Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
sy hand uit en probeer Trudie langs hom neertrek.
“Ek dink dis baie bedagsaam van die ander om ons alleen in besit van die reisdekens en kussings te laat. Dis soveel gemakliker. Kom lê hier langs my, dan kan jy die sterre soveel beter bewonder.”
Maar Trudie wil nie. “Dankie. Ek sit liewer. Die ander sal seker nou-nou terug wees.”
Moedswillig verstaan hy haar verkeerd. “Jy’s verniet bang,” sê hy, en die tergende stem en insinuasie stuur ’n warm gloed na haar gesig. “Kom, lê maar gerus. Ek glo nie hulle sal so gou terug wees nie.”
“Ek het dit nie so bedoel nie,” sê sy vererg. “En jy weet dit goed.”
Bennie lag. “Maak dit nou saak hoe jy dit bedoel het? Kom, lê hier langs my.”
Sy trek haar arm los en met ’n poging tot kalmte sê sy beslis: “Ek wil nie lê nie.”
Hy draai sy kop stadig en kyk belangstellend na haar. Hy sien ’n klein meisie in ’n wit rokkie, inmekaargehurk, haar ken op haar knieë, haar arms styf geklem om haar bene. So ernstig en so vasberade! Hy glimlag. ’n Sterk drang om haar ’n bietjie te terg wel in hom op. Hy steek sy hand uit en sluit dit om haar enkel. “So ja, nou kan jy nie wegloop nie. Sê vir my: Wie is hy en waar woon die kêrel wat so ’n lojale meisie het? Geen man is dit werd nie, Trudie, het jy dit nog nie uitgevind nie?”
“Natuurlik het ek dit uitgevind, lankal,” sê sy vererg.
“So?”
“So niks nie.”
“So ’n mooi, dun enkeltjie – ek het dit vanmiddag al opgemerk toe jy so rats hier rondgespring het. Om watter rede dan die koel afsydigheid, die houding van raak-net-aan-my-dan-slaan-ek-jou-met-’n-koevoet-dood?”
Trudie bloos. Hy laat haar soos ’n skoolkind voel. “Bloot omdat ek koel en afsydig voel. En los dadelik my voet of . . .”
“Of?”
“Asseblief, laat los,” soebat sy skielik en stadig neem hy sy hand weg. “Ek wonder waar die ander bly,” sê sy half onrustig. Sy dink net aan Deborah. Oor die ander bekommer sy haar nie. Sy merk weer die groot, swaar wolkkoppe en die blitse wat nou so aanhoudend daarin speel.
“Jy wonder tog nie regtig nie,” sê hy lui. “En jy’s verniet haastig, hulle sal nie gou kom nie.”
“Wat bedoel jy?”
“So ’n onskuldige ou dogtertjie! Sal pappa vir haar sê wat hulle doen? Debbie en Paul is besig om ewige trou aan mekaar te sweer, en ek weet wragtig nie of Paul ernstig is of nie! Anne-Marie en Raoul – nou ja, waarvoor sy nog wag, weet ek ook nie. Raoul sal die maan vir haar gaan haal as sy net sê sy wil dit hê. So ’n man kry ’n vrou nie elke dag nie. Daphne is besig om haar jeug hartstogtelik vaarwel toe te roep in Tobie se arms en hom te verseker van haar onsterflike liefde. Maar haar hardvogtige pa wat haar in ’n huwelik indwing . . .”
“O, maar jy is ’n onaangename, siniese mens, Bennie Fischer!”
“’n Koerantskrywer, sussie, sien die lewe in sy naakte werklikheid. Hy steek weg en dik aan waar nodig, maar dis sy eerste plig om die waarheid as sodanig te erken en waar nodig te openbaar. Ek doen jou die eer aan om die waarheid te praat en jy noem dit sinisme!”
Trudie lag.
“Kom lê hier by my,” herhaal hy, maar hy raak nie weer aan haar nie. “En dis nie die Lokstem van Verleiding wat jy hoor nie. Net die stem van ’n broer wat moeg is en jou vra om te kom rus. Dit sal seker nog lank wees, behalwe as die natuur besluit om ons te help. Kyk die weerlig daar in die wolke.”
“Dit sal heerlik wees as dit reën. Die hitte is ondraaglik.” Sy lê nou ook op haar rug langs hom op die reisdeken.
