Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
vra jy?”
“Dis net ’n gevoel wat ek het. En hy het nou die dag opgemerk dat jy hom nie eintlik aanneemlik vind nie.”
Sy het nie geantwoord nie en die gesprek verander.
“Jy kan darem vriendeliker probeer wees,” het Nanette gepleit.
“Hy het my probeer soen,” was Elize se kortaf antwoord.
“Nou wat is verkeerd daarmee?”
“Ek hou nie daarvan nie.”
“Van soen? Waarom nie?”
“Ek hou nie daarvan om sommer deur enigeen gesoen te word nie.”
“Ai, sus, ek verstaan jou ook nie,” was Nanette se laaste woorde.
Elize het haar studie voltooi en werk gekry by ’n klein tydskrif waar sy haar eie baas was en waar sy veilig gevoel het in ’n klein en deurmekaar kantoortjie. Sy het ’n enkelwoonstel betrek en was vir die eerste keer in haar lewe volkome tevrede. Daar was niemand om met haar te lol nie, niemand wat vra waarom sy nooit uitgaan nie, niemand om aan haar te vat of te torring nie. En elke aand het sy gesit en skryf. Dit was heerlik!
“Dis onnatuurlik,” het Nanette gesê toe sy Johannesburg toe gekom het om haar bruidsuitset te koop. “Jy is so mooi en jy is jonk, en hier sit jy weggesteek in jou ou woonstelletjie.”
“Ek hou daarvan, sus. Kan jy dit dan nie begryp nie?”
“Wil jy dan nie trou nie?”
“Nie noodwendig nie, nee. Miskien ontmoet ek eendag die regte man.”
Nanette het verbaas uitgeroep: “Jy het nie ’n kans om die regte man te ontmoet nie! Jy gaan dan nooit uit nie!”
“Dis nie waar nie.”
Dit was ook nie. Sy het dikwels uitgegaan saam met Neels wat
saam met haar gewerk het. Dit was ’n vriendskap wat haar gepas
het. Neels het skynbaar geen behoefte gehad om ’n ernstige verhouding aan te knoop nie. Hulle het saam gaan eet, soms gaan fliek, soms vir vriende gaan kuier en altyd was hy dieselfde: vriendelik, gesellig en openhartig. Hy het nooit aan haar geraak nie en hy was skynbaar net so tevrede met die stand van sake as sy.
“Jy dink nog ’n prins gaan op ’n wit perd aangery kom en jou wegneem na sy kasteel,” het Nanette gewaarsku. “Sulke dinge gebeur nie. Die wêreld is vol doodgewone, goeie mans en jy sal met een van hulle moet trou. Prinse bestaan nie.”
“Moenie jou oor my bekommer nie, sus,” het Elize gelag. “Ek is tevrede met my lewe. Doodtevrede.”
Toe Nanette en Gerrit getroud is, het sy ’n laaste poging aangewend om Elize en die strooijonker, Johan, in mekaar te laat belang stel. Johan was ’n baie aantreklike man en Elize moet erken dat hy haar hart vinniger laat klop het.
Een aand het hy by haar woonstel aangekom en haar gevra om saam met hom te gaan eet. Sy het ingewillig en hulle is weg. Hulle kon lekker gesels en sy het die aand verbasend baie geniet totdat hy haar teruggebring het. Toe het hy haar vasgegryp en begin soen. Sy soene was nie onaangenaam nie en ’n ruk lank het sy haar oorgegee aan sy liefkosing, maar toe dit dringender begin word het, het sy hom weggestoot.
“Wat is dit nou?” wou hy weet. “Jy is mos nie ’n kind nie!”
“Ek dink ons moet nou liewer ophou,” het sy gesê en haar hare van haar gesig weggestoot.
“Waarom? Ek is lief vir jou. Jy weet dit tog seker.”
“Ek is jammer, Johan. Ek voel nie dieselfde nie.”
“Maar jy is ’n uiters begeerlike vroumens, Elize.”
Sy het net gebloos en haar kop geskud. “Ek het sekere beginsels waarby ek hou, Johan, en –”
“Beginsels!” het hy minagtend gesnork. “Ons leef in die twintigste eeu, my meisie!”
“Ek wil nie verder daaroor praat nie.”
