Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
“Paul, nee, nie hier nie,” fluister sy.
Maar sy arms sluit styf om haar.
“Nou waarom nie?” streel sy stem haar. “Almal weet mos jy is my meisie.”
Sy praat nie meer teë nie. Die wonder om in Paul se arms te wees is te groot. Die belofte van die aand word vervul. Daar is ’n warm ekstase in haar, maar daar is rus ook. Haar verlange is gestil en sy voel veilig en diep gelukkig.
Lank staan hulle so, roerloos, terwyl die maan se silwer lig oor hulle spoel, oor die geurige tuin, die waterlelies in die dam, die blomkelkies aan hul voete . . . een met die wonder van die skepping.
“Ek het jou lief, Debbie,” fluister hy in haar hare.
’n Sagte suggie ontsnap haar bors. Paul het haar lief. By hom is sy veilig. Waarvoor is Trudie dan bang? In die beskermende sirkel van Paul se liefde voel sy sterk en seker, voel sy dat sy nooit weer bang en alleen sal wees nie.
Sy is die gelukkigste meisie op aarde.
Stadig, hand aan hand, stap sy en Paul terug na die huis, en die sterre se glans is in haar oë.
Hoofstuk 4
Hoofstuk 4
Dit was al laat, byna sononder, toe Louise Rabie ná ’n lang, vermoeiende dag by die huis kom. Waarom sy haar ook weer vir die skooldogters se jaarlikse konsert ingelaat het, weet sy nie. Sy sal blykbaar nooit haar les leer nie. So dikwels al het sy haar voorgeneem om vriendelik dog beslis te weier as hulle weer by haar om hulp kom aanklop. Maar die operette wat die dogters uitgesoek het, was ’n juweeltjie, een van haar gunstelinge, en toe die prinsipaal sê dat hulle nie kans sien om dit sonder haar hulp op te voer nie, het sy haar weer laat oorreed. Een maal per week sou sy kom kyk hoe hulle vorder en verbeter waar nodig. En hier is sy weer tot oor die ore in die werk. Nie een maal per week nie, maar drie, vier keer is sy die hele middag by die skool om te help en sy is nog steeds nie tevrede met hulle vordering nie. Minder as twee weke nog, dan is dit die groot aand, en as Louise Rabie hand bysit, mag daar nie fout wees nie. En dit is so ’n fraai klein operette, dit sal ’n skande wees as sy nie reg daaraan laat geskied nie. Blanche Rossouw, wat die hoofrol vertolk, het ’n mooi, sterk, suiwer stem – as die meisie net meer natuurlik en op haar gemak wil wees. En dan is daar die kostuums . . .
Met die intrapslag ruik sy dat die kos al weer gebrand het. Sonder om eers haar hoed af te haal, stap sy reguit kombuis toe. In die lang spieël aan die bokant van die gang sien sy haarself ’n oomblik in die verbygaan: ’n lang, nog taamlik skraal, goed geklede vrou. Maar sy is te kwaad om nog eers haar nuwe baadjiepak te bewonder.
In die kombuis is die kok besig om die swartgebrande kastrol te skuur. Die reuk van gebrande kos hang swaar in die kombuis.
“Josef!” Haar stem is verontwaardig. “Wat het gebrand?”
Ongeërg kyk die man na haar en sê kalm: “Dis die boontjies, Mevrou.”
Sy maak die kastrol oop en kyk. Hy het die boontjies wat nie te erg gebrand is nie bolangs afgekrap en in ’n ander kastrol met ’n klomp water opgesit. Sy skuif die boontjies eenkant; niemand sal dit eet nie. Sy sal maar ’n blikkie ertjies moet oopmaak, anders lyk die maaltyd so skraal. Johannes eet juis ook vanaand by die huis en die kind kan tog so lekker eet. Hy hou ook so baie van gestoofde boontjies, maar vanaand sal hy daarsonder moet klaarkom.
Sy stap by die kombuis uit om eers haar hoed af te haal. Sy is ontstig en vererg. As ’n mens alreeds moeg en prikkelbaar is, het jy nie nog geduld nie.
Sy hoor die sagte geween van Trudie se viool in die sitkamer. Aandagtig luister sy vanuit haar kamer en ná ’n rukkie is dit of sy kalmer word. Die meisie kan darem vir jou musiek uit daardie viool haal. Dis of dit saam met haar lag as sy bly is en saam met haar huil as sy treurig is. Dis jammer die kind kan nie meer tyd aan haar musiek wy nie. Maar sy wil nou eenmaal haar graad behaal en dan gaan onderwys gee. Die musiek is bysaak, sê sy. En tog het sy haar viool hartstogtelik lief en is dit Chopin waarna sy telkemale haar toevlug neem as sy ’n tydjie kry. Ja, sy het dit gelukkig getref met haar twee loseerders. Twee besonder aangename, hulpvaardige jong meisies. Waarom die mense altyd sê hulle verkies manstudente, weet sy nie. Meisies is stiller en netjieser, hulle eet nie soveel soos seuns nie, en hulle is goeie geselskap as sy die dag tuis is.
