Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
het, hou hy. Maar ek dink veral ná klein Marcus se geboorte het hy menigmaal daaraan gedink om die kind eenvoudig te vat en te waai. Christine was so besorg oor haarself, maar glo my, sy het nie juis na die kleintjie omgesien nie. Toe was die swembad skielik nie meer ’n gevaar nie en het sy geprotesteer toe Marcel dit wou omhein – dit sou haar glo beklem laat voel. Goed, het hy toe gesê, maar wee jou as die kind hier inval. Aag, dis nog eeue voordat hy sal kruip, wat nog van loop, wat nog van slim genoeg wees om te loer wat in die swembad is. Só was haar antwoorde altyd. Heeltemal ongebalanseerd was sy. Sy het selfs gereken Pote kan maar kyk dat die kind nie inval nie! Sies tog, hy sou ook, weet julle, as hy net dáár was … Maar die dag toe Pote wel op die kind afkom, was dit klaar te laat. Christine het gelê en slaap; sy was moeg en het slaappille gedrink sonder om eers te dink dat die kleintjie ook kan wakker word en begin ronddwaal.
“Ewenwel, Pote het daar gestaan en tjank tot Marcel van sy spreekkamers langsaan gekom het om te kom kyk wat aangaan. En toe ek van ’n vriendin af kom, het Marcel nog daar langs die swembad gesit met die kind in sy arms en die hond wat so saggies tjank en Christine wat nog altyd slaap in die kamer …”
Dis asof die afgryse op die ander meisies se gesigte haar tog tot nadenke skok, want sy bring een handjie na haar mond en sê: “Haai, ek weet nie of ek oor hierdie dinge moet praat nie …”
“Jy het klaar,” sê Elsje sag, en toe direk: “Wat het van Christine geword?”
Lilette huiwer ’n oomblik, antwoord toe tóg maar: “Sy het haar te pletter gejaag teen die hekpaal by hul huis. Nou ja, ek was nie baie danig met haar nie, maar dit was verskriklik. Marcel was weke lank soos ’n besetene. Tot Pote het dit nie naby hom gewaag nie. Hy was doodstil, dié Marcel, maar skoon berserk, dié verseker ek julle. Hy het alles verkoop, tot die laaste kopspeld, en toe is hy en die hond Duitsland toe.”
“Hoe vreeslik tragies,” sê een van die meisies, en die ander knik instemmend. “’n Mens kan jou soveel verdriet amper nie voorstel nie.”
“Nee,” sê Lilette meteens heeltemal ernstig, “dit was moeilik genoeg om dit te glo toe dit gebeur het. Maar nou is alles verby. Tot siens hoor, ek kom kuier een van die dae vir julle op Damplaas!”
Die eerste ent van die pad Damplaas toe praat nie een van die twee ’n woord nie; Elsje merk net Maryn se hande wat om die stuur klem, en haar kakebeen wat styf vorentoe gestoot is, en sy draai haar kop weg en glimlag by die venster uit. Sou Peet weet? wonder sy.
Hulle is feitlik regoor die Ou Huis se voorstoep toe dit gebeur. ’n Meerkat vlie ylings oor die pad uit die digte gras, en in ’n oogwenk – maar te laat – sien Maryn dat Pote in volle vaart op die diertjie se spoor is. Sy trap rem dat die stofwolke staan en haar veiligheidsgordel seer oor haar bors strem en Elsje vervaard na haar gesig gryp, maar die motor tref die hond tog skrams. Hy word eenkant toe geslinger en bly doodstil in die lang gras langs die pad lê.
Maryn bring die motor byna dwars in die pad tot stilstand, en die meisies sien met die haastige uitspringslag dat die linkerkantste modderskerm ’n lelike duik het.
“Ag hemel!” sê Elsje, en draf toe agter Maryn aan na waar die hond lê.
“O nee! O nee tog!” snik Maryn terwyl sy by Pote kniel. Hy kyk hulle met sy nat honde-oë aan en maak fyn tjankgeluidjies, sy agterbeen skeef onder hom ingevou. Maryn kyk versteen op die hond af. Waarom moes dit nou gebeur? Sê nou hy is inwendig beseer en is besig om hom dood te bloei? Watter verskoning sal sy tog aan Marcel kan bied? Die hond is in der waarheid al wat hy het. Dit is nou te meer waar ná wat sy vanmiddag van Lilette verneem het. Alle verduidelikings sal strand voor die wete dat die hond ál is wat hy oorgehou het uit sy lewe van gister …
Dis Elsje wat ’n vinnige besluit neem.
“Bly jy hier by hom,” sê sy saaklik. “Ek gaan vir Marcel haal. Of beter, ek gaan hom net sê, dan kan hy met die bakkie kom om julle te kom haal.”
