Onse Vaders. Karin Brynard

Onse Vaders - Karin Brynard


Скачать книгу
te ry.

      Sy sit agter in die kar, hou Rea du Toit se hand vas.

      Beeslaar trap die petrol, tik net liggies rem by die ritse vierrigtingstoppe op pad na die moordtoneel. Hulle hou oos, reken hy. Die rotsknoets van die Stellenboschberg heeltyd regs van hulle.

      Die pad vurk. Trula beduie, hou links aan.

      Jonkershoeklaan, vang Beeslaar skrams die naam. Hulle ry oor ’n geniepsige klomp spoedwalle, nóg stoppe. Dan moet hy regs. Hulle ry nou reg oos. Nog berge doem op, twee loodgrys rotspieke verrys verder weg, staan trillend in die middaghitte. Regs, word hy beveel, reguit oor verskeie dwarsstrate tot die pad in ’n T doodloop. “Net hier om die hoek.” Hy maak so. Sien dadelik die koeksel voertuie – polisiebakkies, ’n ambulans. Kleiner sedans met tollende blou ligte. “Dis die groot witte,” bedoelende die groot dubbelverdieping regs voor.

      Beeslaar sien nie ’n straatnaam nie. Hy ry tot by ’n uniform, draai sy ruit af.

      “Ek het ’n familielid by my,” sê hy en beduie agtertoe. “Sy’s bejaard. Ek laai net af, dan ry ek weer.”

      Die man knik en Beeslaar druk die kar se neus versigtig tussen die voertuie in. Dis ’n miernes, asof elke poliesman in die provinsie hier is. Blerrie agies. Hy byt op sy tande vir die ergernis wat opstoot: vir die los hand in bevel van die toneel.

      Maar hy steek sy ergernis in sy sak. Dis nie sý saak nie. Hy laai net af, dan skoert hy.

      Terug noorde toe. Kalahari toe, waar sy binneste deesdae tuisgaan.

      ’n Ambulans se harde sirene reg agter hom ruk hom uit sy mymerings. Hy klim uit. Wil die doos se fluit vir hom gaan aftrap. Maar hy sluk sy moer.

      Intussen het sy twee passasiers ook uitgeklim. “Kom saam,” vra Rea du Toit, haar oë vol skrik. Sy’t steeds die handsakkie oor haar arm.

      “Trula sal saam met jou gaan, mevrou Du Toit. Ek moet my voertuig skuif.”

      Sy skud haar kop.

      Hy kreun innerlik. Maar hy stap tóg saam.

      “Oumaaaa! Help my!”

      Dis ’n kind, sien Beeslaar. Sit in ’n vensterbank op die tweede verdieping. Bloedbesmeer. Sy gooi haar bene na buite, asof sy wil uitklim. Maar verloor haar greep, hang vir ’n oomblik aan een arm.

      “O my God. Ellie!” Rea du Toit het doodsangs in haar stem toe sy begin hardloop. Sy laat die handsak val, dan is sy uit die bruin kerkskoene, hobbel op haar sykouse.

      Beeslaar skiet vorentoe, stamp verstarde figure uit sy pad. Die kind skop vir vastrapplek teen die muur, maar haar voete bly gly. Lang blonde hare oor haar gesig, haar hand wat greep verloor op die vensterbank. “Ouma!” Sy val, Beeslaar nét nie heeltemal daar nie. Sy glip deur sy arms. Hy val ook, breek haar landing met sy lyf.

      Om hom hoor hy die paniek, voel hande wat die kind by hom wil vat. Hy voel vinnig oor haar lyf. Alles heel. Maar daar’s bloed. Vars.

      Haar oë is oop. Sy staar na hom, begriploos.

      “Gee hier!” ’n Middeljarige man druk deur die bondel en kom kniel by die kind, raap haar uit Beeslaar se arms uit. Daar’s bloed aan hóm ook. “Ellie!” Hy druk haar teen hom vas. “Dis als reg, pop, als reg, als reg. Als reg. Alles. Pappa is nou hier. Alles.”

      Die man staan op met die kind in sy arms. ’n Swart ambulansman steek sy arms uit na haar. “Fok weg!” word hy deur die man toegesnou.

      “Malan!” Rea du Toit is ook nou by. Sy het nog haar handskoene aan en vee die meisie se hare uit haar gesig. Skrik ’n oomblik vir die bloed wat afsmeer.

      “Ma, ek vat haar hospitaal toe. Jy moet vir boeta gaan help daar binne, in my kantoor. Ellie gaan oukei wees.”

      Daarmee draai hy weg na ’n swart Range Rover in die breë oprit na die huis.

      Die kragtige enjin brul verwoed. Die man druk die kar se stert hardhandig agtertoe, maak sy eie pad deur die koeksel rubbernekke.

