Onse Vaders. Karin Brynard
– sal Ghaap nie huis toe skryf nie. Mabusela is orraait, maar Mthethwa slaan die kitaar tussen hulle. En hy’s ’n lui donner. Behalwe as dit kom by die nuwe blougat “bietjie touwys te maak in die wyk”. Die blougat synde Ghaap te wees.
Die wyk. Die ouens hiér praat ’n ander taal, een wat hy dalk nooit gaan baasraak nie.
Van binne, uit die sitkamer, het sy neef se partytjie nou rat verwissel. Die musiek raas nou só hard, Ghaap voel hoe tril die ysterbed waarop hy lê.
Hy staan op en gaan pluk sy kamerdeur oop, loop met lang hale tot by die twee groot luidsprekers wat onder die TV staan. Hy ruk albei uit hulle toue, gooi hulle eenkant toe. In die verskrikte stilte wat volg, loop hy terug na sy slaapkamer, skuif die stoel weer onder die deurhandvatsel in en val op sy bed neer.
Hoofstuk 10
10
Dis amper twee-uur in die oggend toe Beeslaar uiteindelik by sy gastehuis aankom.
Na regte moes hy sy lift in hegtenis geneem het. Want dié’t hou vir hou die brannas saam met Beeslaar weggepak. Êrens het hulle oorgeslaan sambuca toe. Wat natuurlik ’n fout was. Want ná sambuca kom daar altyd tequila. En ná tequila is mens dors. Dan vat jy iets “ligs”, soos cane virrie pyn. En so aan.
Hy voel in sy broeksak vir die voordeursleutel. Sy hand vat die nat sakdoek raak. Iewers in die afgelope vier uur het hy en sy nuwe jong pêl sob-stories uitgeruil. Oor die lewe. En het albei van hulle ’n skelm traantjie gestort.
Hy kry nie mooi gesien waar presies die deur se sleutelgat is nie. Staan in sy eie skaduwee.
Hy wip van die skrik toe daar skielik ’n stem agter hom opklink: “Goeienaand, kaptein Beeslaar. Het jy hand nodig?”
Kaptein Quebeka.
Hy draai om, kyk reg in die helder straal van ’n flitslig in. “Bly jy dan ook hier?”
Sy klap haar tong. “Ek was op pad huis toe,” sê sy en laat sak die flits. “En het gedag ek ry langs, sien of jy wakker is. Maar jy was elders besig. Baie besig, lyk dit my.
“Gee.” Vir ’n oomblik is hy verward.
“Die sleutel!”
Hy probeer weer die sleutelgat raaksteek, maar laat val die sleutel uit sy hande.
Sy buk en tel dit op. “Lyk my jy’s een van daai ouens wat nie goed op ’n gat is nie. Toe, staan eenkant toe.” Daar’s lag in haar stem. ’n Mooi stem, besluit hy.
“Nou toe!” sê sy wanneer die deur oop is.
Hy hou aan die deurkosyn vas, bang hy lyk so dronk soos hy is. “Maar hoekom... e... hoekom soek jy mý? Is daar moeilikheid?”
Sy skud haar kop. “Nee. Ek... e... dag maar. Jy beter in die bed gaan klim,” sê sy.
“Sorrie, ek’s bietjie dronk,” mompel hy. Hy wil nog iets sê, maar sy het reeds omgedraai en weggestap. ’n Oomblik later hoor hy ’n V8-enjin grom.
Hoofstuk 11
11
“Albertus, dis Rea du Toit. Van Groot Gewels. Ek hoop nie ek bel jou wakker nie.”
Haar stem skeur soos ’n vleissaag deur sy babelas skedel. Wat ís dit met oumense dat hulle so hard oor ’n foon moet praat?
Hy leun terug in die bed en probeer in die skemerdonker van die vertrek kyk hoe laat dit is.
“Kan ek maar praat?”
Beeslaar maak keel skoon. “Praat maar,” kry hy uitgewurg.
“Dis oor... Ons is... Dit was ’n verskriklike skok. Ek kan jou nie... ” Sy blaas haar asem hard uit in sy oor. Probeer weer: “Dis... Mens dink dit kan nie met jou gebeur nie. Ek weet nie hoekom nie. Maar jy dink dit net nie. Ons... Ek was gister nie myself nie.”
“Ek begryp, mevrou.”
“Ek wou net nie hê jy moet dink... Ek was so bietjie skerp met die ou swart vroutjie. Dis die skok. Malan is my enigste seun.”
