Abel se ontwaking. Chris Karsten
waaier geskilder: Gautengse Patologie-dienste; bloot ’n staatslykwa.
Sy klim uit en beskou die vista. Die vista is belangrik, het sy geleer; die eerste geheelindruk van die misdaadtoneel, om die bos te sien, as’t ware, nie net die bome nie. Regs tussen die bome deur die oop veld tot doer onder by Montgomeryspruit. Links die omheinde historiese grafte met drie obeliske van die Geldenhuys- en Albertsfamilie. Verder agter die grafte die beboste kliprantjie met die artesiese fontein. Reg voor haar, ’n paar honderd meter verder, die dam. Van die parkeerterrein na die dam is die gras gesny, maar Alberts Farm word ter wille van biodiversiteit as natuurlike fauna en flora bewaar, nie gemanikuur nie.
Dit is onder die groot wilgers op die oewer van die dam waar die polisiemanne bedrywig is. Die geel plastiekbaniere klaar gespan om die toneel af te sper, die forensiese ondersoekers in hulle oorpakke met kappies om hulle hare, latekshandskoene en skoenhulsels om nie die toneel met hulle eie spoorweefsel, hare en skoensole te kontamineer nie. Om die liggaam is die veld in ’n ruitestelsel uitgemerk sodat dit sistematies bespeur, geïnspekteer en uitgepluis kan word, elke graspol, elke soolafdruk, elke spoorelement. Met gereelde tussenposes flits die lig van die polisiefotograaf se kamera. Ella Neser staan op die periferie langs die kolonel. Hulle wag dat die forensiese ondersoekers hulle taak by die liggaam afhandel, ongelukkige hoofkarakter in hierdie vroeg-oggendse drama.
Sy is op haar rug uitgestrek, selfs haar arms teen haar sye aangedruk, asof sy met sorg so uitgelê is. Haar oë oop, uit ooghoeke ’n bloederigheid soos trane, of sy daar lê en huil, starende na die hemel. Haar voete kaal, die lak aan die toonnaels donkerrooi. Die jeans oënskynlik onversteur. Wit bloes uitgetrek en weer los oor haar bolyf gedrapeer om haar naaktheid te bedek. Sy het nie ’n bra aan nie.
Dit is hierdie gesig wat Ella Neser telkens nog onkant betrap, hierdie onwaardigheid waaraan ’n slagoffer uitgelewer is, hierdie weerlose blootstelling aan die elemente en nuuskierige oë.
Kolonel Silas Sauls moet die los bloes ook opgemerk het: “Het iemand aan haar geraak? Aan haar klere?” Hy wys na die bloes. “Luitenant Julies?”
Jimmy Julies van forensies kom orent. “Dis soos ons haar gekry het. Niemand het aan die liggaam of klere geraak nie. Haar aanvaller moes haar met die bloes bedek het.”
“Het julle haar skoene gekry; sandale, tekkies, wat ook al? ’n Bra?”
“Hierdie is nie die moordtoneel nie,” sê luitenant Julies. “Sy’s elders dood en hier kom los.”
“Waar’s die patoloog?” vra Silas Sauls. “Hoe lank lê sy al hier?”
“Op pad. Eet eers sy brekfis klaar.”
Brekfis, dink Ella Neser, almal tog so gesteld op hulle kos, en stryk met haar vingers deur haar hare, voel die klammigheid. Nat hare in die oggendlug, die resep vir ’n goeie verkoue. Vir haar, so het sy gehoop, muesli met vetvrye jogurt ná die gim. Deesdae alleen, nie meer soggens spek en eiers nie.
“Verkragting wat in moord eindig?” wonder sy hardop langs haar kolonel.
“Hoekom weer die jeans aantrek en nie die bloes nie?” sê hy. “Maar dit sal dokter Koster kan bepaal, of sy verkrag is … wanneer hy klaar is met sy brekfis.”
“En die oorsaak van dood.”
Sy sien geen sigbare wonde en bloed nie. Om die nek van die jong vrou ’n hangertjie, goue kruis in die kuiltjie van haar keel. Onder rooi hare steek ’n goue oorring uit, om die tenger pols van haar linkerarm ’n horlosie, aan die middelvinger van haar regterhand ’n ring met klein steentjies, gerangskik in die vorm van ’n madeliefie, vermoedelik die diamante waarna Silas Sauls verwys het. Die lak aan die vingernaels dieselfde kleur as aan die tone.
Vermoor, maar nie van haar juwele beroof nie?
Luitenant Julies se selfoon lui. Hy kyk om in die rigting van die parkeerplek waar die blou dakligte van die polisievoertuie flits, druk die sel in sy sak en staan opsy.
“Die patoloog is hier. Sy’s julle s’n.”
