Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
ná die dag se werk in die swembad kom afspoel het, met Pote ’n blaffende bondel op die rand daarvan. Die soel skemeraande het gewoonlik begin met ’n borrelende pretmakery in die water totdat almal uitgeput op die nog gloeiende leiklipblad langs die swembad gaan lê. En dan het die woorde en die gelag oor die dag se gawe oomblikke en klein katastrofes begin opdroog totdat iemand ’n laaste paar trae woorde kwytraak en dit stil word. Dan het die emosie wat by elkeen van hulle byna tasbaar teenwoordig was, begin om klein voelers uit te steek totdat die atmosfeer naderhand gelaai was met die fyn roeringe van bedekte en miskien skaars erkende passie. Daar was niks wat ’n mens met die fynste oog kon sien of met ’n enkele vraende woord kon ontbloot nie.
Dié een aand was daar ook niks wat as anders vertolk kon word nie. Elsje het soos al die ander aande langs Eugene gelê; hy met ’n arm liggies oor haar skouers. Maryn het langs die duttende Peet gesit, en Marcel en sy hond het ’n entjie van hulle af uitgestrek gelê. Nou en dan het Pote sy kop gelig om seker te maak dat Marcel nog lê waar hy lê. Ook het hy Maryn met opregte hondverering dopgehou. Hulle almal het die voorafgaande week met onuitgesproke verbasing gesien hoe die toegeneentheid tussen Maryn en die groot hond groei. Dit het soms selfs gelyk asof Pote moeite het om sy aandag regverdig tussen die ou en nuwe lojaliteit te verdeel. Ook dié dag, toe die laatmiddag ’n laventel skemer word, het Marcel opgestaan, sy groot handdoek om sy onderlyf gedraai en saggies deur sy tande vir die hond gefluit. Pote het laf en lomp opgespring, ’n slag na Marcel gekyk en toe na Maryn gedraf, om haar bly trippel en ’n uitgerekte blaf-tjank gegee.
“Dis nou seker dat jy moet saamkom,” het Marcel met ’n glimlag gesê, en daarmee lewe in die toneel geblaas: Maryn het half verleë tussen sit en opstaan gehuiwer; Elsje het haar bolyf op haar elmboë gelig en met wye oë toegekyk, terwyl Eugene met verbasing gesien het hoe sy suster se gesig vertrek in gepynigde besluiteloosheid. Toe het Peet, wat ook Marcel se woorde gehoor en soos altyd Maryn se spanning aangevoel het, een bruin arm uitgesteek en haar liggies aan die boarm teruggehou. Sy het teruggesak; Pote het na Marcel gedraf, wat bedaard vir almal goeienag gesê het, en hulle het hom in ’n vriendelike koor geantwoord. Eintlik was daar niks fout nie – nie op die oppervlak nie. Tog was dit ná daardie aand duidelik dat dit nie net Peet is wat bewus geraak het van die ragfyne uitleg van ’n nuwe bedeling nie. Selfs die prosaïese Eugene het soms in vraende onbegrip na sy suster gekyk wanneer Marcel by is, net om Peet dan weer bekommerd dop te hou. Tog het hulle nie daaroor gepraat nie. Daar was eintlik niks om te sê nie …
Voordat hy die eerste stroopdag instap, beskou Peet homself ’n kort oomblik in die spieël. Hy lyk waarlik nog nes altyd. ’n Mens sou nooit sê, dink hy met ’n wrang laggie, dat ek maar baie onlangs ontdek het dat ek al geruime tyd verlief is op my beste vriend, my aangenome bróér, se meisie nie … ’n Mens sou nooit uit my vroomgladde gesig kon lees dat ek byna daagliks die nuwe motor tot mot en roes verwens nie, want dit het vir my die simbool geword van ’n yslike verpligting. Iemand anders sou dit lankal afgewerp het soos klere wat nie by die klimaat pas nie – maar nie ék nie. Ek sal nooit die wonderlike geborgenheid wat Damplaas en sy mense my bied, kan aantas nie.
Met skielike insig en ’n diep verbasing dat hy dit nooit voorheen so besef het nie, weet hy dat Maryn die sleutel is tot hierdie geborgenheid. Sy verhouding met haar het nog net vreugde en voordeel gebring. Dis asof hy meteens ’n helder blik kry op die jare wat verby is, en duidelik sien wat oom Frederik tóé al gesien het – dat ook Maryn se toekoms in die klein Peet opgesluit lê …
Dan stap hy uit in die goue, blink môre en sien met opregte genot hoe die stropers een vir een van die skuur af verby die huis karring op pad lande toe. In die kajuit van die heel voorste stroper merk hy vir Eugene op, wat hom oor die werf sien loop en uitbundig vir hom waai. Vir die eerste maal hierdie jaar voel Peet die bruising van die oesseisoen in sy bloed. Dis ’n weergalose tyd. Dit wek iets in oud en jonk – ’n nuwe vreugde wat ontspring uit die ou dankbaarheid dat God só goed is.
Vandag wil hy nog ’n laaste ogie oor die droogoonde gooi. Die afgelope paar dae het hy met die hulp van ’n paar swart werkers al die moontlike en onmoontlike toekomstige gebreke van die oond nagegaan, want verlede jaar, toe daar ’n paar goeie buie reën geval het, het hulle baie gesukkel om die koring droog te kry. Daar was gedurig maar iets fout.
