Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux
sy was te konsensieus. Sy was besig met ’n draaiboek en sy sou dit moes klaarmaak. Charles sou nie daarvan gehou het as sy dit sommer laat staan het nie. Daarom het sy aangebly, aangehou werk en vir niemand gewys hoe sy regtig voel nie. Daar was altyd Noag om mee te gesels as dit gevoel het asof sy gaan bars van al die opgekropte gevoelens. Noag was altyd daar met sy wollerige kop teen haar knie . . .
Nou is daar van die hewige hartseer nie veel oor nie. Die kwaai verlange is lankal gestil. Aanvaarding is iets wat kom, al soek ’n mens nie daarna nie. Sy mis hom nog en sy onthou met vreugde die lekker tye wat hulle saam deurgebring het. Maar dis al. Sy huil nie meer nie. Sy vra nie meer wáárom nie. Sy doen haar werk en kuier saam met goeie vriende soos Henri. Maar sy wou huis toe gaan. En nou kan sy nie. Nou moet sy ’n rolprent maak.
Elize tel weer die draaiboek op en begin lees. Teen wil en dank voel sy simpatiek teenoor die Anne van die verhaal, ’n vrou wat deur die lewe rondgewoel is, wat nie haar gevoelens wys nie. Die verskil is dat Anne hard en bitsig geword het. Anne wil in werklikheid nie meer leef nie. En sy haat Roy, die man wat haar probeer terugdwing na die lewe.
Elize grinnik en kyk deur die groot glasvenster van haar sitkamer. Sy dink nie daar is enige ooreenkomste tussen Roy en Robert Ryan nie. Robert lyk nie vir haar na ’n man wat ’n meisie sal probeer terugdwing nie. Hy sal hom doodeenvoudig nie aan haar steur nie. Wat sy doen, is haar eie saak, solank sy hom net nie pla nie. ’n Koue, selfsugtige man; dit is hoe sy hom sien.
Nee, sê haar gewete. Jy ken vir Henri. Hy sal nie met ’n koue, selfsugtige mens werk nie – veral nie in ’n rolprent soos hierdie een nie. Dis ’n subtiele spel tussen twee mense en Henri sal sy spelers goed kies . . .
Haar vingers speel met die kussings wat in ’n hoop op die rusbank lê – laslappiekussings. Dit was ook een van die dinge waarmee sy haar besig gehou het na Charles se dood. En sy het tuingemaak. Sy het gespit en geplant en gesnoei en nuwe beddings uitgelê. Sy het die hele tyd geweet sy behoort weer te skryf, ’n nuwe boek te begin en van al die opgekropte gevoelens ontslae raak. Maar sy kon nie skryf nie. Dit was asof sy opgedroog het.
Sy sug en staan op. Sy is te rusteloos om enigiets te doen. Sy kan nie eers konsentreer op die draaiboek nie. Sy wens Nanette was hier! Nanette het nog altyd belang gestel in die goeie rolprente wat Hollywood opgelewer het, die goeie regisseurs, die onontdekte akteurs wat baie talent het. Dis ironies dat dit sý, Elize, is wat hier beland het, wat nou in ’n rolprent gaan optree onder leiding van Henri, saam met Robert Ryan.
Sy probeer dink wat sy al alles van hom gehoor het. Hy is nie een van die sterre wat gedurig in die kalklig is nie. Hy word nooit op partytjies gesien nie. Daar is nie eintlik skinderstories oor hom in omloop nie. Nou en dan verskyn daar ’n foto in een of ander koerant waar hy saam met ’n mooi meisie verskyn. Die meisies hang altyd aan sy arm en staar na hom asof hy van goud gemaak is, en dit is genoeg om haar te irriteer. Sy ken die helde van die silwerdoek. Hulle voete is gewoonlik nie van klei gemaak nie, maar sommer van papier. Die bewonderende meisietjies besef dit nie. Hulle sien net die mooi gesig raak.
Mooi gesig, snork sy. Hy is ook nie só mooi nie. Aantreklik, ja, dit moet sy teësinnig toegee. En alhoewel hy vir haar uiters arrogant voorgekom het, weet sy dat Henri hom beskou as een van die tegemoetkomendste akteurs wat daar is.
“Hy het nie nodig om ’n akteur te wees nie,” was Henri se woorde. “En hy weet dit. Ons weet dit ook. Hy het nie die geld nodig nie en hy het veral nie die bekendheid nodig nie. Hy doen dit om een of ander onbekende rede en daaroor is ek dankbaar, want hy is baie talentvol, ’n werklik begaafde speler. Hy dreig na elke prent dat dit sy laaste een gaan wees en ’n jaar of twee later is hy maar weer terug. Ek hou daarvan. Hy speel nie of lewe en dood daarvan afhang nie en tog skeep hy nooit af nie.”
