Satyn Omnibus 2. Helena Hugo
dink Jacques. Eintlik kon sy nooit kinders verdra nie, selfs nie vir hom en sy susters nie. Hulle moes eers groter word, volwasse mense, voor hul ma hulle behoorlik begin raaksien het, hulle naby haar wou hê.
Dalk het sy nou ver teruggedink, twee en twee bymekaargetel en vermoed dat iemand uit sy verlede met hom wil kontak maak. Hy dink self so. Dat die briefie van Sharise kom, via ouma Maria.
Maar Louise vra nie verder uit nie. Sy het haar trots.
“Ons eet oor twintig minute, jou pa is hier. Hy’t gekom terwyl jy nog geslaap het.”
Jacques kyk op sy horlosie. Dis halfeen.
“Dankie, Ma.”
Sy haal die tafeldoek van die stoeptafel af en vou dit op.
Hy staan nog ’n rukkie daar en loop dan kamer toe. Die geur van vleis wat in wyn gaar stowe, hang in die lug. Hy ruik suiker wat in botter braai, blomkool wat kook, hoor gesellige klanke uit die kombuis. Dis soos ’n huis in die winter moet wees, dink hy – warm en gesellig. Die kosreuke herinner hom aan die plaaskombuise van Provence en Champagne. Dis hoekom hy so lank daar kon uithou: hy hou van boerekos en goeie wyn; hy geniet maaltye en geselskap om die tafel.
Dis wat hy mis by Suzette. Hulle sal nooit so saam kan eet nie, nooit ’n tafel kan dek met ’n gesin wat rondom vergader nie. Sy sal haar kinders van vroeg af op dieet sit; haar dogters sal in elk geval haar voorbeeld volg. Hy het gehoor seuns kry ook eetsteurnisse. Wil hy sulke seuns en dogters in die wêreld bring en grootmaak?
Maar sal Suzette ooit kinders wil hê? Hy het nog nooit aan ’n gesin saam met haar gedink nie. Dalk kan hy met haar trou, eksperimenteel vir ’n jaar of wat ... Sal dit veel anders wees as hulle lewe nou?
Miskien. Hy kan haar op ’n lang wittebrood neem op ’n seiljag in die Middellandse See, haar oesters en olywe voer as deel van hul sekslewe. Op daardie gebied gaan dit tog taamlik goed. Hy kan haar dag vir dag meer gee om te eet, sjokolade en roomys, en elke keer meer seks en beter seks. As sy kos met goeie seks begin assosieer, word eet dalk vir haar net so lekker.
Hy stoot sy kamerdeur oop en onthou om dit agter hom te sluit. Pluk die koevert haastig uit sy broeksak, vou dit oop.
Dis ouma Maria se versigtige, regop handskriffie.
Beste Jacques,
Ek wil jou ’n groot guns vra. Sal jy kans sien om môreoggend teen agtuur se kant, selfs vroeër, ’n halfdosyn melkterte hier by my te kom haal en dit by Sharise se teekamer af te lewer? Soete Verleiding is langs die rivier in Rivierstraat. Jy kan dit nie mis nie, maar ek sal vir jou die pad beduie. Hier is Sharise se selfoonnommer, ek het klaar met haar gereël dat jy dit sal bring.
Baie dankie,
Ouma Maria.
Jacques sal met plesier dié guns doen. Hy hoop net Suzette het weer ’n vroeë roep. Anders maak dit ook nie saak nie, want as sy nie werk nie, slaap sy laat, en agtuur sal sy nog in die bed wees.
Hy tik dadelik Sharise se nommer op sy selfoon in, stoor dit onder “Restaurant” om seker te maak niemand vermoed enigiets oor haar nie – veral nie Suzette as sy sy foon in die hande kry nie. Moet hy Sharise bel of moet hy net daar opdaag?
Hy is opgewonde. Hy sien uit na hul tweede ontmoeting. Hierdie keer bly hy vir ontbyt, dis mos ’n restaurant? Hy móét haar sien, en hy het belowe om haar te bel. Nou kan hy direk na haar deurkom.
Hy skeur die briefie in fyn flentertjies, maak dit nat en vou dit in toiletpapier toe voor hy dit in die toilet afspoel. Hy gaan nie toelaat dat iemand moeilikheid maak tussen hom en Sharise nie, nie noudat hy ’n tweede kans kry en ouma Maria op haar manier soveel moeite doen nie. Die ou dier is aan sy kant! Of is sy dalk aan Sharise se kant? Wie het hierdie plan gemaak – sy of Sharise?