Beeslaar vee slaap uit sy oë, onderdruk ’n gaap. Ou swart vroutjie. Hy wonder hoe kaptein Quebeka dáárop sou reageer.
“Maar dis hoekom ek jou bel. Ou Balthie is nou nie meer daar... dat ons na hom toe kan gaan nie, jy weet?”
Sy aarsel. Beeslaar wag, probeer saggies gaap. Hy’t soos ’n drieton-os geslaap.
“Die ding is net, ons... ons weet nie of die mense hier plaaslik... Hoe sal ek nou sê. Dat hulle... ”
“’n Mens voel maar so, mevrou.”
“Ek is nie ’n rassis nie, Albertus. Maar ek het nie veel vertroue in die mense hier nie. Jy sou nou dink hierdie dorp is ordentlik. Maar net die ander dag nog is ’n man ín die polisieselle dood. ’n Gesinsman, ordentlik. Wat aangehou is vir... vir. Ag, hy’t gedrink. Maar hulle sluit hom toe met ’n beroepsmisdadiger. Dis eenvoudig ’n nes van korrupsie hier en ’n mens ys! Wat maak ons as hulle nou vir Malan opsluit? Wat? En as Balthie nog hier was... Hy sou vir ons kon raad gee. Wat ons kan doen. My seun, Malan. Hy’s... ” Haar stem loop vol.
Beeslaar wag dat sy weer haar woorde vind.
“Hy wil... Hy praat van privaat speurders. Want... ”
“Mevrou, dis seker sy reg om privaat speurders aan te stel. Maar julle moet dalk net... ”
Sy gee hom nie kans nie: “Ek weet nie of jy weet van die student wat hier vermoor is nie – so ’n paar jaar gelede. Mooi jong meisiekind. Ek vergeet haar naam. Maar dit was in die nuus. Sy’s net soos Elmana... soos die ding wat Elmana oorgekom het. Die polisie hier het dadelik besluit dis haar kêrel. En... e... dit wás nooit hy nie. Dit het in die hof uitgekom. Hulle het getuienis verváls om die kêrel skuldig te laat lyk!
“En nou sit ons ook... met iets soortgelyks. En ek is bekommerd. Want daai twee kleinkinders van my... Hulle kan nie nog hulle pá ook verloor nie!”
Beeslaar sug innerlik. Hy’t iewers in die nag self gewonder wanneer iemand die konneksie gaan maak met die opspraakwekkende moord op die student. Dit sal nie net Rea du Toit wees nie. Sy klink uitasem, gespanne. Het moontlik die hele nag gelê en spook met die ding, reken Beeslaar. Haar seun al in ’n plas bloed in die polisieselle sien lê.
“Mevrou... ” Beeslaar se kop wil bars. En hy’s naar. Proe kort-kort die cane en limonade van die vorige nag. Wat het hom besiél? Dan kom dit, sy maag wat opruk.
“Ek bel nou terug,” sê hy vinnig.
En vlug badkamer toe.
Dis eers toe hy ’n paar minute later onder die stort staan dat hy besef wat die ou vroutjie hom nou juis gevra het. As mens dit vra kan noem. Dit was meer afpersing as iets anders. En sy klink nie of sy dikwels nee vir ’n antwoord vat nie.
Hy smeer sy hele lyf met seep. Dan skiet die middernagtelike voordeurpetalje met kaptein Quebeka hom te binne. Goeie fok, hy’t ’n absolute gat van homself gemaak.
Hy klim uit en draai die groot handdoek om sy lyf, vee met die plat hand oor die toegewasemde spieël. Sy moet besig gewees het, Quebeka. Tussen haar en die naaldekokers en die vingermense. Hy wonder of daar al ’n leidraad is. Malan du Toit is seker een van die dorp se bekende miljoenêrs. Die saak sal mos baie aandag trek.
Teen die tyd dat die foon lui, is hy skoongeskeer en in ’n gekreukelde paar jeans.
“Mevrou Du Toit,” antwoord hy so beskaaf moontlik, sonder die haas wat in hom jeuk. Want buite het dit nou lig geword. En hy wil wikkel. Om in die langpad te val.
“Quebeka,” kom die antwoord egter. “Jy reg vir brekfis?”
Hy hap nog vir woorde, maar sy ploeg voort: “Oor ’n halfuur by Julian’s. By die Eikestad Mall. Jou gasvrou sal jou kan verduidelik.” Dan gaan die lyn dood.
Beeslaar staar na die foon in sy hand, sit dit dan