Sarah du Pisanie Omnibus 6. Sarah du Pisanie
eerste paar dae maar weg te steek, dit sal Hermaans net onnodig agterdogtig maak. Hy moet onder geen omstandighede agterkom dat sy ’n vrou is voordat hulle minstens twee dae weg is van Swakopmund af nie.
Al Elsa se bagasie is in die donkerte van die nag agter op die wa gelaai. Herr Schultz was bekommerd dat die ander onraad sou merk. ’n Seun het nie soveel bagasie nie.
Gelukkig was daar oorgenoeg plek en Elsa kon dus heelwat kos ook inlaai. Sy sal maar langs die pad weer koop. Hulle behoort darem by handelsposte verby te gaan.
Die osse is klaar ingespan en Elsa sit stil en gespanne agter in die wa op die bedjie. Sy sal haar maar eers soveel moontlik in die wa verskans.
Hermaans se groot liggaam verdonker die opening van die watent toe hy sy bebaarde gesig vorentoe buig en inloer. “O! Jy is darem hier. Ek dag jy het jou verslaap.”
Gelukkig is dit donker en kan hy nie baie goed sien nie. Elsa sit verskrik regop op die bedjie, seker daarvan dat hy haar hart kan hoor klop.
“Môre, jong! Wat is jou naam?”
“Hmmm. Kosie, oom!” Elsa vee die klammigheid van haar hande teen haar kakiebroek af en kyk hom reguit aan. “Kosie Fourie, oom.”
Hermaans se oë trek op skrefies. Dit is regtig ’n vreeslik verfynde ou seuntjie. Dan praat hy nog met so ’n pieperige, hees stemmetjie ook. Hy lig sy wenkbrou en sonder om ’n woord verder met haar te praat, stap hy al bulderend na die voorste wa. Die konvooi kom in beweging.
Elsa sak van skone senuweeagtigheid agteroor op die bedjie. Die geskommel van die wa maak haar egter geleidelik rustiger, sodat sy selfs ’n bietjie insluimer.
Die mis is lankal weg toe sy wakker word. Die hitte begin ondraaglik word.
’n Vlieg zoem lui in die watent rond en gaan sit met klam, taai pootjies op Elsa se arm. Sy waai lusteloos na die rusverstoorder en sluit dan weer haar oë.
Sy wens sy kan uitklim en ’n entjie langs die wa stap, maar dit sal nie wenslik wees nie. Hulle is nog te naby aan Swakopmund. Hermaans sal haar sommer in die waspore terugjaag as hy uitvind.
Sy gaan sit agter by die watent se opening, maar die warm luggie wat daar inwaai, bring nie veel verligting nie.
Dit is warm en benoud en die sweet loop in dun straaltjies onder haar hoed uit. Sy het ’n linneband styf om haar bors gebind om die vroulike rondings minder opsigtelik te maak. Nou voel dit of die stywe band elke druppel krag stadig uit haar druk en haar hygend en kortasem laat.
Sy hoor Hermaans se harde stem iets skree en loer versigtig agter by die tent uit.
Aan die linkerkant is die wêreld kaal en bar en net die rooibruin sand van die duine gee kleur aan die eentonige toneel. Elsa loer versigtig verder uit. Sy is in die heel laaste wa en kan ’n bietjie meer vrymoedig raak.
Aan die regterkant staan hier en daar ’n groot boom wat heerlike koeltekolle maak. Elsa leun nog verder uit om die omgewing beter te bekyk. Toe die ossewa oor ’n bultjie stamp, sien sy die droë loop van ’n rivier. Dit moet seker die Swakoprivier wees waarvan hulle gepraat het. Hulle trek dus al met die rivier langs die binneland in.
Sy kyk gefassineerd na die droë rivierbedding en wonder in haar enigheid waar die diere water suip.
Herr Schultz het haar gisteraand vertel dat die transportryers nie graag in die reëntyd trek nie. Hulle val maklik vas en word soms dae lank deur die riviere voorgekeer. Die reëntyd in die binneland begin om en by Oktober, November en hou aan tot Februarie en soms selfs tot Maart.
Elsa weet nie wat op die oomblik die sterkste aan haar knaag nie – die honger of die hitte. Sy is rasend honger. Hulle trek al heeldag en die son is besig om stadig na die weste af te sak.
Die ossewaens kom na baie gehô! en geha! eindelik tot stilstand. Sy weet nie wat nou van haar verwag word nie en sit maar stil agter in die wa.
