Onse Vaders. Karin Brynard

Onse Vaders - Karin Brynard


Скачать книгу
pa siek?”

      Sy skud haar kop. “Dis blykbaar die ding met ’n beroerte. Ons het gedink hy gaan ’n honderd jaar oud word. Hy was ontsettend aktief. Het saam met ons in die Jonkershoekberge gestap... ag, gereeld. Hy was nie baie lief vir hierdie plek nie, seker oor hy gedink het hy’s te jonk. Maar op ’n dorp soos dié is versorgingsoorde skaars. En duur. Mynhardt – én ek – het gevoel hy moet in die beste moontlike plek bly – ook met die oog op later.”

      Sy bly ’n ruk stil, staar na die stoel wat kennelik Blikkies se TV-kyk-stoel was. “Hy was ál familie, weet jy? Vir ons albei. My ma is al so lank dood.”

      Beeslaar knik weer. Blikkies het hom gebel en vertel. Ook dat hy wat Blikkies is, nooit oupa sou word nie. Tertia en Mynhardt se besluit, blykbaar.

      “Waar gaan jy tuis, Albertus?”

      “Gastehuis.” Hy vertel nie dat hy reeds uitgeboek het nie.

      “Sal jy bietjie kan aanbly?”

      Hy kyk vir die berg.

      “Jy kan enige tyd by óns bly. Ons het ’n groot huis. Net hier naby. Dis teen die berg en het regtig mooi uitsigte.”

      Beeslaar lig weer sy hand. “Ek’s oukei. Maar dankie.”

      Sy glimlag. Hy kan dit nie peil nie, maar hy vermoed hy’t pas iets gedoen wat haar aan haar pa herinner.

      ’n Stilte val oor hulle. Nie ongemaklik nie.

      Dan sê die gade vir die eerste keer iets: “Liefie, wat van Maaike?”

      Tertia kry nuwe lewe: “Bertus, sy was gister daar. Het jy haar ontmoet? Die Hollandse vroutjie. Sy’t ’n studentewoonstel wat leegstaan. Net hier om die draai, Mynhardt sal jou vat.”

      Hy skud sy kop.

      “Gaan kyk net,” por sy.

      Beeslaar skuif ongemaklik. Hoe de hel kom hy hiér uit?

      “Maaike se plek is besonders. Jy sal daarvan hou. Dis baie privaat, op die rand van die dorp by die Eersterivier. En dis gratis. Haar huurder is skielik weg en sy soek net iemand ordentliks wat darem snags daar slaap. En dan gaan die drie van ons Sondag en gaan groet my pa. Wat sê jy?”

      Hy ry uiteindelik agter Mynhardt aan, ’n gevoel van onbehae in sy bors. Hulle ry oos, ’n vallei in. Net voor hulle heeltemal die dorp uitry, draai Mynhardt regs af.

      Mak gans, besluit Beeslaar bitter. Dís wat hy hier op hierdie benoude dorp tussen die berge raak.

      Maar hy het nie tyd vir kleinkoppie trek nie, want hy’t nog skaars gestop of die houthek in ’n hoë, erg begroeide muur gaan oop en ’n kort, stewige vroutjie met ’n grys krullebol kom uit en gooi haar arms verwelkomend in die lug.

      Vir ’n oomblik wil hy voet in die hoek sit en wegjaag. Maar die pad loop dood, teen die rivier.

      Sy het die soort bruisende entoesiasme van ’n rivier in vloed – vee alles plat. Die soort wat elke haar op jou liggaam orent laat staan. Jou lyf versuip in veg- én vlughormone. Jy wil met alle geweld net nie hiér wees nie.

      Sy hét ook sommer die stywe stok van ’n Mynhardt in ’n klemgreep, plant ’n soen op elk van sy skoongeskraapte wangetjies. Beeslaar klim versigtig uit sy kar en word onmiddellik bestorm deur ’n worshond.

      “Rembrandt!” Dis die wolkop se harde stem – die hond wat hom nie in die minste daaraan steur nie. Hy staan met sy stertjie trillend orent en blaf kordaat teen Beeslaar aan. Mynhardt probeer om Beeslaar bekend te stel bo die gekef van die hond uit. Daar’s ’n voël ook in die prentjie, sien Beeslaar tot sy ontsteltenis. ’n Soort papegaai, vaalgrys met ’n krulkuif en ’n meneer van ’n snawel, sit op haar skouer en hou nie vir een sekonde sy bek nie. Sy naam, hoor Beeslaar, is Vermeer.

      Beeslaar steek ’n lang groetarm na haar uit – om ’n moontlike omhelsing af te weer.

