Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
dat Eugene en Elsje nog nêrens te sien is nie. Hy gesels egter lekker met Marcel en vra belangstellend uit na al die bedrywighede met die beeste, spreek tog uiteindelik half huiwerend sy bekommernis oor oom Frederik se moegheid uit.
“Ja,” beaam Marcel, “ek het dit al die laaste week of wat opgemerk. Hy is nie vandag se kind nie en hy sal hom vir ’n rukkie moet stil gedra. Een van julle moet dit vir hom sê, want ek wil nie inmeng nie.”
Peet beloof hart en mond om net môreoggend, sodra vanaand se hele doenigheid verby is, met oom Frederik te praat en hom te maan om sy gesondheid beter op te pas.
’n Halfuur later daag daar reeds van die eerste gaste op en Eugene, Elsje en Maryn is daar om hulle te ontvang. Vir oom Frederik is daar ’n groot leunstoel buitetoe gedra, en hy sit nou gesellig en gesels met ’n paar van sy ou vriende. Peet en Marcel is maar steeds by die vure, en nadat Maryn toegesien het dat al die aanwesiges ’n glasie van oom Frederik se eie rumbola in die hand het, gaan voeg sy haar by die jolige klomp jonges om die vure. Marcel is besig om op sy stil manier ’n droë grappie aan een van die plaaslike bankbestuurders te vertel, wat die man en ’n paar ander om hulle laat skater. Om die een of ander rede voel sy skielik heeltemal uit en sy gaan soek die bekendheid van Peet se sy op. Dié staan met sy bril in sy hande en probeer die rooktrane uit sy oë vee.
“Gee vir my,” sê sy, en neem die bril by hom. Hy tuur na haar met sy bysiende oë en glimlag skeef.
“Dankie. Kan ook nie eens my eie meisie op tasafstand herken nie!”
“Gevaarlike storie,” sê sy in ’n spotstem, maar haar oë kyk vlugtig verby sy kop na waar Marcel nou weer alleen staan en stadig waarnemend om hom begin rondkyk. Net toe kom daar ’n paar van die jong onderwyseresse om die hoek van die huis gestap, staan ’n wyle op ’n bondel en huiwer, en pyl toe op ’n paar jong boere af, wat hulle skertsend nader roep. Dis duidelik dat die groepies mekaar goed ken. Net een van die meisies – ’n klein, vietse dametjie met rooi-rooi hare en ’n pikantheid wat haar hele wese aankleef – bly botstil staan, haar oë starend groot. Maryn gee Peet sy bril terug en mik om in haar rigting te stap, toe die meisie met ’n fyn geluidjie wat ’n uitroep kon gewees het, reguit op Marcel afstorm. Sy slaan haar kort armpies met ’n ekstatiese “O-Marcel-wáár-slaan-jy-uit!” om sy middel. Peet, wat weer sy bril ophet, sien dit ook – en hoe Marcel, asof vasgevang in ’n stilfoto, haar aanstaar en toe stadig sy hande op haar skouers sit in ’n gebaar wat sprekend is van persoonlike herkenning.
“Ghmf,” sê Maryn, “een van daardie meisies wat haar verbeel sy het ’n spesiale teenwoordigheid van gees wat haar sal vrywaar van sosiale flaters! Al bevlie sy nou ook ’n man op ’n vreemde plek!”
Peet se ongeërgde verbasing oor die rooikoppie se optrede verander in ongeveinsde verstomming. Hy kyk af op Maryn se verwoede gesiggie hier langs sy skouer en sien hoe wild haar mooi blou oë na Marcel en die meisie gluur, wat nou ewe gesellig wegstap na die grasperke voor die huis. Iewers in die donker agterkamers van sy gemoed gaan daar ’n deur oop en ’n skrefie lig kruip in. Dis ’n flou skemering wat gedagtes in vermoedens verander en weer die duistere oorsprong van motiewe opklaar. Nee, dink hy. Nee, nee, nee. Ek en Elsje mag nie. Maar Maryn en Marcel waaragtig óók nie. Maryn is te jonk, te blomskoon vir ’n man wat reeds die liefde in sy geheel geken het – ekstase, vervulling en smart, en wie weet op watter manier nog …
“Draai ’n bietjie die spit, ek’s nou weer hier,” sê hy gesellig aan ’n ou skoolmaat wat rustig langs hom staan en rook, en die man knik. Daarmee draai hy na Maryn en neem haar aan die arm. “Kom jy saam met my!”
Hy stap vinnig met haar deur die mense, groetlag hier en daar, en gaan by die agterdeur in tot in die groot, koel spens met sy rakke vol konfyt en inlêperskes. Die deur druk hy sonder seremonie agter hulle toe. Sy kyk na hom met gesperde oë en kry geen woord uit nie. Dis kompleet asof sy vreeslik geskrik het. En Peet met sy fyn insig weet met sekerheid dat dieselfde lig vir haar gedaag het. Sy wéét waarom sy so ontsteld was toe ’n vreemde meisie Marcel met ’n omhelsing begroet het.
