Onse Vaders. Karin Brynard
drie teen sy allemintige boarm. “Sy ma roep hom Mouwie. Maar jy moet liewer maar by ‘Mo’ hou, liefs ‘Dokta Mo’. En dié,” hy wys die derde man uit, “dié’s nou ou Dawid Vermeulen. Jy roep hom sommer Duif! Hy’s nie fyngevoelig nie.” Duif is ’n knewel. Lank en gespierd, maar lenig. Lyk soos ure in die gim. Sy kop is kaalgeskeer en so rond soos ’n kiewieteier – met spikkels en al.
Hy knik sy gladde sproetkop, maar sê niks. Steek ook nie hand uit of niks nie. Lig net ’n wenkbrou.
Met die koeël uitgedolwe, begin Ghaap al beter voel en hy stel homself voor.
“Jannes,” herhaal die grote Ghaap se naam en kyk hom takserend aan. “Hoor jy kom uit die Kalahari uit. Leeuwêreld, as ek dit reg verstaan. G’n wonder jy skrik nie vir die meerkatte van hierdie wyk nie!”
Ghaap lag verleë.
As die ou grote maar geweet het...
Hoofstuk 6
6
Beeslaar stoot sy bord kos vies eenkant toe.
Here, hy hoop nie hy raak nou van vleis af óók nie. Sal mos vrek van die honger. Hy kan klaar nie na rys kyk nie. En soms begin dit neuk met spaghetti ook. Kom van jare en jare se lyke uitgrawe. Waarin die maaiers al lustig krioel.
Te veel lyke. Te lank al. Genoeg dat hy sy steak terugstuur as dit nie goed gaar is nie. Een van die dae raak hy nog ’n blerrie vegetariër. Vegetariër in die Kalahari. Ja, raait.
Hy’s al te lank in hierdie besigheid. Wat, net oor die twintig jaar? ’n Leeftyd. Te lank om vir die dooies te werk.
Maar dis nie dít wat sy aptyt bedonner nie. Dis die ding met hierdie dag: die rooikop, om mee te begin. Die mislikste begrafnispreek wat hy nog ooit gehoor het. En dis sy eie twee hande – wat jeuk. Wat wil ingryp. Sommer intrap al, toe hy daar aangesit gekom het met die ou tannies agter in sy kar. En hy sy tong moes byt om nie die swetterjoel blouapies wat daar rondhang in hul moere in te stuur nie. Op hulle radio’s gehoor ’n ryk wit merrim is vermoor. En almal wil dit sien. Van heinde en van verre. Dese en gene. Hy onthou weer die ou met die tronk-tattoos. Beslis ’n bendebroer, te oordeel na die versierings op sy lyf. Die hande, voorarms, nek. Tot sy ooglede, twee kruise. Onder die een oog ’n aantal traandruppels.
Maar Quebeka... Sy’s nie te sleg nie. Ofskoon sy die meerderwaardige houdinkie het.
Sy’t seker ook maar haar probleme. Te jonk, vir starters. Vroeg dertigs, skat hy. ’n Rangklimmer, sonder die voordeel van ervaring in jare of ’n stewige mentor. En tipies van haar soort het sy die selfvertroue van ’n veteraan. Een moerske tjip op die skouer. Maar sy’s slim. En hoe de hel sy met Blikkies gekonnek het, bly ’n raaisel. Hy’t vergeet om te vra.
Want die volgende oomblik was die SB daar.
Luitenant-kolonel Prometius Baadjies, stasiebevelvoerder. ’n Rysige bruin kêrel, vroeg vyftigs, wat soos ’n brander oor die toneel gebreek het, die paparazzi in tou. Hy’t Quebeka laat roep om saam met hom op die foto’s te kom staan. En toe’s hy die huis in – na waar Rea du Toit en haar kleinseun mekaar sit en troos het. Hy het aandoenlik gesimpatiseer. In Engels, sodat die TV-nuus, die Engelse koerante en die swart ringkoppe boontoe op dit sou verstaan. En toe kom die emosionele vloed versekerings... die volle mag van die gereg... tot bo, by die minister self... geen steen onaangeroer gelaat... En die res van wat gewoonlik by dié soort konsert opgesê word.
Beeslaar het homself klein gedra en suutjies weggeglip. Teruggery na sy gastehuis toe. Om in te pak. Sodat hy kan huis toe gaan. Waar hy hoort.
Maar toe hy hom weer kry, dwaal hy in die laatagtermiddagson deur die dorp se strate. Skop akkerblare op, so hard stap hy – om van die dag se oortollige adrenalien ontslae te raak.
En die ding wil hom nie los nie. Dit bly maal in sy gedagtes. Die vreemdheid van die toneel. Te veel bloed. Te veel drama. Asof die moordenaar ’n boodskap wou los.
’n Rower?
