Helene De Kock Omnibus 10. Helene de Kock

Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock


Скачать книгу
en verjaag twee tarentale wat tjirrend tot op ’n lae wilgertak vlieg op soek na dutplek vir die nag. Selfs die voëls soek die warmte van samesyn, dink Eugene met pyn, en hulle weet nie van die lewe en die dood nie.

      “Niks sal ooit weer dieselfde wees nie,” sê hy sag, asof hy met homself praat.

      Hennie kyk net in swygende mededoë na hom waar hy in sy swart begrafnispak, hande inmekaar gevou en met soekende oë op die lae stoepmuurtjie sit.

      Dis Lilette wat haar klein handjie op sy skouer sit. “Dit sal alles nuut word, jy sal sien,” sê sy, en haar stem klink droef.

      Eugene draai sy kop stadig na haar toe. “Sal dit?” vra hy in alle erns, sy mond stroef van smart. “Dit voel vir my asof alles sal stagneer noudat net ek hier is.”

      “Dit is die effek van finaliteit,” antwoord Hennie bedaard. “Sorg maar dat jy in die komende dae nie te veel alleen is nie, Gene. Kom loer in daar by my en Marcel, kom speel saam met my skaak, enigiets, maar bly in sirkulasie. Dit help vir daardie dooie gevoel. Jou pa het my dié raad gegee toe my eie vader oorlede is …”

      “Hy is reg, Gene,” sê Lilette sag, en hy sien hoe ’n blos haar gesig bedek voordat sy skigtig nooi: “Kom kuier ook vir my.”

      Eugene ervaar weer daardie skielike vertedering wat hy so dikwels in haar teenwoordigheid ondervind. Foei, dink hy, na meer as ’n jaar van aan en af sleep met my is sy nog so onseker soos ’n meisietjie wat ’n ou vir ’n aand iewers heen moet skiet. Sy verwag ’n afjak, en dis my skuld. Hy steek sy hand na haar uit en trek haar tot teen hom.

      “Ek sal,” beloof hy, “meer as ooit.”

      Asof dit die sleutelwoorde tot sy vertrek is, staan Hennie op en hou ’n hand na Eugene uit.

      “Ek gaan nou, ou vriend. Sterkte, hoor.” En toe, met ’n sydelingse blik na haar: “Lilette, ry jy sommer saam met my terug dorp toe?”

      “Nee,” sê Eugene, en sy hand span om hare, “sy bly ’n rukkie. Ek sal haar self neem, dankie!”

      Hennie knik met ’n niksseggende glimlag en stap weg oor die sagte kweek na waar sy motor in die rylaan geparkeer staan. Hulle luister stil hoe hy inklim en bedaard vertrek, hoor hoe die digte laning populiere wat al langs die groot dam loop, die geluid van sy motor se enjin demp. Toe dit alles weer stil is en die aand reeds pikswart skadu’s op die blink gepoleerde stoep gooi, roer Eugene, sodat Lilette haar hand terugtrek, onseker oor wat om te verwag.

      “Ons moet nou gaan, Gene … Ek is later vanaand aan diens by die koshuis …”

      Hy staan op van die muurtjie af, strek hom stram en vou toe sy arms voor sy bors.

      “Ja …” sê hy ingedagte, “maar ek wil eers met jou praat.”

      “Praat maar?”

      Hy sug, trek haar met ’n arm nader sodat sy, klein en fyn van postuur, teenaan hom staan. Hy rus met sy ken op haar hare, voel hoe sy gaandeweg meer ontspanne raak.

      “Ek het myself so gepantser gewaan, Lilette. Ek het gedink dat ek alles het – dat ek gegoed is, volop spierkrag en vernuf het, ’n paslike akademiese agtergrond … Maar toe verloor ek twee mense op verskillende maniere, albei ewe finaal, en ek is van my waan gestroop.”

      “Elsje en jou pa,” sê Lilette onomwonde, en hy voel hoe sy lugtig en gespanne raak.

      “Dis reg,” gaan hy nietemin onverstoord voort. “En nou weet ek nie meer wat in my lewe werklik essensie het nie.”

      “Hoe kán jy so sê?” vra sy byna beangs, en wikkel haar los om in die skemerdonkerte sy gesig te probeer uitmaak. “Damplaas … wat van Damplaas?”

