Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
oë.
Trudie groet ook – hulle ken blykbaar almal die meisie.
“Debbie – dis Daphne de Lange en Tobie du Rand. Deborah Malan.”
“Deborah! Haai! Hoe ouderwets!” sê die jong meisie, en Debbie is bewus van die twee blink bruin oë wat so ondersoekend op haar rus. Die meisie is baie mooi gebou en die kort, nousluitende donkerblou broekie pas volmaak. Haar vel is soos satyn, sy het pragtige, groot oë en glansende donkerbruin hare. Debbie het lank laas so ’n aantreklike meisie teëgekom. “En hou Paul nog van brunette?” vra sy skalks.
“Van sommige brunette – baie. Van ander – nie soveel nie,” sê Paul koel en spottend. “En toe, Tobie, hoe gaan dit met die onderwys? Kan jy dit aanbeveel?”
Tobie du Rand, ’n jong man van omtrent twee-en-twintig jaar, lag half verleë.
“Nie vir jou nie, Paul. Maar ek dink dis nogal baie interessant.”
Raoul is ook daar op die agtergrond, pyp in die mond, met glimlaggende, rustige oë, nooit ver van Anne-Marie af nie. Hy is so gaaf, dink Debbie, en hy is so lief vir haar. Ek wonder waarvoor sy wag. As ek en Paul maar die kans gehad het om nou al verloof te raak, om binne ’n jaar te kan trou!
Soos kinders het hulle baljaar, vrolik en uitgelate, en die boeke en gevreesde eksamen was vir ’n rukkie vergete. Bennie was Tarzan, rats soos enige bobbejaan in die bome, en later het hy Daphne – al een wat ingewillig het om Jane te speel – met ’n tou probeer optrek na die mik van die boom. Daphne was ’n mooi en gewillige Jane, maar die tou was ontoereikend en Tarzan se plan wou maar nie werk nie. Hulle was almal slap gelag toe Tarzan uiteindelik onverrigter sake afskeid van sy boom moes neem en hom op ’n reisdeken kom neervly.
“Jy het seker nooit al jou groente en mieliepap opgeëet toe jy klein was nie,” spot Paul. “Daarom het jy nie ’n mooi groot, sterk man geword nie.”
“Waar sou hy dan ook pap en groente gekry het as hy in die bome grootgeword het,” sê Debbie. “Nee, nee!” vervolg sy haastig toe Bennie dreigend nader kom. “Ek bedoel dit nie so nie. Dis ’n kompliment omdat jy so rats is.”
Hulle het vuur gemaak en die geur van vleis wat oor die kole braai, het die lug gevul en hulle eetlus geprikkel, en hulle was almal rasend van die honger toe hulle eindelik begin eet.
Paul het ’n paar bottels bier en limonade saamgebring. Deborah wou net limonade drink, maar daarvan wou Paul nie hoor nie. Toe sy sien dat Trudie ook ’n bietjie bier saam met die limonade drink, het sy toegelaat dat Paul vir haar ook gee en die drankie was so verfrissend dat sy weer haar glas laat volmaak het.
“En wat kom jy nou eintlik in Pretoria maak, Daphne?” vra Paul terwyl hulle eet. “Maar net weer die ou groen weivelde kom opsoek? Of is daar ’n bepaalde doel?”
“Stel jy enigsins belang daarin, Paultjie?” vra sy, en daar is ’n warm glinstering in die bruin oë. ’n Oomblik kyk Paul terug na haar. Debbie sien dit en dis of ’n koue windjie oor haar waai. Sy het nog nooit so ’n aantreklike meisie teëgekom nie en dit lyk of sy heelwat in Paul belang stel. Hulle het mekaar geken . . . was sy miskien een van Paul se baie meisies?
Bennie runnik skielik soos ’n perd en Paul lag. “Aangesien ek op die punt staan om weg te gaan, Daphne . . .”
“O ja, jy gaan nou Kaap toe, nè? Ek kom net tot siens sê vir die ou weivelde, Paul. En my trourok koop.” Toe sy sien dat sy almal se belangstelling nou deeglik gaande gemaak het, vervolg sy: “Ek trou op tien Desember met Joe de la Rey, ’n beesboer van Ermelo.”
“Sowaar! Baie geluk, Daphne. Ek hoop net dat koning Joe de la Rey ook die gawe van Midas het,” sê Paul. Sy toon is half spottend en Debbie kyk hom verbaas aan.
Maar Daphne begryp nie. ’n Klein fronsie verskyn op haar gladde voorkop. Bennie help haar reg. “Is hy ryk, skattie, is hy ryk? bedoel Paul. Kan hy alles wat hy aanraak in goud verander?”
Die fronsie verdwyn en Daphne glimlag. “Heeltemal ryk genoeg, dankie, Paul. Maar ek trou nie met Joe omdat hy ryk is nie,” berispe sy hom sag.
“Dis ’n baie goeie ding, sussie. Die beesboerdery is glo maar ’n baie wisselvallige bedryf,” sê Bennie.