      Beeslaar gaan trek sy eie kar uit die pad, beduie vir die ambulans agter hom om dieselfde te doen. Sodra die pad skoon is, wil hy ry. Maar daar’s ’n tik teen sy venster. Hy sien die vlegsel by sy ruit, draai af.

      “Jy kan nie ry nie,” sê Trula gebukkend by sy venster. “Rea het jou nou nodig. Dis net swart daar binnekant.” Sy kyk betekenisvol na hom.

      Hy skud sy kop. “Ek moet terug. En die mense hier is heel ervare.”

      “Nee!”

      Hy aarsel.

      “Albertus, asseblief. Jy weet nie hoe dit is nie.” Sy byt haar lip, onseker hoe om haar vrees te verwoord, die rassisme te systap.

      Beeslaar sit sy kar in trurat. Hy voel benoud. Sweet week in die stywe boordjie van sy hemp. Nuwe hemp. Begrafnishemp. Hy moet wegkom.

      “Bly!” Sy het nou haar hand op die deur. “Net vir ’n uur. Net tot ons weet wat hier gebeur het. Jy weet Balthie sou.”

      Beeslaar swets onder sy asem. Maar hy skakel die kar af en klim uit. Vorentoe sien hy vir Rea du Toit staan, op soek na haar skoene. Daar’s ’n vent naby wat haar handsak opgetel het. Sy stamboom staan in ruwe tatoeëermerke oor sy voorarms en nek uitgekerf, swart traandruppels onder een oog. Tipiese tronk-tats. Lyk of hy lid is van een van die Kaap se berugte Mitchells Plain-bendes. Beeslaar loop op hom af. Die man sien hom en sit die handsak haastig neer, trek die hoodie van sy baadjie diep oor sy kop en duik weg tussen die mense in.

      Beeslaar raap die sak op, kyk of hy die man nog kan sien. Maar hy’t verdamp.

      “Kom, mevrou,” sê hy en neem Rea du Toit se hand. Haar onderlip bewe gevaarlik. ’n Lang, taai druppel val van haar neus. Land op haar lapel. Sy vee die neus met haar handskoenhand; ’n vae streepsel bloed bly agter. Sy haal asem soos ’n dier wat moeg gejaag is: vlak en vinnig.

      Iemand gee vir haar haar skoene aan en Beeslaar buk om dit aan haar voete te help. Haar kouse het geskeur, merk hy, knotterige oumenstone wat deur die gate beur.

      Hulle stap in stilte na die huis. Die drie: Rea met haar kop weer hoog – haar waardigheid herwin. Trula wat haar aan die elmboog stuur. En Beeslaar agterna. Ongemaklik, soos ’n mak gans aan ’n tou.

      Die tuinpaadjie loop weerskante van ’n spuitfontein. Die dam is rond; ’n sementvis rys uit die water op en sproei ’n sambreel van silwer druppels. Goed versorgde palms anderkant, waar die pad weer hande vat en oplei na ’n lae stoeptrap.

      ’n Swart vrou in ’n baadjiepak wag hulle in, haar gesig stram, oë wat kalm en bedaard die wêreld bekyk. Die broek span effe oor haar dye. Nie vet nie. Gul. Haar middellyf is klein, ingegord met ’n breë seilgordel waaraan haar wapen, boeie, magasyne hang.

      Sy steek haar hand uit op die tradisionele Afrika-manier, met die linkerhand wat die groethand se elmboog raak. ’n Teken van respek.

      “My simpatie, mevrou.” Sy knak haar knieë eerbiedig. “Ek is baie jammer oor... ” begin sy, maar Rea praat haar dood, ignoreer die groethand wat uitgesteek word.

      “Waar’s my kleinseun!” Haar stemtoon is gebiedend en bars. “Wie’s hier in bevel!”

      Daar beweeg iets in die polisievrou se gesig. Haar oë flikker op na Beeslaar en dan weer terug na die bejaarde vrou voor haar. Sy versit haar gewig amper onmerkbaar, versper die deur.

      “U kleinseun is veilig,” antwoord sy in goeie, bedaarde Afrikaans. “Hy is in sy pa se studeerkamer, by ’n polisievrou en ’n paramedikus. Ek sal u deurvat.”

      “Waar’s Elmana! Wat het hier gebeur?”

      “Kom, mevrou. Kom ons gaan binnetoe, dan praat ons daar. Ek is kaptein Vuyokazi Quebeka. Ek lei die ondersoek.” Haar stem is mooi en warm, die kil atmosfeer ten spyt. Die klik waarmee sy die eerste klinker van haar van uitspreek, is nat en rond, soos ’n klip wat in diep water plons.

      “Beeslaar... e... ”


Скачать книгу