En dit was die laaste sien van Johan. Sy was in haar hart nogal teleurgesteld. Sy het gehoop hy sou genoeg omgee om weer te kom kuier, maar hy het net verdwyn en sy moes tot die slotsom kom dat hy nie regtig lief was vir haar nie.
Toe is haar eerste boek gepubliseer. Dit het haar lewe radikaal verander. Skielik het mense haar met agting bejeën. Sy was nie net ’n mooi meisie met vreemde idees nie; sy was ’n skryfster. En sy self het gevoel asof sy tuis gekom het na ’n lang reis. Uiteindelik het sy gedoen wat sy wou en mense moes maar daarmee vir lief neem. Sy het al hoe minder begin uitgaan en al hoe meer geskryf. Die lewe was rustig en voorspelbaar. Selfs Neels het selde kom inloer . . .
Die meisie roep na haar hond wat ver vooruit langs die strand gehardloop het.
“Noag! Dit word laat, my honne. Ons sal moet begin terugloop.”
Die hond kom stertswaaiend teruggehardloop en hulle draai om en begin terugstap na die ry huise ver onder in die baai.
Die brief van haar uitgewer was ’n verrassing. Hulle het navraag gedoen na haar werk en gesê daar is ’n moontlikheid dat haar boeke vertaal kon word. Sy was opgewonde en het besluit om self die vertaling te doen. Die boek was buitengewoon gewild in Engels en die volgende verrassing was die brief uit Amerika wat voorgestel het dat sy soontoe kom sodat hulle die rolprentregte kon bespreek.
Sy het nie regtig gedink die boek is rolprentmateriaal nie, maar sy het haar woonstel aan ’n vriendin verhuur, haar tasse gepak en vir Nanette gaan groet.
Haar suster was nou ’n besige moeder van twee klein kindertjies en Elize kon sien dat haar suster alles bereik het wat sy wou.
“Amerika toe?” wou Nanette skepties weet. “Hoe lank gaan jy?”
“Ek weet nie. As hulle regtig ’n rolprent van die boek wil maak, sal ek seker ’n hele ruk daar bly.”
Nanette het gekreun en haar oë hemelwaarts opgeslaan.
“En watse onnatuurlike soort mans gaan jy nie daar ontmoet nie! Daardie rolprentmense is mos een maller as die ander!”
“Haai, sus, hoe kan jy so sê? Buitendien gaan ek nie soontoe om ’n man te soek nie.”
“Jy is vyf-en-twintig; jou beste jare gaan verby. Jy sal moet opskud.”
Gerrit het vir haar in die bres getree.
“Haar beste jare gaan nie verby nie, hartjie. Elize is nou mooier as wat sy nog ooit was.”
“Ek weet nie wat Mammie-hulle van alles sou gesê het nie,” het Nanette gesug en dit het almal hartseer gestem.
Dit was in werklikheid een van die redes waarom sy wou wegkom. Die skielike dood van haar ouers het haar diep getref en sy het veral haar vader vreeslik gemis. Maar sy het tog die vreemde gevoel gekry dat hy haar sou ondersteun as hy van haar planne geweet het. Hy het haar altyd ondersteun.
Amerika was vreemd en opwindend. Gedurende die eerste paar weke het dit gevoel asof sy permanent tiekiedraai. Haar kop het gemaal van die nuwe ondervindings en die interessante mense wat sy ontmoet het: regisseurs, draaiboekskrywers, akteurs . . .
Maar die mens van wie sy dadelik gehou het, was Henri Dryson. Sy het van hom gehoor en lank voordat sy Amerika toe is, geweet dat hy bekend was as een van die beste regisseurs, ’n man met integriteit, ’n man wat nie net rolprente maak nie, maar kunswerke. Hy en sy vrou het in ’n gerieflike huis gewoon sonder die skitterende aanhangsels wat so deel van die Hollywood-bestaan was. In hulle huis was alles altyd effens chaoties en tussen die ouers, kinders en honde het Elize gou tuis gevoel.
Dit was ook Henri wat haar aangeraai het om die verfilming van haar boek te laat staan. Daar was te veel komplikasies. Toe sy instem en planne begin maak om terug te gaan huis toe, het hy haar weer eens oorreed om net gou te help met ’n draaiboek.
“Maar ek weet daar niks van af nie!”