Nou ja, dink sy filosofies en stap kombuis toe om te kyk wat sy vir aandete kan gaarmaak. Henri het verkies om sy nuwe rolprent met twee baie onwillige spelers te maak. Hy weet vermoedelik wat hy doen en hulle sal maar daarby moet berus. ’n Boer en ’n skryfster kan onmoontlik ’n goeie kombinasie wees, maar as Henri dit so wil hê, moet hulle maar saamspeel.
Hoofstuk drie
Drie weke later sit Elize in ’n seilstoel, die draaiboek op haar skoot, en kyk hoe mense om haar werskaf. Mans op hoë lere verstel aan ligte, orals is drade en kameras en besige, bewegende mense. Sy sit in die sitkamer van ’n kleinerige woonstel in die ou huis wat Henri vir die duur van die verfilming gehuur het. Die idee is dat Anne ’n woonstel in hierdie ou huis het en dat Roy ’n nuwe intrekker is wat op die verdieping onder haar intrek. Die hele ou huis is dus in rep en roer.
Die hele span bly reeds die afgelope paar dae in die plaaslike hotel. Daagliks repeteer hulle en alhoewel ’n mens van al die aktiwiteit sou kon aflei dat hy reg is om te begin skiet, is dit glad nie die geval nie. Hulle gaan nog baie repeteer. Die een ding wat sy geleer het, is om geduldig te wees. Daar is ure van niksdoen vir elke paar minute van aksie.
Met Robert het sy nog nie veel gepraat nie. Hy daag presies betyds op vir elke repetisie en hy ken al sy woorde. Maar die oomblik dat hulle klaar is, maak hy verskoning, sit sy bril op en sit iewers in ’n hoek en lees totdat hy weer benodig word.
Henri maak hom los van ’n groep mense en kom na haar aangestap. “Nou toe,” vra hy, “is jy reg?”
“Ja,” sê sy en glimlag vir hom.
“Ek is bly,” sê hy en sit sy hand op haar skouer.
Sy kyk skielik bekommerd na hom. “Henri, weet jy regtig wat jy doen? Is jy nog nie spyt dat jy my hierin gedwing het nie?”
“Nee,” sê hy en skud sy kop. “Ek weet altyd wat ek doen.”
Oomblikke later is almal blykbaar tevrede met die beligting en Henri wys vir Elize dat hy wil begin. Sy staan op en die grimeerder kom vryf gou haar hare deurmekaar.
Elize haal diep asem en probeer haarself verander in Anne, die ongelukkige vrou wat doelloos deur haar sitkamertjie dwaal, ’n plaat opsit en haar naels staan en bestudeer terwyl sy somber deur die vuil venster staar. Daar is ’n klop aan die deur en Roy loer om die kosyn om kennis te maak.
Anne snou hom toe. Wat kom soek hy daar? Sy stel nie belang in die ander inwoners van die huis nie. Sy wil alleen gelaat word.
Hulle speel die hele toneeltjie deur totdat Henri sy hand ophou en almal afwagtend na hom kyk.
“Nee,” sê hy. “jy klink bloot verveeld, Elize. Jy is nie verveeld nie, onthou. Jy is kwaad. Jou privaatheid is iets wat jy soos ’n kokon om jou gespin het en jy is woedend as iemand daarop inbreuk maak. Jy moet hatig klink. Die laaste ding wat jy nou in jou lewe wil hê, is ’n vriendelike buurman wat wil kom kennis maak.”
Elize knik en hulle herhaal die hele toneel. Sy probeer bitsiger klink, maar sy kan self hoor dat dit maar flou is.
“Liz,” sê Robert Ryan koel toe Henri weer sy hand ophou, “jy is tog kwalik een van die nagvlinders van Hollywood. Jy is –”
“Moet my asseblief nie Liz noem nie,” sê sy koud. “Dit is nie my naam nie en dit is ’n verkorting wat ek haat!”
“Goed,” sê hy geamuseerd. “Maar wat ek wou sê, is dit: jy is tog ’n alleenloper. Hoe sal jý voel as iemand sommer een aand by jou instap om kennis te maak?”
“Dit hang af wie dit is,” sê sy kwaad. “As dit jý is, sal ek vanselfsprekend woedend wees.”
“Presies,” sê Henri en sy verbeel haar sy oë blink.
Hulle speel die toneel weer deur en hierdie keer swaai sy om met woede in haar oë toe Roy aan die deur klop en die deur sommer oopstoot. Haar onvriendelike woorde sny deur die klein vertrek en aan die einde glimlag Henri goedkeurend en knipoog vir haar. Teen die einde van die dag is hy doodtevrede en is die eerste paar minute op film vasgelê.
Elize is gedaan. Sy het altyd gedink sy werk hard wanneer sy elke dag in haar ateljee gesit en tik het, maar sy was nog nooit so emosioneel gestroop soos nou nie. Wanneer sy dink aan die liefdestoneel aan die einde, word sy koud. Maar sy is nou te moeg om verder daaroor te tob. Sy wil net in haar