      “O ja, natuurlik,” antwoord hy, vee paaiend met ’n hand oor haar hare. “Ek klem my vas aan Damplaas …”

      “Ek sien,” val sy hom sagkens in die rede. “Ek sien nou, ja. Dis eintlik dat jy nie weet wie in die lewe vir jou essensieel is nie.” Sy gee ’n snik-laggie. “Ek het nog altyd geweet dat ek te gou daar was, nadat Elsje en Peet hier weg is. Ek was, soos omstandighede dit wou met my wat hier op die dorp kom skoolhou het, net eenvoudig te dadelik en geredelik dáár …”

      “Hoe bedoel jy nou?” vra Eugene om tyd te wen, en laat haar gaan toe sy heeltemal uit sy arms uit beweeg en teen een stoeppilaar gaan leun.

      “Ek bedoel, soos wat jy goed weet, Eugene Basson, dat my teenwoordigheid hier naby jou jou geen tyd gegee het vir rustige besinning nie …”

      “Jy het dit vir my draaglik gemaak,” verweer hy eerlik en erkentlik.

      Sy trek haar asem skerp in. “Ek is nie ’n gebore trooster nie, Gene. Ek is selfsugtig. As jy by my is, wil ek liefdesuitinge hoor, geen jammerkrete nie!”

      Daar klop ’n dik stilte tussen hulle, des te meer voelbaar omdat die maan traag agter die populiere uitklim en hul bleekwit gesigte aan mekaar toon.

      “Was ek dan nét jammerlik?” wil Eugene weet, sy stem ’n lae klank wat trek in die stil nag.

      “Nee …” sê sy, en ’n vinnige draaibeweging van haar kop vang die maanlig in ’n blink spoortjie op haar wang. “Jy was soms dominerend en daadkragtig … en baie dierbaar.”

      “Soos … wanneer?” vra hy ademloos, hoor ver weg hoe ’n korhaan skor roep en weer roep.

      “Soos die keer met die piekniek by die Wolwas, toe ons op die plat klippe langs die rivier gelê het en jy my vertel het van jou drome met Damplaas en met die huis. Dáár sal ons twee nog lekker woon, het jy gesê. Maar jy het nooit weer daarvan gepraat nie – en nou weet ek dat jy jou in ’n milde oomblik bloot verspreek het …”

      “Ek het nie,” weerlê hy dadelik. “Ek was net … te haastig. Ek wou die toekoms vooruitloop …”

      “En nou?”

      “Nou … wéét ek nie, Lilette.”

      “Maar ék weet. Jy moet jou toekoms gaan haal, Eugene. Jy is iemand wat moet veg vir jou môres, dit weet ek nou. Jy sal slegs tevrede wees met ’n trofee. Jy wil niks op ’n skinkbord hê nie. Selfs Damplaas sal eers werklik joune wees as jy hier gewerk en gewoel het.”

      “Dis waar,” sê Eugene ootmoedig. “En dis baie groot van jou om dit so mooi vir my te sê. Wat stel jy voor moet ek doen, Lilette?”

      “Plant jou koring klaar en gaan dan weg vir ’n ruk lank,” antwoord sy asof sy reeds lank die vraag sien kom het.

      “Na Peet en Elsje?” vra hy byna kinderlik.

      “Dis ’n goeie begin,” antwoord sy.

      2

      In die dae ná Frederik Basson se begrafnis dwaal Eugene ure lank alleen op die plaas rond asof dit ’n plek is wat hy moet ontdek. Hy wandel rustig onder die amber herfsgloed van die ou populiere, om net oomblikke later gedrewe deur die roesbruin veld te stap en turend oor die wye einders van Damplaas te soek. In die huis kan hy homself nie herberg nie, want die ruim ou opstal voel hol sonder sy pa se gedrae teenwoordigheid.

      Oplaas staan hy eendag by die groot nuwe droogoond wat hy en sy pa net ses maande tevore opgerig het, en ervaar die eerste flikkering van belangstelling in boerderybedrywighede sedert sy pa se dood. Hier by die droogoond en kolossale skuur sal hy nog menige druk uur van sy lewe deurbring. Hy alleen sal verantwoordelik wees vir sy uitgebreide koringboerdery, en alle beslissings sal by hom berus. En dan is daar nog die Simmentaler-stoetery waarvoor Marcel verantwoordelik is.

      Dis asof hierdie nagedagte ’n skielike openbaring bring. Waarom kan hy Marcel nie ook vra om die stropery van die lentekoring vir hom waar te neem nie? Hy is seker Marcel sal heeltemal regkom; hy was tog al drie maal teenwoordig met die stropery en droëry. En dan stel dit hom vry om die pad te vat.

      Want presies só eenvoudig is dit. Hy kan nie meer hier voortgaan asof daar niks in sy lewe gebeur het nie. En wát gebeur het, is ook


Скачать книгу