Abel se ontwaking. Chris Karsten
’n oop venster. Maar Abel se vensters is dig geslote, gordyne toegetrek. In hierdie huis is geen venster sonder gordyne nie, en altyd toegetrek. Abel leef in ’n skemerwêreld, selfs die ligkring van die gloeilamp net ’n troebel gloor. Die fladdering van die bladsye kom van die trillings in sy hande, die tremor wat diep in sy binneste begin, in hom opstu, nou in sy vingers tot uiting kom.
Hy kyk na die gesig wat die fotograaf op die outopsietafel afgeneem het, oë geslote, hare geborsel en weerskante langs haar bleek gesig getooi, vermoedelik spesiaal vir die foto. Dit lyk of sy slaap, maar niks kan die onheilspellende gelaat van die dood verbloem nie; geen blos of borsel of fotokomposisie nie. Die gesig op die koerantfoto, kan Abel sien, is dié van ’n eens mooi vrou, maar dood.
Nie die vrou op die groot foto langsaan nie. Op daardie foto poseer adjudant Ella Neser in volle, lewende glorie. Hy pers sy lippe en sy oë volg haar uitgestrekte hand na die toneel op die gras waar die liggaam gekry is, nog afgebaken met polisiebaniere agter haar.
Ella Neser, dink Abel, is sélf ’n mooi jong vrou. Lyk nie na ’n ondersoekbeampte in ’n moordsaak nie. Maar aan die kort kapsel kan hy iets van haar lees: saaklik en prakties, bestee nie ure voor ’n spieël aan hare en voorkoms nie; haar tyd en energie, so meen Abel, word aan haar werk gewy. Die titsel kleur aan haar lippe vermoedelik aangebring oomblikke voor die foto geneem is, van ’n lipstiffie wat nie te dikwels gebruik word nie, miskien soggens voor sy werk toe gaan. Sy dra, soos die gebruik is, nie ’n uniform nie, dog niks uitlokkends nie; ’n kuise T-hemp, gemaklike, los langbroek, sandale. Nee, háár energie en aandag is nie by grimering, kapsels en klere nie.
Maar dan, in die sagte lig van die gloeilamp met swak stroomspanning – net veertig watt – lig hy die koerant nader aan sy gesig, sy hand soekende na die vergrootglas op die koffietafel langs sy stoel. Onder die loep, met die staanlamp se lig van agter deur die lens, is die merk nou duideliker. Met haar arm wat uitstrek om die toneel uit te wys, trek haar T-hemp uit haar langbroek op sodat ’n stukkie van haar middel sigbaar is. Onder die broek se band, op die plek waar gewoonlik ’n litteken van ’n blindedermoperasie gelaat word, kruip ’n tatoeëring op haar maagvel uit. Hy leun nog nader, beweeg die loep op en af vir die beste fokus.
Hy sien ’n reeks van drie sterretjies aan die stert van een groter ster; die grootste ster nie groter as ’n vyfrand-munt nie, skat hy. Hy het dié ontwerp al dikwels gesien; ’n baie eenvoudige en delikate ontwerp, ’n getatoeëerde weergawe van ’n verskietende ster. Abel is geen tatoeëerder of kenner van die tatoeëerkuns nie, maar hy weet só ’n ongekompliseerde ontwerp van ’n ster is gewoonlik ’n aanduiding dat dit die draer se eerste is; niks uitspattigs nie, net iets kleins en versteek, en eenkleurig. ’n Tatoe-eksperiment amper, voordat dalk later met iets meer omvangryks, miskien ’n kleurryke pou, gewaag word.
Sak terug in sy stoel, laat die koerant oopgevou op sy skoot rus. Die adjudant wat die moord op die rooikopvrou ondersoek, het ’n tatoeëring, dink hy, nou meer ingenome. Boonop van ’n ster, een van sy gunsteling-onderwerpe.
Maar dan dwaal sy blik terug na die skrywer van die berig: Andy Collipepper. Dit is hý, nie adjudant Neser nie, wat die aanvaller ’n psigopaat noem, ’n lafaard, ’n mal man met ’n bloedlus vir weerlose vroue. Hy wonder of Andy Collipepper ’n tatoeëring het. En wáár op sy liggaam. Ja, dit sal hy graag wil weet. Hy sluit sy oë en begin diep deur sy neus asemhaal.
“Ontspan,” mompel Abel by homself.
Ja, hy moet ontspan. Hy moet nie toelaat dat hulle hom so ontstel nie. Sit die musiek aan. Die musiek help altyd. Die musiek streel sy gemoed, herstel sy ekwilibrium; die viool is die susmiddel vir sy gees.
