Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 6 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу

      “Jy sal jou woorde tel as jy met my praat. Ek is nie jou voetvel nie.”

      Sy vryf haar wang terwyl die blink trane stadig oor haar wange rol.

      “As jy dit dan so verkies, dan is jy van nou af my gevangene.”

      “Kurt, hoekom het jy my laat uitkom Suidwes toe? As ek dit net kan verstaan!”

      Kurt lag lelik. “Baie beslis nie om met jou te trou nie, my duifie! Ek het ander planne vir jou. Ek is nou éérs dankbaar dat ek jou betyds van Hermaans Potgieter gered het, voordat hy al my planne kon deurmekaarkrap. Ek het darem gedink dat jy beter sedelike norme handhaaf, maar ek was blykbaar verkeerd.”

      Hy draai weg en beduie oor sy skouer. “Andy, gee vir haar kos en dan maak jy haar hande en voete vas. Ons waag geen kanse met haar nie.”

      Die kos word dik in haar keel, maar sy wurg dit af. Sy moet sorg dat sy genoeg krag het as sy dit skielik nodig kry.

      Van uitputting raak sy later aan die slaap, maar die harde grond pynig haar moeë liggaam.

      Haar oë is dik en haar kop seer toe die warm Suidwes-son haar die volgende oggend wakker maak.

      Vir Kurt sien sy nog kans, maar vir Andy het sy ’n doodse vrees. Hy sal haar keel maklik afsny as iemand hom net aansê om dit te doen en die manier waarop hy haar met sy bleek, dooie oë aanstaar, gee haar koue rillings.

      Buiten Kurt en Andy is daar ses gewapende Herero’s.

      Hulle kruip die hele dag daar in die berge weg en teen die volgende aand vertrek hulle baie stil en behoedsaam. Een van die Herero’s is vooruit om eers die wêreld te gaan bespied.

      Elsa se hande is weer vasgemaak en ’n vuil lap is in haar mond gedruk. Sy voel of sy enige oomblik kan versmoor. Kurt het haar voor op sy perd getel. Hulle ry onverpoos dwarsdeur die stil, donker nag.

      Van uitputting knik Elsa se kop kort-kort. Sy wens dat dit liewer Hermaans is wat hier agter haar sit, Hermaans se arms wat om haar gaan, en met ’n teer uitdrukking in haar oë onthou sy hoe hy haar skielik gesoen het toe sy teen hom aangeleun het.

      O! Hermaans, asseblief, kom help my. Ek weet jy sal kom ... Maak tog net gou. Hierdie gebed en smeking bly die hele tyd in haar hart.

      Die son breek in die ooste met vaal strepe deur die donkerte en stoot die swart gordyn stadig opsy.

      Die perde is baie moeg en Elsa kry hulle uit haar hart jammer. Sy weet presies hoe dit voel om so verskriklik moeg te wees.

      Hulle saal die perde vir omtrent ’n uur af en laat hulle water suip. Maar Elsa kan aanvoel hoe onrustig die manne is. Hulle sit stil in ’n kring en bespied die wêreld.

      Sy sit in die middel van die kring. Die mans staar die veld in met hul rûe na haar toe. Sy onderdruk ’n histeriese giggel, want dit laat haar dink aan die vroteier-speletjie uit haar kinderdae.

      Kurt het haar net toegelaat om water te drink en ’n stukkie horingoue brood te eet voordat hulle weer haar mond wil toestop met die nare ou lap.

      “Asseblief, Kurt, dit is mos nie nodig om my mond toe te bind nie. Hier is tog niemand naby wat sal hoor as ek skree nie.”

      Hy ruk haar aan haar skouers. “Stil! Hier gee ek die bevele.”

      Elsa staar hom stil aan met die lap in haar mond. Is dit die man vir wie sy duisend myl ver gekom het om hom as haar bruidegom te neem? Kan dit dieselfde Kurt wees wat soveel liefde en toegeneentheid in haar hart kom wakker maak het?

      Nou eers verstaan sy hoe Hermaans met soveel oortuiging kon sê dat hy sommer ’n uitvaagsel is.

      Hulle praat gewoonlik in die vreemde Afrikataal wat sy nie verstaan nie, maar wat sy wel uit hul houding kan agterkom, is dat hulle vlug vir die Schutztruppe en ook vir Hermaans, dat hulle ’n bende is wat in die Waterberge skuil en dat dit is waarheen hulle nou op pad is.

      In die Waterberge is daar dwarsdeur die jaar water en baie weiding. Dit is ook baie moeilik vir die troepe om hulle daar te kom uithaal.

