Satyn Omnibus 2. Helena Hugo
En Sharise vlug.
Die twee praat oor ’n man wat haar lewe kan omkeer, ’n man wat sy jare gelede so liefgehad het, sy sou enigiets vir hom doen: deur die vuur loop, onder water swem as dit moet. Om haar klere vir hom uit te trek was doodnatuurlik. Dit was om naby hom te kon wees, om deel van hom te word, deel van gedeelde ekstase. Hulle het mekaar so goed geken, beter as wat Myrna en Donald en enigiemand anders kan raai.
Sy het nog gevoelens vir hom, sy voel dit die laaste tyd – een groot verlange.
Dis skemerdonker in die eetkamer en nog koel buite. Sy skakel solank die ligte aan. Die besoekers wat pas stilgehou het, sal nie buite wil sit nie, daarvoor is die oggend te fris. Sy draai die sleutel in die slot en maak die deur oop. Jammer sy het nie vroeër al oopgesluit nie. Die kamer ruik effens muf, tipies van Wes-Kaapse huise, en veral tipies van huise so naby aan water.
As dit vandag weer reën, sal Donald die kaggel aanpak. Intussen skakel sy die verwarmers ook aan, en stoot flink een ná die ander venster oop. Die welkom-matjie is nog nie uitgesit nie, en sy sluit die veiligheidshek oop en buk om dit op te tel.
Dis een persoon wat aankom; sy hoor dit aan die voetstappe.
Wel, bedelaars kan nie kieskeurig wees nie, en een besoeker so vroeg is beter as niks. Sy sit die matjie netjies neer. Dis manskoene, goeie leerskoene, ’n netjiese broek en ’n los baadjie. Sterk hande.
Sy kyk nog hoër op, sien die swart rolnektrui, die keel en ken met baard wat donker deurslaan, die reguit neus, skerp oë, groenerig blou en vol verwagting. Sy hare is anders, korter soos mans dit deesdae dra, sy mond steeds syne, sy lippe.
Sy sou hom herken het al was hy grys en oud.
“Jacques?”
“Dis ek.”
Sy kom regop. Hy gee nog ’n tree nader. Hy ruik na seesout, vars soos reën.
Wat haar besiel het, weet sy nie, maar sy gee ’n sagte gilletjie, gooi haar arms om hom en klou hom vas. Klim onder sy baadjie in en druk haar só styf teen hom, dit voel of sy in sy lyf kan verdwyn. Sy gordel druk teen haar ribbes, haar borste druk plat.
Hy lig haar van haar voete af, amper val hulle. Sy hang aan sy nek, hy swaai haar heen en weer, laat gly haar teen sy bors af. Sy mond is op hare, hulle soen, hulle soen en soen asof hulle lewe daarvan afhang.
Sy proe die binnekant van sy mond, haar mond is gekneus, sy tong raak aan hare, hulle tande skuur teen mekaar. Hy breek weg, kyk na haar, soen haar weer, oral op haar gesig, die een soen ná die ander. Hulle soen asof hulle mekaar wil opeet.
Tot Sharise besef waarmee sy besig is. Toe trek sy terug en draai haar kop weg. Warm trane stroom oor haar wange.
“Hoekom huil jy?”
Sy draai na hom. “Omdat ons nie mag nie,” sê sy, en elke woord is ’n dolksteek wat haar hart deurboor.
“Daaroor sal ons later praat.”
Sy skud haar kop. Sy kan nie haar trane beheer nie, dit wil nie ophou nie. Sy trek haar een hand uit syne en vee hulpeloos oor haar gesig. Toe los hy haar en haal sy sakdoek uit. Hy vee haar trane af.
Daarin is hy goed geoefen, kan sy agterkom. Jacques vee dikwels trane af. Is dit van die arme mal vroumens, die besemstok wat nie eet nie? Is dit sý wat so huil dat hy weet hoe om te troos?
Sy stoot sy hande en sy sakdoek weg en haal ’n snesie uit haar voorskootsak.
“Jy moet liewer loop,” sê sy.
“Hoekom?”
“Hier kom nou-nou gaste, dan lyk dit sleg.”
“Wat van my? Ek is ook ’n gas.”
“Nie vandag nie, nee.”
“Ek verstaan, maar ek sal terugkom.”
“Nee, Jacques, asseblief nie!” Haar stem is hoog en byna histeries. “Moenie, asseblief nie!”
“Ek sal kom, want ons moet praat,” sê hy beslis.
“Daar is niks om te sê nie.”
