Abel se ontwaking. Chris Karsten
oornagbespreking vir die aand in ’n viersterhotel aan die Vaalrivier by Vereeniging, binne bereik van haar eerste afspraak Maandagoggend. In ’n hoewehuis by Rietspruit aan die Barrage is ’n ou katel van skaars mopanie, die hout so hard as klip. Daarna Sasolburg toe vir die Laat-Victoriaanse lampettafel met marmerblad en art nouveau-teëls as spatplaat, ’n sirkelroete na Koppies vir die ses Thonet Nr. 14-stoele van beukehout, Parys vir die eikehoutbuffet met ingelegde houtmosaïek, Fochville vir die jonkmanskas van lindehout. Teen Vrydag terug in Johannesburg met haar waardasielys sodat Tom Spottiswoode sy goedkeuring kan teken en die lorrie stuur. Sy het haar afsprake netjies geskeduleer; Mia Vermooten hou van orde in haar lewe, dog nie ongeneë vir soms ’n aangename verassing nie, soos wat die Lotz-huis alles kan oplewer.
Met die GPS en die padkaart langs haar op die sitplek vind sy maklik sy aanwysings deur die doolhof van Doradopark se villagestrate. Teen vyf voor vier op ’n stil Sondagmiddag kry sy Opaalstraat met sy groot erwe en die ou plaashek regs, skeef aan geroeste skarniere. Sy klim uit die RAV, die wit verf van die bakwerk nou rooi van die padstof, sleep die hek oop, ry in, sleep die hek toe. Ver agter ’n bos bloekoms merk sy die huis, maar eers toe sy verby die bome is, kry sy ’n beter blik, en is half verbaas. Sy het meer verwag van die netjiese meneer Lotz.
’n Aura van groot verwaarlosing. Die huis ’n vierkantige dubbelverdieping, skyn-Tudor, meen sy. Weerskante van die voordeur skuifraamvensters, simmetries bo herhaal. Klimop begroei wild die skilferende fasade, verberg die vensters, rank oor die portiek van die voordeur. Eens pragtige houtrame verdor. In die versameling van stof en modder van jare se versuim groei onkruid welig in dakgeute. In die voortuin vae aanduidings van eens fleurige blombeddings, nou oorgeneem deur kikoejoe, hakea, suring, omgedolwe deur molle.
Sy hou stil, betrag die stil huis en werf, word skielik bewus van beweging by haar deur. Leun venster toe, sien die honde, geruisloos wagtende. Sou meneer Lotz haar kar hoor aankom het? Hy verwag haar tog. Sy sit en wag, beskou die huis, waag dit nie uit met die honde nie.
Hy kom nie by die voordeur uit om haar te verwelkom nie, maar van agter om die huis aangeslof. Meneer Lotz dra ’n voorskoot waaraan hy nou sy palms afvee terwyl hy haar tegemoetkom.
“Trek hier agter in, in die skaduwee van die huis, sodat die son nie jou kar bak nie,” nooi hy met sy groot tong en blosende gesig.
Toe sy die RAV se deur oopmaak, aan die skadukant uit sig van die grondstraat agter die bome, vra sy: “Maak jy biltong?”
“Jy kan seker so sê.”
Slanke bene toe sy uitklim, elegant asof sy aan meneer Lotz se werf ’n groot guns betoon. En toe sy opkyk, merk sy weer die geknip van sy lui oog. Sy betrap ’n vreemde emosie in haar: bejammering. Ja, dink sy, eintlik voel sy jammer vir arme meneer Lotz, en dit is nie dikwels dat sy iemand jammer kry nie. ’n Week hart, het sy in die stad kom leer, is ’n vloek; ’n dik vel, dit is wat jy nodig het vir sukses.
“Hier’s die geld vir die tallboy, soos jy gevra het.”
Hy hou sy hand uit. “Klam, droog en vetterig,” sê hy, druk die geld in die sak van sy voorskoot sonder om te tel.
“Wat?”
“’n Mens se vel. Die drie belangrikste ekologiese gebiede op ’n mens se vel: klam, droog en vetterig.”
“Jy weet baie van vel af.”
Hy lig sy gesig na haar op. “Het ek jou al oor jóú mooi vel gekomplimenteer?”
“Jy hét, meneer Lotz.”
Sy wil die meubels sien, nie oor vel ginnegaap nie, buig en vee met ’n Kleenex die stof van haar sandale af.
