Jesus Christus en ons lewe in hom. Johan Malan

Jesus Christus en ons lewe in hom - Johan Malan


Скачать книгу
belofte verkry dat ons geheilig word deur die offer van Christus, wat die Middelaar van die nuwe verbond is. Net sý offer voldoen aan die eise van God se geregtigheid en regverdigheid (vgl Ef 1:7; 1 Pet 1:18–19).

      Kneg

      Jesus is die Kneg van die Here wat na die aarde gekom het om ’n groot verlossingswerk te doen. Messiaanse profesieë in die Ou Testament kondig dit só aan: “En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees … Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes 49:5–6). “Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister … ?” (Jes 50:10.) Die eienskappe van ’n kneg is nederigheid en diensbaarheid. Die Here Jesus het sy dissipels ernstig teen hoogmoed en selfverheffing gewaarsku:

      Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.

      – Markus 10:42–45

      Herder

      Christus het as die Herder van sy kudde ’n absolute verbintenis tot hul welsyn omdat Hy hulle duur gekoop het met sy kosbare bloed. “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Joh 10:11). Hy het die vaste versekering gegee: “Ek is die deur van die skape. … [A]s iemand deur My ingaan, sal hy gered word …” (Joh 10:7, 9). Dit is te begrype dat, as Hy sy lewe vir die skape afgelê het, Hy ook voortdurend na hul belange sal omsien; daarom het Hy bygevoeg: “Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh 10:10). Hy sê ook elders: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb 13:5).

      Die Herder neem leiding deurdat Hy voor sy skape uit loop, die weg aanwys en hulle Hom getrou navolg (Joh 10:4). Dit is in hul eie belang om die Herder te volg en naby Hom te bly, anders dwaal hulle van sy weë af en word dan deur die duiwel uitmekaar gejaag en in wanorde en verwarring gebring (Joh 10:12).

      Daar is net een pad uit ’n toestand van afgedwaaldheid, en dit is terug na die Here Jesus: “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en opsiener van julle siele” (1 Pet 2:25). Die Herder bly te alle tye getrou en Hy sal altyd sy verpligtinge teenoor sy kudde nakom:

      Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen … Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, sal ek geen onheil vrees nie; want U is met my.

      – Psalm 23:1–4

      Ons moet begryp dat ons in ’n wêreld woon wat in die mag van die Bose lê (1 Joh 5:19). Versoekings, beproewings, aanvegtinge van Satan en selfs ook doodsgevare word dikwels op ons lewensweg ervaar. Die Here weet watter soort teëspoed vir die toetsing en loutering van ons geloof nodig is en Hy laat dit toe. Ons moet in sulke tye ’n nuwe en volle oorgawe aan “die groot Herder van die skape” maak (Heb 13:20). Daar moenie enige bitterheid in ons hart kom as dinge nie volgens ons eie beplanning verloop nie, want die Herder se weë is hoër as ons weë. Ons moet weet dat Hy alles, ook die onaangename ervarings, vir ons ten goede sal laat meewerk as ons ons lewe opnuut aan Hom toewy en toevertrou.

      Die Here het ook bekwame persone in sy kudde geroep en toegerus om herderlike funksies onder die toesig van die Opperherder te verrig: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars” (Ef 4:11). Die leraar van ’n gemeente, in medewerking met kerkraadslede en ander ampsdraers, is ook die herder. Hy gee dus nie net onderrig in die Woord van die Here nie, maar hy het ’n pastorale plig om aan lidmate leiding te gee, berading te doen, vir die siekes te bid, die onordelikes te vermaan en die gemeente te beskerm en te waarsku teen die gevare waardeur hulle en hul kinders bedreig word:

      Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.

      – 1 Petrus 5:2–4

      Hoof van die kerk

      Jesus Christus se amp as Hoof van die gemeente is ’n verborgenheid wat eers ná die stigting van die kerk geopenbaar is. Dié eenheidsband word in die Bybel met ’n huweliksverhouding vergelyk: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente … Hierdie verborgenheid is groot maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Ef 5:23, 32). Vir ’n deeglike uiteensetting van Bybelse standaarde vir die funksionering van die kerk, sowel as al die implikasies van Christus se Hoofskap, lees Bosch[7]. Uit Efésiërs 5:25–27 is dit duidelik dat Christus eers die gemeente gereinig en daarna geheilig het om rein en sonder vlek of rimpel voor Hom gestel te kan word. Hy is ons hoof en bruidegom, en ons moet met ’n rein kleed voor Hom verskyn. Die begrip heilig beteken ook afgesonder vir die diens van die Here. In hierdie opsig word die gemeente as die lede van die liggaam van Christus voorgestel. Hulle vervul almal aanvullende funksies in die verwesenliking van die oorhoofse doelwit van die kerk van Christus op aarde:

      Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is.

      – Romeine 12:4–6

      Vir ’n uiteensetting van die funksies van die lede, lees ook Romeine 12:7–8 en 1 Korinthiërs 12:12–31. Beoefen jou taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees, want ons is as lede van die liggaam van Jesus Christus almal deur een Gees deurdronge (1 Kor 12:13). Jy moet ook begryp dat die gesag van jou geestelike roeping in Christus gesetel is en dat jy op oorwinningsgrond staan wanneer jy dit beoefen. Jy moet kennis neem van wat die uitnemende grootheid van God, die Vader van die heerlikheid, se krag is vir ons wat glo. Dit is “die krag wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef 1:19–23).

      Bruidegom

      ’n Baie persoonlike, intieme en verhewe verhouding met Christus word deur sy hoedanigheid as bruidegom moontlik gemaak. Ons is nie bestem om net diensknegte en dissipels in sy koninkryk te wees nie, maar het ’n hoë roeping om ook lede van sy bruidsgemeente te wees.

      Dit bring egter meer verpligtinge vir ons mee.

      Paulus wys daarop dat alle Christene hulself moet beywer om as rein maagde aan Christus voorgestel te word wanneer Hy weer kom (2 Kor 11:2). Hulle moenie vervreemd raak van die opregtheid teenoor Christus nie, maar met toewyding voorbereidings tref vir hul ontmoeting en vereniging met Hom. Hierdie geestelike voorbereidings sal verseker dat hulle op ’n waardige wyse hul rol as die bruid en latere vrou van die Lam sal kan vervul (vgl Op 19:7–8).

      Koning

      Omdat die Here Jesus alle mag in die hemel en op aarde het, beklee Hy ook die amp van Koning. Die nasies van die wêreld rebelleer egter in hierdie bedeling teen sy gesag. Dié toedrag van sake is te wyte aan die feit dat alle mense op aarde ’n vrye wil het ten opsigte van wie hulle wil dien. Die praktyk het bewys dat die meeste van hulle die duisternis liewer het as die lig omdat hul werke boos is (Joh 3:19). Die god van hierdie wêreld (die duiwel) het hul sinne verblind (2 Kor 4:4), daarom is die groot meerderheid van die aarde se bevolking in die mag van die Bose en leef hulle in geestelike duisternis (1 Joh 5:19).

      Ons leef in ’n bose wêreld waarin Christene dikwels gehaat, onderdruk en verwerp word as gevolg van hul geloof (vgl Joh 15:18–19; 16:33; Luk 6:22–23,


Скачать книгу