Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
hou hy haar tog terug met ’n vraag: “Jy het my nog nie gesê waarom jy hierheen gekom het nie?”
Sy maak ’n sprekende gebaartjie met een handjie.
“Ag, jong, ek het mos ’n tydelike pos in die Kaap gehad. En toe ek nou hoor jy’s hiér rond … wel, toe dag ek aangesien ek tog die een of ander tyd ’n ou veranderinkie wil maak, sal dit dalk goed wees om na ’n plek te kom waar ek darem so ’n soort van ’n aanspraak het, of hoe?”
Daar is ’n kort, betekenisvolle stilte waarin Maryn haar eie hart kan hoor klop.
“Dan het jy na die verkeerde plek toe gekom,” sê Marcel kortweg, maar tree vorentoe en neem die fyne Lilette aan die arm om haar in die rigting van die kostafels te stuur. Maryn sien hoe hy in die loop oorbuk na haar toe en ’n vinnige, siedende gesprek met haar voer. Haar koppie knik op en af sodat die rooi hare om haar gesig wip en sy lyk verlig toe hy haar los en bedaard vir hom en haar begin kos inskep.
Hy wou my iets duidelik laat verstaan, dink Maryn met ’n malende gemoed, maar ook net ’n ou ietsie. Net dat Lilette ’n fout begaan as sy dink dat sy ’n aanspraak op hom het. Dalk geld dit vir Maryn Basson ook?
Toe Peet haar half ergerlik kom soek om by hom te kom sit, weet sy dat die aand wat so helder en suiwer begin het, klaaglik vertroebel het.
6
’n Paar dae ná die vleisbraaiery leen Maryn vir die eerste maal Peet se nuwe motor om dorp toe te gaan. Hy oorhandig die sleutels aan haar sonder om kapsie te maak, trek net groot oë toe sy beduie hoe mooi sy sal ry.
“Nee rêrig,” paai sy glimlaggend, “jy hoef jou nie in die minste te bekommer nie, ek sal uiters versigtig wees!”
“Jy maak my al hoe banger,” antwoord Peet met ’n kamma frons, bekyk haar nietemin fyn van agter sy dik brilglase.
“Ag, Peet …” sê Maryn intens, toe sy sien dat sy geskerts daarop gemik is om dit weer ’n bietjie sag en goed tussen hulle te maak, want sedert die braaiery was hulle tog ’n bietjie versigtig vir mekaar – bang om mekaar te vermy, traag om mekaar op te soek. Ook nou weet sy dat die tyd nie reg is om mekaar weer in erns te probeer vind nie. Daarom lig sy net ’n hand en vee tergend oor sy gesig. Hy snap wat sy probeer doen, tel haar met een haal hoog bo sy kop op, skud haar soos ’n sakkie meel tot sy benoud skree, en sit haar weer neer. Toe lag hulle vir mekaar en met mekaar.
“Geniet nou die dag,” sê hy toe sy wegstap met die sleutels in haar hand, en sy waai vrolik terug.
Peet gaan sit weer by die kombuistafel waar hy besig was om ’n vroeë toebroodjie saam met koffie te geniet. Eugene is douvoordag al weg lande toe en hy self kon ’n bietjie later lê, want hulle is voor met die droëry. Hy is net klaar toe Elsje verwaaid binnekom, nog in haar stemmige kamerjapon gekleed.
“Ek moet gou eet,” sê sy toe sy hom sien, en gaan sit op haar plek. Sy trek dadelik die brood en botter nader. “Maryn is toeka al klaar, en sy wil hê ek moet saamgaan dorp toe.” Sy smeer die brood vinnig en hap groot stukke, sodat Peet effens lag kry.
“Ja-nee,” sê hy en hou sy oë liewer op die wit tafeldoek, op die botterpot, op die brood – want selfs op hierdie vroeë uur is Elsje ’n prentjie met haar rosige gesig, oë nog loom van die diep slaap en skielike wakker word, en die goue hare in ’n koddige bollatjie bo-op haar kop. “Ja-nee,” sê hy weer in ’n poging om geselskap te maak, “julle twee gaan weer die dorp leeg koop!”
Sy glimlag net met haar mond vol brood, en skink terselfdertyd vir haar koffie.
“Jy het toe nooit nou die aand met die vleisbraaiery gesing nie,” probeer hy weer.
Elsje hou op eet, kyk diep in die koffiekoppie en drink toe stadig daaraan sodat Peet amper begin dink sy’t vergeet van hom. Toe sê sy tog: “Ek was nie in die stemming nie.”
“Waarom nie?” vra Peet direk, stut sy gesig in sy hande, sy elmboë voor hom op die tafel.
Elsje sug en gee in.