“Sharie, jy het reeds genoeg gesê, en ons het gesoen.”
“Dis sommer ... sommer omdat ek jou lanklaas gesien het.”
“Maar so ... so intens?”
“Ek moet ingaan.”
“Ek bel jou.”
Hy staan nog te naby, en hy sit weer sy arms om haar.
Maar sy ruk los en hardloop blindelings na binne, byna in Myrna vas wat met ’n spyskaart in die hand staan en iets sê wat sy nie hoor nie. Sy hardloop die trap op, gooi haar op haar bed neer en snik sonder om om te gee of Myrna en Donald en die hele wêreld haar hoor.
7
Jacques bly ’n ruk op die stoep staan. Sy arms voel leeg, sy lyf vermink. Dit voel of sy ’n stuk van hom afgeskeur en saamgevat het. Sy kop draai. Toe hy die trap afklim, moet hy aan die reling vashou. Hy is soos ’n lugballon waarvan die ankertoue afgesny is, hy kan die aarde mistrap, hy kan oor sy eie voete val.
Hy kyk af na sy voete, hoe hy een voet voor die ander sit en wegstap. Die tuinpaadjie is oorgroei met kruie, hy kry die reuk van gekneusde tiemie en origanum, ’n hartseer reuk. Hy ruik Sharise se lyfsproei, iets tussen viooltjies en varings.
Nee, hy is nie seksueel opgewerk nie, hy is hartseer en deurmekaar, want hy is verstom oor die gevoelens wat sy so pas in hom wakker gemaak het. Hy het geweet hy verlang na haar, maar dat hy haar so vreeslik gemis het, so asof hy die helfte van sy lewe verloor het, dit het hy nie besef nie. En die oomblik toe sy omdraai en blindelings wegstap, het hy besef dis vir haar wat hy moet veg. Sy hart wil oorloop van liefde en deernis en sorgsaamheid oor haar.
Hy gaan staan by die tuinhekkie naby die parkeerarea en kyk oor die terras waar tafeltjies onder bome gerangskik staan. Wit pergolas is oorgroei met rankplante en wingerdranke wat hierdie tyd van die jaar kaal vertoon, net ’n stukkende rooi blaar hier en daar soos bloedspatsels. Maar die belofte van lewe is nie uitgedoof nie. Die heining langs die hekkie is oorgroei met kanferfoelie en rose. Kleurryke papawers buig onder ’n vrag doudruppels.
Hy draai om, kyk na die huis agter hom, ’n pragtige Kaaps-Hollandse huis met ’n breë stoep, gewels en dakkamers. Daar is ’n groen geverfde trap aan die een kant wat na die solderkamers lei, vensters in die dak, ’n grasdak, nuut gedek. Balies met krismisrose staan op die stoep agter spierwit stoepmuurtjies en groen houtrame. Die huis en tuin lyk asof dit pas gerestoureer is en goed versorg word. Is dit haar eiendom of werk sy net hier?
Hy oorweeg dit om te gaan seker maak of sy oukei is, maar onthou dan die meisie met die spyskaarte en besluit dat dit die beste is om hulle eers te los. As Sharise alleen was, sou hy nie so maklik geloop het nie. Hy loop ook nie maklik nie, hy wil nie gaan nie, maar sy het hom gevra, dis hoekom hy dit doen.
Hy stap aan kar toe, druk die afstandbeheer. Die rivier dreun gerusstellend, eende snater en ’n langhaar- Persiese kat kom verbygestap asof die hele omgewing aan hom behoort. Hy gaan staan en kyk op na Jacques.
Jacques buk af en streel die dier se kop en rug. “Is jy haar kat?” vra hy. “Behoort jy aan Sharise?”
Toe hy haar naam sê, miaau die kat saggies en skuur sy kop teen Jacques se arm. Miskien ruik sy klere na Sharise.
“Kyk mooi na haar,” sê hy en sluk die knop in sy keel weg.
Hy kom orent, maak die kardeur oop en klim in. Binne sit hy en asem haar in, proe haar soene, voel haar arms om hom. Sy het na hom verlang, nes hy na haar. Wat moet hy maak om haar terug te kry? Wat kan hy doen as sy hom nie vergewe het nie? Wat maak hy met sy ma en pa en Suzette en die rigting wat hulle ingeslaan het?
Suzette was vanoggend weer so pragtig soos ’n verskrikte bokkie met daardie yslike oë van haar, die lang bene en skraal hande. Sy was uitgerus en vars soos ’n wit aronskelk, een wat net begin oopgaan