Onse Vaders. Karin Brynard
genoeg Zoeloe om soos ’n moegoe te klink. Maar ek het jou nie laat kom oor ek my taalvaardigheid wou uitstal nie. Ons praat besigheid. Niks anders nie.”
Laat kom, dink Beeslaar. Die blerrie vrou sit haarself nogal hoog neer. Maar hy byt sy tong.
Die rekening kom. Sy weier dat hy betaal. “Dis mý plek dié, so ék betaal,” glimlag sy. “Maar jy kan ’n volgende keer, as jy wil.”
Volgende keer. “Kaptein Tjoebêka... Koebê... ” Sy tong knoop boertig met die klik van haar naam. Hy laat vaar sy pogings, sê: “Ek twyfel of daar ’n volgende keer sal wees.”
Sy bly stil, maar haar oë vonkel. Want éintlik weet al twee van hulle wat vanoggend hier gebeur het: Sy’t die aas uitgehou. En hy het dit gevat.
“Laat ek dit só stel,” sê hy en hoop hy lyk so beslis soos hy voel. “Oom Blikkies se dogter het gevra ek moet aanbly tot Sondag. Om die as te strooi.”
Sy selfoon tril en hy raap dit dankbaar op.
“Sersant Ghaap! Hoe lê die beeste daar by jou in Soweto?” roep hy vrolik uit en glip onder haar oë uit.
Hoofstuk 15
15
“My kar is gesteel!”
Hy moet dit twee keer sê voor Beeslaar hom begryp.
Ghaap het begin stap. In die algemene rigting van Soweto, meen hy. Hy moes iéts doen.
Hy vertrou egter nie die vrede aan Beeslaar se kant nie. Hy klink gans te vrolik. Moet in ’n restaurant sit, die ou grote. Ghaap hoor dit in die agtergrond. Dan raak die lyn duideliker. Beeslaar moet na buite gegaan het.
“Hoe bedoel jy jou kar is gesteel?” vra hy. “Is jy séker? Jy’t hom nie dalk verlê nie? Wanneer laas het jy hom gery?”
Ghaap sug. Die nuus sink blykbaar nie goed in by Beeslaar nie. “Verlede nag!” roep hy vererg. “Maar dis nie die issue nie. Die kar is weg! Hy was nog nét hier verlede nag. En vanoggend is hy weg. Weg! Soos in missing! Gone. Gedisappear! Soos in nié hiér nie. Oukei?”
“Oukei, Ghaap, oukei. Ek hoor. Maar wat moet ék nou daaraan doen?”
Ghaap se moer spring nóg ’n trappie hoër. “Jy kan my sê waar ek begin te soek. Dís wat... ”
“Ag, ou Ghaap, daai kar van jou leef lankal nie meer nie, jong.”
“Askiés? Ons praat hier van mý kár. Die ding wat my sonder sukkel hiernatoe gebring het. Hy was g’n fokken moer toe nie. Ek het hom gerý tot hier! Hy’t niks gemakeer nie!”
“Hy’s gechop, ou Ghaap! Lánkal. Jy hoef nie eens te begin soek nie. Halfuur na hy gesteel is, tops. Toe’s hy al uitmekaargehaal. Ek gee jou ’n brief.”
Ghaap gaan staan, kyk vir die wêreld wat om hom lê. Lelike wêreld. Goedkoop woonstelblokke, graffiti oor al wat ’n muur is. Die mosterdgeel van die mynhope, die vaal hemel.
“En jy kan maar daar gaan kyk, ou Ghaap, daar op die ou Golden Highway iewers. Jy sal die dop daar kry. Dis te sê as hulle dít nie ook opgesaag het nie. Skedonk soos daai van jou... hel. Hy’s amper vintage. Net sy parte alleen... Sal al skaars wees. Tot sy buffers en... ”
Ghaap voel of hy ’n aar gaan bars. “Waarvan praat jy, Beeslaar? En my nuwe klankstelsel, dan? Wat dáárvan? Was amper net so duur soos die hele kar vanself!”
“Skryf dit op jou pens, ou Ghaap. Daai kar van jou is weg, my ou maat. Klank en al.”
“Maar... Maar... Shit, ek het nog skúld op die ding.”
“En jy’t nie versekering nie.”
Ghaap klap sy tong. “Ek vra nie vir ’n situation update nie. Ek vra jou waar ek begin te soek! Jy ken kwansuis die plek. Waar gaat loop soek ek?”
Die foon raak stil. Hy wag.
“Ai, ou Ghaap. Dis ellendig, jong. Maar ek glo nie ek kan jou help nie. Daai kar van jou is history.”
