Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie
kampe verdwyn.
Die skemerte daal sag oor die stil veld. Die gekwetter van die voëltjies het ook al stil geword en ’n rustigheid hang oor die hele omgewing.
Elsa wens dat hulle nog so lekker kon gesels soos toe hy gedink het dat sy Koos was.
“Meneer Potgieter, ek is regtig jammer oor Kao. Simon sê hy is nog nie terug nie.”
“Ek het jou mos gesê hy sal nie terugkom nie.”
“Meneer Potgieter, ek het netnou gesien dat jy vir Simon ’n geweer gee. Is julle bang vir ’n aanval?”
Hy glimlag skeefweg en Elsa kan die sarkasme in sy oë lees.
“Nee ... dit is maar net ’n leeu wat hier rondsluip. Hulle sal vannag moet wag staan by die osse.”
“Maar ek ... Kan ek nie ook wagstaan nie?”
Hermaans gooi sy kop agteroor en lag hard. “Jy! Ag! Moet nou net nie dat ek my doodlag nie!”
“Ek kan skiet!” Vererg staan sy op en stap na die vuur om in die pot te roer.
“Ek glo jy kan skiet ... seker spekskiet!”
“Meneer Potgieter ... Jy sou my nooit saamgebring het as jy geweet het ek is ’n vrou nie.”
“Nee, ek sou nie!”
“Wel, sien, jy was my enigste hoop. Een van die dae begin die reënmaande en dan wil die transportryers nie ry nie. Ek sou niemand kon kry om my saam te neem nie en ek moes dringend in die binneland kom.”
“Om na Kurt Strassen te soek?”
“Ja, om na Kurt te soek. Ek kan nie glo dat hy gedros het nie. As hy dood is, moes hulle tog al sy lyk iewers gekry het en ...”
Twee blink trane rol stadig oor haar wange en sy snuif onvroulik voordat sy haar sakdoek in die hande kan kry.
Hermaans se oë vernou en hy beskou haar aandagtig. “En as jy nie vir Kurt Strassen kry nie, wat dan?”
“Ek móét hom net kry. Ek het nêrens om heen te gaan nie. My ouers is albei dood en ...”
“Ons is oor twee dae op Otjimbingwe, dan kan jy daar agterbly. Jy is dan in die hartjie van Suidwes. Ek hoop regtig dat jy iemand sal kry om jou te help soek na Kurt Strassen.”
Hy sê dit skertsend en Elsa kyk vinnig op. “Asseblief, meneer Potgieter, moenie daarvan ’n grap maak nie. Verstaan jy dan nie, ek is verloof aan hom. Ons gaan trou en ek is lief vir hom.”
“Wel ... as ek jou alles vertel wat ek van Kurt Strassen weet, sal jy my tog nie glo nie ... so!”
Hy kap sy pyp teen sy skoen se hak uit en stap na sy wa. Die nag het hulle stil-stil bekruip en Elsa loer skrikkerig in die diep donkerte in, gedagtig aan die leeu wat hier rondsluip. Sy staan so na aan die lig van die vuur as wat sy kan. Hermaans kom by haar verby met sy geweer oor sy skouer en stap in die rigting van die Herero’s se kamp.
Elsa staan doodstil, ingestel op enige geluid. Haar oë fynkam die hele omgewing. Sy het nie eens ’n geweer by haar nie.
Sy maan haarself tot nugter denke en roer weer ywerig in die pot. Sodra Hermaans terugkom, kan hulle eet.
Sy skrik haar lam toe hy skielik agter haar beweeg. Verskrik vlieg sy om, haar hand op haar mond om die gil te demp. Hermaans lag en sit sy geweer teen die boom neer. “Ek dag jy is bereid om wag te staan.”
“Ek het nie eens ’n geweer by my nie, en ek weet darem ’n leeu is nie kinderspeletjies nie.”
“Niks in Suidwes is kinderspeletjies nie. Veral nie vir verveelde vroumense nie.”
Sy skep vir hom kos in en gee dit aan sonder om hom te antwoord. Haar stoel skuif sy tussen Hermaans en die vuur in voordat sy met haar bord kos gaan sit om te eet. Sy sien die vonkel in sy oë, maar dit kan haar min skeel.
In stilte eet hulle klaar. Sy staan op om vir hom koffie in te gooi, toe ’n rumoer verder af hoorbaar word. Kort daarna klink ’n geweerskoot op.
