Onse Vaders. Karin Brynard

Onse Vaders - Karin Brynard


Скачать книгу
raak.”

      “Bruikbaar.”

      “Bruikbaar.”

      “Is daar ’n eggo hier, kaptein Beeslaar?”

      “Hier’s iéts, kaptein Tsjoebeka.”

      Sy lag skielik, die koggel wat in haar oë se spikkels dans. Die lag is warm en diep. Sy laat dink hom aan iets koninkliks, die nek van ’n impala. Maar haar oë is ene tierkat.

      “Quebeka,” maak sy die sagte plonsklank van die “Q”. “Dis hoe my kollegas my aanspreek. En ek wil met jou ’n deal aangaan. Dat jy my ingelig hou.”

      “Ingelig van wát?”

      Maar hy weet goed waarvan sy praat. En hy gaan nie die hoek vat nie, dís vir seker. “My kar is klaar gepak. En ek het uitgeteken daar by my gastehuis.”

      Sy reageer nie, haar fokus op die twee vol borde kos wat opgedaag het: gebakte eiers, diepgebraaide Weense worsies, spek en bone. En ’n hele mandjie wit roosterbrood.

      Dan verbaas sy hom weer: Sy laat sak haar kop in wat hy vermoed ’n stil gebed is.

      “Eet voor dit koud is,” sê sy toe sy hom in sy staar uitvang. En begin dan hartlik weglê.

      Hoofstuk 12

      12

      Sy kar is weg.

      Ghaap is só befok, hy’s verby woorde.

      Hy staar na die plek waar sy kar moes gewees het. Waar hy wéét hy verlede nag nog gestaan het. Toe hy gekom kyk het. Éérste ding nadat hy afgelaai is. Hy het nog met seer been en al eers gehinkepink na hierdie einste kol om te kom kyk. Einste kol waar sy kar nou nié staan nie. Sy splinter... splinterfokkennuwe ou kar! Uitgestryk en oorgespuit. Nuwe alloy mags. Klankstelsel wat skrik vir niks. Hy het sy hele Krismisbonus daarop geblaas.

      Ghaap voel hoe sy hart al hoe harder begin klop. Hy sweer hy kry ’n koronêr. Net hier.

      “Hei, my broe’,” hoor hy dan die opgewekte stem van sy neef agter hom. Charlie staan op die onderste treetjie van die staaltrap wat aan die buitekant van die gebou opgaan, een hand doodluiters op die trapreling, die ander wat ’n sigaret agter sy oor uithaal. Hy’s maer en uitgeteer, ’n skarrelbrak. Maar cool verby “dudeness” – die hare vol patrone gesny soos ’n gangsta rapper, rooi stene in die oorlobbe en goedkoop, kru tattoos. Tot in die garingsenings van sy nek. Die hele man maak Ghaap die moer in.

      “Wie van die etters wat gisteraand saam met jou getik en gezol het, het my kar gevat? Wié!”

      “Hei, my broe’, sluk ’n stukkie ys, ek sê... chillax. Jy’t my gisteraand groot skade gemaa-”

      “Ek’s g’n jou fokken broe’ nie. Vullis! Waar’s my kar, hè?”

      Charlie neem een versigtige tree agteruit, teen die trap op. “Naai, man. E... ekke sal nou selwers’ie kan sê... Maar jy’t my sound system gebreek.”

      Ghaap storm op hom af.

      Charlie val terug teen die trap, trek sy lyf so klein moontlik. Maar daar’s nie keer aan Ghaap nie. Hy kry hom aan sy oorgroot T-hemp beet en pluk hom van die trap af. Charlie kerm en keer met sy twee maer arms oor sy kop gevou.

      “Ek gaan die hele fokken lot van julle laat toesluit!” skree Ghaap. Hy sukkel om Charlie te kry om te staan. Sodat hy hom kan donner. Dan laat los hy die T-hemp en die bliksem probeer terugskarrel teen die trap op. Maar Ghaap pluk hom af, gooi hom op die natgedoude gras neer.

      “Wie’s almal daai mense wat saam met jou syp en ganja?” skree Ghaap kortasem. Hy skop met sy gesonde been na Charlie, wat homself soos ’n krimpvark opgerol het.

      “Antwoord, bliksem!” Maar Charlie antwoord niks, hy kerm net. “Hou op tjank en praat!” beveel Ghaap. Wat Charlie net aanspoor om harder te kerm. Ghaap tel hom aan sy voete op en sleep hom na die plek waar sy kar se spore nog in die lang gras sigbaar is.

