'n Uur van lig. Nina Smit
hulle sal benadeel nie.
“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang …” nooi die skrywer van die Hebrëerboek (Hebreërs 4:16). Jesus het sy lewe gegee om dié uitnodiging vir jou te verdien. Moenie huiwer om die uitnodiging aan te neem nie – dit is vandag steeds aan jou persoonlike adres gerig.
Here Jesus, ek wil al die eer aan U bring omdat U soveel méér as wat ek bid of dink vir my gee wanneer ek dit in gebed van U vra. Baie dankie hiervoor! Amen.
Gebed
Gebed
Hemelse Vader, Ek loof U vir die wonder van gebed: vir die voorreg om elkeen van my wense en begeertes met groot vrymoedigheid na u genadetroon te mag bring omdat U my beloof het dat U my gebede hoor en verhoor, mits dit in ooreenstemming met u wil is. Baie dankie dat U elke oomblik van elke dag vir my beskikbaar is. Leer my om eers stil te word voordat ek met U praat om net op U te fokus en fyn te luister totdat ek u Stem kan hoor … Ek wil voor U neerbuig en U aanbid; U loof vir Wie U is en vir wat U vir my doen; U dank vir elkeen van die baie seëninge wat U so oorvloedig oor my uitstort. Ek weet dat my gesprekke met U my ver-ander sodat ek al hoe nader aan U sal kom, U al hoe beter sal leer ken, en al hoe meer soos U sal word. Dankie dat ek mag bid wanneer ek swaar kry, en as ek hartseer of bekommerd is, met die seker wete dat Ú van al my probleme weet en my daarmee sal help. Ek wil U raadpleeg voordat ek enige besluite neem en elke dag u leiding volg. Dis wonderlik om te weet dat U Self by my teenwoordig is wanneer ek kniel om te bid; dat U u opstandingskrag tot my beskikking stel en nog veel méér vir my wil gee as waarvoor ek bid of aan dink. Heilige Gees, leer U my Self om te bid soos God wil hê, en neem dan my stamelende gebede reguit na God se genadetroon toe.
Amen.
Februarie: Leer om God te loof!
FEBRUARIE: LEER OM GOD TE LOOF!
Dit is God se wil dat sy kinders Hom sal loof – maar soms sukkel ons om dit reg te kry; die meeste van die tyd weet ons ook nie regtig wáárvoor ons God moet loof nie.
Die Boodskap se vertaling van Psalm 102:22 lui: “Oral waar mense Hom aanbid, sal die Here geprys word.” Voordat ons nie die geheim ontdek het hóé ons die Here behoort te loof nie, sal ons bly sukkel om Hom te aanbid. En voordat ons God na behore kan prys, moet ons weet Wie Hy is en besef wat Hy vir ons doen. God openbaar Hom in sy Woord. In die Bybel kry ons verskillende name van God. Hoe meer van hierdie name ons leer ken, hoe meer raak ons bewus van die eienskappe van God en hoe beter weet ons waarvoor ons Hom kan loof.
In die maand wat voorlê gaan ons tyd maak om regtig te verstaan Wie God is, opnuut ontdek wat Hy alles vir ons doen en van voor af leer om Hom daarvoor te loof.
1 Februarie – Loof God vir sy liefde
1 FEBRUARIE
Lees: 1 Johannes 4:7–21
Loof God vir sy liefde
Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. – 1 Johannes 4:9–10
Net soos ’n swanger vrou haar baba liefhet nog vóór sy geboorte, het God ons liefgehad nog voordat Hy die wêreld gemaak het. Hy kan as ’t ware nie anders nie, want God is liefde. Selfs wanneer ons soos Israel van ouds Hom by geleentheid in die steek laat, brand sy liefdesvlam vir ons steeds so hoog dat niks dit kan uitblus nie. Liefde wek altyd wederliefde. Die inisiatief van liefde kom áltyd eerste van God. Hy het ons éérste liefgehad, skryf Johannes, en daarom het ons Hóm ook lief. En God bewys hierdie liefde deur vir ons sy enigste Seun na die wêreld te stuur om in ons plek aan die kruis te sterf, sodat ons, as ons in Hom glo, eendag vir altyd mag lewe.
