Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
wou hoor wat my pa sou sê as ek vra om my kursus in Kaapstad klaar te maak net omdat ek graag naby Paul Hugo wil wees!”
“Ek wil liewer nie hoor nie,” glimlag Paul. “Is jou pa baie kwaai, Debbie?”
“Ek weet nie . . . Ja, nogal, dink ek,” sê sy stil. “Hy is baie goed vir ons, maar ons is maar bang vir hom as ons die slag verbrou het. En jou pa?”
“Nee, hy is nie kwaai nie. Hy is ’n wonderlike mens en ’n baie goeie dokter. Hy is net altyd so besig. My ma hou al jare lank aan hy moet gaan spesialiseer en hom in die stad vestig waar hy rustiger sal kan werk en die lewe ook ’n bietjie sal kan geniet voordat hy te oud is.”
“En hy wil nie?”
“Nee. Hy sê hy hou van sy werk net soos dit is. Dit is veeleisend, maar baie interessant en ek dink met die jare het hy vasgegroei daar. Hy het ook soveel wat hom daar hou. Hy ken die mense en hulle ken hom. En hy het hom jare lank daarvoor beywer om die hospitaal te kry en het dit sien uitbrei en groei . . . hy voel nou self deel van daardie hospitaal. My pa is ’n baie knap chirurg – hy het al baie mooi komplimente van spesialiste in die stede gekry – maar hy voel hy moet bly waar hy is.”
Sy hoor die trots in sy stem en haar hart is bly daaroor. Sy voel of sy ook al deel het aan Paul se pa.
“En jou ma? Wil sy graag stad toe kom?”
“Tina? Ja, ek dink sy wil baie graag kom. Sy en my pa stry ook heeldag – nie regtig stry nie, niemand stry ooit met Tina nie . . .”
“Noem jy haar altyd Tina?” vra Debbie.
“Ja, vandat ek kan onthou. Maar sy is so jonk en lewenslustig. Almal sê maar vir haar Tina.”
“Is sy mooi?”
“Ja, baie mooi. Klein en fyn. Toe ek klein was, het ek altyd gedink sy is ’n sprokiesprinses met haar goue hare en blou oë.”
Daar is stilte. Debbie dink weer aan haar ma, aan die werk wat maar altyd wag, aan die opofferings wat sy moes maak om vir haar dogters te gee wat hulle nodig het. Sy is lief vir haar ma, maar sy het nooit aan haar gedink as ’n sprokiesprinses nie.
“Waaroor stry hulle dan?” vra sy na ’n rukkie.
“Stry? O ja, jy het my van stryk gebring. Nee, my pa wil hê ek moet saam met hom kom werk as ek eendag klaar is. Tina wil hê ek moet gaan spesialiseer en direk na ’n stad toe gaan.”
“En wie wen?” vra sy geïnteresseerd.
Paul glimlag.
“Ek dink Tina wen altyd as sy regtig wil. Maar in dié geval wil ek graag saam met my pa gaan werk. Ons droom al daarvan vandat ek ’n klein seuntjie is. Hy dink ook die ervaring van ’n jaar of twee, drie op die platteland is die heel beste leerskool vir enige jong dokter. Die tyd sal ons maar moet leer.”
Dit lyk maar net altyd of Paul so ligsinnig is, dink Debbie. As ons alleen is en hy gesels met my, leer ek hom al beter ken. Hy het hoë ideale en is nie bang om hard te werk nie. Hy is nie regtig so ligsinnig en so uitspattig soos hy altyd voorgee nie. En sy is skielik gelukkig, diep gelukkig.
Paul rol om en kyk na haar. Die erns van ’n oomblik gelede is weg en daar is ’n tergende glinstering in die diepblou oë. “Sal jy daarvan hou om ’n dokter se vrou te wees, Debbie?”
“Ek het nog nooit daaraan gedink nie,” sê sy ewe koel en onskuldig, maar sy bloos diep.
Paul glimlag.
“Dink ’n bietjie, Debbie,” dring hy sag aan.
“Dit hang af wie die dokter is,” sê sy, maar die warm gloed in sy oë laat haar haar eie oë toemaak. Die volgende oomblik voel sy Paul se lippe op hare.
“Paul! Nie hier nie,” fluister sy verward, maar Paul lag.
“En waarom nie? Net ek en jy is hier. Die amptenare is almal huis toe en wie ons ook al sien, sal ons net beny.” Hy trek haar teen hom aan, haar kop teen sy skouer, en soen haar weer. ’n Paar oomblikke gee Debbie haar geheel en al oor aan die omhelsing, maar dan stoot sy hom beslis weg en sit regop.