Hy haal sy selfoon uit. Sal hy haar nou bel of later?
Sy hande jeuk, en daar is nog tyd.
Hy druk “r” vir “restaurant” en die groen telefoontjie. Dit lui! Sy keel trek toe, sy hande sweet. Dit lui. Sy mond word droog, sy ore suis. En dit lui.
Antwoord, Sharise!
Hy begin al dink aan ’n boodskap, toe sy skielik praat, uitasem: “Soete Verleiding! Sharise hier.” Op die agtergrond hoor hy mense lag en gesels, eetgerei op borde raas, musiek speel.
“Sharise, dis ek.”
“Ekskuus, wie praat?”
“Jacques du Plessis.”
“Jacques wie?”
“Du Plessis.”
“Jammer, meneer, ek kan nie hoor nie, bel jy om ’n tafel te boek?”
Skielik tref die idee hom. “Ja, ek wil graag.”
“Vir wanneer?”
“Môreoggend vir ontbyt.”
“Tafel vir twee vir ontbyt, vir meneer Du Pisani. Hoe laat?”
Hy wil haar reghelp. Hy is nie Du Pisani nie! Maar miskien is dit hoe Kupido te werk gaan. Hy maak meisies blind en doof.
Du Pisani! Is dít wat sy gehoor het. Twee keer? Ken sy nie meer sy stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn nie? Hy het háár herken. Maar hy het darem geweet dis met haar wat hy praat. Sy vermoed niks.
“Meneer?”
“Seweuur, is dit te vroeg?”
“Glad nie, tensy u ’n spesiale bestelling het.”
Ek het, ek wil jou vir myself hê, jou heeldag tot my beskikking hê!
“Ek sal bestel wat beskikbaar is. Dankie.”
“Dankie, meneer Du Pisani.” En weg is sy.
Hy druk die rooi telefoontjie en sit ’n ruk met sy selfoon in sy hand. Sy afspraak by haar is vir seweuur en hy moet die melktert agtuur kry. Hy sal ouma Maria moet laat weet dat hy halfsewe by haar sal wees, hy sal vroeg by die huis uitsluip. Dit sal help as Suzette ’n vroeë roep het.
Vaagweg hoor hy sy ma se etensklokkie lui. Hy wonder of Sharise regtig dink hy is ’n meneer Du Pisani. Sy was vanoggend so ontsteld, maar vanmiddag klink sy of sy ten volle in beheer is. Niks verhoed hom om enige tyd van die dag by Soete Verleiding op te daag nie. Hoofsaak is, hy moet haar nie verskrik of ontstel nie, nie hierdie keer nie.
Hy was sy hande, druk sy selfoon in sy sak en haas hom na die eetkamer, waar sy ma en pa reeds aangesit het. Die opskepskottels is al op tafel en sy ma is besig om die sop in te skep. Dit lyk lekker en hy het na hierdie soort samesyn met sy ouers verlang, maar hy wens hy kon Sharise dophou wat skottels en borde kos aandra en glimlag en haar gaste verwelkom.
Sharise is besig. Die restaurant het vandag mense gelok soos min, en daar is ’n toerbus met Amerikaners wat Kaapse kos wil proe. Sy het pampoenbredie ontvries; sy en Myrna het vars kerrieboontjiebredie en waterblommetjiebredie gemaak. ’n Groot pot basmati gekook. Daar is kerrievis en smoorsnoek, ertjiesop en groentesop, pampoendol, ryspoeding en appeltert met room.
Bredies vries goed en Sharise hou by ’n keuse van drie. Sy maak altyd een of twee disse wat sy vroegoggend opsit. Die week se spyskaarte word fyn beplan. Dis harde werk, maar omdat sy haar spyskaart afwissel, is dit nooit vervelig vir haar en haar personeel nie, ook nie vir die gereelde gaste nie.
Die man wat gebel het om ’n tafel vir twee te bespreek, is seker een van daardie neurotiese vente wat hom verbeel ’n restaurant sal nie vroegoggend plek hê vir twee nie, nogtans gee hy nie om wat hy eet nie. Hy beter nie daardie tyd van die oggend wondere verwag nie.
Moet sê, as sy so oor die eetkamer kyk en af met die terrasse, is wonderwerke nie uitgesluit nie. Dis ’n wonderlike dag! Gelukkig reën dit nie, anders moes daar van die mense omdraai, want die eetkamer in die huis is nie ruim genoeg nie.
Sy loop na die afspraakboek en skryf onder ontbyt: Meneer Du Pisani, 2X.
Dan haas sy haar weer na die volgende tafel.