Een glas dooswit. Linette Retief
Dior-skoene vir R86,99 op Edgars se halfprysuitverkoping wat ek met ’n seer hart wou hê, maar nie kon bekostig nie. En Edgars wou nie vir my ’n rekening oopmaak nie omdat ek nie ’n kredietrekord gehad het nie.
Maar toe gee Edgars vir my ’n rekening, en toe is daar geen keer nie. Die bank gee vir my ’n oortrokke fasiliteit en ’n kredietkaart. Kort daarna gee Truworths en Stuttafords vir my rekeninge. Elke dan en wan gaan koop ek ’n TV of hoëtroustel – ja, dit was nog die dae – by die Hyperama en betaal 12 of 24 maande daaraan af. En so het dit aangegaan – van klere en meubels tot TV’s en ingevoerde velsorg, en feitlik elke dag scones en tee by Taylor’s Coffee Shop, waar McDonald’s nou staan.
Ná 15 jaar as kopieskrywer by verskeie reklame-agentskappe in Sandton en omgewing het ek besluit om ’n vryskut te word, en daar spring ek van die pan tot in die vlam. ’n Vinnige terugflits: Soos die meeste reklamemense het ek altyd ’n bietjie vryskutwerk gedoen. En die ekstra kontant was wonderlik. Die nadeel is dat jy nooit leer om te sien kom klaar nie, want daar’s altyd daai ekstra R500 of R1 000 of R2 000.
Om na my groot sprong terug te kom: Dit is een ding om lustig oor die verskil tussen jou netto en bruto salaris te kla; dit is ’n ander ding om die geld eers in jou warm klein handjies te hê en dit dán vir die belastinggaarder te gee. En dit is nóg ’n ander ding om skielik self te moet voorsiening maak vir alles van boekhouers en rekenmeesters tot ’n mediese fonds, pensioen en skryfbehoeftes. En dis veral ’n ding om dit alles te doen – én jou werk – as jy ’n regterbrein-creative is vir wie die woord “begroting” so vreemd is soos ’n VVV en so aanloklik klink soos ’n aambei-operasie.
Van welkom gepraat, daarmee saam het ook ander onwelkome werklikhede gekom wat ek nou eers besef my geleidelik al hoe dieper in die sop gekry het. Byvoorbeeld, wat ek maandeliks gefaktureer het, was dikwels ’n droom. Wat ek ingekry het, was nader aan ’n nagmerrie. En om geld te jaag, of ander mense te betaal om dit namens my te doen, het ’n groot deel van my lewe en energie in beslag geneem.
In die proses het ek ’n paar dinge leer vrees. Ek het geleer as ’n kliënt jou meer as twee maande nie betaal nie, begin die werk jóú geld kos. Want dit is geld wat jy nodig het om jou oorhoofse koste te dek.
As dit nie daar is nie, begin jy in jou krediet delf – hetsy die kaart, die oortrokke fasiliteit of die verband. En ek het geleer om deurgrondelik bang te wees vir die woorde: “We’ll pay you when the client pays us.” Wat natuurlik presies is wat ek sê as die bank wil weet wanneer ek my verband en my motor gaan betaal.
2
My lewe tydens skuldberading
‘If you’re going through hell, keep going.’
Winston Churchill
Jare gelede het ek saam met ’n skeppende direkteur gewerk wat altyd gesê het die beste advertensies is daai kleintjies wat ’n mens desjare in Huisgenoot gekry het. Dit het bestaan uit ’n enkele woord en ’n vraagteken: “Aambeie?” – en ’n pleidooi om ’n posorder vir 10c na die een of ander obskure posadres te stuur. Sy punt was: As jy aambeie het, gaan jy die advertensie raaksien.
As ek nou terugkyk, besef ek my besluit om vir skuldberading te gaan, het nie soseer op ’n enkele aha-oomblik berus nie. Dit was eerder ’n kumulatiewe aambeiagtige ervaring. Saam met my opbouende skuldgevoelens (en -realiteite) was ’n toenemende bewustheid van skuldberadingsboodskappe wat skielik oral opgeduik het; pamfletjies op die ysterwarewinkel se toonbank, opwipboodskappies op my rekenaarskerm, lewensboeie op groot bankgroepe se binnekring-televisie, advertensies op mure …
Voeg daarby die feit dat ek in daardie stadium ’n maandelikse huispaaiement van amper R18 000 gehad het, terwyl ek daardie betrokke maand fakture vir R4 000 uitgestuur het, en die skrif was op meer as een manier aan my persoonlike muur.