“Kom, Paul, ons moet huis toe gaan of ek is laat vir ete.”
“Ete? Ete? Ek gee vir jou nektar van die gode en jy praat van ete!”
“’n Mens kan van nektar alleen nie leef nie,” sê sy, en staan met ’n vinnige beweging op. Paul stof haar klere af en trek die droë grassies uit haar blinkswart hare. Teer, half besorg, rus sy blik op haar. Debbie is die laaste tyd bleker en sy het maerder geword. Dis die hitte wat soos ’n verstikkende kombers oor die stad hang wat ’n mens so uitput. Dit en haar studie, en dan hou hy haar nog saans so laat wakker. Dis baie selfsugtig van hom. Hy besef dit nou eers. Sy het al haar kragte nodig. Maar sonder haar is die dae vir hom ook maar leeg en kleurloos. Sag trek hy haar nader en soen die blinkswart hare.
“Ek sal jou baie mis, Debbie.”
Sy kyk op in sy gesig en glimlag. Daar lê ’n teerheid in die grys oë wat so reguit in syne kyk.
“En ek vir jou, Paul.”
Hand aan hand begin hulle die trappe opklim. Paul se gedagtes is by die meisie aan sy sy. Hy het ander meisies geken wat net so mooi en mooier nog as Deborah was, tot wie hy ook baie aangetrokke gevoel het. Maar die aantrekkingskrag was slegs tydelik en sodra hy seker was van hulle gevoelens vir hom het sy belangstelling verflou. Nie met Debbie nie. Met onsigbare bande bind sy hom steeds hegter aan haar vas. Selfs as hy weg is van haar is sy nog gedurig in sy gedagtes. Hy is bewus van die krag wat in haar skuil, van die teerheid waartoe sy in staat is. Hy wil haar liefhê en beskerm, hy wil die wêreld aan haar voete lê. En die gedagte aan die skeiding wat nader kom, is vir hom ondraaglik swaar. Daar is egter niks wat hy daaraan kan doen nie. Baie studiejare wag vir haar en vir hom.
“Ek wens ons kon nou verloof raak, Deborah,” spreek hy sy wens hardop uit en selfs hy is verbaas dat so ’n begeerte in hom kan opkom, dat hy, Paul Hugo, op twee-en-twintig verloof wil raak. Hy moet beslis baie verlief wees. Maar daar is nie sprake van nie. Sy ouers, Tina veral, sal baie teleurgesteld wees.
“Dis tog buite die kwessie, Paul. My pa sal my moontlik onmiddellik van die universiteit af wegneem. Hy was reeds glad nie gretig dat ek moes kom nie.” Sagter vervolg sy: “Dis ook nie nodig dat ander dit moet weet nie. In my hart is ek en jy verloof, behoort ek net aan jou.”
Styf druk hy haar hand in syne vas.
“Ek sal hard werk, Debbie, en gou maak. Dan kom ek jou haal. Sal jy vir my wag?”
Sy kyk op in die laggende blou oë en glimlag. Hand aan hand staan hulle nou langs die motor en kyk hoe die son agter die Magaliesberg wegsak. Die paar wolkies wat in die weste saamtrek, is ’n sagte roospienk. So ver as wat die oog kan sien, lê die jakarandas se pers skadukolle oor die stad en die aandskemering is vol geheime.
In die sagte skemering ry hulle stadig deur lanings van hemelse blou huis toe. Elke nou en dan klap-klap die jakarandakelke, wat soos ’n pers tapyt oor die strate lê, onder die motorbande. Ek voel soos ’n bruid, dink Debbie. Haar drome van liefde en geluk is deurweef met die skoonheid van die jakarandas. Sy sal hulle nooit vergeet nie. Dis of die hele natuur sy mooiste uitgehaal het vir haar en Paul. Die lente bruis deur haar are, dis of die skepping saam met haar glimlag oor die belofte wat die toekoms inhou. Dis lente, die lente van haar en Paul se lewens.
Toe hulle voor die deur stilhou, sê sy: “Kyk my boom, Paul. Is dit nie die mooiste een van almal nie?”
Soos ’n vorstin staan die jakarandaboom daar, groot en kragtig in haar majesteit. Dis of die aandskaduwees eerste daarin toesak en die boom is ’n diep, geheimsinnige pers, onbeskryflik mooi wanneer die wind die bloeisels saggies heen en weer wieg en soos yl reëndruppels na benede laat val.
“Tot siens, Deborah, en goeienag.”
Dis of sy uit ’n droom ontwaak. “Kom jy nie vanaand nie?”
Paul lag saggies. “O, ’n vroumens tog! Sy preek