Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie
in haar rigting kyk.
Vinnig trek sy weer die kakiebroek en -hemp aan en sit die hoedjie op haar kop.
Hermaans staan met ’n beker koffie, wat hy self gemaak het, diep ingedagte by die vuur, sy gesig op ’n onvergenoegde plooi getrek.
“Ek ... ek is baie jammer. Het ... het ek nou iets verkeerd gedoen?”
Die woede blits wit uit Hermaans se oë. “Nee, juffrou, jy het niks verkeerd gedoen nie.” Die sarkasme drup uit elke woord. “Jy het net my spoorsnyer weggejaag, dit is maar al! En dit is die gevaarlikste deel van die land waarin ons nou is. Ek sal al vier my waens verwed dat Kao nie vanaand sal terugkom na hierdie kamp toe nie.”
“Maar hoekom nie? Ek verstaan nie.”
“Kao stap soggens ver voor ons uit die veld in. Hy kan ’n vyand uitruik en indien daar gevaar is, kom waarsku hy ons vroegtydig. Ons het ons veiligheid net aan hom te danke.”
“Maar wat het hy teen ’n vrou?”
“Ek glo nie hy het iets teen ’n vrou as sodanig nie, maar teen die feit dat jy eers ’n man was en nou ’n vrou. Ek dink ook nie hy het jou herken nie. Kao weet dat hier nie laas nag ’n vrou aangekom het nie. Vir hom is jy een van dié gode wat skielik hier langs ’n mens se vuur staan.”
“Ag! Meneer Potgieter, ek is vreeslik jammer. Kan ek nie aan hom verduidelik nie?”
“Ek het probeer, maar hy glo my nie. Ek het gedink dat jy eers vandag soos gewoonlik moes aangaan en dan later net die hoed afhaal, voor die Herero’s, sodat hulle kan sien dit is jy. Nou het jy alles kom opduiwel!” Elsa sien hoe hy hom inhou om nie ’n rits vloekwoorde na haar te slinger nie.
Hermaans draai vinnig om. “Ons sal dit vandag maar met die ander moet probeer. Ek hoop nie hulle is ook so bekonkeld soos Kao nie.”
“Maar Kao het seker nou al die storie aan hulle vertel. Kan ons nie daar gaan praat nie?”
“Hulle sal nie sommer ’n Boesman op hoorsê glo nie. Hulle is ’n vreeslike trotse nasie.” Hermaans staan voor haar, sy groot vinger onder haar neus. “Jy moet liewer bid dat nie een van hulle vandag saam met Kao dros nie. Ek sal jou net hier los, alleen! Jy sal ook van nou af een van hulle se werk moet doen sodat Simon in Kao se plek kan verken.”
“Maar wie sê Kao sal nie terugkom nie?”
“Ag, man! Loop tog net onder my oë uit voordat ek jou te lyf gaan. Ek sê so! Dink jy ek ken nie die Boesman-nasie nie?” Hermaans draai woedend om en stap met lang treë na sy wa toe.
“Die ontbyt is klaar, meneer Potgieter.”
“Eet dit self op! Ek sal stik as ek vanoggend iets moet eet waaraan jy gevat het.”
Elsa draai stil om en gaan eet maar liewer iets. Sy weet nie wat alles vandag op haar wag nie.
“Koos!” Hermaans bulder van ver af en Elsa los alles en hardloop daarheen.
“Ek stuur vir Simon uit om spoor te sny, jy moet sy osse lei. Ek kan nie vandag op Kao staatmaak nie. Al waarop ek nog hoop, is dat hy ons vir ’n paar dae uit die bosse sal bespied om seker te maak dat alles hier veilig is. Intussen moet ons sonder hom klaarkom.”
“Ja, oom, as oom net vir my sal wys wat ek moet doen!”
“Vra een van die Herero’s en sorg dat die kampgoed opgelaai is.”
Elsa spring weer weg en gaan skep eers vir Hermaans van die pap uit en gooi vir hom ’n beker koffie in wat sy op die bankie van die voorste ossewa neersit.
Vinnig maak sy die pot en ketel skoon en haak dit self agter aan sy wa. Sy sorg dat die vuur heeltemal dood is en vou die twee kampstoeltjies op.
Sy stap na Filemon en vra hom watter wa Simon s’n is en wat sy moet doen, want sy is vanoggend die touleier. Filemon beduie breedvoerig, omdat die jong meneer dan so ’n eenvoudige ding nie weet nie.