Sy stap na die sitkamer waar Trudie nog speel en maak die deur saggies oop. Trudie staan naby die oop venster, die viool onder haar ken, die bruin oë sag en vol drome. ’n Rukkie speel sy verder, maar dan, asof sy bewus is van iemand se teenwoordigheid, kyk sy om. ’n Oomblik later hou sy op en glimlaggend laat sy die viool sak.
“Ek is jammer oor die boontjies, maar toe ek hier kom, het dit reeds staan en brand.”
Louise Rabie maak ’n ongeduldige gebaar met haar hand. Sy stap na die klavier en sê: “Kom, ek sal saam met jou speel.”
Trudie staan nader, sit weer die viool onder haar ken en laat die strykstok saggies oor die snare gly.
“Eers weer die menuet,” sê mevrou Rabie en Trudie knik. ’n Halfuur lank speel hulle saam en die klanke van klavier en viool wat volmaak harmonieer, vul die vertrek. Dan word dit te donker om nog sonder lig te kan sien. Dis ook tyd vir aandete en Trudie pak haar viool weg.
“Waar is Debbie?” vra Louise Rabie. “Het sy al gekom? Dan kan ons maar eet.”
“Sy het vanmiddag saam met Paul Hugo gaan tennis speel. Maar sy het seker al gekom. Is Johannes hier?”
“Ek het netnou gehoor Wagter gaan te kere. Dit kon net hy gewees het. Die hond is mos mal oor hom.”
Trudie dink daaraan om met Louise Rabie oor Debbie en Paul te gesels. Sy het al meermale daaraan gedink. Maar sy kan haarself nie so ver bring nie. Dit lyk dalk asof sy stories aandra en moeilikheid vir Debbie wil maak.
“’n Gawe jong kêrel, dié Paul Hugo,” sê mevrou Rabie, amper asof sy weet dat Trudie nog aan hom dink. “Hy kom uit ’n agtermekaar familie. Ek ken sy ma se mense goed. Jammer dat hy volgende jaar moet weggaan.”
“Ek het weer gedink dis goed,” waag Trudie dit. Louise Rabie kyk nuuskierig na haar en sy vervolg: “Debbie is nog so jonk en hy neem so baie van haar tyd in beslag. Sy sal nooit so kan voortgaan nie: Sy sal óf haar studie óf Paul Hugo moet verwaarloos.”
Louise Rabie lag.
“Dan hoop ek sy is verstandig en verwaarloos liewer haar studie. Wat julle meisies ook met die vreeslike geleerdheid moet maak, weet ek nie. Jy ook, Trudie. As jy liewer al jou tyd aan jou musiek sal wy . . .”
“Ek moet ’n bestaan maak, en Debbie ook.”
“Jy kan met jou viool ’n bestaan maak.”
“Nee, daarvoor is ek te lief vir Chopin. En wat sal ’n mens vandag sonder geleerdheid maak, mevrou Rabie?”
“Bog! Boekgeleerdheid bring ’n meisie niks in die sak nie. ’n Meisie moet liefhê en trou en kinders hê. Dan eers, Trudie-kind, sal jy regtig alles uit jou viool kan haal en hoogtes kan bereik.”
Trudie se glimlag is sag.
“Ek dink dis wat die meeste meisies wil hê, mevrou Rabie. Maar tot tyd en wyl die regte man opdaag – indien hy wel opdaag – moet ’n meisie eet en aantrek.”
“Ja. Maar daarom sê ek ek hoop Debbie sal verstandig wees en nie die verkeerde ding verwaarloos nie.”
“Debbie is nog baie jonk.”
“Ek was al getroud toe ek agttien was. Ek het my eerste man verloor voordat ek een-en-twintig was.”
“Dis waar, maar dis vandag anders. Paul Hugo moet in elk geval nog baie jare studeer. En Debbie se ouers het dit nie breed nie. Debbie moes baie mooi pleit vir die kans om hierheen te kom, sy het self vir my vertel.”
“Ek weet. Ek het nooit so daaraan gedink nie. Jy en Debbie is twee sulke verstandige meisies. En vandag se kinders is so selfstandig, so seker van hulself. Wil nie ouer mense se raad hê nie. Maar