Maar teen die tyd dat hy die twee stilstaande trekkers aangeskakel het, waaraan die droogoonde gekoppel is, is sy gedagtes geheel en al opgeneem deur sy werk. By hierdie droogoond sal hy in die komende paar weke oor en oor sy brood verdien – want op Damplaas is dit Peet en sy helper Sagrys, ou Paulus se oudste, wat die oondtemperature dophou en die gastoevoer na die vlam reël, want die koring mag net nooit brand nie. Met geoefende oog en vaardige hand gaan Peet weer alles noukeurig na, en teen twaalfuur is hy trappend van ongeduld dat die eerste sleepwaens op die perd en leunwa moet opdaag van die lande af – boordensvol blinkvet koringkorrels …
Ná lang besprekings tussen oom Frederik en Marcel, het hulle twee uiteindelik besluit om die Simmentalers by ’n stoetteler in die distrik Petrus Steyn te koop. En drie dae ná die aanvang van Damplaas se stropery vertrek Marcel, met almal se uitbundige goeie wense, om hierdie geweldige aankoop te gaan doen. Binne ’n paar dae keer hy terug met die goeie nuus dat hy dertig pragtige Simmentalerverse gekoop het, waarvan sommige dragtig is, asook ’n kampioenbul teen ’n rekordbedrag wat selfs Eugene se oë in ’n soort genotvolle skok laat rek. Die beeste, kondig Marcel aan, sal die volgende week met vragmotors op Damplaas aankom. Hy en Pote het teen aandete by die opstal opgedaag met die nuus. Hierdie een keer weier Marcel nie Maryn se uitnodiging om te bly vir ete nie, en hy kom sit geredelik langs haar op Peet se plek, want dié is sedert vroegaand al weer by die droogoond om die eerste nagsessie tot middernag waar te neem.
Maryn kyk tersluiks na hom terwyl hy eet en praat en beduie van die beeste. Oom Frederik is sigbaar opgewonde en kom byna nie sover om regtig te eet nie. Elke keer as hy wil wegval, het hy ’n nuwe vraag aan Marcel, wat op sy stil, ernstige manier antwoord so goed hy kan. Maryn sien dat selfs op sy sober gesig daar ’n speling van ingenomenheid is. Maar die uitdrukking vervliet so gou dat sy nie seker is of dit ooit daar was nie. Watter vreemde mens! dink sy terwyl haar oë nikssiende na haar bedrywige mes en vurk op haar bord staar. Net sodra ek dink hy gaan nou finaal te voorskyn kom sodat ek kan sien hóé hy voel en wát hy voel, dan raak hy weg agter daardie swygende gesig van hom. Dis meer as net ’n masker, want sy oë sê: Ek is nie van hier nie! Dis tog asof hierdie Marcel nooit werklik binnekom nie, dink Maryn; hy bly op die rand van ons bestaan hier op Damplaas. Jy weet hy’s hier, maar jy kan hom nie werklik sien nie. ’n Blote woord kan hom sommer heeltemal laat verdwyn. Maar aan die ander kant – daar ís dinge wat hom effens in die lig laat tree, soos sy liefde vir diere.
“Sal jy koffie drink?” vra Maryn hoopvol.
“Graag,” sê hy, en vir die eerste maal daardie aand kyk hy haar vas in die oë, en sonder dat daar ’n spier op sy gesig roer, glimlag sy oë met haar en raak diep en groen soos damwater.
Dis so skielik dat Maryn verlam sit en om die dood nie kan wegkyk nie, maar dis Marcel wat hom sonder enige oënskynlike moeite weer wegwend en ’n taamlik dringende gesprek met oom Frederik begin oor die verse wat in die eerskomende weke sal kalf. Die kalwerhok, reken hy, moet net môre klaargemaak word. Hy en ’n paar van die werkers het reeds byna alles klaargemaak en die halfvoltooide kalwerhok is dig by die sinkskuiling vir die verse. Aangesien van die verse reeds ver dragtig is, moet hulle maar alles regkry vir die kalfies. Voorlopig, besluit hy en oom Frederik, sal die kalwers by die koeie gejaag word, want dit sal nog ’n ruk duur voordat die melkstal met moderne melkmasjiene en al voltooi sal wees. Dit is natuurlik ’n heelwat groter taak as die drukgang en die afdak, en Marcel sal tussen sy ander bedrywighede met die beeste deur hieraan werk. Eindelik gee Marcel aandag aan Eugene, wat saam met die twee meisies heeltyd aandagtig en belangstellend gesit en luister het.
“Ek werk nietemin nie naastenby so hard soos julle manne nie,” sê hy met ’n innemende glimlag. Eugene lag breed terug.
“Jy lyk darem asof jy weet wat jy doen, Marcel!”
“Dankie, ek is bly jy dink so. Ek wil in elk geval tog aanbied om te help by die droogoond. Dan sal jy en Peet darem meer blaaskans hê, of hoe?”
Eugene kyk verras na hom, toe vraend na sy pa, en oom Frederik