Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
sy weg is, val daar ’n klipstilte tussen Peet en Elsje. Hy los die spyskaart en vou sy hande voor hom op die tafel, herken die nou bekende benoudheid wat in hom opwel wanneer hy alleen is met Elsje. Hy doen niks om dit te beveg nie. Dis soos pyn, dink hy, dit moet nou maar oor my spoel en uitwoed. Dalk suiwer dit iets in my …
“Peet?” sê Elsje naderhand tog, en in ’n sagte, onseker stemtoon.
“Já?” Kortaf, baie meer as wat hy werklik wou.
“Ek … e … wat ek wou sê, jou nuwe motor ry darem regtig baie lekker!”
Peet is onmiddellik kwaad. Hoe durf sy so … so ’n opsetlik onskuldige stelling kwytraak, so banaal wees en dit terwyl sy weet hoe hy wroeg!
“Wat wil jy nou eintlik daarmee sê?” vra hy bytend.
Sy word wit om haar mond, lyk asof sy haarself wil keer, maar doen dit toe tog nie.
“Maar net dat jy dan wél om te koop is!” sê sy, maar kyk vinnig af op haar ineengeklampte vingers.
Peet voel hoe sy hele lyf vol woede word; sy skouers en kuite wil eintlik kramp daarvan, en die bloed suis dol deur sy kop.
“Ek sal jou nie weer vra wat jy bedoel nie,” sê hy hees en met stywe kake, “want ek weet so presies waarop jy sinspeel! Arme Peet wat toegespin word in die Bassons se goue draadjies! Maar laat ek jou een ding vertel, Elsje – dit is my probleme! En ek probeer ten minste weet wat vir almal op die ou einde die beste gaan wees! Verstaan tog, ek kan onmoontlik nie nóú die dop van die goue eier kraak en daar kom die lelike likkewaantjie uit, in plaas van die kuikentjie wat almal vermoed het daar moet wees nie!”
Daar kom ’n skynsel van ’n lag op haar gesig, maar dit vertrek sodat haar mond bewe toe sy sê: “Ek verstaan jou nog nie … dit lyk my die goue dop is tóg vir jou baie belangrik, Peet!”
Sy kwaad verslaan so skielik dat dit ’n nare ontsteltenis laat, sodat hy haar met net so ’n bittere verwyt antwoord: “Ek verstaan jou ook nie – ek dag nog altyd jy is Maryn se getroue vriendin!”
“Ek ís ook,” antwoord sy met ysige kalmte, en toe vinnig en woedend, sodat haar oë vlam en lewe: “Moenie krake in my gevoelens en lojaliteit soek nie, Peet Baumann! Eerlikheid werk suiwerend in die lewe, en van ons twee is ek verreweg die eerlikste!”
Hulle staar na mekaar, kwaad en verskrik, en sien die weerlose ontbloting van mekaar se harte. Ons het ’n liefdestwis gehad! dink Peet beswaard en tog met vreemde opwinding. En dít nog voordat daar ooit enige liefdesverklaring mag wees …
Op dwingende ingewing reik hy na haar oor die tafel en plaas sy hand warm oor hare wat slap op die blad lê.
“Ek is jammer,” sê hy byna onhoorbaar, en verwoord daarmee sy berou oor ’n onvermoë om weg te breek; sê daarmee dat hy dit wel anders sou wil …
’n Stonde nog kyk sy na hom, en toe staan die trane haar oë vol. Sy neem haar hand weg en staan op. “Verskoon my,” sê sy, en loop vinnig na die kleedkamers. Sy oë volg haar asof sy hartklop daarvan afhang, en toe die deur agter haar toeswaai, sluit hy sy oë en leun terug op die harde kafeestoeltjie. Hy voel byna of hy in ’n botsing was. Die skok sal later kom, dit weet hy. Want daar is so pas veel meer gesê as net die woorde wat gebesig is. Daar was ’n totale erkenning van hul gevoel vir mekaar. Selfs die aanraking van hul hande, wat ’n vredesgebaar moes wees, was onbetwisbaar vol passie. En ek, dink Peet, is ’n beloofde man. Een wat sal moet leer om op sy beloftes te teer, en dit terwyl hy weet daar is in hom die gloed van dié vuur …
Hy sit verwese. Die kelner kom sit hul kos voor hom neer, en hy laat dit koud word. Ná ’n kwartier kom Elsje te voorskyn, bleek gepoeier om die traanspore te verberg. Sy gaan sit bedees en vermy sy oë, eet die koue kos op. Hulle praat niks. ’n Hele ruk later kom Maryn skoon windverwaaid terug. Sy het haar doodgesoek na die regte kopdoek, sug sy, en toe maar dié een gekry by ’n klein winkeltjie doer in ’n straatjie. Sy hou dit op sodat hulle kan sien en hulle inspekteer dit swygend. Net Elsje knik goedkeurend. Toe sit Maryn dit by die ander pakkies en begin gretig eet aan die koue kos, honger van die soekery.