      Sy lag, wie weet waarvoor, en haar vreemde oë glinster gulsig, bekyk hom of hy ’n sappige hap is. Die een oog is blou, die ander bruin. Gee haar ’n boaardse soort kyk, asof sy ekstra sintuie het, goed kan sien en hoor wat gewone mense nie kan nie – of noodwendig wil nie.

      “Godverdomme, wat een brok van een kerel, hè!” roep sy ingenome teenoor Mynhardt. Die papegaai skree iets agterna wat klink soos “fokken brok”.

      Dan lei sy hulle binne, langs ’n tuinpaadjie af waaroor laventelbosse inleun, hulle reuk afsmeer aan mense wat verbystap. Die huis is oud, ’n Karoostyl-plaashuis met stoepe voor en langs die kant af. Sy stap vinnig vir so ’n klein vroutjie, sodat die voël op haar skouer sy sit moet ken. Beeslaar rek sy treë langer, met Mynhardt en die blaffende wors wat die agterhoede dek.

      Verby die voordeur is daar ’n groot portaal vol Afrika-kunswerke. Prente en maskers en bokhorings. En houtrakke waarop witgebleikte dierskedels uitgestal word – krokodil, ’n groot mannetjiesbobbejaan, die fyn porseleinkoppie van ’n muis. By die agterdeur uit is daar ’n leiklippaadjie tot by ’n kothuis, wat lyk of dit uit ’n ou skildery kom. Moes vroeër ’n ou werkershuisie gewees het, reken Beeslaar. Maar dis netjies gerestoureer, met ’n bloedrooi perdestal-voordeur en ’n vrolike geel seilafdakkie teen die reën. ’n Windharp klingel aan een van die afdak se maste. Sal moet waai, besluit Beeslaar voor hy koes om deur die lae kosyn van die voordeur te gaan.

      Binne is daar ’n klein sitvertrek met ’n televisie,’n kuierkombuis met ’n antieke tafel en stoele, glimmende geelhoutkaste teen die mure.

      “Een gezellige keuken. Pardon, kombuis!” verklaar sy triomfantlik en die papegaai jodel iets agterna. Beeslaar se ma het so ’n voël gehad. Hy kon sweer sy ma was liewer daarvoor as vir hulle. Kon ure met die ding praat. Wat teruggepraat het soos ’n mens sonder tong.

      Die slaapkamer kyk uit op een van die mooiste natuurtonele wat Beeslaar seker nóg gesien het. Ruwe, grou rotstorings wat teen die diepblou hemel opseil en ’n wasige vallei omvou. Tjoklitboks, dink Beeslaar. Eintlik álles hier in hierdie dorp. Fraai, sou sy ma gesê het. Met nét ’n titsel neerbuigendheid in haar stem.

      “En?” Sy kyk op na hom, asof sy na ’n reusefrats staar – tegelyk gefassineerd en opgewonde. “Potverdomme, méns! Wat bent jy een boerepaard!” Sy lag gelukkig en vertel vir Mynhardt dat “geen hond” sy pote op haar werf sal sit met Beeslaar daar nie.

      “Maar ook geen hond... nie,” onthou sy dan die dubbele ontkenning agterna.

      Hulle stap terug. “Is jy doenig by die moordondersoek?” vra sy en druk die voordeursleutel in sy hand.

      “Nee. Ek... e... ek bly net tot Sondag.”

      “O, ek dag... Jy sou tog die familie adviseer, of zo? Wat ’n tragedie, hè? Grote gode.” Die papegaai praat agterna: groute goude.

      Beeslaar skud sy kop.

      Mynhardt kry vir die eerste keer sy stem terug: “Dis verskriklik. Koerante sê dis dalk dieselfde ou wat vroeër die Matie-student vermoor het. Onthou jy, Maaike?”

      Sy knik, en die papegaai boots haar na. “Vreselijk!” sê hulle al twee.

      “En die polisie op hierdie dorp is useless. Met alle respek,” sê hy en loer versigtig op na Beeslaar. “Ek bedoel niks teen jóú nie. Of my skoonpa nie. Maar hier gebeur verskriklike goed op hierdie dorp. Nou anderdag weer. ’n Ou wat ek gekén het. Pa van twee kinders wat moet leer. Ek het baie met hom te doene gekry by die stadsraad. Ou Shane Williams van Pniel. Hulle keer hom aan vir dronkbestuur, maar hy word die nag in die polisieselle vermoor. Nee, o heng.”

      Beeslaar krimp innerlik. Heng... Wanneer laas het hy daardie spesifieke suutjiespoep-woordjie gehoor?

      Dan lui sy selfoon, red hom van ’n onbehoorlike uitlating.

      Hoofstuk 19

      19

      Dis warm. Die wit Hoëveldson skitter op die teer. Die verkeer staan.

      Gerda vee sweet af. Die middagete was ’n vrolike affêre, met


Скачать книгу