Abel sit die koerant langs sy stoel neer, staan op, begin met ’n vinger in sy CD-rakke na geskikte musiek vir sy gemoedstemming soek. In sy rakke nét opnames van Paganini se komposisies, georden in konserte, soloviool, viool en orkes, viool en kitaar, viool en fagot, viool en klavier. Abel kan aan geen ander musiekinstrument dink wat ’n meer mistiese, skoner klank kan voortbring as ’n viool nie; so uniek soos die timbre van ’n mens se stem. Die registers van die viool se snare reik tot diep in sy siel, ontlok soet genot of bitter emosies, laat hom lag of huil. Maar dit is Paganini se styl wat Abel veral ontroer; met sy strykstok op die snare van hierdie grasieuse instrument is dit asof Paganini soms ’n wilde dier probeer tem, of aan sy boesem wil vertroos, of soms, byna besete wil tugtig. Abel kan Paganini sién wanneer hy na sy musiek luister: skraal en siedende met die viool onder sy ken, wilde boskasie soos demoniese horings, maar aan sy elmboog iets magies wat sy arm en sy strykstok begelei. Asof hy sy siel self verkoop het. En dit is vir Abel ’n besonder gepaste metafoor, hierdie voorstelling van Paganini met sy fiedel as ’n byna Faustiaanse karikatuur.
Die vinger huiwer by die Cantabile, Paganini se enigste komposisie vir viool en klavier, en net hiervan het Abel veertien weergawes. Maar die vinger soek verder, tik ongeduldig oor die rak van CD tot CD, tot by die afdeling vir soloviool, opnames van die vier en twintig capricci, sy allergunstelinge, die virtuositeit wat hom so bekoor. Steeds nie ’n maklike keuse nie. Ricci se helder metronomiese aanslag op die snare, Accardo se omsigtigheid asof hy sku is vir hierdie monsters van die meester, Perlman se onstuimigheid, Midori se poëtiese atmosfeer, Menuhin se spontaneïteit. Maar, soos altyd, stop sy vingers by Michael Rabin. Wanneer Abel snags die uitspansel beskou, die konstellasies en sterre en verre galaksies, praat Accardo se viool met hom op die agtergrond. Maar wanneer hy ontsteld is, wanneer ’n joernalis oor ’n lafaard en ’n mal man skryf, dán soek hy Rabin, so intens asof die afsonderlike note in die lug tasbaar is.
Abel trek die CD uit, maak dit oop, streel met ’n sagte lap oor die oppervlak vir stof, plaas dit in die CD-speler met sy kragtige, suiwer luidsprekers. Maar hy skakel die musiek nog nie aan nie. Hy het nog een ritus om af te handel. Aan die muur oorkant die CD-rakke hang ’n twintigtal etniese Afrikamaskers, ’n claque in afwagting op die vioolvirtuoso se uitvoering. Stil en strak wag hulle lyfloos, party met hare, ander met die vere van wilde voëls, nóg met krale, almal met vreemde simbole uitgekerf of uitgebrand op wange, neuse en voorkoppe.
Hy staan voor hulle, sy ronde buik uitgestu, sy kort arms agter sy rug gevou. Dan kies hy een, ’n elegante vrouemasker van die Punu van Gaboen. Die wenkbroue in ’n hoë boog, die smal oë in die vorm van amandels, ’n smal ken. Weerskante van haar neusvleuels strek ’n opgehewe geruite rif tot by die lelle van haar ore soos letselweefsel van verskriklike meswonde. Die masker is uit Sese-hout gekerf, en een van die seldsame wit maskergesigte, die kleur verkry uit skaars wit okerklei aan die bolope van die Ngoumerivier, arm aan die ysteroksied van geel oker. Soms word kaolien gebruik, hierdie een met wit oker geverf, in kontras met die swart hareboskasie wat in gaatjies in die hout ingeweef en geheg is.
Hy lig die wit masker met die delikate gelaat van sy haak af en plaas dit oor sy gesig. Hy verstel die band met die Velcro agter sy kop totdat die masker stewig en gerieflik op plek is en hy deur die skrefiesholtes van die oë kan sien, wip die hare met ’n geoefende beweging van sy hande en vingers weerskante van sy kop in posisie. Hy gaan sit op sy stoel, leun na die kontroles van sy CD-speler en druk ’n knoppie. Die musiek begin, die ritueel is voltooi.
In die glimmering van die gloeilamp langs sy stoel, die res van die ou huis donker en stil, is sy aandag volkome op die trillende oktawe en arpeggio-akkoorde. In ’n kombinasie van frantiese spoed en salige grasie verdryf Paganini Abel se demone, die masker op sy gesig uitdrukkingloos.
En eers nadat die laaste akkoorde wegsweef en verdamp, keer Abel terug aarde toe, gaan sy oë agter die masker oop, is daar ’n beweging van wit in die uitgeholde ooggate van die masker.
Hy is verbaas dat die rooikopvrou nog nie uitgeken is nie. Al byna ’n week sedert sy verlede Sondagmiddag weg is om sy moeder se ou meubels te kom besigtig. Mia Vermooten, het sy haarself in die galery aan hom voorgestel. Hoe is dit dan moontlik dat die joernalis en die polisie steeds nie weet wie sy is nie?
Dit was ’n fout, dink Abel, om haar na die huis te laat kom. Sy kon die adres aan iemand laat glip het. Hy is ’n bietjie ongerus, maar nie te erg nie. Hy sal erken, ás daar navraag is, dat hulle ’n afspraak gehad het. Hy sal dit nie ontken nie, sal nie toelaat dat hy in ’n strik van leuens betrap word nie. Leuens is ’n gruwel, en versterk agterdog. Maar soms is ’n