Die son brand geniepsig tussen haar blaaie. Sy is dankbaar dat sy nie vanoggend nodig het om die stywe band ook nog om haar bors te hê nie.
Elsa se bene pyn en klop. Hulle het seker al tien myl gestap. As sy net vir ’n halfuur kon sit!
Sy vee die sweet van haar voorkop af. As die son net so ’n bietjie minder wil skroei, sal sy dit nog kan hou tot vanaand. Maar dit brand met sataniese genot op hulle neer en staan behoorlik stil op die wit seile van die vier waens wat stadig deur die verlate veld kruip.
Soos sy uit Hermaans se praat verstaan, behoort hulle oor drie dae op Otjimbingwe te wees. Die veld het intussen sedert hulle uit Swakopmund weg is baie ruier geword.
Die plantegroei is nog mooi vir hierdie tyd van die jaar. Die gras is geel, maar staan hoog en ruig. Die bome maak groen kolle op die geel vlaktes en gooi groot skaduwees oor die wuiwende gras. Kort-kort sien hulle troppe wild in die veld en Elsa kan haar verkyk aan die sierlikheid van die aristokratiese diere se bewegings.
Sy kyk om haar rond en laat haar gedagtes ver wegdwaal sodat sy nie aan die pyn in haar bene of die gloed op haar teer vel dink nie.
In haar hart verwens sy die bygelowige Kao. Sy kyk na Hermaans wat heerlik agteroor op sy wa sit. Sy is oortuig daarvan dat een van die Herero’s hierdie werk kan doen en dat Hermaans haar net wil straf. Hy was darem heeloggend op sy perd en het eers so pas op die wa geklim, maar dit verander niks aan haar verontwaardiging nie.
Die vaal stofpad strek eindeloos voor haar uit. Die voorste wa trek onder ’n groot koelteboom in en Filemon beduie vir haar dat sy langs sy wa moet intrek.
“Ons rus altyd so ’n bietjie hier. Ons span nie uit nie, want ons gaan vanmiddag vroeg uitspan.”
Die ander twee waens trek onder ’n ander boom in en Filemon gooi solank ’n paar takkies op mekaar om ’n vuurtjie aan te steek.
Elsa sak moeg en dankbaar in die skaduwee van die wa neer net toe Hermaans om die wa kom. Hy gryns in haar rigting en Elsa kan die lekkerkry in sy houding en op sy gesig sien.
Hy kan maklik lag. Hy het heelmôre op sy perd gery, so ’n agterbakse barbaar!
Die Herero’s is almal om die vuurtjie en hulle lag en gesels asof hulle vandag nog nie twee tree gestap het nie. Elsa staar hulle bewonderend aan.
Sy staan egter stram op en stap na Hermaans se wa om die ketel en pot te gaan haal toe sy sien dat hy nie van plan is om dit te doen nie.
“Bring net die ketel, ons maak net koffie en eet beskuit.”
Sy stem is hard en alles behalwe vriendelik.
Vinnig tap sy van die louwarm water uit die balie en stap na die vuur.
Hermaans trek vinnig haar hoed van haar kop af toe sy by hom verbykom en sê binnensmonds: “Maak jou hare los dat hulle kan sien.”
Elsa gehoorsaam gedwee en haal die knippie bo-op haar kop uit sodat die vlegsel agter haar rug afhang.
Die Herero’s merk dit nie dadelik op nie, want sy staan met haar gesig na hulle toe.
Hermaans hou hulle onderlangs dop. Filemon kyk verbaas na die dik vlegsel agter Elsa se rug, beduie daarna en sê iets aan die ander Herero’s.
Hulle vra iets vir Hermaans en hy antwoord hulle in hul eie taal. Hy kom staan langs haar, tel die vlegsel op en hou dit in sy hand terwyl hy laggend iets aan hulle sê.
Elsa staar hom onbegrypend aan en kyk dan na die Herero’s se verbaasde gesigte wat stadig in breë glimlagte vertrek. Hulle lag en beduie en Elsa kan sien dat hulle heeltemal tevrede is met wat Hermaans verduidelik het. Aan hulle verbaasde gesigte kan sy ook sien dat Kao nie met hulle gepraat het vanoggend nie, en sy hoop vuriglik dat hy vanaand weer by die kamp sal opdaag.
“Wat het jy nou vir hulle gesê?”
“Ek dink nie jy sal baie daarvan hou as jy weet nie, so kom ons laat dit liewer daar.”
Die koffiewater kook. Elsa maak gou koffie