Huisroof lýk dikwels so. Wanneer dit skeefloop. As die huismense nie saamspeel nie. Maar so helder oordag? Miskien werk hulle anders hier in die Kaap. Gewoonlik wag die rakkers vir pappie om by die huis te kom. Want hý dra die kluis se sleutels. Sal die vuurwapens oorhandig. En die kontant. Maklike prooi, so ’n ryk sakeman. Met sy sagte handjies, wat dink sy geld hou die lelike kant van die wêreld buite. Maar hy’s klei, so ’n ou.
Sit die pistool teen klein Jannie se kop. Of die miesies. En hy vou. Sluit alles oop. Pak dit vir jou in. Gee jou al sy skatte. As jy tog net sy gesin sal uitlos.
Met al dié gedagtes in sy kop het hy geloop. Op ’n kol by die dorpsrivier beland, ’n breë oewer onder reuse-akkerbome. Nét af van die middedorp, met ’n voetpad wat al langs die watergang af drentel.
Dit was skielik besig daar. Mense wat met hulle honde stap en jongmense in sportklere. Langbeen-meisies met poniesterte, kort maroen rompies, wat hokkiestokke swaai terwyl hulle uitbundig loop en kekkel.
Die maroen rompies het hom laat dink aan die dogter, Ellie. Sy het nie skoolklere aangehad nie, of het sy? Dalk is sy van die soort wat nie uniform kan verdra nie, dadelik uittrek as sy by die huis kom. Make-up aansit. Baie daarvan. Swart lipstiek, punkerig.
By ’n smal, geplaveide brug het hy oorgestap en was skielik in ’n fraai, formele tuin. Met ’n standbeeld in die middel. Hy’t gaan kyk wie’s die kort mannetjie daar in die beeld. Dok Craven, sien hy toe, die ou rugbylegende van Stellenbosch. Die beroemde hond wat ewe by sy ystervoete sit en ewe saam-saam die ewigheid instaar. Bliksem, was die hond se naam.
Hy’t die hond se kop gestreel. Sonder om te dink wie sien. Gekyk of hy iets bliksems in die dier gewaar. Soos jy op ’n myl-afstand by Blikkies kon sien.
Oom Bliksem. Wat sy gedagtes teruggebring het by Quebeka. By die helse verantwoordelikheid wat sy gegee is. Dalk te veel vir ’n mens wat gefast-forward is oor sy swart en vroulik is. Gaan sy enduit kan volhou? Want uit ’n ondersoek-oogpunt is dit klaar nag vir haar. Daai toneel is so vertrap. Lyk of ’n trop beeste daar deurgesleep is. Gaan forensies jarre vat om kop of gat te maak van al die spore rondom daai toneel.
Die seun, het hy gemerk, was kaalvoet. En daar was nie kaalvoetspore op die toneel nie, nie wat hy met die eerste oogopslag kon sien nie. Maar... Kan ook doodgetrap wees deur al die ander.
Die meisiekind: Sy’t tekkies aangehad. Van die soort wat tieners lief is om te dra – Amerikaanse basketbaltipes. North Stars, of so iets. Wat toeryg tot bokant die enkel.
As hy reg onthou, het hy bloed aan die tekkies gesien.
En die pa? Van dié’t hy eintlik net ’n wasige herinnering: Gemiddelde lengte, stewige bou. Vaalbruin kransie hare om ’n breë pan. En intense blou oë agter ’n bril. Die oë vol verwildering. En paniek.
Beeslaar het in die goue herfsmiddag rondgestap en blare opgeskop tot dit donker was. En hy rigting moes vra om terug te kom by sy gastehuis. Die een wat ou Blikkies vir hom gereël het. Hel, besef hy nou, hy was nog nooit op ’n Kaapse wynplaas nie. Upington s’n tel nie. Val meer in die papsak-kategorie. Maar ’n Stellenbosse wynplaas was vir seker op die vakansielys.
“Ek kan nou nie vir jou blyplek aanbied nie, maar een van die oumense hier het ’n kind of ’n ding met ’n gastehuis op die dorp. Ek kan haar vra om vir ons ’n spesiale prys te maak. Dan kom jy vir ’n paar dae. Wys ek jou hoe die beskawing lyk.”
En nou sit Blikkies pens en pootjies in ’n ander dimensie – newwermaaind beskawing.
Beeslaar het nogal uitgesien na die trippie. En die kuier. Want Blikkies was nou maar eintlik naaste aan familie wat hy die afgelope twintig jaar gehad het. Alles wat hy weet, het hy by hom geleer. Praat van sakke sout.
Hy’t die oubaas laas gesien kort voor hy uit Johannesburg weg is. Toe Blikkies die pakket gevat het. Vervroegde aftrede. En toe gaan sy dogter se hondjie, ou Toffie, ook boonop dood. Toffie was al wat ou Blikkies in daardie stadium nog van Tertia gehad het.
“Dat mens nou so kan stukkend raak van ’n hond,” het hy gesê. Maar