Die heel eerste eienskap van God waarvoor jy Hom behoort te loof is dus sy liefde vir jou. Máár hierdie liefde eis ’n verantwoordelikheid van jou: soos God jou liefhet, verwag Hy van jou om ánder mense lief te hê. Onmoontlik soos dit mag klink, sal God dit vir jou moontlik maak deur sy Gees wat in jou woon.
Here God, ek loof U vir u grenslose, onverklaarbare liefde vir my; daardie liefde wat Jesus vir my aan die kruis kom demonstreer het. Maak dit vir my moontlik om ánder mense ook so lief te hê. Amen.
2 Februarie – Dimensies van die liefde
2 FEBRUARIE
Lees: Psalm 103:8–13
Dimensies van die liefde
… so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. – Psalm 103:11–12
God se liefde vir ons is eindeloos. Dit is so groot as die afstand tussen hemel en aarde. As bevestiging van hierdie liefde onderneem God om ons sondes van ons te verwyder so ver as wat die ooste van die weste is – weer eens ’n afstand wat nie gemeet kan word nie! Ons kan God se liefde nooit met ons menseverstand begryp nie, maar ons kán en behoort Hom te loof vir die onmeetlike dimensies van sy liefde vir ons. God se liefde vir ons is onbeperk, onvoorwaardelik en volmaak. Henri Nouwen skryf dat die volmaakte liefde van ons hemelse Vader die liefde van ’n pa en ma vir hul kinders oortref.* Ons kan aan die twee hande van God wat ons omhels, dink as ’n pa en ’n ma se hande: een vertroetel, vertroos en beur op; die ander ondersteun, moedig aan en bemagtig.
Gebruik gerus Nouwen se pragtige beeld van God se liefde wanneer jy Hom vir sy liefde vir jou loof. Loof Hom dat sy liefde vir jou jou in alle omstandighede sal vertroetel, vertroos en opbeur. Prys Hom dat sy liefde jou élke dag ondersteun, aanmoedig en bemagtig. Met só ’n allesomvattende liefde wat elke dag tot jou beskikking is, hoef jy nooit weer alleen te voel nie.
Hemelse Vader, ek loof U vir u onmeetlike liefde vir my – dankie dat u liefde my elke oomblik vertroos en opbeur, dat dit my aanmoedig en ondersteun elke keer as ek dit nodig mag hê. Amen.
* H Nouwen, The Way of the Heart
3 Februarie – God se liefde in jou hart
3 FEBRUARIE
Lees: Romeine 5:1–11
God se liefde in jou hart
… en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. – Romeine 5:5
God se liefde is nie maar net een van sy eienskappe waarvoor jy Hom behoort te loof nie. Hy wil dit ook aan jou gee. As jy in Jesus glo, ontvang jy die Heilige Gees. En saam met die Heilige Gees kom God se liefde jou lewe binne. Hierdie liefde maak dat jy algaande meer en meer soos Jesus word. Jy deel mos reeds in Jesus se heel belangrikste eienskap: sy liefde en deernis vir ander! Omdat God sy liefde deur sy Heilige Gees in jou hart uitgestort het, kan jy dit nou selfs regkry om bly te wees oor die swaarkrytye in jou lewe. Hierdie swaarkry kweek immers volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop, en hierdie hoop be-skaam nooit – juis ómdat jy met God se liefde in jou hart leef (vgl Romeine 5:3–5).
As jy aan God behoort, hét jy reeds sy liefde in jou hart. Hiervoor kan jy Hom nooit genoeg loof nie. Maar hierdie liefde mag jy nie vir jouself hou nie. Jy behoort jou bes te doen om God se liefde op elke terrein van jou lewe sigbaar te laat word en dit op elke moontlike manier aan ander mense deur te gee.
Loof God vir sy liefde in jou hart en vra Hom om jou te wys hoe jy hierdie liefde kan uitleef in alles wat jy doen.
Heilige Gees, ek loof U dat U reeds God se liefde in my hart uitgestort het. Wys my hoe ek moet leef sodat ek hierdie liefde kan deurgee na elke mens met wie ek in aanraking kom. Amen.
4 Februarie – Loof God vir sy skepping
4 FEBRUARIE
Lees: Genesis 1:1–31
Loof