“Jy ken hout, ek ken vel.” Hy stap vooruit, vervolg oor sy skouer. “Harige, klam oksels is net ’n paar handbreedtes weg van gladde, droë voorarms. Maar ekologies so verskillend as ’n reënwoud van ’n woestyn.”
“Die meubels? Ek’t nog ’n lang pad voor.”
Hy stap nie agterdeur toe nie, lei haar in die rigting van die stoor en die donker venster van ’n pakkamer.
“Die pH van die vel is vyf punt vier. Ek kan sien jy gebruik goeie reinigers en versagters.”
“Ek doen moeite met my voorkoms.”
“So sag en soepel. Jóú vel.”
“Dankie, vir nóg ’n kompliment.”
Sy wonder waar die ou vrou is, strak mevrou Lotz met die outydse bolla, eienaar van antieke meubels.
By die stoor, met sy hand aan haar elmboog, slaan die hoendervleis van die koue aanraking ineens op haar kaal skouers en voorarms uit. Hy stuur haar verby die ou bakkie en kar, die hoop skroot, na die deur van die pakkamer waar sy die eerste meubelstuk vir haar waardasie verwag. Alles so gehawend en vervalle, maar aan die deur ’n blink, nuwe slot.
7
Teen ’n helling van vyf grade bereik adjudant Ella Neser ’n drafspoed van agt kilometer per uur toe haar selfoon op die handdoek begin vibreer. Sy sweet, haar asem hyg. Sy sien die naam van die beller en verstel die trapmeul vir afkoeling. Sy is fiks, elke oggend sesuur in die gimnasium vir kardio-oefeninge, dep met die handdoek die sweet aan haar gesig en nek en arms. Sy skakel die nommer terug. Wanneer hy jou bel, selfs douvoordag in jou vrye tyd in die gim, is dit raadsaam om Silas Sauls nie te lank te laat wag nie.
“Kolonel?” vra Ella Neser, haar asem nog effe gejaagd van spiere wat na suurstof smag, hartklop af tot honderd en twintig.
“Waar’s jy? Hoekom is jou sel af as ek bel?” Knorrig, hy moes wag.
“Ek oefen …”
“Ek tel jou oor tien minute op. Moenie my wéér laat wag nie.”
Sy reken sy het tyd vir ’n stort. Maar toe sy by die glasdeure uitstap, in haar sweetpak met die klam handdoek vergeefs aan’t afdroë aan haar hare, wag hy al, trek weg met die deur skaars toe. Sy smyt haar sportsak op die agterste sitplek, die handdoek bo-op.
“Wat’s die haas, kolonel?”
“Die haas is moord, adjudant. ’n Dooie liggaam in ons jurisdiksie. Dís die haas. Hoekom het jy nie ordentlike klere aan nie?”
“Jy moet ook ’n slag gim toe kom. Jy sal beter voel.”
En beter lyk, wil sy byvoeg, maar sy ken hom, ken sy drempels.
“Ek was besig met brekfis toe hulle bel,” sê hy, en wag, asof hy haar uitdaag tot nóg ’n onbesonne opmerking. “’n Vrou. Alberts Farm.”
“Haweloos?”
Die Alberts Farm-bewaringsgebied, naasgrootste groen long in die Johannesburgse metropool, negentig hektaar van natuurlike grasveld. En langs Montgomeryspruit aan Albertskroon se kant maak skunnige karakters nes. Beskonke bloedlatings hier nie ongewoon nie, maar vereis gewoonlik nie die vroegoggendse teenwoordigheid van ’n takbevelvoerder van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade nie, steeds bloot bekend as “moord-en-roof”.
“Haweloses, of die slagoffers van haweloses, word selde met ’n diamantring aan ’n vinger gekry. Of met oorringe. Haweloses het selde naellak aan hulle vingers en tone.”
“Wie’t haar gekry?” vra Ella Neser, hande gevou op die skoot van haar sweetpakbroek. Aan háár vingers geen diamante nie, net ’n goue seëlring van agtien karaat, en aan haar naels, kortgeknip, deurskynende lak, vir hulle beskerming, nie optooiing nie.
“’n Stapper. Hy’t douvoordag om die dam gaan stap, soos elke oggend.”
By Northcliff Corner vat Silas Sauls die draai af in Langstraat, regs in Sesde Weg, weer regs in Agste Straat by die park in, op met die lang plaveipad na die parkeerplek toe. Hier, in die middel van Alberts Farm, hou hy stil tussen voertuie