Uit die Beek 2012. Attie van Wijk
tion>
Uit die Beek 2012
Attie van Wijk
Lux Verbi
Voorwoord
Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal min of meer om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. Wanneer jy vyf jaar saam met ons deur die siklus gewerk het, het jy al 66 boeke in die Bybel gelees. Dit is daarom belangrik om elke dag ook die aandgedeelte te lees.
Die Gebedsgids in hierdie boek sal jou help om elke dag sinvol voorbidding te doen, en nie in dieselfde rympie te verval nie.
Ds AJ van Wijk (sr) het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit die Uit de Beek genoem, na aanleiding van Ps 110:7 in die Nederlandse Bybel: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.” ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons ons elke oggend moet verfris by die vars water van die Woord vir die dag wat voorlê. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie boek is die 87ste van die reeks. En jy sal sien dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. Sy e-posadres is [email protected].
Ons lees vanjaar in die Ou Testament uit Deuteronomium, 1 en 2 Konings, 2 Kronieke, Hosea, Sagaria en Maleagi en in die Nuwe Testament uit Handelinge, Efesiërs, Titus, Filemon en Openbaring. Sondae lees ons uit die Psalms. Ons sal ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.
Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd en ook om tydens huisgodsdiens gebruik te word.
Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is. Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!
Sake vir daaglikse voorbidding
Sondag: Die uitdra van die evangelie
Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees
Dat die hoorders daders sal word
Dat gelowiges toegerus sal word vir die week
Dat ongelowiges tot geloof sal kom
Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel
Maandag: Opleidingsinrigtings
Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik
Dat elke leerder kwaliteit onderrig sal kry
Dat dissipline herstel sal word
Dat die jeug reg gevorm sal word
Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard
Dinsdag: Die jeug
Dat ouers die regte voorbeeld sal stel
Dat kinders die Here tuis sal leer ken
Dat kinders groepsdruk sal weerstaan
Dat kinders die regte keuses sal maak
Dat kinders mekaar na Jesus sal lei
Woensdag: Owerhede
Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg
Dat die regering die regte besluite sal neem
Dat die parlement God sal verheerlik
Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag
Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn
Donderdag: Sending en getuienis
Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige
Vir julle sendelinge en hulle gesinne by name
Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef
Dat die Gees harte sal voorberei en verander
Vir die nodige finansies vir die werk
Vrydag: Diens van barmhartigheid
Vir kundige hulp aan werkloses en armes
Vir bevryding uit die armoedespiraal
Vir die inrigtings wat mense probeer help
Vir die nodige finansies hiervoor
Vir elkeen wat in beproewing verkeer
Saterdag: Herlewing
Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam
Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word
Dat die Heilige Gees kragtig sal werk
Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak
Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus
Welkom by Deuteronomium
Skrywer
Moses (31:9, 24–25) en ander skrywers.
Datum
Onseker, hoewel gedeeltes uit Moses te tyd kom.
Lesers
Die hele volk Israel, veral nadat hulle die beloofde land ingeneem het.
Doel
Hierdie boek moes elke sewe jaar aan die hele volk voorgelees word om hulle in hulle aanbidding te lei. Dit vorm die brug tussen die Pentateug en die geskiedkundige boeke wat daarop volg. Dit word 90 keer in die Nuwe Testament aangehaal.
Hooftrekke
1 Moses se eerste toespraak (1:1–4:43)
2 Moses se tweede toespraak (4:44–26:19)
3 Moses se derde toespraak (27:1–30:20)
4 Moses se laaste toespraak en dood (31:1–34:12)
Let op na
1 Die belangrikheid van die verbond met God.
2 Al die gedeeltes wat deur Christus aangehaal word.
Christus in Deuteronomium
Christus is die vervulling van die verwagting van die Messias as Profeet (Deut 18:15), Priester (Eks 28:1; Heb 2:17), en Koning (Deut 17:15). Jesus sê Moses het van Hom geskryf (Joh 5:46).
Sondag 1 Januarie
Lees Psalm 32:1–7.
Nuwejaardag
Voorspoedige Nuwejaar!
Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie (Psalm 32:2).
“Voorspoedige Nuwejaar!” wens ons mekaar vandag hartlik toe. Sommige van ons kry reg om dit op ’n nuwe en vars manier te sê. Maar ons almal bedoel dat dit ’n goeie jaar moet wees, dat ons familie en vriende gelukkig sal wees, dat hulle alles sal ontvang wat hulle nodig het.
Die meeste van ons dink dan seker aan gesondheid en finansiële voorspoed. Koning Dawid het in hierdie “onderwysing” egter vir ons neergeskryf wat regtig belangrik is. In die Ou Vertaling begin hierdie vers met “welgeluksalig” en die Engelse vertalings praat van “blessed”. Die belangrikste ding wat vanjaar met ons kan gebeur, is dat ons sondes vergewe kan wees. In hierdie jaar moet dit nie net in materiële dinge nie, maar veral ook geestelik met ons goed gaan.
Die ergste wat met jou kan gebeur, is dat daar skeiding tussen jou en die Here sal kom. En daar is net een ding wat dit kan veroorsaak: sonde (Jes 59:2). Dit kan wees dat daar vanjaar groot uitdagings en teleurstellings vir