Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
Titelblad
Tryna du Toit
Omnibus 2
GROEN KORING
EN
DIE GOUE GERF
HUMAN & ROUSSEAU
Groen Koring
GROEN KORING
Hoofstuk 1
Hoofstuk 1
Stadig, half ingedagte, stap die boer van sy landerye af huis toe.
Die dag se arbeid is gedaan en ’n aangename matheid maak sy ledemate swaar en nie so veerkragtig soos gewoonlik nie.
Die laaste goue strale van die son lê warm oor die stil rooi aarde. Die wit huis met die groen luike daar bo teen die bult lyk vriendelik en mooi, en van ver af reeds kan hy sy vrou bespeur waar sy daar voor in haar tuin vir hom wag.
Dis of hy skielik haastig word, en vinniger stap hy verder met die voetpaadjie langs wat deur die vaal gras huis toe loop. Hy skud die moeilikhede van die dag van hom af en sy gedagtes is alreeds saam met sy vrou waar sy daar vir hom wag.
Haar blomme is nou op hulle mooiste, kleurryk met die diep tinte wat met die herfs kom.
Hy dink weer aan die dae toe haar tuin al was wat sy gehad het waaraan sy haar liefde en sorg kon wy.
Die weë van die Here bly vir hom vreemd en onverklaarbaar. ’n Vrou soos Engela, warm en liefdevol, met ’n diep drang na moederskap, byna siek van verlange om ’n eie kind te hê, en dit word haar nie gegun nie. Drie maal in die tien jaar dat hulle getroud is, het hulle vol verwagting gehoop en gebid, maar die belofte van die ou kindjie na wie hulle so verlangend uitgesien het, is nie vervul nie.
En toe het Elizabeth gekom, en die sonskyn het saam met haar in hulle huis gekom. Elizabeth met haar laggende blou oë en blonde krulhare.
“Sy lyk nes Engela,” het die mense altyd gesê. En dan het Engela stil geglimlag.
Hy hoor ’n sagte dreuning op die aandlug en sien ’n stofwolkie op die pad uitslaan. Wie sou so laat kom? Hulle is nie besoekers te wagte nie. Maar die stofwolkie word vinnig groter en hy haas hom om voor die motor by die huis te kom.
“Dokter!” sê hy verras toe hy byna gelyktydig met die blinkswart motor by die hekkie aankom.
Die dokter klim uit die motor en hulle groet en stap saam na Engela, wat hulle glimlaggend tegemoetkom. Met liefde en trots rus die boer se blik op sy vrou wat so netjies en koel lyk in die mooi blou rok wat die diepblou van haar oë beklemtoon, op die gladde eenvoud van haar blinkgoue hare.
Nadat die dokter Engela se rose bewonder het, drink hulle saam koffie op die stoep. As distriksgeneesheer lei sy pad dikwels by hulle plaas verby en hy kom gereeld verneem hoe dit gaan.
Hulle is baie lief vir die dokter. Hy het hulle deur baie swaarkry gehelp en hy het Elizabeth vir hulle gebring.
“Waar is Elizabeth dan?” vra hy nou.
“Sy help vir Mina karring,” antwoord Engela glimlaggend. “Sy sal nou kom.”
’n Paar minute later kom sy deur die huis aangestorm.
“Sewe pond botter, Mamma,” sê sy trots, “’n pond meer as wat Mamma laas gekry het!”
“Dis gaaf, nè?” sê Engela en streel die opstandige krulle. “Nou kan ons vir Dokter ook ’n paar pond gee.”
Elizabeth groet haar pa en kom toe na die dokter toe. Sy ken hom goed en sy is lief vir hom. Hy tel haar op sy skoot en luister na haar geselsery. Sonder ophou babbel dit – vrolik, sorgeloos en gelukkig.
Blond soos haar ma, ja, maar dit is al. Die boer en sy vrou is twee stil, rustige mense, doodgelukkig en tevrede om hier op hulle plaas te bly. Die kleinding is soos die sonskyn, dartelend en vrolik en nooit ’n oomblik stil nie. ’n Oplettende, weetgierige dogtertjie met blou oë wat altyd lag, met ’n fraai, intelligente gesiggie.
Mag die boer en sy vrou se liefde vir haar hulle altyd help om haar so op te voed dat die sterk, selfstandige klein persoonlikheid ten volle kan ontluik, maar mag hulle haar darem die hele tyd sag dog beslis op die regte pad lei.