Maryn knik woordeloos.
Elsje gaan klim terug in die motor, trek dit reg in die pad en ry weg. Sy draai af in ’n smal paadjie wat regs tussen twee populiere uitdraai. Dis ’n paadjie wat beslis nie vir prinslike motors soos dié een gemaak is nie, maar Elsje bestuur so versigtig as moontlik. Dit loop verby die uitgestrekte koringlande van Damplaas na die boonste weidingskamp, waar Marcel die afdak en drukgang laat oprig het. Sy vermoed maar dat hy daar kan wees, en sien met verligting die blou bakkie naby die voerkraal staan. Sy hou daar stil en is skaars uit die motor of sy sien hom haastig aangestap kom van die drukgang se kant af. Hy en die werkers is duidelik besig met ’n dosering van die een of ander aard.
“Wat is dit?” vra hy dadelik toe hy haar gesig sien, en sy oë rek toe hy die duik in die swierige motor merk. Hy fluit saggies tussen sy tande deur, maar glimlag gerusstellend toe hy haar wit gesig sien. “Sjoe! Moet ek solank vir Peet gaan sag maak?”
“Nee,” sê Elsje, beduie ontkennend met een skraal hand. “Nee, jy verstaan nie … Dis … dis eintlik Pote …”
“Wat het gebeur?” vra hy nog sag, sy oë stil en dringend op haar gerig.
“Ek … ons, dis nou ek en Maryn, het hom per ongeluk raakgery. Hy het ’n meerkat gejaag en reg voor die motor ingehardloop … Ons is verskriklik jammer!”
“Hoe seer het hy gekry?”
“Sy been is sonder twyfel af, maar ek weet nie of hy dalk inwendig ook seergekry het nie!”
“Waar is hy?”
“Reg voor die Ou Huis. Maryn is by hom …”
“Gaaf. Dankie dat jy my kom sê het.”
Hy is halfpad weg na die bakkie toe, toe sy hom inhaal en aan die arm gryp.
“Moet asseblief nie vir haar kwaad wees nie, Marcel. Sy het haar byna doodgeskrik …”
“Natuurlik is ek nie vir haar kwaad nie!” sê hy, en dis asof daar ’n broosheid in sy oë kom. Toe draai hy om en klim in die bakkie.
Elsje volg hom tot waar die paadjie weer in die rylaan doodloop en draai toe regs weg na die opstal toe. Sy sal Peet maar sagkens gaan vertel waarom daar so ’n onooglike duik in sy motor is. Dat daar definitief ook ’n krakie is in die pand wat hom aan die dogter van Damplaas bind – nou ja, dié sal hy wel self uitvind, as hy nie al het nie. Sy wat Elsje is, weet een ding met groot oortuiging: Maryn Basson is besig om haar hart te verloor aan Marcel Hoffman …
Maryn sit skoon verkrimp van ellende by die hond. Hy kyk haar aan asof sy saligheid nou slegs van háár afhang, en hou vol om fyntjies te steuntjank. Sy vryf radeloos oor sy kop en prewel aanhoudend: “Honne, my honne.” Toe sy die lawaaierige gedreun van die bakkie in die pad hoor, veer sy orent en staan Marcel met ’n verstokte uitdrukking en inwag.
Hy trek die bakkie tot vlak langs haar en klim uit – toringlank en baie blond, sy oë ’n swaar grysgroen onder die verrassend swart wimpers. Soos altyd ontstem sy koele teenwoordigheid haar, en toe sy haar mond oopmaak om die eerste woorde van verweer te uiter, begin sy al pratende te snik.
“Ek … kon nie … betyds stop nie … Ek is vreeslik j- …” Sy sluk die woord in en huil met oorgawe, haar gesig in haar fyn hande. Sy is geheel onmagtig om haarself weer op te dam, en dis asof die trane salwend op haar rou gemoed inwerk. Dis so ’n verligting om net sommer toe te gee aan die gevoel wat al weke lank in haar opstu …
“Maryn?”
Sy wil vir hom sê dat sy nooit ooit so eenvoudig van gees is om hartroerend te snik en te snuif voor ander nie, maar sy kom net nie sover nie.
Marcel vat haar stewig aan haar skouers en skud haar met geweld sodat sy terstond ophou en hom met groot, verskrikte oë aanstaar.
“Klim solank agterop die bakkie,” sê hy. “Ek gaan Pote daar neerlê, as ek hom nou enigsins kan verroer.”
Maryn draai swygend om en maak so, gaan sit in die hoek met haar rug teen die kajuit van die bakkie. Sy voel eienaardig lighoofdig, asof sy ’n enorme hoeveelheid ballas afgegooi het, wat haar met ’n ongekende