“Wat makeer jou?” vra hy bars, en sy hande bewe toe hy hulle op sy heupe plaas. Hy weet voor sy siel hy sê die verkeerde dinge, maar sy ontsteltenis voer hom aan. “Jy gedra jou soos ’n bakvissie en dis nie net ek wat dit …”
“Bly stil, Peet,” sê sy kalm, haar gesiggie vol versteende emosie sodat Peet nie meer die uitdrukking daarop herken nie, net die verwese trek. Sy haal diep asem. “Moenie dinge sê waaroor jy gaan spyt hê nie!”
“Maryn,” sê hy seer, “ek wil niks sê wat jou gaan ongelukkig maak nie, maar dan moet jy ook niks dóén wat jou gaan ongelukkig maak nie. Beloof my!”
Sy kyk hom woordeloos aan, mik toe om verby hom te kom. Hy keer haar met een lang arm, en meteens kan sy tot selfs die swart van sy pupille deur die dik brillense sien.
“Ek verbied jou,” sê hy baie sag, “om enigiets met Marcel Hoffman te doen te hê!”
“Ek hoor jou,” antwoord sy net so sag, maar tussen hulle swel daar ’n drukking, wat as daar die geringste vonk van begeerte na mekaar was, in ’n soet liefdesuiting sou verskiet het. Maar nou staan hulle net en wag, verbete maar koel, dat kalmte van sinne weer oor hulle moet kom. Oplaas draai Peet self om en maak vir haar die deur byna geruisloos oop. Toe sy met ’n terughoudende blik na hom wil verbyloop, hou hy haar aan haar arm terug en trek haar versigtig, asof hy bang is vir teenstand, tot aan sy sy. Sonder om na haar af te kyk, sê hy: “Ek beplan om vroeër Leiden toe te gaan … as wat ek gedink het. Jy moet ook maar jou dingetjies begin beplan.”
Wat hy eintlik met hierdie woorde sê, weet nie hy óf sy met sekerheid nie. Hulle weet net dat daar iets gebeur het wat hulle meteens hand en tand teenoor mekaar gestel het, en dat net die diepe deernis wat hulle vir mekaar voel, hulle keer om mekaar te bevlieg.
“Ons sal maar sien, Peet,” sê Maryn suf, en stap deur die huis grasperk toe om nog ’n ronde bola te bedien voordat Selina die trollies met die braaivleis en bykosse op die voorstoep uitstoot. Peet gaan terug na die vure toe. Hy kry Marcel ook weer daar op sy pos, besig om die laaste stukke biefstuk van die roosters af te haal. Hy sit swygend hand by nadat hy Selina gehelp het om die skape op groot skinkborde te sit en kombuis toe te dra, waar sy dit behendig opsny.
Nou kyk hy tersluiks na die lang blonde man, merk die diep frons tussen die donker wenkbroue, die vertrekte mond asof hy slegte nuus gekry het. Maar hy waag dit tog om geselserig te sê: “Ek sien jy het iemand raakgeloop wat jy ken!”
Marcel klap die gebruikte rooster toe en sit dit eenkant. Toe eers kyk hy skerp na Peet, sê byna sonder dat sy lippe beweeg: “Geken hét.”
’n Stonde kyk die twee mans mekaar vierkant in die oë, hul gesigte gebaai in die roosgloed van die kole, en dis Peet wat omdraai en die bakke met vleis optel asof daar niks gebeur het nie. Hy is man genoeg om te weet dat Marcel se woorde sy beoogde gesprek tussen hulle twee nie ingelui het nie, maar afgesluit het. Marcel kon net sowel “taboe” gesê het, so sprekend is sy los-my-uit-houding.
Die gaste staan dadelik nader met hul borde wat Elsje intussen uitgedeel het. Maryn bly ingedagte staan by die hond, haar skoenpunt gerusstellend teen sy nek, en kyk na die geselsende gaste. Op die oog af geniet almal die geselligheid baie. Sy skrik op toe ’n klein figuurtjie uit die samedromming tree en doelgerig nader kom. Die rooikop van netnou. Sy wend geen poging aan om met Maryn te praat nie, staan net na die hond en kyk met ’n eienaardige uitdrukking op haar gesig.
“Nou toe nou, dieselfde Pote van destyds,” sê sy dralerig, maak haar perfekte kupido-lippies stemmig toe en laat haar oë takserend oor Maryn gaan.
“Ken jy hom?” ontglip die vraag Maryn se lippe teen haar beterwete in.
Die rooikoppie kry ’n slinkse laggie.
“Van wie praat jy nou?” vra sy liefies.
“Van Marcel Hoffman natuurlik,” kap Maryn ergerlik terug.
“O. Wel, ek ken hom, ja, goed genoeg om te weet om liefs nie oor hom te praat nie. Ek is sy oorlede vrou se niggie, sien, en ek was by toe …”
Haar