Emma en die geheime gang. Marianna Brandt

Emma en die geheime gang - Marianna Brandt


Скачать книгу
baie wees. Ek het nog nooit so ’n kos­huis gesien nie.” Emma se kop werk oortyd van al die vrae. As burgemeester van die dorp kry die man seker ’n groot salaris. Mevrou Snopke lyk ook nie na ’n vrou wat aan min gewoond is nie.

      “Daar’s nie so baie privaatkinders hier nie,” sê Willa. “Nè, Anja?”

      “Nee, daar is nie. Ons is bevoorreg.”

      “Nou hoe het julle in die kinderhuis beland?” vra Emma en besef skielik dis dalk ’n teer saak vir hulle, en dat hulle mis­kien nie daaroor wil praat nie. Maar dis te laat.

      Willa gooi haar nagrok oor haar kop en gaan sit met ’n sug op die bed. “Wil jy regtig weet?” vra sy.

      “As jy nie daaroor wil praat nie, is dit oukei.”

      “Jy sal dit in elk geval nie glo nie. Wanneer ek vir mense vertel, dink hulle ek het dit uit my duim gesuig.” sê Willa en staan van die bed af op. Sy trek ’n pienk kamerjas en pantoffels aan. “My ma het my in ’n klein bruin skoolkoffertjie voor die klooster se deur gelos, die klok gelui en weggehardloop. Ek was net in ’n kombersie toegedraai. Pasgebore. Hulle het my ma nooit gekry nie.”

      Emma se mond val oop. “Regtig! Ek is jammer …”

      “Ek is baie beter af sonder my ma. Sy sou my nooit in so ’n wonderlike skool en koshuis kon sit nie.” Willa glimlag. “Daaroor is ek glad nie jammer nie. Ek mis dit net om broers­ en susters te hê.”

      “Nou wil jy seker my storie ook hoor?” sê Anja en kom sit langs Willa op die bed.

      “Jy hoef nie as jy nie wil nie,” sê Emma.

      “Ek is nie skaam oor my verlede nie. Ek kan niks daaraan doen nie. Dit het gebeur en hier is ek.” Anja vee ’n blonde stringetjie hare van haar voorkop af weg.

      “My ma en pa was al twee enigste kinders, met familie oorsee met wie hulle nooit kontak gehad het nie. Ons was met vakansie op pad see toe, toe is daar ’n groot ongeluk. My ma en pa is op slag dood. Ek was vyf jaar oud en is reg­uit kinderhuis toe. Wanneer ek een-en-twintig word, sal daar vir my geld wees waarmee ek kan gaan studeer.”

      Emma sluk die knop in haar keel weg. Hoe bevoorreg is sy en Hendrik nie, dink sy. Sy het nog nooit eens daaraan ge­dink hoe dit moet voel om sonder ouers groot te word nie.

      “Dit moes erg gewees het, Anja.”

      Anja haal haar skouers op. “ ’n Mens kom oor alles,” sê sy en glimlag. “Vandag het ek goeie vriende en ’n lekker skool­ en koshuis. Die kinderhuis is ook glad nie so sleg nie.”

      “Ek is bly. Ten minste is julle gelukkig. Daar is ook aaklige kinderhuise,” sê Emma en dink aan die stories wat sy al van sulke plekke gehoor het.

      “Wat van jou? Hoekom is jy hier in Kosterkloof?” vra Anja.

      “My storie is maar vaal teen julle s’n. Ons was in die stad op skool, ek en my broer, Hendrik. My arme pa moes ons elke Vrydag gaan haal en weer Sondae terugvat. Later was dit te erg vir hom. Toe verkoop hy die plaas en koop een na­by Kosterkloof nadat hy gehoor het van die goeie skool en koshuis op die dorp. Dis maar my storie. Niks besonders nie,” sê Emma en kruip onder die duvet in.

      “Nou moet julle my verskoon, ek is nogal moeg. Nag, julle.” Emma sit haar bedliggie af.

      Laat daardie aand skrik Emma wakker van ’n gefluister en gevroetel. Sy besluit om nie haar lig aan te sit nie. Toe haar oë die donker gewoond is, sien sy dit is Anja en Willa wat besig is om uit hulle koekblikke te eet.

      “Is jy wakker?” hoor sy Willa fluister toe sy op haar ander sy draai.

      Emma antwoord nie. Sy sien nie nou kans vir ’n middernagfees nie.

      3

      Die volgende oggend, toe Emma gereed is om eetsaal toe te gaan, sukkel Anja en Willa nog met hulle skoolrokke.

      “Help ’n bietjie hier,” sê Anja. “Ek kan dit nie verstaan nie. Voor die vakansie het my rok nog gepas.”