      “Nét hier het my kar gestaan, bliksem! En nét hier gaan ek jou moer tot jy my sê wie my kar gesteel het. Hoor jy? Hè, fokker!”

      “Oukei, oukei, oukei. Jansie! Moenie vi’ my moer’ie.”

      “Staan op, bliksem!” Ghaap mik weer ’n skop na die gillende man.

      “Wag! Wag, my broe’! Wág!” Charlie huil nou regtig en Ghaap buk om hom op sy voete te help. Charlie verwag egter ’n oorveeg en skarrel hande-viervoet weg.

      Ghaap hou op. Probeer sy hartslag onder beheer kry. Hy swets weer en knak sy vingerlitte. “Jy beter nou mooi na my luister,” sê Ghaap, sy stem bedaard. “Ek soek die name en adresse, oukei? Die leste een!”

      Charlie versit homself versigtig teen die trap op. “Jansie, my broe’,” sê hy.

      “Ek’s g’n jou fokken broe’ nie. En my naam is Johánnes. Hoor jy, bliksem? Johánnes! En ek is nie familie van jou nie en ek is ôk nie meer jou fokken tenant nie. En jy skuld my vyftienduisend rand! Vir my kar! Jy’t my laat verstaan my kar is veilig hier, maar jy’t gefokken lieg! Jy én jou ma. Julle’t my vir ’n parra aangekyk, nè? Maar hierdie parra gaan vir julle wys! As my kar vanmiddag lunchtyd nie weer hier staan nie. Hiér, Charlie. Hiér. Dan sluit ek jou toe. Jy my gehoor!”

      “Naai, man. Hulle vat gereeld die karre hie’sô! Dis’ie êk’ie! Ook’ie my tjommies’ie! Maar wat van my speakers?”

      “Speakers se gat, man. Kry jy net my kar.”

      Ghaap mik weer na Charlie, wat heftig koes, arms oor die kop gevou.

      “Ek is lunchtyd terug,” sê hy. “Om my kar te kom haal.”

      Dan draai hy om en slaan ’n koers in – waarheen, weet hy nie. Al wat hy weet, is dat hy moet wegkom hier. Anders pleeg hy moord.

      Hoofstuk 13

      13

      Gerda Matthee vryf ingedagte oor haar maag. Hierdie baba is haastig, skop soms dat haar buik ’n punt staan. ’n Meisiekind. En een ding is seker: Sy gaan groot wees. Moet die pa wees...

      ’n Skaduwee skuif oor haar gemoed.

      Albertus: sy swaar, swart wenkbroue. Die permanente frons. Sy oë wat onder die kwaaigeid wegkruip. Groen oë. Diepdam groen. Met goue spikkels wat kan dans. En sy lyf... ’n rots, maar hy’s sag.

      En... hy wéét nie. Sy het nog net nie die krag gehad nie. En nou’s die baba amper daar.

      Sy dwing haar gedagtes weg. Vandag is haar laaste dag op kantoor voor sy met kraamverlof gaan. Sy en haar kollegas gaan dit vier met ’n laat ontbyt by die Lucky Bean in Melville.

      Daar’s skielik beweging in die verkeer. Sy lig haar voet van die rem. Agter haar toet iemand. Sy kyk in haar truspieëltjie: dis haar baas, Hennie Jordaan. Johannesburg bly ook maar ’n dorpie, besef sy verbaas en waai terug. Hy is goed vir haar, ou Hennie. Besorgd. Het ’n koek laat koop toe sy vertel het sy’s weer swanger. ’n Bos blomme laat aflewer, uit sy eie sak.

      Maar die belangrikste... Hy het vir haar ’n uitkoms gebied.

      Hulle was saam op skool, maar het kontak verloor. Tot hy by die begrafnis opgedaag het. Sy het nie eens geweet hy was daar nie. Vir haar was dit ’n waas. Ma se kwak wat haar kom spuit het die oggend voor die kerk...

      Sy haal diep asem, want die pyn is onmiddellik daar. Soos altyd. Wanneer raak dit dan minder?

      Sy sit die radio aan. Gareth Cliff praat oor cool ouballies soos Willie Nelson en Clint Eastwood. Sy glimlag, wonder of hy weet wat die letterlike betekenis van ’n ouballie is. Sou hy in Engels gepraat het van ’n senior scrotum?

      Sy sien ’n gaping in die verkeer en skiet uit haar baan uit, oor die verkeerslig wat oranje word. ’n Smous, met ’n kraaines van goed in sy hande, spring rats uit haar pad.

      Die herfsoggendlug waai koud by die karvensters in, maar sy hou dit op skrefies.


Скачать книгу