hier beskryf as Here (Hebreeus: Jahweh). Selfs wanneer die huidige skepping verslete raak soos ’n ou kleed en dan in ’n nuwe een verander moet word, sal die Seun onveranderd bly voortbestaan. Aan die einde van die sendbrief word die onveranderlikheid van die Seun herhaal: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb 13:8).
Name van die Here Jesus Christus
Die name van die Here Jesus Christus kan in vier kategorieë ingedeel word:
Sy eienaam as vleesgeworde Verlosser.
Die name wat op sy Godheid dui.
Sy ampsnaam, asook die tien ampte wat Hy beklee.
Sy beskrywende name.
Sy eienaam
Die naam Jesus (Die Here [Jahweh] is Verlossing; Hebreeus: Jeshua) is deur God self aan sy Seun gegee. ’n Engel het in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt 1:20–21).
Om volgens God se standaarde die Verlosser van die volk Israel én van die hele wêreld te wees, moet Jesus die volmaakte God-mens wees. Hy moes in ’n menslike geslag (die koninklike linie van Dawid in die stam van Juda) gebore word om Seun van die mens te kan wees. Nogtans moes ’n man Hom nie verwek nie, sodat Hy nie enige deel aan die mensdom se erfsonde sou hê nie. Hy moes dus deur die beskikking van God uit ’n maagd gebore word sodat Hy ook die Seun van God kan wees: “… die naam van die maagd was Maria. … En die Engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk 1:27, 35 kursief bygevoeg).
Sy Naam as God
In die Ou Testament het die HERE God (Jahweh Elohim, die drie-enige God) Homself verklaar as die selfbestaande “EK IS” (Ex. 3:14). In Johannes 8:58 het Jesus Christus verklaar: “Voordat Abraham was, is Ek” (Engels: “… before Abraham was, I AM” – NKJV). Hy is die selfbestaande God, gelyk aan die ewig-selfbestaande God die Vader en God die Heilige Gees, en moet ook as Here en God aangespreek word. Die apostel Johannes bevestig hierdie stelling: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh 1:1). Uit liefde vir ’n sondige mensdom het Hy sy heerlikheid en krag as God se Skepper ter syde geskuif,