Ella Neser gaan hurk by die liggaam en vat die rubberhandskoene by kolonel Sauls. Die bloes, merk Ella, is van sy, nie prêt-à-porter uit ’n winkelrak van Woolies of Stuttafords nie. Silas Sauls lig ’n punt van die bloes op, delikaat soos haar ma ’n kantdoilie van ’n suikerpot sou oplig. Hy hou dit tussen sy duim en wysvinger, brom iets wat sy nie kan uitmaak nie, laat sak die sagte materiaal op haar vel terug.
“Geen merke aan haar bolyf nie.”
Ella reik na die etiket: Gucci. “Ook nie aan haar hande nie. Geen naels afgebreek nie, geen teken dat sy weerstand gebied het nie.”
Silas steun orent, met ’n sug en hoë fluitklank deur sy neus, en kyk hoe die patoloog onder die polisiebanier deurbuk. Dié plaas ’n swart instrumentetassie langs sy voete, haal handskoene uit sy baadjiesak, wriemel sy hande in, sy oë op die liggaam van die vrou.
“Nog vars.”
Strek sy vingers in die elastiese handskoene, gee hulle skiet.
“Ja, en ’n spoedige bepaling van tyd van dood, en oorsaak van dood, sal waardeer word,” sê Silas Sauls.
“Sy’s goed versorg,” sê Ella. “En nie ’n toevallige slagoffer nie.”
Dokter Koster loer vlugtig na haar.
“O, en dit kan jy vasstel deur bloot na haar te kyk?”
Met sy mond na haar gedraai, bereik ’n aardige aromamengsel haar neus. Gebraaide uie vir brekfis? Sigaar saam met sy oggendkoffie?
“’n Aanvaller sal nie ’n toevallige slagoffer se juweliersware los nie,” sê sy. “Sal nie respek vir haar naaktheid betoon nie. En verkragtings en onsedelike aanrandings is gewelddadig, laat merke aan die vel.”
Sy het dit al agtergekom, sélf ervaar: hulle trap op jou, in hierdie domein van mans, as jy nie diknek is nie. Verdra jou bloot as vroulike kwota, sluit jou uit van die kring van tjomme, van die kroeg-en-toilet-obseniteite. Daarom bly sy fiks, daarom kan sy haar skote op die skietbaan se kolskyf net so goed groepeer as enige skerpskutter van die reaksie-eenheid, woon sy kursusse in misdaadtoneelbestuur en forensiese tegnieke by, daarom is haar slaaptydleesstof handleidings van die vier Gedragsanalise-eenhede van die FBI se akademie in Quantico, Virginië; teenterrorisme, misdade teen volwassenes, misdade teen kinders en ViCAP, Violent Criminal Apprehension Programme. Sy het moord-en-roof gekies, twee jaar gewag vir ’n vakature, en is nie van plan dat op haar getrap word nie, al is vroulike moord-en-roof-speurders yl, nie alte welkom sonder hare op die bors nie.
Dáárom is sy parmantig, vra geen spesiale behandeling nie, en is tevrede toe dokter Koster swyg. Sy knieë kraak toe hy by die liggaam hurk en sy tassie oopvou. Die eerste strale van die son val nou deur die bome se takke, flikkerend en glimmerend op die vlekvrye staal van die instrumente. Hy plaas sy handpalms weerskante van haar kop, toets die stramheid van haar nek, lig met ’n penflits eers in die een oog, dan die ander een, bestudeer haar keel, tas met sy vingers aan die nekspier, verwyder die bloes, bestudeer haar bolyf, af na die jeans, en ontblote enkels en voete, waar hy weer, soos met haar kop, drukking toepas om die proses van lykstyfheid te bepaal.
Ná hierdie eerste kursoriese in situ-ondersoek is sy aandag terug by haar gesig. Hy dwing haar kake oop en ondersoek die mondholte met ’n spatula en penlig, ook die neus en ore, soos ’n huisdokter doen voordat hy ’n diagnose vir verkoue waag. Hy bring sy lig na die vel van haar keel en nou kan Ella, toe sy vooroor leun, die merke sien.
“Sy’s verwurg,” sê dokter Koster. “Kneusings aan die vel van haar keel en nek. In die sklera van haar oë petegiale bloeding, die blouerige voorkoms van haar lippe en vingerpunte toon sianose. Ek sal dit in die outopsie kan bevestig, maar ek sal geld sit op verwurging of versmoring.”
“Tyd van dood?” vra kolonel Sauls.
Ook hý, weet Ella, sit graag ’n geldjie op iets; eers die ponies, maar nie meer nie. Het ’n nuwe stokperdjie ontdek, en glo heel winsgewend.
“Rigor