Ettie Bierman Keur 8. Ettie Bierman
hy aan ons, Hanna, die diere en die plaaslewe begin gewoond raak, kan jy jou geleidelik onttrek. Jy kan een van my motors gebruik om op Mariental gaan inkopies doen, jou hare laat doen, gaan eet of by vriende op die buurplaas kuier. Ek weet nie of jy tennis speel, swem of perdry nie. Jy sal wel iets vind om jou besig te hou. Stadigaan sal Albie daaraan gewoond raak dat jy nie altyd daar is nie en sal hy ophou om oor jou te huil.”
“Hoe lank het jy gereken sal ek op Schloss Hoffnung moet bly?”
Rothea se vraag is ’n teken van oorgawe, maar Dieter gee geen teken dat hy dit as sodanig herken nie. “Dis vir Albie om te besluit. Ons sal sien hoe dinge ontwikkel. Wanneer kan jy gereed wees om te vertrek?”
Die vraag betrap Rothea onverhoeds. “Ek weet nie. Ek moet inpak, my klere regkry ...”
“Twee weke?” stel Dieter voor.
“Drie,” vra Rothea. “Albie sal ook nuwe klere nodig hê waaraan ek miskien moet werk en verstel, en ek het net saans tyd.”
“Wat het Albie nodig?”
“Alles is gedaan of te klein vir hom. Broekies, hempies, skoene ...”
“Dis geen probleem nie. Ek sal met Helmut Krüger reël om die nodige fondse te voorsien. Koop wat nodig is.”
“Ek kan bekostig om ...”
“Om ’n hele winkel leeg te koop,” val Dieter haar in die rede. “Ek weet dit en ek sê dankie dat jy bereid is om al jou spaargeld te gebruik. Maar van nou af is Albie se behoeftes my verantwoordelikheid. Jy het my prokureur se telefoonnommer en adres. Laat hom weet hoeveel geld jy nodig het, of koop op rekening. Ek sal betaal.”
Rothea wil ’n haastige antwoord oor sy onbeperkte skatte kwytraak, maar al die stoom, argumente en haar verdediging het verkrummel. Haar aggressiwiteit en die beskermende muur wat sy tussen haar en Albie se familie opgebou het, het vermurwe en sy voel alleen en weerloos.
“Soos jy verkies,” antwoord sy moeg.
Dieter lyk verbaas. “Instemming en oorgawe, sonder teëstribbeling? Ek kan dit nie glo nie! Ek en jy sal dalk uiteindelik oor die weg kan kom, Dorothea Beukes. Helmut sal jou help met enige probleme wat mag voorkom. Bel hom net en hy sal tot jou beskikking wees wat geld betref, of ander probleme.”
Jou prokureur, maar nie jý nie, dink Rothea. Dieter Albrecht Richter het waarskynlik belangriker sake op sy agenda as om met ’n kind en sy onwillige tante opgesaal te word. Jy teken liewer ’n tjek as om self met probleme opgeskeep te sit.
“Jy sou nie agter die voetligte ’n reuse-sukses gewees het nie, Mädchen,” terg Dieter. “Jou gedagtes lees soos ’n oop boek. Jammer, maar ja, ek laai alles op Helmut af. Ek sal ongelukkig nie die volgende twee weke hier kan wees nie. Ek moet Frankfurt toe gaan in verband met sake, maar ek sal probeer om op Hoffnung te wees wanneer julle aankom. Kan jy ’n motor bestuur?”
“Oor sekere bereikinge in ’n mens se lewe is jy dankbaar. Ek het my matrieksertifikaat, ek is aangeneem in die kerk en ek het my rybewys. Dankie, meneer Richter, maar ek kan gelukkig motor bestuur.”
“Gaaf. Dan sal dit nie vir Helmut nodig wees om julle op Upington te kom haal nie. Reël met hom om ’n motor of ’n bakkie of ’n kombi te huur – volgens jou behoeftes – om mee plaas toe te kom.”
“Dankie,” sê Rothea formeel. “Ek dink nie dit sal vir Albie belangrik wees of sy oom op die plaas is of nie, wanneer ons aankom nie.”
“Ek stem saam, maar ek belowe nogtans Albie sal voorkeur kry bo ’n saketransaksie.”
Belangrik vir Albie om ’n bekende gesig te sien – of vir háár – dat Dieter daar sal wees om hulle te ontvang? wonder Rothea. Sy weet daar is ander reëlings om te tref en honderd-en-een vrae wat sy Dieter behoort te vra, maar sy kan aan geeneen dink nie.
“Schloss Hoffnung is miskien nie Utopia nie, maar daar is meer as blêrende lammers, kreunende windpompe en sandduine,” sê Dieter. “Ons het die somer goeie reën gehad. Die veld is mooi en die damme is vol.”