Hermaans spring op en gryp sy geweer. Maar Elsa is ook reg en storm agter hom aan. Sy gaan liewer haar dood tegemoet saam met hom as om alleen by die vuur daarvoor te sit en wag.
Sy lig haar lang rok effentjies en hardloop agter hom aan.
Hy kom skielik tot stilstand en sy hardloop in hom vas. “Is jy dan simpel! Gaan dadelik terug!”
“Ek is bang.”
“Jy is baie veiliger by die vuur as hier.”
Sy steur haar nie aan hom nie en sluip saggies agter hom aan, al moet sy twee treë gee vir een van syne.
Hy steur hom nie verder aan haar nie. Sy hele liggaam is snaarstyf gespan.
Hulle kom tussen die bome uit. Die osse is in ’n bondel in die oop rivierloop gejaag en doringtakke is oral rondom hulle getrek.
Elsa sien hoe hy sy geweer stadig na sy skouer bring en aanlê. Sy staan direk agter hom en kan nie sien waarna hy mik nie. Maar nou hoor sy ook die sagte gegrom van die leeu. Dit klink half kermend en sy neem aan dat hy gekwes is.
In die helder maanlig sien sy Hermaans se vinger wit saamtrek om die sneller.
Sy loer by hom verby in die rigting waarin hy korrel. Die leeu lê omtrent twintig tree van hulle af en hy is swaar gekwes, want hy probeer beweeg maar sy agterlyf sleep agter hom aan.
Vinnig druk sy haar hande op haar ore toe sy sy vinger sien saamtrek. ’n Oorverdowende knal klink hier by haar op en dring deur haar hande tot diep binne-in haar kop.
Die leeu lig hom op en met bonatuurlike inspanning sleep-spring hy direk in hulle rigting.
Elsa gil hoog en lank en sien nie eens hoe Hermaans oorhaal om weer te skiet nie. Die tweede skoot klap en haar oë bly gehipnotiseer op die leeu, wat enkele treë van hulle af inmekaarstort en soos ’n ou sak stadig opvou en stil bly lê. Sy hoor haar eie stem van ver af histeries snik.
Hermaans kyk verbaas na die huilende mensie. Die skrik op die bleek gesiggie laat iets teers in sy harde, verstokte hart opstoot.
Elsa klou vreesbevange aan Hermaans vas sonder dat sy daarvan bewus is. Stadig laat gly hy die geweer uit sy hande en sit sy arms beskermend om haar.
“Toe maar, ou Koos! Ek sal darem nie dat die leeu jou regtig opvreet nie.”
Die histerie oormeester haar en sy huil net harder. Hermaans staan lomp met die sagte, vroulike figuurtjie in sy arms en weet nie wat om te doen sodat sy kan ophou huil nie.
Sy groot hande vryf lomp oor haar skouers en Elsa druk haar gesig vas teen sy bors. Hy is so groot en manlik en hy ruik na tabak en veld – soos die droë gras en die skoon fonteinwater.
Die warm, begeerlike vrou in sy arms maak al die manlike instinkte in hom wakker en hy vergeet dat hy vir haar kwaad is. Hy vergeet dat sy hom bedrieg het en dat daar dalk nog ’n yslike klomp probleme op hom wag.
Sy arms span om haar en hy trek haar baie styf teen hom vas. Hy lig haar gesig, met die trane nog nat op haar wange, met sy groot vinger op, en warm en hongerig kom sy lippe op hare neer.
Verskrik staan Elsa vir etlike oomblikke doodstil voordat die werklikheid tot haar deurdring. Sy sukkel om uit sy greep los te kom, maar hy het alle besef van die hede verloor en soen haar wild en met ongetemde hartstog.
Met bomenslike inspanning ruk sy haar los en klap hom hard teen die wang. “Los my! Jou ... jou bebaarde aap! Wat dink jy doen jy? Kurt sal jou vermoor!”
Hermaans staan stil voor haar. Dat hy nou so beheer oor homself kon verloor. Die noem van Kurt se naam slaan hom soos ’n hou tussen die oë.
“Jy was histeries.”
“Ek ... ek was glad nie, en dit is nie nodig dat jy dit moes doen nie.” Sy snik onbeheers en Hermaans mik na haar om haar weer in sy arms te neem. Sy gee egter vinnig pad, struikel oor ’n klip