      “Myne ook,” sug Willa. “Ons sal hulle ná skool naald­werk­kamer toe moet vat sodat tannie Rien dit wyer kan maak, as daar nog nate is om uit te laat.”

      “Trek jou maag in en haal diep asem,” sê Emma. Sy trek die ritssluiter van Anja se skoolrok met moeite op. Toe Anja weer ontspan, lyk dit of die rits enige oomblik gaan oopbars.

      “Ek weet nie of dit gaan hou nie. Jy beter vandag niks eet nie,” waarsku Emma.

      “Wil jy hê ek moet doodgaan van die honger!”

      “Ons moet maar net versigtig sit,” sê Willa en lag dat haar oë eintlik agter haar wange verdwyn.

      Die klok lui vir ontbyt. Emma stap saam met haar kamer­maats eetsaal toe. Die geur van gebraaide spek en wors tref hulle toe Willa die eetkamerdeur oopstoot.

      “Ek het nogal verlang na die koshuis se ontbyt,” sê Anja en stap na die tafel waar hulle altyd sit. “By die kinderhuis kry ons net ’n bord pap, roosterbrood en ’n gebakte eier. Dis al.”

      Op die lang tafels sien Emma borde met stapels geroos­terde brood, alle soorte konfyt, kaassmere, bakke met ge­ras­perde kaas, verskillende soorte koue vleis, ontbytpappe en vrugtesappe.

      “Dis nie al nie. Ons kry nog wors, spek en eiers, omelette en sampioene, botterbroodjies en nog baie ander lek­ker goed,” sê Anja.

      “Ek eet net roosterbrood met kaas en koue vleis en ’n glasie vrugtesap vir ontbyt,” sê Emma terwyl haar oë oor die magdom kos op die tafels dwaal.

      Mevrou Snopke kom van agter in die eetsaal deurgestap. Sy is soos altyd uitgevat in ’n netjiese rok en duur juwele. ’n Stilte sak oor die eetsaal neer toe sy die mikrofoon nader-trek.

      “Welkom aan al die nuwelinge by Kosterkloof. Ons hoop julle sal baie gelukkig hier wees.” Haar oë flits vinnig na die bladsy in haar hand. Sy glimlag haar skewe dunlip-glim­lag. “Eerstens wil ek egter dié van julle wie se skool­klere te klein geword het, nooi om my by die kantoor te kom sien vir nuwes.”

      Anja en Willa sug verlig.

      “Die nuwelinge moet die volgende onthou,” teem me­vrou Snopke voort. “In Kosterkloof is daar oorgenoeg kos. Daar is geen rede om honger te ly nie. Ons skool presteer as gevolg van die feit dat ons die brein genoegsaam voed.

      “Kosterkloof Hoërskool het verlede jaar die beste in die pro­vinsie gevaar. Ons streef daarna om dit so te hou. Julle sal saamstem dat ’n koshuis ’n plek is waar kinders nie altyd goeie kos kry nie, ook nie ordentlike beddens om op te slaap nie. Daarom dra dit wat ons hier het by tot die buitengewone resultate wat ons skool behaal. Dus, eet en presteer. Dit is ons koshuis se leuse.”

      Almal klap hande.

      Mevrou Snopke glimlag weer haar skewe dunlip-glimlag. “Dankie, kinders,” sê sy en gaan voort. “Vir die nuwe­linge wil ek ook net sê, as julle skoolklere ná ’n paar maande begin styf sit, kom sien my en ons laat maak dit wyer of kry vir julle ander.

      “ ’n Mens word soms siek en daarvoor gaan julle na die siekeboeg om goed te rus en gesond te word. Ons het ’n dokter aan diens en verpleegsters wat julle so gemaklik moontlik sal maak.”

      Mevrou Snopke tuur oor die eetsaal. “Ons het ’n groot mel­kery op die perseel wat die dorp en die koshuis van melk voorsien. Julle kry elkeen ’n glas melk voor ontbyt, middag- en aandete. Melk is baie goed vir julle. Almal moet melk drink. Goed so?”

      Nog steeds teem sy verder: “Die studeerkamer met reke­naars is op die tweede vloer bokant die eetsaal. Ons het ADSL en julle kan enige tyd daar gaan navorsing doen. Vir dié van julle wat naweke in die koshuis bly, is daar video’s om te kyk en ons het die biblioteek gedurende die vakansie op­geknap met die nuutste boeke op die rakke.”

      Emma glimlag. Nou kan sy op Facebook gaan. Haar stads­­maats sal haar nie glo as sy hulle van dié koshuis vertel nie.


Скачать книгу