Satyn Omnibus 2. Helena Hugo
“Maar ek is laag in hulle oë. Ek is nie geskik vir Rosedal nie.”
“Jy ís. Ons lewe vandag in ’n samelewing waar almal gelyk is.”
“Nie op hierdie plaas nie.”
“Bog, ek bly doodgelukkig in my eie huis, en Lucy werk in die hoofhuis.”
“Lucy werk daar, maar sy is nie die huisvrou nie, dis die verskil.”
“Jy is nie Lucy nie. Jy het jou eie besigheid. Jou teekamer is beroemd, jy hoef jou vir niks te skaam nie.”
Sharise gee haar ouma se tee aan, skuif die suiker en melk vir haar nader. “Ek is al amper ’n jaar aan die gang en Jacques se ma was nog nooit daar nie. Sy sal ook nie kom nie, sy hou nie van my nie. Hulle sal my nooit aanvaar nie.”
“Sy is ’n koppige vrou, sy is baie onregverdig.”
“Laat haar wees. Ek is gelukkig, my droom het waar geword.”
Ouma Maria skud haar kop. “Ek ken jou, en jy is nie gelukkig nie. En dis net helfte van jou droom.”
Sharise ignoreer die laaste aanmerking en lig haar teekoppie. “Ons drink op Soete Verleiding. Daardie teekamer is my lewe.”
Ouma Maria gee bes en tel haar koppie op. “Nou ja, as jy vir die res van jou lewe wil tee aandra, dan drink ek saam met jou.”
Asof ouma Maria nie haar hele lewe deur vir ander mense aangedra het nie. Haar liewe ouma. Sy het vroeg vanoggend anysbeskuit gebak en dis besig om stadig in die oond te droog. Die anysreuk hang om hulle, saam met die gemmergeure van die tee – al die speserye wat beelde wek van die mooie Maleisië waar haar voorgeslagte vandaan kom. Sharise wil nog eendag daar toer, en sy sal.
“Los nou maar vir Jacques, Ouma.”
“Ons sal sien,” sê haar ouma en steek ’n stukkie soetlemoen in haar mond.
“Ouma gaan nie agteraf met hom praat nie!”
“Hoe sal ek by hom uitkom? Ek loop nie hoofhuis toe nie. Anders het ek lankal geloop en gaan kyk hoe lyk die besemstok, ek is nuuskierig.”
“Dis die ding, Ouma is nuuskierig!”
“Moenie sê jy is nie ook nie?”
Sharise sal nie sê nie. “Kan ons die onderwerp verander?”
“Dan vertel ek jou van my rumatiek en my jig. My voete pla, en ek bewe deesdae as ek konsentreer om te skryf.”
Die res van die middag word Sharise aldus getrakteer op ’n volledige beskrywing van oumenskwale.
3
“Hou dop vir ons afdraai,” sê Zack du Plessis toe hulle die gelykte net voor Rawsonville nader.
“Ja, Pa.” Jacques kan nie help om te glimlag nie.
Hy bestuur sy pa se nuutste BMW. Hy kan die stuurwiel met sy pinkie hanteer; die sitplek het sy liggaamsvorm aangeneem; om spoed te vermeerder raak sy tone skaars aan die petrolpedaal.
“Wil jy voel hoe maak sy?” het sy pa op die lughawe gevra en die sleutels vir hom gegee.
“Ek het ’n internasionale lisensie, maar is Pa seker?”
“Ja, ek hou nie van die verkeer nie. Dit was erg genoeg om tot hier te kom.”
“Dié dat Ma nie saamgekom het nie?”
“Jou ma is te besig om die gemeste kalf te slag en gaar te maak. Ry jy, dan ontspan ek.”
Hulle is pas oor ’n bruggie met reuse-eike aan weerskante, die takke hierdie tyd van die jaar taamlik blaarloos. Dis die presiese plek waar sy pa hom altyd waarsku om op die uitkyk te wees. Hy het dit so gereeld en soveel keer gedoen, dis asof die tyd wat Jacques weg was skielik krimp van jare na dae. Voel soos gister wat hy laas hier gery het, sy leerlinglisensie in sy sak, sy pa in die passasiersitplek.
