Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie
vir haar wag vir aandete.
Haar hare blink sag in die lamplig en weerkaats blink strepe in die donkerbruin weelde. Sy het dit vanaand laat los hang en die wit rokkie met die lae halsie laat haar baie fyn en vroulik lyk. Haar voete is nog baie seer en teer en sy het twee sagte wit pantoffels met dun sole uit haar trommel gehaal. Gelukkig is die rokkie lank sodat niemand die skoene sommer sal opmerk nie.
Luitenant Schlage staan vinnig en militêr regop toe sy die vertrek inkom. Hermaans bly sit egter agteroor met sy glas bier en beweeg nie. Sy oë is stil en opsommend op haar. Hy wonder of die wit rok nou bedoel is om die luitenant te beïndruk.
Die heerlike ete is vir Elsa ’n koningsmaal na die dae lange transportkos en sy laat behoorlik reg daaraan geskied.
Na ete sak hulle weer in die gemakstoele van die ontspanningslokaal neer en die mans voer ’n onstuimige gesprek in Duits, waarvan Elsa baie min verstaan.
Sy sit en speel ingedagte met haar sakdoek. Hermaans hou haar onderlangs dop. Dit is darem jammer dat sy deurmekaar is met Kurt Strassen. Hy wil niks te doen hê met dié vent nie.
Luitenant Schlage beduie laggend iets aan Hermaans, staan op en stap na sy kantoor om iets te gaan haal.
“Meneer Potgieter, ek wil ook maar tot siens sê en gaan slaap.” Sy kyk op en haar oë hou syne gespanne gevange. “Ek ... ek kan nie dalk maar saam met jou ry tot op Tsumeb nie?”
Hermaans lag sarkasties. “Jy het dus nie reggekom by die luitenant nie?”
Sy skud verwese haar kop.
“Nou wat wil jy by jou oom gaan maak?”
“Hy sal my help om na Kurt te gaan soek.”
“Nee, ou Koos! Ek is jammer. Ek dink ek het my deel gedoen. Jy het jou aan my opgedwing en ek het jou ongedeerd hier kom aflaai. As jy ’n man was, sou ek jou net daar in die veld gelos het.”
’n Verlate glimlaggie plooi stadig om haar mond. “Ek wonder ... Ek dink jy hou jou sommer so kwaai – jy sal my nie regtig sommer in die veld los nie.”
“Jy dink so! Wel, laat ek jou waarsku, moet dit liewer nooit weer probeer nie. Ek sal jou net daar los en dan kan die leeus en die slange jou opvreet.”
Sy hoor die vreemde, teer klankie in sy stem en kyk verbaas na hom. Sy groot blou oë met die rookgrys skynsel is sag en vol terg.
Verleë voel sy die blos in haar wange opstoot. Sy dink aan die kere toe sy hom styf om die lyf vasgegryp en aan hom vasgeklou het toe die gevaar gedreig het.
Sy oë speel saggies oor haar rooi gesiggie en onbewus vee hy oor sy swart baard.
Dan glimlag hy stadig. “Ja, ou Koos, hierdie bebaarde aap is tot alles in staat, moet hom nooit uitdaag nie.”
“Meneer Potgieter, wat skuld ek jou vir die saamry hiernatoe?”
Hy skud sy kop stadig heen en weer, sy oë sag op die geboë hoof. “Niks! Jy het mos vir ons kos gekook. Nogal deksels lekker, moet ek sê!”
Meteens brand die trane agter haar ooglede. Sy wens sy kan aan iets dink om te sê. Hoekom is sy dan nou so hartseer, en dit oor een halfgebakte komplimentjie van hom!
“Kan ek nie maar saamry nie, dan kook ek weer vir jou?” Sy kyk smekend na hom.
Hermaans staan op en hou sy hand na haar toe uit.
“Kom ek stap saam met jou na jou kamer toe sodat jy kan gaan slaap. En die antwoord, ou Koos, is nee!”
Sy stap stil langs hom. Hy sien hoe sy nog effens hink.
“Hoe gaan dit met jou voete?”
Sy kyk verbaas na hom. Die donkerte in die gang maak dat sy nie sy gesig goed kan sien nie. Sy stem klink so sag en hees – so anders!
“Hulle is nog ’n bietjie seer.” Sy lig haar roksoom effens. “Ek het glad vanaand my pantoffeltjies aan ... Kyk!”
Hy glimlag skeefweg.
