Donkerwoud. François Bloemhof
. . .
3
“Wie’s bang?”
Laat daardie aand lê Tiaan en Rolf nog wakker. Die lig is af, maar hulle kry nie geslaap nie. Hulle luister hoe die wind deur die bome waai.
“Dit klink soos iemand wat kerm,” sê Tiaan.
“Jy kan darem lekker strooi praat,” mompel Rolf.
“Ag, shut up,” sê Tiaan verontwaardig. Sy broer terg hom altyd omdat hy so maklik skrik.
“Nee, shut up jý, bangbroek.”
“Ek bang?”
“Ja, vanaf die eerste oomblik dat ons hier aangekom het.”
“Nonsens, man!”
“Bly nou stil, ek is vaak.”
“Jy is net so min vaak as wat ek is.”
“Bly net stil.”
Uiteindelik raak hulle tog aan die slaap.
4
Ontmoeting
Die volgende oggend gaap die tweeling eenstryk deur. Nie een van hulle het genoeg geslaap nie. En die bietjie slaap wat daar was . . . was vol nagmerries.
Tant Olga het hulle na ontbyt kombuis toe gestuur om die skottelgoed te was – en sy het na haar ateljee gegaan om te skilder. Dis waar sy nog die hele tyd is.
Sy is ’n kunstenaar. Dit verklaar hoekom sy so vreemd aantrek en optree; baie kunstenaars is mos so. Tiaan wou nie vir sy ma vra nie, maar hy dink nie tant Olga is juis suksesvol nie. Hy het in elk geval nog nooit in ’n koerant of tydskrif enigiets oor haar of haar werk gelees nie.
Nou sit hulle verveeld rond. Gaan al die dae só wees? Tiaan probeer een van tant Olga se boeke in haar boekrak lees, maar gooi gou tou op. Omdat sy ’n kunstenaar is, gaan die meeste daarvan oor kuns en filosofie.
“Kom ons gaan buitentoe,” stel Rolf na ’n ruk voor. “Die reën het opgehou.”
“Ons moet seker net vir tant Olga sê. Ek sal gou gaan.”
Tiaan gaan by die trap op. Op die boonste vlak is nie net hulle slaapkamer en nog twee ander kamers en ’n stoorkamer nie, maar ook hulle tante se ateljee. Die deur staan oop.
Toe hy inloer, lyk tant Olga so verdiep in haar werk dat hy haar nie wil steur nie. Sy pik-pik met haar kwas op die doek. Sy dra ’n wit jassie vol verfspatsels en teug aan ’n pyp wat wit rookkringe in die lug maak. Hy besluit om maar om te draai en hardloop teen die trap af.
Toe Rolf die voordeur oopmaak, waai die wind ’n paar van die kerse in die sitkamer dood. “Aaaaa!” sê hy toe hulle buite kom. “Nou kan ek weer asemhaal!”
Hulle loop by die woud in en al wat hulle kan hoor, is die geluid van die wind wat alles oorheers. Dit suis en ritsel, en klink steeds vir Tiaan soos iemand wat kerm.
Hy kyk op. Plek-plek staan die bome so na aan mekaar dat hy nie die lug kan sien nie. Weer dink hy aan hoe gepas die naam Donkerwoud is. Dis beslis baie donker hier.
“Wat as ons nie die pad terug kry nie?” vra hy na ’n ruk. Die grond is klam en die blare sag onder hulle voete.
“Dit sal ’n goeie ding wees!” sê Rolf.
“Nee man, ernstig. Wat as ons verdwaal?”
“Moenie so ’n banggat wees nie.”
Tiaan kyk vies na sy broer, maar sê niks.
Daar is nie ’n duidelike paadjie nie, hulle moet self ’n roete tussen die bome deur kies. Die grond is hier nog klammer en die modder suig vas aan hulle skoene en maak slurpgeluide.
“Dit raak nou super boring,” sê Rolf na ’n rukkie. “Kom ons doen iets. Ek kruip weg, dan soek jy my.”
“’No way,” sê Tiaan. “Dis te gevaarlik. Ons ken nie eens die plek nie.”
“Maar presies!” grinnik Rolf.
Tiaan wil nog protesteer, maar Rolf het reeds weggespring en binne ’n oomblik agter die boomstamme verdwyn.
Tiaan probeer om nie bang te voel nie.
Dalk is dit hoekom Rolf die speletjie voorgestel het – hy is nog vies vir hom oor gister se stryery en wil hom terugkry. Rolf weet mos hy hou nie van verlate, donker plekke nie.
“Waar is jy?” roep hy uit.
“Hier!” Rolf se stem klink baie ver.
Tiaan begin in daardie rigting loop. Hoe verder hy gaan, hoe donkerder word dit. Nou is die wind sagter, asof die woud stilte wil hê om na hom te luister.
“Waar is jy?”
Dié keer antwoord Rolf nie. Tiaan kan hom voorstel hoe hy agter ’n boom staan, reg om hom op die skouer te tik as hy verbyloop.
Die gedagte laat hom omswaai – maar niemand is agter hom nie.
“Rolf?” Hy wil nie bang klink nie, want dan sal sy broer hom net weer terg.
Daar is net die stilte. Die stilte en daardie huilende wind.
Net toe hy om ’n boom met ’n baie dik stam gaan, skree hy amper toe hy in iemand vasloop. Die meisie staan doodstil.
“Het ek jou laat skrik?” vra sy so sag dat hy haar amper nie kan hoor nie.
Tiaan se eerste gedagte is dat sy baie mooi is. Sy het blonde hare en haar oë is donker in haar bleek gesig. Sy dra ’n ligblou rok.
En skielik weet hy dit was sy wat hy gister deur die venster gesien het.
“Wat maak jy hier?” vra hy.
“Ek woon hier.”
“My tante sê dan hier bly geen mense nie.”
“Sy weet nie van my nie. Sy . . . wil nie van my weet nie.”
Hy wil nog vra wat sy bedoel, toe sy sê: “Sit hier by my.”
“Hier?”
“Ja.”
Die grond en blare is klam onder hom toe hy gaan sit, half verbaas dat hy so maklik doen wat sy sê.
“Wat is jou naam?” vra hy.
“Sê eerder wat is joune.”
“Tiaan.”
“Ek is bly jy is hier.” Sy kyk reguit na hom. “Ek is baie alleen.”
“Oukei, sê nou wat is jou naam?”
“Dis nie belangrik nie.”
“Waar presies bly julle? Waar is jou pa en ma?”
Dit lyk meteens of sy wil huil. Haar lip bewe en sy maak haar groot donker oë toe. Maar sy sluk en probeer glimlag. “Sal jy weer hierheen kom?”
“Natuurlik. Daar is in elk geval nie veel om te doen by die huis nie. My tante skilder net.”
“Ek weet. Sy sien niks om haar raak nie. Sy weet nie wat om haar aangaan nie. Maar jý . . . Jy is anders.”
Tiaan se vel begin kriewel, maar hy is nie seker hoekom nie. Dis dalk die snaakse manier waarop sy na hom kyk. Skielik voel hy bang om alleen saam met haar te wees.
“Het jy dalk gesien waarheen my broer is?”
“Tiaan?” hoor hy Rolf se stem voordat sy kan antwoord. Dit is asof Rolf gehoor het wat hy vir die meisie vra. Hy klink naby.
“Hier is ek!” Tiaan spring op. “Hier!”
“Wáár?”