Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
“Nee, hy was haastig.”
“En waarom mag ek nie die jakarandablomme kry nie?” vra sy ná ’n rukkie.
“Ek weet nie. Hy is dalk bang dat jy ná die waarskuwing nie vanaand sal gaan dans nie.”
Die jong meisie lag sag, gelukkig.
“My liewe Trudie, as ek moes wag tot die jakarandas blom om te begin studeer, sou ek snags lankal nie meer ’n oog kon toemaak nie. Ek is nie hier vir my gesondheid nie, hoor!”
Trudie se vriendelike sproetgesiggie is meteens ernstig. Maar sy praat nie. Deborah kyk haar ondersoekend aan en sê ondeund: “En waarom het jy dit toe tog vir my gegee?”
“Sommer,” sê Trudie skouerophalend. “Nou het ek darem my plig gedoen.”
Haar stem, haar hele houding, is skielik anders, en ná ’n rukkie vra Deborah sag: “Waarom hou jy nie van Paul nie, Trudie?”
“Nou is jy weer laf. Die meisie wat nie van hom hou nie, moet ’n paar varkies kwyt wees. Maar dis juis die moeilikheid.”
“Wat bedoel jy, dis die moeilikheid?” vra Deborah effens gesteurd.
“Dit gaan te goed met Paul. Sy hele lewe lank al. Hy is tot in die afgrond toe bederf.”
Deborah antwoord nie en draai haar gesig weg, maar Trudie kan sien dat sy haar vererg. “Jy verdedig hom nie eens nie?”
Vinnig draai Deborah terug na Trudie, maar haar kamermaat se openhartige gesiggie, die mooi bruin oë wat haar half smekend aankyk, laat haar aarsel.
“Dink jy regtig Paul is bederf, Trudie?”
“Ek sê nie dis sy skuld nie, Debbie, maar dis tog so. Die enigste kind van welgestelde ouers, slim en aantreklik . . . al die goeie feetjies was seker daar met sy geboorte. En bid jou aan, tot sy professors hou ook van hom. Dit moet definitief ’n sterk karakter wees wat sulke dinge kan oorlewe.”
Deborah glimlag verlig.
“Ag Trudie, jy kan so verspot wees. Ek het gedink jy is ernstig.”
“Ek ís ernstig. Driekwart ernstig. Die ander kwart is seker maar jaloers.”
Deborah lag.
“Dit lyk my jou verstand is ’n bietjie beneweld. Paul het seker te vinnig gery.”
“Paul ry altyd te vinnig. Maar wat kan jy ook anders verwag? Om vir ’n student sy eie motor te gee! En dan nog so ’n motor!”
“Hy is in sy derde jaar!” verdedig Debbie vinnig.
“Hy het as ’n groentjie met sy eie motor hier aangekom. Dit was nou wel nie dié supermodel nie, maar tog. Maar ek weet dis nie my besigheid nie. Ek weet ook nie waarom ek my juis vandag daarmee bemoei nie.”
“Waarom doen jy dit dan?” vra Debbie sag, haar blik ondersoekend op haar vriendin gerig. Sy verstaan haar nie vandag nie. Wat sou oor Trudie se lewer geloop het? Sy is gewoonlik die opgeruimdheid self.
Trudie kyk na haar en sy aarsel. Toe sê sy stroef: “Ek wil nie graag sien dat jy seerkry nie . . . of ongelukkig is nie.”
“En jy dink dat Paul my seer of ongelukkig sal maak?”
Die eerlike bruin oë kyk reguit in hare.
“Ek weet nie. Ek hoop nie so nie.”
“Waarom dink jy dan so?” dring Debbie sag aan. Sy voel ontsteld en vaagweg ongelukkig, maar sy kan sien dat haar vriendin iets op die hart het.
“Ek dink nie so nie. Ek het geen reg om so te dink nie. Ek is seker verniet bang. Ook nie bang nie, onrustig. Ek ken vir Paul. En ek ken jou. Julle lewensopvattings, julle ideale, is so verskillend. Jy is nog so jonk, Debbie, jy begin nog maar net met jou studie. Jy’s ’n belowende student en jy het so hard gewerk om die kans te kry – jy het tog self vir my so gesê. En Paul . . . Paul het nog soveel studiejare wat voorlê.”
Half verleë, half smekend kyk Trudie haar aan. Sy kan nie verder praat nie. Dis te moeilik. Maar Deborah begryp. Sy staan op en sit haar hand vir ’n oomblik op haar maat se skouer.