Die volgende stap was om te besluit watter oplossing om te kies. Aan die een kant was daar die bank se reddingsgordel, en aan die ander kant was daar my vriendin Adele, wat ’n vriendin het wat ’n skuldberader is. Synde ’n gevoelsmens en ’n sucker vir ’n tikkie persoonlike aandag, besluit ek toe om vir Adele te vra, waarop sy vir my Claudia se besonderhede kry.
Presies hoe dit gevoel het om daardie eerste oproep te maak, kan ek vreemd genoeg nie onthou nie. Maar máák het ek hom gemaak – saam met ’n afspraak om so gou moontlik by Claudia se onderneming, Quality Living, uit te kom. Anders as sommige mededingers het die naam Quality Living darem geklink soos die lig aan die einde van die tonnel – nie die wegholtrein van ophopende skuld wat maande lank al gedreig het om my in te haal nie.
En daar, op ’n prille Maandagoggend in Mei 2009, begin my skuldberadingstorie toe.
Dagboek van verdrukking
11.05.2009
‘80% of success is just showing up.’
Woody Allen
Ná ’n slapelose Sondagnag bevind ek my by die voorhek, toe op die voorstoep en daarna in die voorportaal van Quality Living. En die oomblik van afrekening wag. Claudia praat nog op die foon en ek het oënskynlik tyd om oor my sondes te dink terwyl ek blaai deur haar Zen-aanhalings en kies-’n-hond-wat-by-jou-persoonlikheid-pas-koffietafelboeke.
As dit ’n fliek was, sou die terugflitse nou begin het …
Dit is die begin van 2009, en die resessie ry my bloots. Die telefoon hou op lui, maar die rekeninge hou nie op kom nie. Ek hou my egter konstruktief besig deur vir die eerste keer in my lewe gim toe te gaan en ontslae te raak van ’n magie en agterstewe wat begin dreig om onafhanklike republieke te word. Ek pak laaie reg wat jare lank al onverstoord lê en stof vergader. Ek begin selfs skryf aan ’n roman.
Maar dít alles en meer bring nie ’n sent ekstra in nie, en die skokke bly kom. Ek het skaars begin herstel van die jongste rentekoersverhoging, dan spring ’n Eskom-verrassing soos ’n skedel uit ’n skoolbasaarspookhuis. My kredietkaartskuld word al hoe hoër terwyl my moed en die inhoud van my kostrollie al hoe laer sak.
Maar dit is nie net die ekonomie nie. Dit is ook my eie skuld.
Of is dit dalk Die Straf vir my Groot Sonde; dat ek te dikwels heimlik ’n hoonlag wou uitpak vir mense wat waspoeier in koppies afmeet of goed sê soos: “Spaar ’n vuurhoutjie en koop ’n plaas”?
Hoe dit ook al sy, vir te lank was my motto: “I buy, therefore I am.” En koop was my veeldoelige dwelm; as ek gelukkig is, as ek ongelukkig is, as ek op is, as ek af is … Soos die spreekwoord sê: “It works every time.”
Van slagspreuke en motto’s gepraat, daar sit ek toe, uit eie, vrye keuse dog noodgedwonge – aangedryf deur slagspreuke vir twee handelsmerke wat in hierdie stadium so ver van my begroting verwyder is soos die Ooste van die Weste. Nike se “Just do it” het my tot hier gekry. Johnnie Walker Black Label se “Keep walking” gaan my hopelik hier uitkry. En die eienaardigste van alles is, ek voel verlig; soos ’n kind wat ná jare se vloermoere die pak slae gaan kry wat sy lankal verdien.
18.05.2009
‘It is the greatest of mistakes to do nothing because you can only do a little. Do what you can.’
Sydney Smith
Die laaste folterende herinnering voordat Claudia my vir my eerste sessie inroep, is die afskuwelike verhaal van ’n goeie vriendin en ’n slegte toebroodjie. My vriendin Annelize het eendag ’n geroosterde ham-en-kaas-toebroodjie in haar motor se mossienes vergeet, en toe sy dit etlike weke later onthou, was sy te bang om te kyk. Ek vermoed geen skimmel of swam kon erger gewees het as die drogbeelde wat sy self opgetower het nie.
En dit is plus-minus waar ek nou is: Die werklike mot en roes van my finansiële dilemma het my ingehaal. Maar gaan die werklikheid erger wees as alles wat ek so lank reeds probeer onderdruk? Mmm … Toe ek ’n kind was en ek geweet het ek gaan pak kry, het my boude so begin tintel. Ten minste bly dit my gespaar toe Claudia uitkom.
Trouens,