Die Einde van verslawing. Dr Volker Hitzeroth

Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth


Скачать книгу
angstigheid, psigose en selfmoordneigings. Die gevolge van dwelmgebruik kan waargeneem word in ’n noodgevalopset waar epileptiese aanvalle, hartprobleme, bedwelming- en onttrekkingsimptome, chroniese siektetoestande, MIV, hepatitis, lewerprobleme en maagsere wat daarmee vereenselwig word, voorkom. In ’n nie-mediese opset, soos byvoorbeeld ’n strafhof, kan dwelmgebruik weens byvoorbeeld dronkbestuur, aanranding of diefstal ter sprake kom. Ook by die werkplek sien ’n mens die teenwoordigheid, waar werkers soms onder die invloed van drank aanmeld en nie in staat is om hul werk te doen nie.

      Die uiteenlopende maniere waarop dwelm- en alkoholmisbruik voorkom, maak dit dus moeilik om bruikbare inligting oor dwelm- en alkoholgebruik in te samel. ’n Groot deel van die wêreld van dwelms en alkohol is onwettig en ondergronds en dus moeilik om te moniteer. In die laaste instansie is dit so dat gebruikers dikwels nie hul presiese gebruikshoeveelhede bekend maak nie. Inteendeel, hulle gaan tot die uiterstes toe om hul dwelm- en alkoholgebruik vir hul gesin, familie of vriende weg te steek. Dit is waarskynlik dat ’n dwelm- of alkoholgebruiker by ondervraging sy gebruik sal ondervermeld.

      Daar word gewoonlik van verskeie inligtingsbronne gebruik gemaak wanneer klinici, epidemioloë of beleidmakers die dwelm- en alkoholgebruik in ’n gemeenskap peil.

      1 Een manier waarop die inligting oor dwelm- en alkoholgebruik beoordeel kan word, is deur individuele onderhoude met die kliënte of die gesinne. Terwyl sodanige onderhoude baie nuttig is, word dit ook deur probleme soos oneerlikheid, vrees, skaamte en onkunde in die wiele gery en kan oor- of ondervermelding die resultaat wees.

      2 Regerings of groot organisasies probeer ook om peilings onder die breë bevolking te doen, waartydens groot getalle mense vraelyste moet voltooi, of onderhoude word met hulle gevoer. Sulke opnames verskaf gewoonlik redelik akkurate inligting, maar is duur en tydrowend. Verder moet baie respondente ingesluit word om akkuraatheid te verseker, omdat die problematiese gebruik van dwelms en alkohol relatief laag bly in die algemene bevolking. Uiteraard is dit baie waarskynlik dat so ’n algemene opname gemarginaliseerde groepe met ’n hoë vlak van dwelm- en alkoholgebruik kan afskeep, wat sal lei tot hierdie groepe se onderverteenwoordiging in die algemene opname. Voorbeelde van sulke groepe is haweloses, werkloses, kommersiële sekswerkers, gays en lesbiërs.

      3 Nog ’n manier om nuttige inligting oor dwelm- en alkoholgebruik te bekom, behels die gebruik van indirekte dwelm- en alkohol-aanduiders. Sulke indirekte aanduiders word as merkers vir dwelm- en alkoholprobleme gebruik. Die aanname is dat indien akkurate inligting ingesamel kan word oor die probleme wat met dwelm- en alkoholgebruik gepaardgaan, dit ’n beeld sal gee van die onderliggende dwelm- en alkoholgebruik. Sulke aanduiders sluit byvoorbeeld in inhegtenisnemings deur die polisie, grensbeheerbeslagleggings op dwelms en alkohol, lewerprobleme wat met alkohol of hepatitis vereenselwig word, sowel as die getalle van toelatings vir behandeling en detoksifisering, voorskrifte uitgeskryf, skooldwelmtoetse of opnames in hospitale se noodeenheid ná ’n oordosis dwelms. Al hierdie kontakte kan waarskynlik na die een of ander vorm van dwelm- en alkoholgebruik teruggevoer word. Inligting kan dus ingesamel word om die dwelm- en alkoholgebruik in ’n bevolking te skat. Maar velerlei probleme duik op, omdat sulke indirekte merkers per definisie indirekte aanduiders is en nie ’n eerstehandse weerspieëling nie. Daar kan uiteraard ander oorsake vir dieselfde voorkoms van eienskappe wees. So byvoorbeeld kan ’n verhoogde insidensie van lewerprobleme die gevolg wees van doeltreffender ondersoek en diagnose binne die gesondheidsopset. Dit is dus nie noodwendig ’n aanduiding van alkoholgebruik of binneaarse toediening van heroïen nie. Om soortgelyke redes beteken ’n toename of afname in dwelmverwante misdade nie sonder meer ’n toename of afname in dwelmgebruik nie. Dit kan die gevolg wees van ’n verhoogde bewustheid van misdaad onder die bevolking, of dat die polisie doeltreffender geword het, of eenvoudig dat akkurater verslaggewing in die media voorkom. Laastens kan die aantal kinders wat by skole positief getoets word vir dwelm- en alkoholgebruik die resultaat wees van die inwerkingstelling van ’n nuwe protokol vir toetsing, of ’n verhoogde bewuswording onder onderwyspersoneel.