“Omdat ek en Eugene woorde gehad het. Ek … hy wil hê ons moet trou voordat hy teruggaan universiteit toe.”
“En?” vra Peet sag, sy bloed ’n dreuning in sy ore.
“Ek besluit nog,” antwoord sy vinnig, vee haar mond met die servet af, staan op en draf die vertrek uit.
Maryn en Elsje het heelwat te doen in die dorp. Die kruideniersvoorrade van Damplaas is boomskraap en moet aangevul word. Maryn het besluit dat die benodigdhede vir die Kersete wat elke jaar op Damplaas gegee word, ook sommer nou gekoop moet word. Daarby het twee van die onderwyseresse wat Maryn al jare lank ken, vir haar en Elsje gevra om ’n laat middagete by hulle te kom geniet voordat die skole sluit en hulle met vakansie weggaan.
In die winkels help Elsje vir Maryn met die uitsoek van die kruideniersware en kontroleer die lysie wat Maryn al die vorige aand opgestel het. Kort ná eenuur is hulle klaar en besluit om sommer dadelik na die losieshuis te ry waar die onderwyseresse tuisgaan. Hulle bring ’n baie gesellige twee uur saam met die jong meisies deur, en dit val Elsje op en krap aan Maryn dat daar so baie nuuskierige vrae gevra word oor dié dokter Hoffman wat nou oom Frederik se nuwe stoetery gaan bestuur. Net toe hulle wil vertrek, kom Lilette uitasem by die losieshuis aan en kom staan by die ander op die sypaadjie onder die groot bome.
“Hoe gaan dit op Damplaas?” wil sy vrolik weet, en kry met ’n skud van haar koppie die rooi hare uit haar gesig. Haar oë is gretig op Maryn gerig. Dié maak asof sy onbewus daarvan is en sluit solank die motordeure oop. Dis Elsje wat die klein vroumensie antwoord, en wel met ’n glimlag wat boekdele spreek: “O, dit gaan baie goed met Marcel Hoffman,” sê sy tot groot vermaak van almal behalwe Maryn. “Jy sien, hy vul sy dae deur sy aandag ten volle te wy aan sy groot liefde …”
Lilette se oë vlieg ongelowig na Maryn, wat haar uitdrukkingloos bekyk.
“En dit is?” vra sy skril.
“Die Simmentalers, natuurlik,” antwoord Elsje onskuldig en ontlok ’n teësinnige glimlaggie van Maryn. Die ander skater dit uit, reeds ten volle op die hoogte van Lilette se onblusbare belangstelling in haar gewese aangetroude neef. Sy betrag dan ook vir Elsje met ’n fyn laggie.
“Ja,” sug sy vroom, “dis ook maar goed dat hy so opgaan in die diere, want as jy nou sy geskiedenis ken, sal jy ook weet waarom ménse hom nie baie amuseer nie …”
Sy het nou almal se volle aandag en benut dit terstond. Ook Maryn staar haar aan met ’n uitdrukking van intense konsentrasie.
“Ja-a …” sê sy weer met ’n stembuiging wat siele kan uittrek, en kom leun met haar heup teen die linkervoorkant van die motor. “Julle sal julle nie kan indink wat hy alles met daardie vrou van hom deurgemaak het nie! Haai, sy’s nou wel my eie niggie, oorlede en als, maar ’n mens kan maar nie vergeet van alles nie!”
Elsje sien die stryd op Maryn se gesig, en kom haar tegemoet.
“Wat het gebeur?” vra sy saaklik.
“Vra liewer wat het nié gebeur nie,” val Lilette met smaak weg. “Die arme man het al sy dae gehad! Ek het altyd vakansies na hulle toe gegaan, want my eie mense is lankal dood. So het ek baie dinge gesien – te veel, sou ek sê. Nee, dié Christine was iets ysliks! Met niks, hoor julle, met net mooi niks was sy tevrede nie. Sy wil ’n nuwe huis hê, maar kry sy die huis, wil sy ’n groter een hê; kry sy die groter een, maak die ruimte haar bang; wil sy ’n huis hê met ’n swembad in die binnehof, dan kry sy een. En dan, moet julle weet, bekommer sy haar gedaan dat sy dalk sal inval as Marcel nie tuis is nie, en wat dan? Want sy kan nie swem nie! Ek het haar een hele week lank probeer leer en toe sê sy sy voel verspot, ons moet dit liewer staak. Verder wou sy ál Marcel se aandag net vir haarself hê, en het sy in sak en as gesit elke keer as hy moes uitgaan in sy groot praktyk. Watter man, vra ek julle, kan dit hou?”
Sy laat die laaste vraag soos die slotwoorde van ’n orakel in die lug hang, kyk gewigtig van die een na die ander en vang oplaas Maryn se blik vas,