Een glas dooswit. Linette Retief
op haar rekenaar kyk en met ’n Mona Lisa-glimlaggie en innemende stemtoon sê: “Jou goed is so deurmekaar soos kots in ’n tumble drier.”
My eerste instink is om te sê: “Sorry, juffrou, ek sal dit nie weer doen nie, juffrou; die hond het my finansiële IK opgevreet …” En die daaropvolgende twee uur is ’n sekonde-vir-sekonde-konfrontasie met die werklikheid wat ek die afgelope kwarteeu op elke moontlike en onmoontlike manier probeer vermy het.
Soos hulle in die flieks sê: “You can run, but you can’t hide.” En hier is ek nou in ’n hoek gedryf, gekonfronteer met die gevolge van elke impulsiewe aankoop en wanbesteding van die afgelope 9 050 dae. Trouens, elke item van die begroting wat ons deurgaan, is ’n stukkie van my psige wat opkom vir inspeksie en te lig in die broek en te swaar aan die skuld bevind word.
Al die eens onweerstaanbare klere waarin ek vaskyk as ek my kas oopmaak en opnuut besluit ek het niks om aan te trek nie … Al die plastiekspeelgoed wat ek in oomblikke van swakheid vir my kind koop en wat 24 uur later vergete tussen die kombuisdeur en die sandput lê … Al die Lady Bountiful-oomblikke in restaurante waar ek my kaart uitpluk en sê: “Moenie worry nie, ék sal betaal …” Al die goed wat ek gekoop het omdat dit so mooi was, omdat dit so lekker was, omdat dit so sexy was, omdat dit vinniger as die goedkoper alternatief was, omdat dit eenvoudig dáár was in die oomblikke van my verbruikersbenoudheid.
Kortom, al die maniere waarop ek nog altyd van die pyn weggehardloop het, word nou gereduseer tot drie bladsye vol “eina” onder die briefhoof “Claudia Olivier / Proposal to credit provider in respect of debt review of Section 86 of the National Credit Act (34 of 2005)”.
En dit is nie sommer ’n Elastoplast-“eina” nie. As vryskutskrywer is dit ’n ICU-eina wat nie kan terugval op drie betaalstrokies nie – wat beteken dit is ’n ICU-eina wat met die ekwivalent van ’n Elastoplast genees moet word.
Tog, soos die spreekwoordelike lelie in die varkie se snoet wat deur die modder dring, is daar ’n gevoel van verligting. En teen die einde van die twee uur toe Claudia my met ’n koppie koffie lawe, voel ek ’n eienaardige kalmte op my neerdaal. En ek dink aan my ou vriend Bill, ’n entoesiastiese vlieënier in sy vrye tyd, wat sê daar’s niks wat jou so fokus soos daai oomblik dat jy besef jy gaan val nie.
25.05.2009
‘The truth shall set you free, but first it will make you damn mad.’
M. Scott Peck
Van die rit huis toe ná my eerste skuldberadingsessie onthou ek nie veel nie, behalwe dat dit ’n Molotof-cocktail van verligting en verskrikking was. Aan die een kant het ek gevoel ek kon ophou hardloop, maar aan die ander kant het dit my nie daarvan weerhou om te wil hol in die rigting van die naaste drankwinkel nie. Of in hierdie geval, die naaste Pick n Pay waar ek, diep onder die indruk van my dilemma, ’n nederige boksie No Name Dry White aangeskaf het.
Die nederige droëwit moes egter wag totdat die vliegtuig oorvlieg, en tot tyd en wyl moes ek my sorge verdrink met ’n balie Frisco met Cremora terwyl ek oor die realiteite van my nuwe regime besin.
Ná ’n paar uur van besinning, ’n hoop admin en ’n paar joppies was die Boeing darem oor Benoni en kon ek ’n glasie tap uit die kraantjie, wat ek uit pure entoesiasme heeltemal skeef getrek het. Maar daar val die dooswittetjie toe hard op my verhemelte, en ek drink net een glasie. (Net één glasie?! Nuwe wêrelde van besparing gaan voor my oop!)
Ek troos myself ten einde raad met ’n koppie kamilletee. En uiteindelik, lank ná my gewone slaaptyd, verval ek in ’n onrustige sluimer, vol van daai Sielkunde 101-drome waar jy kaal in die straat af loop, probeer weghardloop maar vassit, en dan val en skielik wakker word voordat jy die grond tref …
01.06.2009
‘He who does not economise will have to agonise.’