“Toe maar, Trudie, jy is verniet bang. Ek en Paul verstaan mekaar. Ek weet ek is nie Paul se eerste meisie nie, maar wie weet, moontlik is ek die laaste. Vir my is Paul van die eerste dag af die eerste en die enigste een en ek sal baie jare vir hom wag as dit nodig is.”
Sy tel die trossie blou blomme op en kyk weer lank daarna, toe neem sy ’n glas, maak dit vol water, sit die blomme daarin en plaas dit terug op die tafel.
“So ja, nou is dit nie meer ’n waarskuwing nie, net ’n mooi blomtakkie. Ek weet ook wat die hele moeilikheid is: Jy is maar net ontevrede omdat ek vanaand – op ’n weeksaand – saam met Paul gaan dans. Nie waar nie?”
“Ja-a,” erken Trudie. “Omdat dit al gewoonte geword het. Maar dink jy nou self dit is reg, Debbie? Sal jou ouers tevrede daarmee wees?”
’n Vlugtige oomblik dink Deborah aan haar ouers daar op hulle plasie en die streng nougesetheid waarmee Pieter Malan sy dogters grootgemaak het, maar dis ver weg en lank gelede.
“My werk is alles klaar. En dis vanaand ’n spesiale geleentheid, Trudie. Dis Anne-Marie se een-en-twintigste verjaardag. Hulle is ou vriende van Paul se familie.”
“Dis altyd ’n spesiale geleentheid.”
“Dit is ook wanneer ek saam met Paul uitgaan,” glimlag Deborah. “In elk geval, moenie so kwaai wees nie. Ons het maar nog net ’n paar ou wekies saam. Jy weet Paul gaan volgende jaar Kaapstad toe en Pretoria sal vir my maar baie leeg en eensaam wees sonder hom. Jy sal nie eens een maal met my rusie hoef te maak omdat ek rondloop nie. Maar wag, ek moet gaan bad en my mooimaak. Die meisies sal vanaand almal baie mooi lyk en ek sal maar sleg afsteek in my ou tuisgemaakte rok.”
“Jy sal mooier lyk as enigeen van hulle,” sê Trudie vinnig.
Deborah lag terwyl sy haar handdoek neem.
“Nou toe nou,” sê sy, “dit klink beter.”
Toe Deborah uit is, bly Trudie daar by die tafel sit. Sy tel die botteltjie ligpienk naellak op en draai dit om en om in haar hand. Sy voel nie tevrede nie. Sy moes liewer maar stilgebly het. Haar praat sal tog nie help nie. Het dit al ooit gehelp om ’n verliefde meisie teen ’n man te waarsku? En as hy nog iemand soos Paul is . . .
Sy weet ook nie waarom sy onrustig voel nie. Maar Deborah is so jonk, so onskuldig. Agttien jaar oud, maar nog in so baie opsigte ’n kind. In alles behalwe haar byna volwasse beslistheid om die beste te maak van haar jare aan die universiteit . . . en haar liefde vir Paul. Vir Deborah is dit nie die lughartige kalwerliefde wat die eerste, die tweede en selfs die derde liefde vir die meeste studente is nie. Paul is die prins wat haar wakker gemaak het. Daar lê ’n glans oor haar. En ’n koue vrees vir Debbie omklem haar hart. Haar en Paul se verhouding hou niks goeds in vir Debbie nie. Sy ken vir Paul. Drie jaar gelede, toe sy al ’n tweedejaar was en Paul hier aangekom het, het hulle enkele klasse saamgeloop en in dieselfde kringe beweeg. En in drie jaar leer ’n mens jou medestudente goed ken, veral iemand soos Paul wat noodwendig uitstaan bo die ander studente. ’n Mens kon nie Paul se mooi blink motor miskyk nie en ook nie die meisies wat beurte gemaak het om saam met hom uit te gaan nie. Daar was al ’n hele paar in die drie jaar – en dit was altyd die mooiste en gewildste meisies.
Debbie het aan die begin van die jaar gekom, jonk en vol ideale. En soos die toeval dit wou hê, het sy en Trudie – om heeltemal verskillende redes – by Louise Rabie kom loseer en saam in ’n kamer beland. Debbie het gekom omdat mevrou Rabie verlangs familie van haar pa is en sy bereid was om Debbie teen ’n baie redelike prys in te neem. Eintlik sou dit baie beter vir haar gewees het as sy in die koshuis kon gaan bly het. En as Pieter Malan vir Louise Rabie beter geken het, sou sy seker ook daarheen gegaan het. Maar hy het haar nie persoonlik geken nie en Debbie het gekom.
Louise Rabie is ’n kunstenares met ’n egte kunstenaarstemperament.