Sy is al weer klaar moeg gesit en daar gaan sy met Prins, haar hondjie, blaffend op haar hakke.
“’n Klein ribbok!” sê die boer. “Daar is nie ’n boom op die plaas waarin sy nie klim nie.”
“Hoe gaan dit met die skool?” vra die dokter.
“Baie goed,” antwoord Engela. “Sy vorder pragtig. Dokter moet net hoor hoe sy al lees. Juffrou sê sy is besonder intelligent.” Die dokter sien die skaduwees wat skielik in die rustige oë kom, en sy vervolg: “Ons sal haar dalk gouer dorpskool toe moet stuur as wat ons gedink het.”
“Ek sou nie haastig wees nie,” sê die dokter. “Sy is te jonk om nou al van die huis af weggestuur te word. En die plaasskooltjies is in die begin heeltemal goed genoeg.”
“Ek is bly Dokter dink so,” sê die vrou. Sy kyk na hom en sê saggies: “Ons bly Dokter nog steeds diep dankbaar vir Elizabeth. Ek kan nie dink dat ons ooit kon geaarsel het om haar te neem nie. Ek kan nou eenvoudig nie dink wat ons al die jare sonder haar sou gemaak het nie.”
Die dokter dink ook weer aan daardie tyd sewe jaar gelede.
Hoofstuk 2
Hoofstuk 2
Met ’n stamp slaan die kamerdeur oop en die jong meisie val byna die kamer binne. Haar arms is belaai met boeke en dit lyk asof die viool wat sy so ongemaklik onder haar arm vasknyp hom enige oomblik te pletter kan val. Haastig spring haar kamermaat op uit die stoel voor die venster om reddende hande na die viool uit te steek.
“Trudie! Trudie!” vermaan sy glimlaggend. “Eendag is eendag, dan val Chopin stukkend.”
Met ’n sug laat Trudie die boeke op haar bed val en sak self uitgeput langs hulle neer. Maar ná ’n paar oomblikke lyk dit darem of sy tot verhaal gekom het; sy sit weer regop, stoot die hare uit haar oë en grinnik.
“Dankie, skat,” sê sy. “Hoewel daar darem nie lewensgevaar was nie.”
“Ek dink Chopin was nog nooit so na aan sy einde nie.”
“Nooit nie,” stry Trudie Hiemstra. “Chopin weet hy is altyd veilig by my. Maar ek is darem bly ek moes nie nog een tree verder gee nie.” Sy staan op, steek haar hand in haar kleurbaadjie se sak en sê: “Ek het vir jou ’n present gebring.”
Sy lê ’n trossie blou jakarandablomme op die tafel voor haar kamermaat neer. Gretig tel Deborah Malan die blomme op.
“Hoe pragtig!” sê sy. “Dan begin hulle al? Waar het jy dit gekry? Die bome hier by ons is dan nog morsdood. Ek is nou al so haastig om hulle te sien. Ek dink julle Pretorianers het maar net weer grootgepraat.”
“Ek is nie ’n Pretorianer nie! En hulle het rede vir grootpraat. Wag maar, jy sal sien. Maar ek het nie hierdie trossie vir jou gebring om te bewonder nie. Die eerste jakarandablomme het ’n ander, veel dieper betekenis.” Haar kamermaat kyk haar vraend aan en op dramatiese toon vervolg sy: “Die uur van vergelding! Koue lappe op die koorsige voorhoof! Middernagtelike ure van swoeg en sweet!” Sy giggel oor die verbasing op Deborah se gesig. “Met ander woorde, kamermaat, die gevreesde eksamen is hier; bloktyd het weer aangebreek.”
Deborah sit die trossie opsy en begin weer haar naels verf. “Ag Trudie, jy kan tog so laf wees!”
“Laf! Oor so ’n pynlike onderwerp!” Sy plaas haar elmboë op die tafel en kyk hoe Deborah versigtig ligpienk naellak aan haar vingernaels verf. Toe sê sy sag, tergend: “Paul het gesê ek moet dit nie vir jou gee nie.”
Deborah bloos.
“Paul? Waar het jy hom gesien?”
“Hy het my met sy motor huis toe gebring. Die bus het voor my neus weggetrek en Paul het net toe daar verbygekom