Sy kom voor haar deur tot stilstand en kyk in die skemerdonker na hom op.
“Wel, meneer ... Hermaans. Ek wil net vir jou sê baie, baie dankie. Dit was tog dierbaar van jou om my nie in die veld te los nie. En ook vir die kere wat jy ... jy my beskerm het. Die dag met die slang.”
Hermaans kan die blink van trane in die groot bruin oë sien. Alles binne-in hom kom tot stilstand. ’n Week, lam gevoel neem van hom besit. Hy weet nie wat om vir haar te sê nie. Een gedagte oorheers sy hele denke. Sy sal weer sag en warm wees as hy haar in sy arms toevou – haar lippe sal sag onder syne bewe ...
Asof uit ’n droom skrik hy tot die hede terug toe sy met haar hande sag teen sy bors druk, haar liggies op haar tone strek en hom sag op sy lippe soen.
Hy het al sy wilskrag nodig om haar nie styf in sy arms te trek nie. Maar hy onthou die vorige keer toe hy dit gedoen het, en die harde klap wat sy hom gegee het. Die skelwoorde – jou bebaarde aap – klink nog helder in sy ore. Hy staan doodstil, styf en gespanne.
Elsa staan verleë terug.
“Voorspoedige reis! En jy moet versigtig wees ... Die luitenant sê daar is gewapende bendes.”
’n Verlate snikkie ruk los, sy draai vinnig die deur oop en stoot dit sag in die verbaasde Hermaans se gesig toe.
Lank sit sy stil op haar bed. Sy haal later haar Bybeltjie uit en met gevoel lees sy die bekende woorde. Asof die rus en vrede daarvan stadig in haar siel inkruip, raak sy later heeltemal kalm.
Een woord slaan egter soos ’n refrein vas. Volharding! Volharding!
’n Fyn glimlaggie kom stadig oor haar gesig. Dan trek sy die wit rokkie uit en trek weer haar kakieklere aan. Die wit pantoffeltjies het dun sooltjies, hulle sal lekker sag loop en sy hou hulle dus maar aan.
Versigtig loer sy by haar venster uit. Sy sien vir Simon geduldig onder die boom by Hermaans se perd sit en wag. By hom sal sy nie verbykom nie.
Sy pak haar trommeltjie in en stap sluip-sluip na buite. Ongeërg gaan staan sy by Simon.
“Ag, Simon, ek het besluit om maar die klein trommeltjie ook saam met die wa te laat gaan. Sal jy dit nie gou vir my kom haal en in die wa gaan sit nie?”
“Ja, seker, juffrou.”
Sy stap voor hom uit en gee vir hom die trommel terwyl sy woordeloos bid dat die luitenant of Hermaans hom nie moet sien nie.
Hy verdwyn egter deur die hek sonder dat iemand dit opmerk. Sy wag ’n minuut of twee, toe gryp sy haar sak en sluip teen die muur langs.
Die hekwag behoort nie te weet dat sy ’n meisie is nie. Hy was nog nie vandag in die kaserne nie. Vriendelik groet sy hom met ’n wuif van die hand en beduie dat sy nie Duits verstaan nie. Hy maak glimlaggend vir haar die hek oop en stoot weer die swaar balk agter haar toe.
Verskuil agter ’n groot boom staan sy stil langs die muur van die fort totdat sy Simon sien terugkom. Sy draf so onopsigtelik moontlik na haar wa.
Die kiste en trommels skuif sy só dat sy maklik verskuil onder die bed kan lê. Sy gooi die bedjie se matrassie onder die bed en trek met groot gesukkel die swaar trommels en kiste voor die bedjie.
Sy sorg dat water, droëperskes en beskuit byderhand is.
Eers toe sy laatnag perdepote en Hermaans se vrolike Duitse deuntjie hoor, kruip sy in haar skuilplek in.
Dit is net een dag se trek van Tsoabis tot by Otjimbingwe, het sy vandag uit die manne se praat verstaan. Sy sal môre heeldag moet wegkruip totdat hulle anderkant Otjimbingwe is, anders laai Hermaans haar daar af.
Al die spanning van die afgelope paar uur het haar verlaat en sy voel lig en vry. Sy wonder of dit is omdat sy nou ’n trappie nader aan Kurt is ... op pad na hom toe. Maar dit is asof sy nie meer sy gesig so helder voor haar kan oproep nie, want ’n groot bebaarde gesig waaruit twee kwaai blougrys oë vir haar kyk, skuif kort-kort voor haar bekende