      4 Verskeie

      Soos gesien kan word, is die vasstelling van inligting oor die bestek van gebruik deurspek met probleme. Die akkuraatste inligting word gewoonlik verkry as verskeie studies gekombineer word, waarin uiteenlopende metodologieë gebruik word. Dit word beskou as die beste praktyk.

      Dit is ook belangrik om presies te weet wat beoordeel word. As ’n ondersoek byvoorbeeld gedoen word na dwelm- en alkoholgebruik, sal die resultate na alle waarskynlikheid verskil van ’n ondersoek na dwelm- en alkoholmisbruik of selfs afhanklikheid van dwelms. Die kriteria wat gebruik word, speel dus ook ’n belangrike rol.

      Die Diagnostiese en statistiese handleiding, vierde uitgawe met hersiene teks (DSM IV TR), het spesifieke stelle kriteria vir alkoholmisbruik (voldoening aan een van vier kriteria binne die laaste maand) en afhanklikheid (voldoening aan drie uit sewe kriteria oor die laaste jaar). Ander diagnostiese kriteria bestaan egter ook wat gebruik kan word vir hierdie soort studies. Dit sou spesifiek van belang wees as meer as een studie met mekaar vergelyk en ontleed word, omdat die metodologieë kan verskil en die kriteria na verskillende stelsels van klassifikasie kan verwys.

      Twee belangrike konsepte wat verstaan moet word in ons bepaling van die gebruik van dwelms en alkohol binne ’n bepaalde bevolking of bevolkingsnit hou verband met die konsepte voorkoms en omvang.

      1 Voorkoms verwys na die totale aantal gevalle van gebruikers, misbruikers of afhanklikes van dwelms en alkohol op ’n bepaalde tydstip. Voorkoms is dus gewoonlik ’n dwarssnittelling van die teenwoordigheid van ’n spesifieke toedrag van sake. Daar is verskillende soorte voorkomste, insluitende puntvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle op ’n bepaalde tydstip; leeftydvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle binne ’n leeftyd geneem tot op die tydstip waarop die ondersoek gedoen is; en bestekvoorkoms, wat verwys na die totale aantal gevalle binne ’n voorafbepaalde en duidelik afgebakende tydsbestek.

      2 Omvang verwys na die aantal nuut aangemelde gevalle binne ’n spesifieke en voorafbepaalde tydsbestek. Dit is dus ’n aanduider van nuut aangemelde gevalle binne ’n spesifieke tydsbestek, wat gewoonlik gedefinieer word as ’n bestek van een jaar, maar ook langer of korter kan wees, byvoorbeeld een maand of tien jaar.

      Hoewel regerings, groot organisasies, nie-regeringsorganisasies en selfs universiteitsdepartemente inligting oor dwelm- en alkoholgebruik wil bekom, is toegang tot inligting duur, omslagtig en tydrowend. In Suid-Afrika word die situasie verder gekompliseer omdat ons ’n ontwikkelende nasie is met beperkte finansiering, tegnologie en menslike hulpbronne.

      Die Verenigde State van Amerika

      Die Verenigde State het toegang tot groot epidemiologiese studies, wat die gebruik van dwelms en alkohol binne hul bevolking ondersoek het. In die jare tagtig en negentig en vroeg in hierdie eeu is verskeie studies deur verskillende organisasies begin. Hierdie ondersoeke het duisende mense van oor die hele Amerika as steekproef gebruik om die leeftydvoorkoms van die gebruik, misbruik en afhanklikheid van dwelms en alkohol te bepaal.

      Afhangende van watter ondersoek geraadpleeg word, is die leeftydvoorkoms van alkoholmisbruik tussen 4,9% en 17,8%, terwyl die leeftydvoorkoms van alkohol-afhanklikheid wissel tussen 5,4% en 14,1%. Hierdie gemiddelde syfers weerspieël nie die beduidend hoër vlakke van alkoholmisbruik en -afhanklikheid binne die manlike bevolking nie, wat relatief baie laer is vir die vroulike bevolking. Die leeftydvoorkomsvlak vir die misbruik en afhanklikheid van cannabis is ongeveer 11,8%, terwyl die leeftydvoorkoms vir die misbruik en afhanklikheid van ander dwelms relatief laag is (die meeste ondersoeke dui minder as 3,9% aan, terwyl een studie 7,9% aangedui het). Die leeftydvoorkoms vir afhanklikheid van nikotien wissel tussen 13% en 24%.

      Suid-Afrika

      Terwyl Suid-Afrika nie toegang tot sulke groot studies het as wat in Amerika gedoen is nie, het ons tog ’n paar opnames wat plaaslik die situasie met betrekking tot dwelms probeer bepaal het. Dié ondersoeke sluit die werk in van navorsers met uiteenlopende affiliasies, wat in uiteenlopende omgewings en met verskillende metodologieë gewerk het. ’n Omvattende oorsig is derhalwe moeilik. Die studies sluit ’n paar opnames in wat by skole en onder huishoudings gedoen is, sowel as onder kommersiële sekswerkers en rondom MIV-risikogedrag, dwelminspuitpatrone en homoseksuele


Скачать книгу