Vir ’n rukkie is daar stilte tussen hulle, toe sê hy sag: “Ek het jou netnou net geterg, Trudie. Jy was nie regtig vir my bang nie, was jy?”
Sy aarsel en sê toe eerlik: “Ek was . . . so ’n bietjie.”
“Ek is jammer,” sê hy sag. “Dit word eintlik van ’n man verwag deesdae. Maar so ’n koel, afsydige meisie pas mooi in my kraam vanaand. Ek is tot die dood toe moeg; ek is suf geleer en nog nie klaar nie.” Hy sug swaar.
“En ander aande?” vra sy koel. “As jy nie so dodelik uitgeput is nie?”
Hy lag. “’n Man sê nooit nee dankie vir so ’n bietjie afleiding nie. Maar Bennie is maar versigtig. Jy weet mos: ‘Reis alleen en jy sal ver kom.’ En Bennie wil nog ver reis.”
“Koeranteienaar?” vra sy effens sarkasties.
“Nee, Trudie. Nie in daardie rigting nie. Sekerlik nie in die rigting van ponde, sjielings en pennies nie. Dis daarom dat ek alleen moet reis. Sodra jy gebind is, en veral as jy gebind is deur die bande van die liefde, is jou vlerkies geknip, is dit al rigting waarin jy kan gaan. Ek het dit maar te duidelik met my eie ouers gesien.”
“Watter rigting dan?” vra Trudie, geïnteresseerd.
“Ek wil op my tyd deur die wêreld reis, vreemde mense en lande en gewoontes aanskou, en ek wil skryf, eendag nog sommer ’n groot werk! Daar is ’n stem wat my roep. Luister:
I must go down to the seas again, to the vagrant gipsy life,
To the gull’s way and the whale’s way where the wind’s like a whetted knife;
And all I ask is a merry yarn from a laughing fellow-rover
And quiet sleep and a sweet dream when the long trek’s over.
“Ek gaan Januariemaand met ’n vragboot Suid-Amerika toe,” sluit hy effens verleë af.
“Hoe wonderlik!” sê sy. “Ek beny jou uit die diepte van my hart.”
“Ek weet nie of dit so wonderlik sal wees nie,” lag hy. “Dit sal geen luukse reis wees nie. Ek gaan my passaat verdien. En so, al verdienende, gaan ek deur die wêreld swerf.”
“Ek dink nog dis wonderlik,” sê Trudie.
“Ek sal vir jou skryf,” belowe hy gulhartig.
“Ek sal graag van jou hoor, maar ek weet jy sal nie regtig nie.”
“Jy sal sien.”
Daar is stilte.
Hoe vry en gelukkig is ’n man tog nie, dink Trudie. Vry soos die voëls wat kom en gaan soos hulle wil en neste bou waar hulle wil. Nie soos ’n vrou nie. Haar gees voel ook sterk en avontuurlik soos syne, maar sy is gebind deur die wette en sedes van haar samelewing, deur liggaamlike swakheid, deur ’n ewe diep drang na vastigheid en ’n huis. As sy die lokstem van die trekgees hoor en die verlange na onsigbare, onbekende dinge pak haar beet, as verre horisonne roep en die wêreld om haar te nou word, kan sy nie sommer net alles los nie. En dan het sy maar net een toevlug – haar geliefde viool. Dis of sy al haar verlange kan uitstort in Beethoven, Mendelssohn en Chopin en so weer haar opstandige gees tot bedaring kan bring.
Sy hoor hoe Bennie sag en reëlmatig asemhaal en glimlag in die donkerte. Reeds uitgeput, was die middag se oefening te veel vir hom en hy slaap. Haar eie moegheid is weg en met haar oë op die sterre wag sy dat Deborah-hulle moet terugkom.
Hoofstuk 6
Hoofstuk 6
’n Skielike, dreigende gerammel laat Trudie meteens besef dat die storm hier is. Hoe lank sy so stilgelê het, weet sy nie. Met haar oë op die swaar wolke, die blitse wat daarin speel, verdiep in haar gedagtes, het sy dalk self ook ’n bietjie ingesluimer totdat sy skielik die koue windjie oor haar kaal arms en bene gevoel het en gesien het dat die weer, wat al die hele aand dreig, nou werklikheid word.
Toe sy regop sit, is Bennie ook wakker.
“En nou?” sê hy.
“Nou moet ons gou maak. Die storm is hier.”
“Het ek geslaap?”