Onse Vaders. Karin Brynard
ge target="_blank" rel="nofollow" href="#fb3_img_img_602d2bcb-0949-5615-b0e4-80969fda5307.jpeg" alt="onsevadersomslag.jpg"/>
Titelblad
Karin Brynard
ONSE VADERS
HUMAN & ROUSSEAU
Opdrag
VIR RIEN
Inleiding
INLEIDING
’n Dorre oneindigheid, dié ylbegroeide landskap. Vir so ver as wat die oog kan sien, lê dit in die laatsomerson en bak. Geen teken van lewe nie buiten ’n bergarend wat lui op die lugstrome dryf.
Kaptein Albertus Markus Beeslaar leun teen sy kar se enjinkap aan. Hy het by die uitkykpunt van die Vanrhynspas gestop om die brekfis te eet wat hy op Nieuwoudtville gekoop het, die laaste dorp voor ’n mens met die agthonderd meter hoë Bokkeveld-platorand afsak na Vanrhynsdorp. En Kaap toe. Hy kyk kouend na die kaal stuk aarde wat voor hom uitgesprei lê. Die Knersvlakte. Verder op, die Hardeveld en Maskam. Swart gestrafte bossies, yl gevlek soos die kopvel van ’n horingoue man.
Hy eet eers ’n vars, warm hoenderpastei: voorgereg. Dan die spek-en-eierbroodjie, wat hy met ’n beker soet, swart koffie afsluk. Vir die eerste keer begin hy werklik uitsien na sy trippie Kaap toe. Hy was tot gister nog te besig om veel daaroor te dink. Maar sedert hy vanoggend, donkertyd nog, die Kalahari-stof begin afskud het, het daar ’n sprankie opgewondenheid onder sy ribbes kom lê.
Hy was nog nooit in die Kaap nie. Tafelberg en Robbeneiland en Bloubergstrand is vir hom net prentjies – van aangename dinge. Mandela wat uit die tronk uit stap, die kabelkar op na een van die wêreld se beroemdste berge, die strande met pikkewynkolonies, die speelplek van miljoenêrs en filmsterre. Om van sy eie bestemming, Stellenbosch, nie eens te praat nie. Al die wyn en die ou kultuur. Was nog altyd vir hom ’n bietjie Disney – hy wat tussen die giftige mynhope van Johannesburg se Oos-Rand grootgeword het.
Maar nou gaan hy dit alles kan sien. En die tjerrie op die koek – hy gaan dit saam met Blikkies doen. Sy een en enigste pêl wat oorbly na meer as twintig jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Wat op Stellenbosch van alle plekke gaan aftree het. Oor die dogter daar is, het hy aan Beeslaar verduidelik.
Toe die broodjie op is en die tweede beker koffie ook, klim Beeslaar terug in die kar en begin die tog teen die steil bergpas af.
Sy selfoon lui. Hy grawe onder die losgoed op die passasiersitplek rond, die vliesbaadjie wat hy op die laaste oomblik in die kar gegooi het – vir ingeval. ’n Koerant, sodat hy na die Kaapse weervoorspelling kan kyk.
Dis Blikkies, sien hy voor hy antwoord.
“Jes, jes, jes! Is die oom se wyn al koud?” vra hy voor Blikkies ’n woord kan inkry.
“Albertus?” ’n Vreemde stem.
“Ja?” Daar’s iets aan die stem, iets stukkends.
“Dis Tertia hier, Albertus. Ek is bevrees ek het slegte nuus, man.”
“E... ja?” ’n Kilte kom in hom sit, trek hoendervel.
“Hy’s dood, Albertus, my pa. Gisteroggend vroeg. Ek... e... jammer ek bel nou eers, maar... ”
Beeslaar se kop sny uit. Hy hoor nie die res van haar sin nie.
Hoofstuk 1
1
“Dood, waar is jou angel? Doderyk... wáár jou oorwinning?”
Die dominee keer sy gesig hemelwaarts. Of daar iemand in die balke sit wat hy aanspreek. Hy sluit sy oë en die bejaarde kop bewe liggies.
Beeslaar kyk om hom rond. Oumense, sien hy. Ooms in baadjies uit ’n vergange lewe – sit soos uitgetrapte skilpaddoppe om hul verdorde lywe. Tannies met ingesakte boesems, gebluste oë opgeslaan na die predikant. Wat in sy arendsnes hoog bo die gemeente uittroon. Die gemeente self, meen Beeslaar, is seker van ou Blikkies se ouetehuis, Huis Groot Gewels. Buiten Tertia, die dogter. Sy sit klein gekoes in die voorste ry. Naaste aan die verniste kis: Blikkies se houtmanel. Bo-op, ’n stywe wit ruiker. En ’n geraamde foto van die “ontslapene”, soos die doom hom noem.