“Paul, hou jy en Bennie nou dadelik op,” beveel Anne-Marie.
Debbie sien dat Tobie du Rand eenkant sit en daar is ’n ongelukkige trek op sy gesig. Hy lyk vererg ook. Maar sy begryp nie heeltemal wat aangaan nie. Op die gesigte van al die ander, Trudie s’n ook, is ’n glimlaggie, asof hulle iets baie vermaaklik vind. Daphne is heeltemal ongestoord. ’n Uiterste klein flerrie, dis baie duidelik, en Deborah voel baie bly dat sy binnekort Joe de la Rey se vrou gaan word. Sy sal ’n pragtige bruid wees, dink Debbie. Lemoenbloeisels in daardie glansende rooibruin hare, ’n sluier, kant en Sint Josefslelies. Hoe lank nog voordat my troudag kom? Ses jaar? Sewe jaar? En die hele tyd sal ek en Paul van mekaar geskei wees, sal daar altyd mooi meisies soos Daphne de Lange wees wat hom sal lok en hom afleiding van sy veeleisende kursus sal bied.
Die donkerte sak toe op die aarde. Rondom op die gesigseinder lê swaar onweerswolke waarin die weerlig af en toe speel. Maar hier is dit lieflik koel ná die hitte van die dag en hulle dink glad nie aan huis toe gaan nie. Toe Paul voorstel dat Debbie saam met hom teekamer toe stap om sigarette te gaan koop, staan sy sonder teëpraat op en hand aan hand stap hulle daar weg. Daphne kyk hulle peinsend agterna.
“Is dit nou Paul se jongste?”
“H’m,” sê Bennie lui.
Die ontmoeting met Paul wek ou herinnerings by Daphne op. Hulle het saam hiernatoe gekom. Sy was Paul se eerste meisie. Anne-Marie en Paul het aan die begin uitgegaan, maar net totdat Paul haar ontdek het. Maar Paul was nie die enigste een wat gedink het Daphne is ’n oulike meisie nie. Toe hy uitvind dat sy ’n kêrel op Wits ook het en nog een op die dorpie waarvandaan sy kom, was hy glad nie gediend daarmee nie. Hy het haar eenvoudig die rug toegekeer en hoewel sy toe gewillig was om albei te los as sy Paul kon behou, was dit te laat. Paul het alle belangstelling in haar verloor. En daar was so baie ouens, Tobie ook . . . En toe moes sy huis toe nadat sy ’n tweede maal gesak het. Hoe haar pa ook kon verwag dat sy heeldag moes sit en leer . . . Maar haar pa verstaan haar glad nie en sy moes maar huis toe gaan.
Maar Paul . . . vir Paul sal sy altyd onthou. Die skraal, intelligente gesig, die blou oë, soms so wakker en deurdringend, dan weer so lui en tergend. Deborah sal hom nooit hou nie, sy is te jonk, te onervare. Paul is soos ’n skoenlapper wat van die een mooi blom na die ander vlieg. Sy dink aan Joe, ook blond soos Paul, maar groot en swaar gebou, met groot, sterk hande en ’n breë gesig. ’n Ongeslypte diamant, dis Joe. Sy sal maar aan hom moet slyp totdat sy tevrede is. Sy wou nog nie trou nie, sy voel nog glad nie gereed om haar aan een man vas te maak en al die ander te los nie. Maar sy kan dit nie langer in haar pa se huis uithou nie, hy word by die dag meer bekrompe en onmoontlik. En die paar pond wat sy in die maand in die prokureurskantoor verdien . . . dis nie die moeite werd om haar so af te sloof nie. En ’n beter huwelik sal sy ook nie maklik kan kry nie. Joe is uit ’n baie goeie familie en hy is ryk. En ryk mans is deesdae glad nie so volop as wat sy eens op ’n tyd gedink het nie. En al is sy hande dan ’n bietjie groot en grof, hy het ’n hart van goud en ’n mens kan ook nie alles in die lewe kry nie. En as sy later uitvind dat sy dit glad nie kan uithou nie, kan ’n mens altyd ’n plan maak. Sy voel hoe Tobie se hand hare toevou. Arme Tobie. Hy het haar nog net so lief soos altyd. As hy maar net Joe se geld gehad het!
Debbie en Paul het verdwyn in die skemerte en vinnig staan sy op.
“Kom, Tobie. Kom ons gaan ook so ’n entjie stap. Kom wys vir jou dorpsniggie al die nuwe wegkruipplekkies hier by die Fonteine.”
Ook Anne-Marie en Raoul het besluit om ’n entjie in die skemeraand te gaan stap en Trudie en Bennie bly alleen op die reisdekens agter. Trudie voel tegelyk ontevrede en half opgewonde omdat sy alleen agtergelaat is met Bennie. Bennie Fischer met sy donker gesig, gitswart hare, hoë voorkop, sterk neus en klein swart snorretjie is ’n interessante persoonlikheid. Hy besit ’n helder, vinnige verstand en het sy eie, besliste idees. Hy was berug