Onse Vaders. Karin Brynard
saak hóé nie, vat moet jy hom vat. En hy vat terug. Breek jou bietjies-bietjies af. Stadig, ongesiens. Knak jou in die hoekies van jou binnekamers. Buitekant toe word jy hard. Dit wél. Maar dis binnetoe dat jy slag vir slag ’n bietjie sterf. Dagin, daguit: die breë register van brutaliteit. Die dinge waartoe mense in staat is.
“Hierdie wêreld,” hoor Beeslaar die dominee sê, “is nie ons tuiste nie. Dis net die spoor... die spoor wat elkeen van ons volg na die ewigheid. Die dood, geliefdes, is deur Satan ingestel. In die Paradys, toe Eva voor die adder geswig het en die mens se dood gebring het! Maar óns, geliefdes... ” Slukkie water. “Óns... kinders van Jesus hoef nie die dood te vrees nie. Ja, mense sterf nog steeds elke dag... Ruk ons tot stilstand, tot nadenke oor ons eie verganklikheid. Maar Christus het ons vrygekoop. Vir ons die padkaart na die ewige lewe gebring.”
Beeslaar het moeite met die prentjie. Blikkies op ’n wolkie saam met die res van die vyf en tagtigmiljard mense wat al dood is sedert die eerste aap op sy agterpote begin loop het. Hoe hou jy huis met so ’n spul? Hy vou sy arms oor sy bors, hoor hoe die nate van die baadjie kla. Hy los die armvouery, tel vir die soveelste keer die begrafnisbriefie op. Daar’s ’n pers lelie voorop, Blikkies se naam en die datum van sy skielike dood drie dae gelede. Onder dit: Say not in grief “he is no more” but live in thankfulness that he was – Hebrew Proverb. Agterop die blaadjie is die teksvers van die preek, ook die woorde vir ’n lied – wat seker nog gesing moet word. My môresang is dankbaarheid. Hy sug en sit die blaadjie terug in die Bybelrakkie voor hom. Die velletjie papier gly uit en fladder vloer toe. Beeslaar buk vinnig en raap dit terug. Die bank kraak weer. Die vlegselvrou frons hierdie keer toe sy omkyk.
Die tee agterna is by ’n statige ou Kaaps-Hollandse huis reg langs die Moederkerk.
Beeslaar gaan staan onseker in ’n ry by die teetafel. Hy voel soos ’n reus tussen die klompie grysbek-bewers. Hy’s maklik twee maal so lank en so swaar soos enigeen van die bloukoppies om hom. Was hierdie mense maar altyd so klein? Of is dit die ouderdom, wonder hy. Het Blikkies óók gekrimp, die laaste tyd? Sy stem oor die foon was nog dieselfde. En eintlik was hy nog jonk. Dié kant van sewentig.
“Jy’s die polisieman?”
Die vrou met die lang wit vlegsel het agter hom by die ry ingeval. Sy gee hom nie kans om te antwoord nie. “Blikkies het my baie vertel van jou. Ek is nou Trula.”
“Aangenaam,” mompel Beeslaar en staan eenkant toe om haar sy plek in die ry aan te bied. Sy bly wag tot hy ook tee het, beweeg dan saam met hom na die skaduwee van ’n akkerboom.
“Wanneer het jy gekom?” vra sy.
“Eergister.”
“Dat hy nou só moes gaan.”
Beeslaar knik, proe die gal in die louwarm vloeistof. Die diens het te lank aangehou, die tee het bitter getrek.
“So blerrie skielik.” Sy blaas liggies oor die tee, haar mond ’n sagte tuit. Dis ’n mooi mond in ’n andersins gewone gesig. Skerp neus, klein vaalblou oë agter ’n goueraambril, haar vel wit en plomp. Die dik aswit hare is platgekam met ’n netjiese middelpaadjie en styf na agter toe getrek in die dwingelandy van die vlegsel.
“Ek en Blikkies was goeie maats,” sê sy en neem ’n versigtige teugie tee. “Ons was dalk ook die jongste van die inwoners – albei van ons nog in ons sestigs.” Sy kyk om haar heen om haar punt te bevestig. “Hy was my redding, weet jy? Anders het ek ook dalk al met ’n loopraam hier rondgehobbel. So ’n ouetehuis kan ’n mens... ”
Sy kry nie haar sin klaar gevorm nie, want een van die oues het teenaan haar kom staan.
“So dis nou Balthie se seun,” stel die gryse vas en knip haar oë ingenome, kop agteroor, asof sy na ’n kat in ’n boom kyk. Hy skat sy trek die lewenskaal op middel sewentigs. Goed gepreserveer, kapsel nét só, ’n deftige swart-en-wit pakkie waarop ’n duur borsspeld pryk, outydse wit handskoene wat knobbelrige hande bedek.
