Emma en die geheime gang. Marianna Brandt

Emma en die geheime gang - Marianna Brandt


Скачать книгу
ection>

      

      Emma en die Geheime Gang

      Marianna Brandt

      Human & Rousseau

      Vir Michael Whitenburgh

      1

      Emma sien Kosterkloof Hoërskool se drieverdieping­kos­huis met sy pragtige tuin en hoë bome van die grootpad af toe hulle die dorp inry.

      Haar pa hou stil onder ’n eikeboom, ’n entjie van die kos­huis se ingang af. Hendrik, Emma se tweelingbroer, sit vas aan die slaap op die agterste sitplek.

      Sy spring uit en klop aan die venster. “Hei! Ons is hier!”

      “Huh!” Hendrik se oë vlieg oop. Hy gaap en stoot sy vin­gers deur sy kort, bruin hare en kyk deur die venster na die koshuisgebou. “Is dit die plek?” vra hy nog deur die slaap.

      Terwyl hulle die bagasie agter uit die Land Rover laai, waggel ’n meisie in stywe jeans by hulle verby. Hendrik laat los die handvatsel van sy tas. “Jissou, het Pa dít gesien?”

      “Ja, hier sal julle nie honger ly nie,” grinnik hulle pa en tel een van Emma se tasse op.

      Emma haal haar skouers op. “Seker ’n probleem met haar gewig.” Sy frons vies vir haar broer. “Sy’t dalk een of ander siekte, of iets.”

      “Whatever,” sê Hendrik en vat sy tasse.

      Net toe hy wil aanstap na die gebou se ingang, kom twee seuns verby. Hendrik gaap hulle oopmond agterna en kyk dan na Emma en sy pa.

      Die seuns se bene skuur teen mekaar en hulle hemde sit só styf dat die knope enige oomblik gaan afskiet. Verder lyk dit kompleet of hulle oë tussen hulle pofferwange en wenkbroue verdwyn.

      Hendrik skud sy kop. “Nee, jissou, ’n mens kan nie so vet wees nie. Speel die ouens dan nie rugby of sokker of iets hier nie?”

      “Daar’s niks met hulle verkeerd nie. Hulle is net goed ge­sond,” spot hulle pa toe hulle die trap opstap na die ingang van die gebou.

      Die ingangsportaal lyk soos dié van ’n vyfsterhotel, dink Emma toe hulle instap. Baie anders as die koshuis in die Kaap, wat maar oud en verwaarloos was.

      ’n Deftige vrou kom hulle tegemoet en steek ’n goedversorgde hand met lang rooi naels na hulle pa uit. “Goeie­môre, ek is Sophie Snopke, kom asseblief deur na my kantoor.”

      “Sit gerus,” sê die vrou toe sy agter haar lessenaar inskuif. Die geur van duur parfuum walm om haar met elke beweging van haar arms waaraan ’n rits goue armbande klingel.

      “U van, Meneer?” vra sy en loer ondersoekend oor haar bril.

      “Odendaal,” antwoord hulle pa. “En dit is Emma en Hendrik.”

      “O ja.” Mevrou Snopke kyk in die oop boek voor haar. “Emma en Hendrik Odendaal.” Sy glimlag soetsuur. “Wel­kom hier by ons.”

      Nadat al die nodige vorms ingevul is, staan mevrou Snopke op. Sy haal ’n sleutel uit ’n laai en gee dit vir Emma. “Hier is joune. Jy en twee ander meisies is in nommer vyf­tien. Dis op met die trap.”

      Sy draai na Hendrik en gee sy sleutel vir hom. “En jy is saam met twee ander seuns in nommer sewe op die grond­vloer, maar hulle is nog nie hier nie.”

      Emma se pa stap saam met haar met die trap op na haar kamer.

      Toe sy nommer 15 se deur oopstoot, snak sy na asem. Sy kyk vlugtig na haar pa en dan na die ontwerperskaste teen die mure.

      Drie beddens met pragtige geblomde duvets en bypassende gordyne nooi hulle binne.

      “Pa, wat kos dit alles?” vra Emma toe sy weer haar asem terug het. “Die plek lyk soos ’n hotel.”

      “Stel dit so, ek kan dit darem bekostig, anders sou ek julle nie hier ingesit het nie.” Haar pa glimlag. “Ek is bly jy hou van jou kamer.”

      “Ek’s mal hieroor!” Dit lyk allesbehalwe na ’n koshuis­kamer.

      “Het Pa gesien? Dis nie enkelbeddens nie. Dis driekwartbeddens! Ek kan nie glo ’n mens kry sulke koshuise nie.”