Ghaap gaan staan by ’n besige stopstraat. Hy kyk rond vir ’n straatnaam, maar sien niks. Dan begin hy weer stap.
“Beste wat jy nou kan doen,” hoor hy Beeslaar se stem, “is om die saak maar aan te meld.”
“Maar jy’t mos al die chop shops hier geken? Kan jy my nie ’n paar pointers gee nie? Jy’t dan die plek gekén. Soos die palm van jou hand. Dis wat jy altyd vir mý loop en... ”
“Dis lank gelede. En ek sê jou: Jou kar is lankal spares. Vir al wat jy weet, sien jy dalk dele van hom rondry. Daar waar jy nou loop.”
“Hoe weet jy waar ek loop?” Ghaap kyk rond, sien die geboue weerskante van die pad raak min. Vorentoe is daar ’n groot kruising, die bont koeltorings van Orlando se ou kragstasie wat sigbaar word. Hy hoor Beeslaar aan die ander kant lag.
“Ek skat jy’s in Commandoweg, want dis waar jou nefie se plek is. En ek skat jy loop werk toe. As jy die groot kruis met Main Reef kry, moenie draai nie. Hou suid. Die pad se naam verander daar. Hy word Canada.”
“Jissus, Beeslaar, hóé weet jy waar loop ek?” Ghaap se ergernis wyk ’n oomblik lank.
“Ek’t baie talente waarvan jy nie weet nie. Jy’t nou pas opgestaan en ontdek jou kar is weg. En jy neuk nou ’n rigting in. Met die enigste pad wat jy ken, uit Riverlea terug Soweto toe. En jy’s te skytbang om op een van die oorlaaide taxibusse te klim, want jy weet nie waar in daai groot plek gooi hy jou af nie. Dís maar al. En as jy nou maak soos ek sê, en jy bel my weer so oor twintig minute, help ek tot by die stasie. Want jou pad loop dood in ’n T. Waar jy moet regs. Daarna raak dit ingewikkeld. My raad sou wees om iemand te bel. Mabusela of iemand. Laat hulle jou kom haal. Anders gaan jy loop, ou Ghaap. Jy gaan jou skoene flenters loop.”
Ghaap gaan staan weer. “Ek wil my kar gaan soek.”
“Vergeet jou kar. Bel iemand dat hulle jou kom haal en gaan gee die saak aan.”
“Maar kén jy dan nie meer iemand hier nie? Die ou voertuigtak, of so. Iemand wat my dalk sal gaan wys... ”
“Ghaap, luister nou mooi vir my. Jou kar bestáán nie meer nie. Hy’t óf klaar ’n nuwe eienaar. En ’n nuwe kleur. En ’n nuwe nommerplaat en VIN-nommer. Óf hy’s gechop. Ek sê jou! Bel lat iemand jou kom haal. En dan moet jy ’n bietjie chill. Mens raak onnosel as jy so befoeterd rondloop. En dan maak jy foute. En foute maak jou dood. Luister nou maar na Baas Beeslaar!”
“Wat gaan aan met jou, Beeslaar? Is jy dronk, of iets?”
“Nee, ouboet. Ek is oornag hot shit op hierdie dopsteekdorp. Hot shit.” Hy lag vrolik en lui af.
Ghaap sug en begin weer stap. Hy voel hoe die swart kraai van woede weer op hom toesak. “Nou maar thank you very much and fuck you too,” brom hy hardop.
Hoofstuk 16
16
Beeslaar glip die selfoon terug in sy sak. Hy voel snaaks, asof hy sy vinger in ’n kragprop gedruk het: Pyn kronkel oor sy hele kop, laat sy hart hamer. Nie noodwendig ’n lekker gevoel nie. Dalk babelleer hy net. Dalk is dit dié dorp. Die krullige vroomheid van die argitektuur. Selfs die blerrie akkerbome lyk of hulle deur die Liewe Here self hier ingespit is. Sommige, sien hy, word met kabels en pale regop gehou. Soos die sterwende adel van ’n ou orde.
“Nou toe!” breek Quebeka sy babelas gedagtes oop. “Jy kan saam met my ry.” Sy begin ook sommer aanstap. Haar ferm agterstewe span oor die sitvlak van haar broek. Gesónde agterlyf... as jy hou van vroue met vleis aan die bene.
Beeslaar kom tot verhaal: “Die Du Toits verwag my,” roep hy agter haar aan. “Ek moet dalk maar gaan groet.”
“So jy ry saam met my!” Sy draai om en wink hom met haar kop. Sy maak nie vinnige bewegings nie, dié vrou. Ook niks aarselend of onseker nie.
Sy staan op ’n geel streep