“Ons sal vir jou jou eie karretjie moet kry.”
“Dankie, Pa.”
Sy eerste kar was ’n silwerwit Alfa Romeo met ’n afslaankap.
Hy is Stellenbosch toe daarmee. Dagstudent: sy eie woonstel en sy eie kredietkaart met ’n R20 000-limiet, maandeliks deur pa Zack afbetaal. Sy enigste probleme was parkeerplek op die kampus en BAgric-lesings wat bygewoon moes word.
En Sharise van Harte.
“Jacques, ons sal vir jou ’n karretjie moet kry.”
Sy pa het weer nie gehoor nie. Jacques verander sy storie.
“Ek sal sien, Pa, hang af ...”
“Hang af?”
“Hoe lank ek hierdie keer bly.”
Sy pa wag ’n hele ruk voor hy sê: “Moenie dat jou ma agterkom jy twyfel nie.”
“Goed, ons kyk eers.”
Aan sy pa se stemtoon kan Jacques aflei dat hy teleurgesteld is en hom met moeite beheer. Weer ’n lang stilte, maar die atmosfeer in die kar is neerdrukkend en die stilte byna hoorbaar. Hulle het vroeër ’n ligte rusie gehad oor brandewynversnyding, en sy pa staan by sy argument. Jacques het naderhand ingegee, met die voorbehoud dat sy pa nie moet dink hy is altyd reg nie.
Jacques is besig om ’n lang vervoerwa verby te steek. Die verkeer is druk, maar die pad is wyd genoeg met vier bane en hy bly in die vinnige baan.
“Hier is kameras,” waarsku sy pa.
Jacques antwoord nie daarop nie, maar verminder spoed en beweeg oor na links.
“Hoe voel sy?” vra sy pa toe hulle ’n ent verder is.
Seker die tiende keer dat hy dieselfde vraag vra.
“Lekker, Pa.”
“Jou ma verlang baie na jou, sy praat al heelweek van die feesmaal.”
“Ek sien uit daarna,” sê Jacques.
Hy en sy ma het mekaar darem ses maande gelede gesien toe sy in Parys by hom en Suzette aangesluit het. Toe kon hulle twee ’n paar keer by gourmet-restaurante gaan eet sonder Suzette, wat vas was met fotosessies.
“Sy het al haar Franse resepte uitgehaal,” vertel sy pa.
Jacques knik. Sy ma was ’n nooi Le Roux, ook ’n afstammeling van die Franse Hugenote, en sy is meer gesteld op haar Franse herkoms as sy pa, wie se stamvader die mediese dokter Jean Prieur was.
“Ma is ’n beter cordon bleu as die beste Franse kok.”
Sy pa klap op sy korporasie. “Dit kan jy weer sê. Jou ma ken die pad na ’n man se hart.” Hy gee ’n skelm laggie. “Maar ek het ’n vermoede daar is deesdae ander paaie.”
Jacques weet presies waarna sy pa verwys. Suzette se kombuisvaardighede is van nul en gener waarde. Dit begin en eindig by ’n plastieksak vol slaaiblare, ’n kombuisskêr om dit oop te sny en dan in ’n slaaibak uit te skud, saam met ’n bottel fonteinwater om dit mee af te sluk.
“Kook sy ooit vir jou?” wil sy pa weet.
“Nie Suzette nie, nee, Pa,” antwoord hy eerlik. “Soms kook ek vir haar.”
“Dan eet sy?”
“As dit eetbaar is, ja.”
Hy is nie van plan om Suzette se probleme met sy pa te bespreek nie.
Suzette het sjarme en sy weet hoe om mense te wen, veral mense wat niks van haar weet buiten dit wat sy bereid is om te openbaar nie. Sy pa kan nie Suzette se skoonheid miskyk nie, sy ma ook nie. Daarbenewens het Suzette ’n stewige stamboek wat met gemak herlei kan word tot by vader Adam van die lank verlore paradys. ’n Gesiene en skatryk Joodse familie, dis haar mense. Bankiers almal, in New York gestasioneer, met huise en woonstelle in Londen, Amsterdam, Seoel, Sjanghai, Doebai en Llandudno.