Onse Vaders. Karin Brynard
“Wat sien jy?”
“Ek sien fokkol. Dis wat ek sien! Karwrakke en vullis en dooie donkies. En tienduisend teksies... ”
“Vang een van die taxi’s. Hulle sal jou vat. Of minstens kan sê waar jy is! So nie hou jy net aan met loop. As jy nêrens afgedraai het nie, is jy nog in Canada Road. En jy moet mynhope weerskante van jou sien en die treinspoor moet op jou regterkant wees.”
“Oukei?”
“So dan’s jy nog reg. Maar klim in ’n taxi. Dis nog goedkoop ook.”
“Ek wás al in een. Saam met vyftien mense en ’n dik mama op my skoot! Dis ’n death trap, man!”
“Ghaap, moenie al die nonsies glo wat hulle vir jou by die huis vertel nie! Maar... loop maar net aan. Die pad gaan kruis met die Soweto Highway. En Noordgesig se polisie is baie naby. Hulle sal jou help!”
Ghaap mompel iets suurs en dan gaan die lyn dood.
Net om onmiddellik weer te lui.
“Albertus?” Sagte vrouestem. “Tertia hier. Ek en Mynhardt is by my pa se plekkie by die ouetehuis. Ons ruim op. Ek het gedink... as jy nog hier is, en daar’s iets van hom wat jy graag sou wou hê... Jy weet?”
Hy gaan haal sy kar uit die veiligheidsparkering van die gastehuis. Hy’t voor sy brekfis met Quebeka uitgeboek, sy tas in die kar gesit, nog vas van plan om te ry. Die nuwe baadjie het hy uitgehou. Hy moet gou probeer omruil voor hy ry.
Mevrou Adendorf, die matrone van Huis Groot Gewels, kom ontmoet vir Beeslaar by die tehuis se veiligheidshek.
“A! Kaptein Beeslaar,” groet sy. Daar is min warmte in haar stem. Sy’s ’n groot vrou, lank op haar voete, ’n breë skof en skerp oë wat jou binne die eerste sekondes omdop en in ’n kassie pak. Beeslaar hoort kennelik in die onderste laai, afdeling: oorskiet. Hy wonder hoe oom Blikkies met so ’n ou draak oor die weg gekom het.
“Mevrou Du Toit is nie nou hier nie,” sê sy. “Sy sê vir my jy gaan haar familie bystaan?” Sy kyk takserend na hom.
“Ek is eintlik op soek na kolonel Van Blerk se dogter.”
“O.” Afkeurende verbasing. “Nou maar kom deur,” sê sy en die elektriese traliedeur gons oop.
Sy lei Beeslaar deur ’n tuin, met ’n kort tuinpaadjie langs, verby die groot ingangsportaal – mét fontein – na ’n losstaande eenheid om die hoek. Haar blyplek en kantoor, verduidelik sy. Sy is formeel geklee in ’n donkerblou romp en baadjie, ’n bruin hemp met ’n speld by die kraag. Haar dun, grys hare is gekrul en stokstyf gespuit. Ook nie meer vandag se kind nie, reken Beeslaar.
Tertia staan op toe Beeslaar die kantoor binnekom en kom soen hom op sy wang. Hy moet laag buk om die soen te ontvang, want sy is klein. Mynhardt, die gade, is nie veel langer as sy nie. Maar hy maak op met ’n stewige handdruk.
“Ons is amper klaar hier,” verduidelik Tertia. “Admin en so. Van my pa se woonstel. As jy nie omgee nie, kan jy solank opgaan.” Sy hou ’n sleutel na hom toe uit. “Ons is oor ’n minuut daar.”
Die matrone se blik is dié van ’n aasvoël wat ’n sappige happie aan ’n hiëna moet afstaan. Omgekrap, maar durf niks doen nie.
Hy stap terug deur die tuin en op met ’n trap na die tweede vloer. Blikkies was aanvanklik halsstarrig om in hierdie plek te wees. “Sy’t my by ’n bleddie ouetehuis ingeboek, Jaap.” Blikkies se naam vir hom. Kom van hulle vroeë tyd saam. Toe Beeslaar onder sy toesig ingedeel is. Hy’t nooit gebodder om die blougatte se name te leer ken nie. Vir hom was hulle almal japsnoete. En in Beeslaar se geval het dit uiteindelik Jaap geword.
Maar hy was versigtig, oom Blikkies. Hy sou nie nee sê nie. Want hy moes baie opmaak. Skuld betaal. Die skade van afwesig wees. Veral in Tertia se tienerjare – toe ou Blikkies eenvoudig nie die nuwe, opstandige terroris kon hanteer wat in die lyf van sy een en enigste dogter rondgeloop het nie. En toe’s daar nog die egskeiding ook. Hy kon dít ook nie hanteer nie.