Confucius
Die laaste droom is natuurlik besonder na aan die werklikheid. Ek ís mos nou besig om te val, en nou moet ek my gat in rat kry voordat ek hom in allerlei dimensies sien. En dit – die gat-in-rat-kryery – het Claudia sonder doekies omdraai verduidelik, behels drastiese maatreëls.
Stap nommer 1 was dat ek ’n klompie vorms moes onderteken sodat ek amptelik vir skuldberading geregistreer kon word, ’n stand van sake wat bevestig word deur die sogenaamde N17-vorm wat jou noodtoestand amptelik maak.
Stap nommer 2 is ’n tweemaandetydperk om jou lewe en jou sake agtermekaar te kry voordat jy moet begin leef volgens ’n streng plan of voorstel wat deur ’n hof goedgekeur moet word. Eeergh, aaargh, nog ’n eina.
Stap nommer 3 was om my krediet- en winkelkaarte op te sny, en dit was verrassend pynloos. Dus: koebaai, Classic-kaart; vaarwel, Vodacom-kaart; tot hiertoe en nie verder nie, Stuttafords- en Foschini-kaart; bon voyage, Voyager-kaart, en moer toe, MasterCard!
Stap nommer 4 is om ’n spaarrekening oop te maak by ’n bank waar ek geen skuld het nie. Wat my ’n paar dae later bring by die voordeur van die plaaslike FNB met my N17-vorm onder die arm.
Ek voel soos ’n kind wat na die hoof se kantoor geroep word toe ek my situasie aan ene Molly verduidelik. En vir die eerste maar nie die laaste keer nie, word ek verras. Sy spoeg nie in my oog nie, sy lag nie in my gesig nie. Sy skud net haar kop en sê met simpatieke oë: “These are hard times, I know.”
’n Driekwartier en ’n kleinhuisie vol detail later het ek my FNB-debietkaart wat aan my spaarrekening gekoppel is en voel ek beter as wat ek ooit gevoel het toe ek as kind ’n spaarboekie vol seëls gehad het – of as grootmens toe ek my eerste goue kredietkaart uit sy koevertjie uittrek en die blaaie vol fyn druk wegsmyt.
Van nou af mag ek nie meer volgens die illusie van geld lewe nie. Van nou af moet ek sien en kom klaar met wat in hierdie rekening is – geen krediet, geen begrotingsrekening, geen oortrokke fasiliteit, en geen vlieg-nou-betaal-later nie.
My nuwe pad na skuldvryheid is uiteraard nie al wat my tyd in beslag neem nie. Die lewe gaan aan. En maande gelede, toe dit nog ver gevoel het, het ek plegtig onderneem om klasverteenwoordiger te wees vir my seun se klas se kerrie-en-rys-tafel by die skool se pretdag.
Nou is dit uithaal-en-wys-tyd, terwyl ek eintlik in die bed wil lê en aan my teddie vasklou totdat ek beter voel en/of verkieslik totdat ek gered word deur ’n held met ’n hart so groot soos sy beursie. Die waarskynlikheid hiervan is egter omtrent gelykstaande aan my kans om die Lotto te wen.
Ek kyk dus noord en wroeg voort, met ’n naarheid op my maag en ’n knop in my keel, op soek na plastiekbakkies en -vurke, reusebottels blatjang en afslagservette.
07.06.2009
‘Necessity does the work of courage.’
Nicholas Butler Murray
Ek sit by City Power in Braamfontein en wag my beurt af, sonder ’n bekommerde haar op my kop. Ek het my agterstallige rekening en my N17-vorm, en ek gaan mos ’n afbetalingsreëling beding soos wat ek al vantevore gedoen het. Op my skoot, om die ledige uurtjies te verwyl totdat my nommer opkom, is die omstrede Christelike roman The Shack.
Uiteindelik breek die oomblik aan en ek neem plaas voor ’n onverbiddelike jong dame met alles behalwe my vingerafdruk en ’n urinemonster voor haar op die skerm. Ek bied aan om R1 000 vooruit te betaal uit die bodem van my oortrokke persoonlike tjekrekening. Alles gaan goed totdat sy iets bespeur en my skielik met nuwe – is dit beskuldigende?! – oë aankyk en sê omdat ek nie by my vorige reëling gehou het nie, moet ek met ene Jones in hulle regsafdeling gaan gesels.
Daar verdwyn ek toe dieper en dieper in die derms van City Power totdat ek in ’n ontvangsafdeling kom waar ek na die geheimsinnige Jones vra. ’n Halfuur en ’n paar sweetbedrupte bladsye van The Shack later is ek The Wreck. En toe kom Jones te voorskyn.
Uitdrukkingloos-geheimsinnig soos ’n burokratiese Mona Lisa begelei hy my na ’n klein vergaderkamertjie waar