'n Vonk van liefde. Christine le Roux
Christine le Roux
’n Vonk van liefde
HUMAN & ROUSSEAU
Hoofstuk een
Hoofstuk een
Danielle Steyn sit by die kombuistafel. Roerloos, met haar rug teen die harde dwarshout van die stoel, sit sy na haar hande en kyk. Sy sit al ure daar, maar sy is te moeg om op te staan en te gaan slaap.
Sy het nie die krag om so ’n beslissing te maak nie. Solank sy bly sit, hoef sy niks te doen nie, geen besluit te neem nie. Dis net haar gedagtes wat al in die rondte jaag, eers in ’n klein sirkel en dan, wanneer dit onhoudbaar word, in ’n groter sirkel waarvan sy wegskram, omdat dit te vaag is.
In die klein sirkel is daar net drie woorde: Danie is dood. Sy sê dit oor en oor vir haarself; die woorde jaag mekaar sodat dit ’n ineengestrengelde sin word wat nooit ophou nie. Die halfgedrinkte koppie koffie voor haar is lankal koud. Die vloeistof lyk geskif; witterige vlekke dryf op die donkerder koffie. Sy vryf oor haar vingers, ’n handeling waarvan sy nie eens bewus is nie. Nog minder is sy bewus van die koue, alhoewel sy van tyd tot tyd aan die swart moue van haar trui trek, asof dit sal help, asof dit haar sal warmer maak.
Sy weet sy behoort te eet; die yskas is vol bakke kos wat vriende en bure gebring het, elke skottel mooi verseël.
“Jy hoef dit net op te warm,” het ’n stem simpatiek gesê.
“Jy moet sorg dat jy genoeg eet,” het iemand anders gesê.
“Sal jy ons bel as jy ons nodig het? Ons is altyd hier,” het nog iemand anders gesê.
Soveel stemme, soveel mense. Die huis het gedreun daarvan. Uit die sitkamer kom die reuk van blomme, al die blomme wat mense gestuur of gebring het, party nog in sellofaan verseël. Wanneer sy aan die stemme dink, ontsnap sy ’n paar oomblikke uit die klein sirkel in haar kop.
“Jy is nog jonk, jy kan ’n nuwe lewe begin.”
“Ten minste het jy iets om voor te leef, iemand wat jou baie nodig gaan hê.”
“Danie het so ’n goeie posisie beklee, hy sou jou goed versorg nagelaat het.”
Hulle het nie vir Danie geken nie – nie soos sy hom geken het nie. Hulle is aan mekaar voorgestel op haar tante se silwerbruilof en die enigste rede was hulle name.
“Danie, dis Danielle. Ek weet julle gaan van mekaar hou.”
Almal het daaroor gelag. Danie en Danielle. Die manlike en vroulike vorme van dieselfde naam. Sy was nie op soek na ’n man nie. Om die waarheid te sê, het sy al begin dink daar is iets verkeerd met haar omdat sy so min belang stel in romanse. As sekretaresse van ’n belangrike man het sy ’n goeie loopbaan gehad. Sy het wel uitgegaan, maar nooit betrokke geraak nie.
“Danie, dis Danielle. Ek weet julle gaan van mekaar hou.”
Dit eggo deur haar kop. Dit vorm ’n effense wyer sirkel, nuwe woorde wat mekaar deur haar kop jaag.
Hy was aantreklik, maar dit was nie wat haar getref het nie. Dit was sy bruisende, allesoorweldigende lewenslus. Hy was nie ernstig soos die ander mans wat sy geken het nie. Die lewe was vir hom ’n avontuur, hy soos ’n triomfantlike seerower op sy skip altyd op soek na iets nuuts om te verower. Dit het sy nie daardie dag al geweet nie. Sy het net begin gesels, saamgelag oor hulle name, saam haar glas in ’n heildronk gelig op haar oom en tante. Sy het help koek ronddra en gesels met al die familie. Sy het taai handjies afgevee toe niggies en nefies klaar geëet het, en toe Danie sê: “Kom, ek neem jou huis toe,” het sy gegaan.
Ses weke later het hulle bruilof gehou, was die familie weer bymekaar, het almal weer hulle glase gelig in ’n heildronk, maar dié keer op haar en hom. Dit was steeds warm, sy het weer gevoel asof haar wange aan die brand is en die geure was dieselfde: parfuum en blomme, koek en wyn.
“Ek het hulle aan mekaar voorgestel,” het haar oom in sy toespraak gesê. “Ek voel soos Cupido.”
Cissie, haar niggie wat al die pad uit die Karoo gekom het vir die troue, het haar help uittrek en die mooi trourok versigtig opgehang, die sluier in sy kartondoos neergelê.