Tertia het vir jare nie met hom gepraat nie.
Ná skool is sy na ’n kollege toe. Haarkapster geword by ’n salon iewers in die stad. Geen kontak met haar pa gehad nie. Ou Blikkies het niks gewys nie. Maar Beeslaar het geweet. Dit knaag.
Die vroeë pakket het ook nie gehelp nie. Hy’s min of meer uit die mag uit gedwing, om plek te maak vir ’n regstellende-aksie-aanstelling. Dít het hom behoorlik laat wakker skrik: Dat hy sy gesin verkwansel het vir niks. Sy lojaliteit van ’n leeftyd in sy gesig teruggesmyt – met ’n seer middelmatige tjek. Die ou man was bitter, maar toe gaan soek hy na Tertia.
Beeslaar vind die woonstel maklik en sluit die deur oop. Vir ’n oomblik huiwer hy. Hierdie is mos nie die soort van ding wat ’n man alleen doen nie.
Hy gaan nie in nie. Kan nie. Dis of daar ’n onsigbare muur in die deur van Nommer 208, B v Blerk ingemessel is.
Hy trek die deur weer toe. Gaan staan by die gangvensters, skielik kortasem.
Dis ’n mooi uitsig, besef hy sodra hy kalmer voel. Blikkies se korserigheid oor die ouetehuis-storie het nie lank geduur nie. “Ek’s bleddie nog in my fleur, Jaapman,” het hy oor die foon gekla. “Nóú al te loop sit en pillepraatjies maak met die oues van dae. Die tyd uitsit in Avbob se wagkamer. Here.”
Maar daar was nie régtig baie baklei in die verontwaardiging nie. Hy sou deur vuur loop vir sy kind.
Beeslaar wag tot Tertia en die gade kom. Stap saam met hulle deur die onsigbare muur.
Dis nie die tipiese oumanswoonplek wat Beeslaar verwag het nie. In Johannesburg het Blikkies ná sy egskeiding in ’n polisiewoonstelletjie gebly. ’n Neerdrukkende plek met ’n goedkoop bankstel in bruin koordferweel en ’n TV op ’n OK Bazaars-tafeltjie. Kaal mure en ’n leeslamp by ’n La-Z-Boy-uitskopstoel. Blikkies kon nie bodder om die plek mooi te maak nie.
Maar hierdie plek lyk of sy ryk skoonseun moes hoes. Dik volvloermat, platskerm-TV teen die muur en ’n potplant. ’n Potplant! Skilderye, geraamde familiefoto’s, Blikkies self by ’n medaljeparade. ’n Wynrak. Dis ’n ander Blikkies dié, besef Beeslaar. Een wat moontlik mens kom word het hier. In die lig van sy dogter se liefde.
En hy wat Beeslaar is, was al weer te laat.
Tertia het tot in die middel van die sitkamer geloop en gaan staan. Sy kyk stadig om haar heen, soos iemand wat vir oulaas na ’n geliefde portret staar.
Beeslaar se oog vang ’n glimp van die slaapkamer deur ’n oop deur. Hier het Blikkies skynbaar geen inmenging geduld nie. Daar’s ’n enkelbed op hoë houtpote teen die muur onder ’n venster, ’n paar Crocs voor die bedkassie. Beeslaar sien ’n boek op die kassie, ’n leesbril en ’n glas water. ’n Funksionele lampie met ’n lang arm, ’n pilboksie met vakkies – een vir elke dag van die week. Die bed is netjies opgemaak. Geen duvet of bedsprei nie. Gewone bruin kombers en een kussing. Bokant die bed hang ’n ou .22. Beeslaar wonder wat Blikkies met die res van sy wapens gemaak het. Hy het ’n taamlik groot versameling gehad teen die tyd dat hy afgetree het.
Tertia trek die sitkamergordyne oop, maak ’n deur na ’n klein balkonnetjie oop. Buite, sien Beeslaar, kyk jy weer vir ánder berge. Hy vermoed dit moet Simonsberg wees.
“Ek is jammer ek kon nie gister meer tyd met jou... ”
Beeslaar lig sy hand, wys haar hy verstaan.
“Hy was so lief daarvoor om saam met ons Tafelberg op te gaan met die kabelkarretjie,” sê sy en Beeslaar voel sy moed sak. “Hy’t altyd gespot dat dit hom aan Johannesburg se mynhope herinner.” Sy glimlag, haar oë vogtig. “Maar jy moenie bekommerd wees nie, ons gaan dit opstap, van Kirstenbosch se kant af. My pa’t my eenkeer gesê jy’s nie so lief vir hoogtes nie.”
“Jy sê Sondag?” vra hy en voel hoe sy wange brand.
“As die suidoos behoorlik bedaar. Gewoonlik, hierdie tyd van die jaar, is hy