“Almal van ons,” sê laasgenoemde en kyk verdrietig af na die yl kuddetjie voor hom, “álmal van ons vrees die dood. Deur die eeue heen is dit die één afspraak wat geen mens kan afstel nie. Kyk wat sê Job vir ons in die Ou Testament, hoofstuk dertien en veertien: Die mens is ’n verwaaide blaar, ’n droë stoppel, hy is kort van dae en sat van onrus. Hy spruit uit soos ’n blom en verwelk, vlug soos ’n skaduwee, verval soos hout wat weggevreet is.”
Beeslaar staar na die foto op die kis. Moet ’n onlangse een wees. Hy herinner hom minder lewervlekke. Minder vore om die streng strepe van die mond. Ore minder uitgeblom, vellerig, lellerig. Wanneer was die laaste keer dat hulle mekaar gesien het? Drie jaar, vier?
“Maar, liewe broers en susters,” dring die waterige oumensstem van die prediker weer in, “vandag... Hier waar ons saam is om die lewe te herdenk van Balthazar van Blerk... Vandag kan ons blý wees. Ja, ons moet vrólik wees.”
Dramatiese stilte.
“Vrolik in die wete dat God Sy eie Seun gestuur het om die dood vir ons te oorwin... ”
Beeslaar verskuif sy gewig en die houtbank kraak hard. Iemand kyk gesteurd om na hom. ’n Vrou met ’n dik, spierwitgrys vlegsel. Haar blik is meer nuuskierig as berispend, merk hy.
“Want vriende, die blye nuus is dit: Toe Christus op Golgota sy laaste asem uitgeblaas het, het hy neergedaal na die onderste dieptes van die aarde... ”
Hy ken nie een van die mense hier nie, besef Beeslaar. Behalwe Tertia, maar dis ook maar net. Ná Blikkies en sy vrou geskei is, het Tertia ’n tyd lank alle kontak met haar pa verbreek. Beeslaar het haar nooit leer ken nie.
Toe hy vandag by die kerk aankom, het sy haarself kom voorstel. Hartseer, haar gesig vaal en tam, neus koorsrooi. Hy’t met ’n skok besef: Dié vrou het omgegee. Ou Bliksem van Blerk het iemand gehad wat haar neusvel aftreur oor hom.
“My pa was so opgewonde oor jou koms,” het sy sag geglimlag. “Hy’t so baie planne gehad... Nuweland vir die krieket, die kabelkarretjie, dalk ’n trippie na Robbeneiland.” Sy het haar maer, wit hand na hom uitgesteek. “Hy’t vas geglo hy sal jou kan oortuig om ’n verplasing... ”
Haar stem het opgedroog.
Van binne die kerk het ’n getemperde orrel opgeklink. Beeslaar het sy baadjiepante bymekaargetrek en ingegaan.
Sou die klerewinkel die baadjie terugvat, het hy gewonder toe hy gaan sit. En konsentreer om sy twee meter lange liggaam in die hoek van ’n lang kerkbank in te vou. Die skouers sit te knap. Was ’n haas-inkopie, gister, sy kop elders. By die suur ironie van sy lewe: hy wat Kaap toe ry, rustig, om vir sy ou pêl te kom kuier. Net om... ha-ha, moerse snaaks... die dooiemansdeur. Hy kom met koedoebiltong. Wyn van die Kalahari se Gariepwingerde. Tieroog, die mooiste klip uit daardie wêreld. Geslyp en gepoleer tot die geel en goue strepe daarin gloei. Hy’t een gekies wat in ’n mooi tafellampie omskep is. Gereken ou Blikkies sal nou van so iets hou.
Maar toe’s Blikkies nie meer daar nie. Sommerso uitgeklok.
“Ék... het die sleutels van die dood en die doderyk, verklaar Jesus in Openbaring een vers agttien.” Die ou doom kry skielik lewe, nuwe begeestering. “Want sien, geliefdes... Hy het dit van Satan afgeneem, daardie sleutels. Toe hy ter helle neergedaal het, soos dit in die Ou Bybel staan. Ja, Christus was in die hel, vóór sy opstanding uit die dood, sy opvaart na die hemel. En dáárom, beloof ek vandag hier vir u... Dáárom moet ons bly wees. Oom Balthazar sou nie wou hê dat ons treur nie. Want vandag is hy in die arms van sy Maker, die... ”
Oom Balthazar.
Hierdie dominee het die “oom” beslis nie geken nie. Anders het hy geweet: Ou Blikkies laat niemand toe om hom op sy doopnaam aan te spreek nie. En twee: Hy glo nóg in die hemel, nóg in die hel. Eersgenoemde, het hy dikwels gesê, is ’n vervelige plek, deur ou vrouens uitgedink. En laasgenoemde deur die kerk se eie kokkedore – ouens wat lankal weet dis nag vir hulle en hulle kerk as mense moet uitvind daar gaat niks aan agter die gordyn