      Kurt is half ingedagte en praat met Andy Engels in plaas van die vreemde Afrikataal.

      “Potgieter ken hierdie wêreld soos die palm van sy hand. Hier sal ons met oop oë moet slaap. As ons net daardie Boesman van hom van die gras af kan maak – maar daardie mannetjie het twintig oë.”

      ’n Ysige gevoel pak Elsa beet en sy prewel woordeloos. Asseblief, Hermaans, kom tog gou. Ou Kao, ek het jou nou baie nodig. Kom tog, Kao!

      Die perde is nog ver van uitgerus, toe saal hulle al weer op. Baie versigtig beweeg hulle al nader aan die berge, wat stadiger donkerder van kleur word.

      Die moegheid maak Elsa heeltemal gevoelloos en sonder gedagtes staar sy stil voor haar uit. Die toue sny diep in die sagte vel in en die lap in haar mond verwurg haar byna.

      Sy sien hoe gespanne Kurt en Andy is. Hulle sit regop, fluisterend, ore gespits vir elke vreemde beweging of geluid in die veld. In haar hart kry sy lekker dat hulle ook ’n sweempie van vrees ken.

      Dit is al sterk skemer toe hulle eindelik by die Waterberge kom.

      Twee van die Herero’s bly agter om die nou ingang waardeur hulle ry te bewaak en die res van hulle beweeg verder die berge in.

      Elsa weet nie in watter rigting hulle ry nie. Hulle maak soveel kort draaitjies dat sy alle begrip van rigting verloor het.

      “Ons sal maar vannag hier slaap. Ons kan nie nog verder tot by die kamp nie.” Kurt hou sy perd in en die ander klim dankbaar van hul s’n af.

      Andy rek hom uit en antwoord in Engels: “Ja, wat! Hier is ons net so veilig, veral met die twee wagte by die ingang. As hulle waarskuwing kom, kan ons in elk geval baie ver weg wees voordat iemand ons hier kan betrap.”

      Weer kry Elsa net kans om te eet, maar darem ook hierdie keer om koffie te drink, voordat sy vasgemaak en die lap weer in haar mond gedruk word.

      Sy stut haar rug teen ’n rots en skuif later verder af tot sy op haar sy lê sodat sy ’n bietjie kan probeer slaap.

      Sy moes seker ingesluimer het, want sy skrik wakker van iets vreemds. Sy is gespanne en luister. Stadig dring dit tot haar deur dat dit die swaar, hortende asemhaling van ’n mens hier naby haar gesig is.

      Stadig maak sy haar oë oop en sien Andy se groot liggaam omtrent ’n halwe tree van haar af.

      Sy laat haar ooglede sak en probeer so rustig moontlik asemhaal, al wil haar hart by haar keel uitspring van vrees. Sy loer benoud tussen skrefies-ooglede deur. Andy skuif stadig nader en dan rus sy groot hande warm op haar heup en hy vryf dit liggies.

      Die lap in haar mond maak dat sy geen geluid kan uiter nie. Verskrik kyk sy vas in sy walglike gesig wat digby hare is, en wat sy in sy oë sien, maak haar magteloos en bewend van skrik.

      Sy probeer wild orent beur, maar haar vasgebinde hande bemoeilik die taak en Andy pen haar met gemak op die grond vas met sy groot hande wat strelend oor haar liggaam gaan.

      Met skrik besef sy dat hulle twee alleen by die dooie vuurtjie is. Kurt is nêrens te sien nie. Sy rol en wriemel en skop met haar vasgebinde voete na hom, maar hy lag net saggies en sy gesig met die drie dae oue baardstoppels kom vinnig nader aan hare.

      Vrees maak haar onverskrokke en sy kap na sy gesig met haar kop, maar hy ruk sy gesig vinnig weg en druk haar dan met sadistiese genot nog stywer vas.

      Alles word swart om haar, maar dan voel sy hoe hy van haar af weggeruk word en sy sien vir Kurt voor haar staan. Hy is kleiner as Andy, maar pluk hom met soveel geweld dat Andy dwarsoor die uitgebrande vuurtjie val.

      “Ek sal jou vermoor! Raak net weer aan haar! Jy weet wat die ooreenkoms was. Hatjikuma het gesê sy moet ongeskonde wees!”

      Elsa staar hom stil aan. Die vrees maak haar dom. Kurt se vreemde woorde wil nie tot haar verstand deurdring nie.

      Wat gaan hy met haar doen? In sy woede het hy vergeet om in die vreemde Afrikataal te praat.


Скачать книгу