“Nou sal ons ook maar moet spore maak,” sê Peet ten laaste, “want ek moet darem weer so teen sesuur op my pos by die oond wees, en ek wil nog voor die tyd gaan swem en slaap ook!”
Hulle is skaars op pad of Maryn se kop knik en sak na Peet se skouer toe. Hy beweeg sy arm effens sodat sy darem op ’n manier gemaklik is en blik half sku in die truspieëltjie. Elsje se gesig is afgewend; sy kyk ver by die venster uit. Dit lyk asof sy ook net so ver dink. Daar trek ’n sidderende ekstase deur hom, maak hom week en magteloos.
“Els?” vra hy net-net hoorbaar, en loer weer in die spieëltjie.
Sy keer haar gesig na hom, maar haar oë bly ver kyk. “Ja?”
“Sing vir my iets.”
Toe het hy haar volle aandag. Sy lyk verstom.
“Waarom dan?”
Hy lag saggies. Soms, dink hy, moet ’n mens jou veroorloof om sommer net te lag wanneer jy eintlik behoort te huil.
“Newwermaaind … Sing net!”
Sy kry self ’n skewe laggie.
“Wat wil jy hoor – Mozart, Denver of Goosen?”
“Goosen. Heelpad Goosen. Los Denver vir die vleisbraaiery en Mozart vir later.”
Sy bly ’n ruk lank stil, begin toe sag neurie, en later sing sy “Waterblommetjies”. Sy sing dit selfs sonder enige begeleiding met ’n warmte en ’n hartseer oorgawe wat wrange begeerte soos ’n seer spasma in Peet se borskas laat saamtrek. Toe sy klaar is, sê hy skor: “Weer ’n keer …”
Sy huiwer, maar doen dit tog. Hy luister enduit en ervaar weer dieselfde verlange voordat hy half sugtend sê: “Ek … het werklik nie geweet jy sing só nie!”
“Hoe?” vra sy, en die blote woord is ’n smeking. Hy wil-wil homself dit veroorloof om haar te sê dat sy met haar hart sing, maar beteuel hom.
“O,” sê hy argeloos, “so asof jy ’n toekoms kan hê in die sangwêreld!”
Sy oog vang haar in die spieëltjie en hy sien hoe sy toeskulp.
“’n Mens kan nie alles in die lewe wil hê nie,” sê sy, en kyk verby hom na waar die warm middaglug blink spieëlings op die teerpad maak.
“Ek weet dit net so goed soos jy,” kap hy terug, “maar ná wat ek nou gehoor het, kan ek nogal glo dat jy jou meer op sang behoort toe te spits.”
“Ag wat,” verweer sy en blik vinnig weg, “dit sal nog nie brood in my mond sit nie!”
Peet vererg hom sommer, frons sodat sy bril effens sak.
“Klink vir my na Eugene se woorde!”
“Dit is,” sê sy eerlik, en kyk stadig op totdat haar oë syne in die weerkaatsing ontmoet. “Ek … hy … bedoel dit nie so … so kru as wat dit mag klink nie!”
Hy is opeens so kortgebaker dat hy kan blaf daarvan. Wat doen ’n mens tog as jy in ’n hoek vassit? Of liewer, waar dam ’n mens jouself weer op as die walle gebreek het? Die gedagte stu en maal in hom soos waters teen ’n sluis, en hy het al sy konsentrasie nodig om te kyk waar hy ry – want sy oë volg die wit streep op die teerpad asof dit ’n toutjie in ’n doolhof is. Hy en Elsje praat nie weer nie. Hulle swyg die kilometers af tot by die uitdraaipad na Damplaas. Maar net voordat hulle by die groot hekke indraai, trag hy vir die soveelste maal daardie dag om hierdie liefdesban oor hom met woorde af te skud.
“Ons moet probeer, Els,” sê hy sag, kyk vlugtig na haar in die truspieëltjie en sien aan die skielike verdonkering van haar oë dat sy hom volkome begryp.
“Ek wens ek was so gemotiveer soos jy,” is haar vlymskerp antwoord, sodat hy sy asem intrek soos iemand wat onverwags ’n steekpyn voel. Voordat hy haar weer kan antwoord, gee Maryn ’n lang gaapsug teen sy skouer en sit