“Ek is só bly jy het jou ander helfte gevind,” het sy gesê. “En julle het belowe om gou te kom kuier. Dis stil op die plaas; ek is uitgehonger vir geselskap.”
Danielle was ses-en-twintig jaar oud. Sy het geweet almal was verlig dat sy ’n man gekry het. As jong meisies was sy en Cissie baie na aan mekaar, meer soos susters as niggies. Hulle het mekaar se vreugdes en teleurstellings gedeel. Danielle moes altyd luister wanneer Cissie vir die hoeveelste keer verlief geraak het. Sy self het ’n alleenloper gebly. Mansvriende was aangename geselskap, niks meer nie.
“As jy die dag jou hart verloor, gaan dit jou onderstebo slaan,” het Cissie voorspel. “Jy het te min ondervinding. Kyk net na my.”
Sy het gelag – dit was kort ná haar verlowing en sy het gestraal. “Na al die lang, aantreklike helde het ek verlief geraak op ’n kort, vierkantige boer wat al bles word. En ek dink hy is die wonderlikste ding op aarde. Ek wil saam met hom skape tel en agter die ploeg aanloop.”
Dis hoe sy oor Danie gevoel het. Nie dat hy ’n boer was nie, maar sy sou ook alles vir hom prysgegee het. Daarom dat die wittebroodsvakansie so idillies was. Dit was asof sy nooit wakker geword het nie, asof sy drie weke lank verdoof was, te gelukkig om kennis te neem van die wêreld om hulle.
Danielle staan stram op en druk haar hand teen haar rug wat lam voel. Sy skakel die ketel aan, maak vars koffie en gaan sit weer by die tafel. Die klein, koue kombuis is op die oomblik die enigste veilige plek. As sy sou opstaan, deur die huis sou loop, na die slaapkamer sou gaan, sal die werklikheid toeslaan, sal sy besluite moet neem en daarvoor sien sy nie kans nie.
Maar die koue het uit die kombuisvloer in haar bene ingetrek. Sy staan weer op, haak die voorskoot agter die deur af en drapeer dit oor haar bene toe sy weer gaan sit en begin drink aan die warm koffie.
Danie het hierdie huis gekoop net na hulle wittebroodsvakansie. Dit was eenvoudig, nie baie groot nie en hy was ontevrede daaroor. Hy wou iets deftigers gehad het, iets waarmee hy by sy vriende kon spog, maar sy was ferm.
“Dis al wat ons kan bekostig. Soos dit is, gaan die maandelikse terugbetaling ons druk. Jy het dan ’n nuwe motor ook gekoop!”
Sy sou tevrede gewees het met ’n woonstel, hare of syne. Dit was net hulle twee. Sy het gevoel hulle moet spaar totdat hulle meer geld het voordat hulle ’n huis koop. Maar Danie was nie so nie. Hy het gehou van nuwe goed. ’n Nuwe vrou, ’n nuwe motor, ’n nuwe huis. En binne maande het sy uitgevind dat sy belangstelling in en entoesiasme oor nuwe goed vinnig verflou. ’n Paaiement wat elke maand betaal moet word, het hom bedruk, hy wou nie daarvan weet nie; hy was reeds besig om opgewonde te raak oor die volgende aankoop. Sy het gedink sy sou haar salaris kon spaar en ’n neseier ophou vir die dag wanneer sy moes ophou werk, maar haar geld is gebruik om hulle van bankrotskap te red. As sy nie al die skuld betaal het nie, was hulle uit op straat.
Dis iets waaroor sy nagte wakker gelê het. “Ons moet praat,” het sy een aand gesê. “Ons kan nie so aangaan nie, Danie. Ek kan nie byhou nie.” Sy wou hom nie kritiseer nie. Hulle was nog nie eens ’n jaar getroud nie en sy was lief vir hom. “Jy sal meer verantwoordelik moet begin optree. Ek kan nie die finansiële las alleen dra nie.”
Hy het kwaad geword, soos sy verwag het. “Ek haat ’n gesanik oor geld! Ons word nou nes al die ander paartjies. Geld, geld, geld! Dis die ondergang van elke huwelik.”
“Nie as ons albei oordeelkundig werk nie,” het sy gepaai en na sy hand gevat om te wys dis ’n gedeelde probleem; sy wil saam met hom daaraan werk.
Hy het sy hand weggeruk. “Jy het voorstedelik geword,” het hy haar toegesnou. “Jy’s nou nes al die ander vrouens.”
Sy het stilgebly, haar baas om ’n verhoging gevra en voortgegaan. Hy het ’n goeie werk gehad en sy salaris sou voldoende