Dit is bedrywig en rumoerig buite en Elsa neem aan dat hulle uitspan vir die nag. Sy wens dit was al ’n bietjie later en donkerder.
Hermaans se bonkige figuur verskyn skielik in die opening. “Komaan, kêrel! Moenie vir my sê jy lê nog die hele dag en slaap nie. Vrek jy nie van die hitte hier in die watent nie? Kom, klim uit, ons span uit vir die nag.”
Hermaans se stem is vriendelik en plaerig. Die verfynde seunskind amuseer hom.
Elsa klim stram uit en rek haar arms en bene behaaglik uit toe sy hom om die wa sien verdwyn.
Sy stap stil aan na waar Hermaans besig is om hout op ’n hoop te gooi sodat hy kan vuurmaak.
Die groot gat syferwater trek Elsa se aandag en sy sien hoe die Herero’s die osse daarheen lei.
Sy wens vuriglik dat sy haar arms en gesig in die koel water kan was. Sy voel so taai en sweterig, en die water blink so aanloklik. Met ’n ligte suggie dink sy aan ’n skuimende bad waarin jy kan wegsak tot onder jou ken.
“Koos!”
Elsa staar stil na die watergat en kyk nie eens om nie.
’n Klippie tref haar hard op die sitvlak en sy spring verskrik om.
Hermaans lag hard en beduie dat sy moet nader kom. “Hoe lyk dit vir my jy is nog doof ook?”
Elsa kyk vinnig weg sodat hy nie die skrik in haar oë moet sien nie. Sy het skoon vergeet dat haar naam veronderstel is om Kosie te wees.
Sy kom gedienstig nader. “Ja, oom ... Kan ek help?”
“Kan jy vuurmaak?”
“Ja, oom.”
Elsa is ineens dankbaar oor haar armoedige kinderjare, want dit het sy darem al baie gedoen. Hulle was male sonder tal saam met haar pa na die omliggende dorpe en plase waar hy moes gaan preek en het dikwels sommer in die veld geslaap.
Sy pak fyn grassies en dun houtjies onder voordat sy van die groter stompe kruis en dwars oor die fyngoed pak. Verleë staan sy op. Sy het nooit daaraan gedink om vuurhoutjies ook in haar sak te steek nie.
“Hmmm ... oom ... Kan ek net gou oom se vuurhoutjies leen?”
“O! Jy rook nie skelm nie? Ek moet sê, dis die eerste klong van jou ouderdom wat ek sien wat nie skelm rook nie.” Hermaans buk by die vuur en steek die grassies aan die brand. Die vuurtonge lek vrolik aan die droë gras en sprei dan gulsig na die fyn stokkies.
Elsa kry haar ketel in die wa en tap dit vol water uit die balie wat agter aan die wa vasgemaak is.
Hermaans lag bulderend toe sy met haar blink nuwe keteltjie daar aankom.
“Ag nee, Koos, los maar tog die popspelery vir die meisiekinders. Gaan kyk, agter aan my wa hang daar ’n ordentlike ketel.”
Elsa stap vinnig na die wa toe. Sy veronderstel dit moet die voorste een wees. ’n Ketel en ’n pot met swartgebrande bome hang langs mekaar agter aan die wa.
Sy haak hulle af en breek haar nael in die proses. Sy het haar naels nogal mooi kort geknip, maar haar hande lyk skielik vir haar baie wit en fyntjies. Sy sorg dat daar van die swart roet van die ketel aan haar hande kom en vryf dit ongemerk in sodat Hermaans nie die witheid daarvan moet opmerk nie.
Sy skuif die driepoot oor die vuur en hang die ketel daaraan op.
Hermaans is nêrens te sien nie. Elsa loer vinnig om haar rond en kyk waarheen sy kan verdwyn, want sy was vandag nog nooit van daardie wa af nie. Sy sien die Herero’s almal in die loop van die rivier by die water en Hermaans het hier na haar linkerkant verdwyn.
Vinnig stap sy in die teenoorgestelde rigting.
Hermaans is al by die vuur, besig om ’n ribbetjie te sout, toe sy terugkom.
“Ek kan dit vir oom doen, as oom wil?”
Hy glimlag dankbaar en hou die vleis na haar uit. “Kan jy dan kos maak, Koos?”
“Ja, oom.”
“Het jy ander broers?”