“Hardapdam is daar naby, nie waar nie?”
“Ja, met ’n natuurreservaat en ’n groot verskeidenheid wild en watervoëls. ’n Mens kan ’n boot huur, waterski of visvang. Sal ’n nabye vakansieoord tot Schloss Hoffnung se draaglikheid bydra?”
“Aan my maak dit geen verskil nie. Ek gaan daarheen om te werk. Dis vir Albie wat jy van die bokke en voëls en bote moet vertel.”
“Hy sal die hoenders en swembad op die plaas verkies.” Dieter is onverwags geamuseerd. “Ons onthaal dikwels, maar jy sal die teësinnigste gas wees wat al ooit op Hoffnung gekuier het. Ek hoop jy sal binne die eerste dag tot ander insigte kom en die rus geniet.”
“Ek sal probeer.”
Die glimlag op Dieter se gesig verdwyn om hom somber te laat lyk.
“Miskien moet ek jou voorberei, Rothea, dat dit – veral in die begin – nié ’n vakansie sal wees nie. Soos jy opgemerk het, is my moeder nie meer jonk nie. En soos jy weet, is sy nie gesond nie. Haar verstand is nie te alle tye helder nie en sy leef soms in die verlede, wanneer sy teen Ernst uitvaar en hom van dinge beskuldig wat liewer verswyg moet word. Sommige dae aanvaar sy dat Ernst weggegaan het en nie met Ilse getrou het nie, ander kere is sy verbitterd teenoor hom en Barbara. Wat jou betref – ek is eerlik wanneer ek sê jy sal nie met oop arms ontvang word nie. Albie is welkom, maar nie sy ma se suster nie.”
“Ek begryp.”
“Maak ek die situasie duidelik genoeg? En is jy bereid om in sulke omstandighede saam met Albie te kom?”
Dit gaan om meer as slegs Albie, besef Rothea met ’n sinkende gevoel in haar binneste. Sy ken die man skaars. Sy het hom maar Vrydagaand die eerste keer ontmoet en dis skaars agt-en-veertig ure gelede, waarvan hulle die helfte geslaap en die helfte gestry het. Tussenin het hy haar skaars raakgesien en sy glo nie hy sal eers onthou watter kleur oë sy het nie. Tog, hoewel dit onsinnig is en sy dit nie wil erken nie, selfs nie eens teenoor haarself nie, sou sy nie so geredelik ingewillig het om plaas toe te gaan as sy nie geweet het Dieter Richter sal ook daar wees nie.
Rothea is bang haar gesig is weer ’n spieëlbeeld vir haar gedagtes. Sy kyk af na haar skoot. “Ja, ek is bereid.”
“Terwyl ons hieroor praat, moet ek Ilse miskien ook noem. Ek het mos verduidelik sy kuier dikwels op die plaas ...”
Dieter se stem is anders as toe hy van sy ma gepraat het. Soos toe hy gesê het: Ilse is ’n pragtige meisie, verfynd en sensitief. Die sinkende gevoel in Rothea se binneste word ’n loodswaar gewig in haar hart terwyl sy wonder: Vir wie kom Ilse Bauer kuier? Die ma? Carl? Of ... vir Dieter?
Rothea is verbaas oor hoeveel die antwoorde op haar vrae saak maak. Ilse is van Duitse afkoms en die twee gesinne is jare lange huisvriende. Die meisie ken Dieter dus goed. En Dieter het beklemtoon dat Ernst haar swak behandel het en hoe jammer hy vir arme Ilse voel. Jammer? herhaal Rothea teenoor haarself. Of strek Dieter se gevoel vir Ilse Bauer verder as jammerte en vriendskap?
“Sy is soos ’n eie dogter in julle huis,” voeg Rothea by.
Dieter knik. “Daarom is dit onvermydelik dat jy en Ilse by mekaar sal uitkom. Dis te begrype dat sy ’n grief teen jou suster koester. Barbara was die oorsaak dat haar verlowing verbreek is en dat Ernst nie met haar getrou het nie.”
“En ek is Barbara se identiese tweelingsuster?”
Dieter haal sy skouers hulpeloos op. “Ek weet nie hoe Ilse teenoor jou sal optree nie. Ek het net gedink dis miskien billik om jou vooraf te waarsku.”
“Dankie.” Rothea dwing ’n dapper glimlag na vore. “Daniël in die leeukuil? Of steek ek my kop in ’n bynes?”
“Albei. Solank jy voorbereid en vooraf gewaarsku is ... Dan sien ons mekaar oor drie weke op Schloss Hoffnung?”
4
“Het jy alles, hartjie?”