“Nee, Rea. Balthie het nét die dogter. Tertia. Dis Albertus hierdie. Hy’s van die Kalahari. Hy en Blikkies het vroeër saam gewerk.”
Beeslaar knik bevestigend.
“En dis Reana du Toit,” sê Trula. “Sy’s een van die inwoners.”
“Dan is jý die polisieman,” verklaar die ouer vrou. “Die een wat sou kom kuier het?”
“Dis reg, mevrou. Ek en ou Blikkies kom ’n lang pad.”
Die ouer vrou staan ’n bietjie nader aan Beeslaar. “Sê my, doen jy miskien privaat werk ook?” vra sy.
“Rea, nee! Hy’s ’n polísieman. Voltyds. Hy’s net hier vir die begráfnis,” antwoord Trula vinnig. Haar stem is ongeduldig, effe te hard, asof die ouer vrou ’n gehoorprobleem het.
“Maar dis juis oor hy ’n polísieman is,” kom die antwoord. “Miskien kan hý ons help. Die dood loop soos ’n brullende leeu daar onder ons rond.”
Trula sug en vee met die plat hand oor haar voorkop. “Ai, Rea, dis darem te dramaties, jong. En jou Bybelteks is verkeerd. Dis die dúiwel wat soos ’n brullende leeu loop – nie die dood nie. Verskoon my,” sê sy dan. “Ek gaan help oom Dolfie. Hy bewe vandag te veel vir tee drink.”
Rea du Toit kom staan nóg nader. Beeslaar kry die oumensruik: naftaleen, ou haarsproei en hoesmedisyne.
“Sy kan maar spot, maar daar loop ’n onheil daar,” sê sy sag, “by die ouetehuis. Dit kom al ’n ruk. Klein goedjies, as jy hulle een-een vat. Maar... ” Sy staan nog ’n bietjie nader.
“Alles het begin by Jan van Riebeeck.”
“Ekskuus?” Beeslaar kan nie help nie. Die vraag glip uit voor hy kan keer.
“Hy’t verdwyn, sien? En ons dink hy’s... e... hy’s... vermoor!”
Beeslaar vat nog ’n sluk van die galsterige tee, kry dadelik spyt. Hy draai om, wil die koppie kwytraak.
“Jy moet ons help, Albertus. Balthie... Balthie wou nie na ons luister nie. Maar toe Jan van Riebeeck... ”
Beeslaar kyk rond vir hulp. Maar Trula staan by ’n omie met ’n eiermagie en kruisbande, besig om hom te help met sy koppie tee. “Tannie Rea, ek neem aan ons praat van... e... ?”
“Ag, jong, niemand ken sy regte naam nie. Hy bly eintlik in die woonstel langsaan. Hy kuier by almal van ons in die gang. En elkeen gee hom ’n pierinkie met ietsie.”
Beeslaar glimlag verlig: Dis ’n kat! “Miskien kuier hy in ’n ander gang. Waar die pierings groter is.”
“Dis nie ’n grappie nie, hoor? Ons mag nie troeteldiere aanhou nie. So, ou Jan van Riebeeck was ’n belangrike besoeker. Ons matrone het hom probeer belet, maar hy’s ’n dier, verstaan net twee goed: kos en liefde.
“En hy kom elke dag, want hy kry soveel liefde daar by ons. En nou’s hy net weg. Sommer skielik. En dis nie al nie.” Sy kyk met groot oë op na hom.
“Daar gebéúr goed. Vorige week is die sielsalige ou dominee Potgieter ook uit sy kaktus getiep.”
Beeslaar hoes vinnig in sy vuis.
“Dis Antoinette se oorlede man,” vertel sy, wys met haar ken in die rigting van ’n aantreklike vroeg-sewentigs vrou. “Albei bitter lief vir tuinmaak. Maar toe vat die kanker hom. Sy’t hom alleen versôre daar in hulle woonstel. Tot hy in haar arms gesterf het. Die kinders wil toe die as in die berge loop gooi, maar Antoinette wou hom nie laat gaan nie. Toe vat sy die as... enne... e... sy’t die as in die bodem van ’n groot plantbak begrawe. Wat sy toe met kaktusse beplant. ’n Aalwyn, plakkies, woestynrosies en bokpootjies. Hy was so lief daarvoor... Maar iemand het gekom en die bak omgeskop. Tien teen een die dief wat op dieselfde dag by ou Arnold Sebens ingebreek het. Netjies sy versameling goue Krugerrande gevat. En net toe raak Jan van Riebeeck ook soek... ”
Beeslaar hou sy hand op.
“Tannie Rea, wag eers. Laat ek eers iets vra. Het