      “Wel, dit lyk soos groot bederf,” sê haar pa en sit haar tasse langs die bed naaste aan die deur neer.

      “Dankie baie!” sê Emma en slaan haar arms om haar pa se nek. “Ek hoop nie dit maak Pa bankrot nie.”

      “Nee wat, dis nie so erg nie,” sê haar pa en glimlag.

      Emma stap saam met hom ondertoe. “Ek sal môre bel en sê hoe dit hier gaan. Sê groete vir Ma,” sê sy.

      In die ingangsportaal kry hulle vir Hendrik wat van oor tot oor glimlag. “My kamer is awesome! Ek kan nie wag om die ouens te ontmoet nie.”

      Emma glimlag vir haar pa. “Ry veilig huis toe.”

      “Ek sal, Sus. Pas julle mooi op.”

      “Ons sal, Pa,” sê Hendrik. “Moenie oor ons worrie nie. Hierdie plek is enige koshuiskind se droom.”

      Terwyl hulle kyk hoe hulle pa wegry, kom hou ’n paar motors onder die bome stil. Toe ’n bussie stilhou en die kin­ders uitklim, rek Emma en Hendrik se oë.

      “Jissou, is daar iets met my oë verkeerd?” vra Hendrik. “Hulle lyk álmal so! Ek pas nie hier in nie. Ek is die helfte van hulle size, Em,” sê hy en runnik. “Ek is heeltemal te dun vir hierdie plek.”

      “Hm, ek ook,” sê Emma toe ’n meisie by hulle verbystap. “Ek gaan uitpak. Sien jou by aandete.”

      Terug in haar kamer besluit Emma om eers later uit te pak. Sy trek haar skoene uit en haal haar iPod uit haar rugsak. Dan gaan lê sy op die bed en luister met toe-oë na die nuwe musiek wat sy in die stad afgelaai het voor hulle daar weg is. Sy is so in vervoering dat sy nie agterkom toe twee meisies die kamer binnekom nie.

      Dis eers toe sy ’n harde gelag hoor dat sy die musiek afsit. Sy skrik toe sy die twee buitengewoon fris meisies sien. Sy hou hulle deur skrefiesoë dop. Hulle jeans span oor hulle boude en hulle mae bult behoorlik tussen hulle kort toppies en jeans uit, en dit lyk of dit hulle glad nie pla nie.

      Emma besluit om kennis te maak en kom orent.

      “O, jammer. Ons het jou wakker gemaak,” sê die meisie met die blonde poniestert en groot blou oë. “Ek is Anja Jordyn.” Sy kyk na die aantreklike donkerkop meisie met die mooi glimlag. “En dis Willa Wilhelms.”

      “Ek is Emma Odendaal.” Sy hou sommer dadelik van die twee meisies. Sy kry hulle jammer omdat hulle so oorgewig is. Maar nou ja, dis nie haar probleem nie, dink Emma. Sy moet net keer dat sy nie ook later so lyk nie.

      Asof die twee meisies haar gedagtes lees, sê die blondekop: “Ek en Willa het hard probeer gewig verloor dié Kersvakansie, maar dit was nie so maklik in die kinderhuis nie. Mense het ons weer so bederf, en meneer Snopke het ons ook nie vergeet nie. Hy het elke dag eetgoed afgelewer.”

      “En al die verkeerde kos natuurlik,” sug Willa terwyl sy na haarself in die spieël kyk.

      Kinderhuis? Maar hoe kan hulle dan in hierdie duur kos­huis bly? Dalk het die kinderhuis borge, dink Emma. Ten minste gee iemand vir die kinders om. Sy besef hoe gelukkig sy en Hendrik is. Hulle het nog albei hulle ouers wat baie lief is vir hulle. Sy kan haar nie die lewe indink sonder hulle nie.

      “Hoe kry jy dit reg om so mooi maer te bly?” vra Willa. “Ek was ook eers maer. Maar vandat ek in die koshuis is, het ek vet geword. ’n Mens kan dit nie help nie. Die kos is on­gelooflik lekker, en as jy eers begin eet, kan jy nie ophou nie.” Sy pak haar tas uit. “Baie van my klere is al weer te klein.”

      “Ek hou ook van lekker kos,” sê Emma, “maar ek probeer om gesond te eet. Dis al. En natuurlik hou ek van tennis. Oefening help ’n mens ook om maer te bly.”

      “Ons het ook eers aan sport deelgeneem. Maar ons het dit gelos vir iets rustiger soos kuns en musiek,” sê Anja en lag. “Kan jy ons twee sien draf?”

      Toe die klok vir aandete lui, stap Emma saam met Anja en Willa na die eetsaal


Скачать книгу