'n Vonk van liefde. Christine le Roux
dit iemand anders. Dit is iemand wat lankal vertrek het, oor wie sy ’n jaar gelede al ophou treur het.
“Ek dink jy is net die regte meisie om Danie te tem,” het een van sy tantes op die troue gesê.
Sy het gelag. Wat het die vrou bedoel? Sy was omring van blomme, die wasigheid van haar sluier. Danie het langs haar gestaan, sy hand besitlik om haar middellyf, al was hy besig om met iemand anders te praat.
“Ek kan sien jy is volwasse en nugter,” het die tante voortgegaan. “Dis wat hy nodig het. Sy ouers het hom bederf, hy het begin glo die wêreld bestaan net uit plesier.”
Danielle was bly Danie het dit nie gehoor nie, maar ses maande later het sy geweet wat die tante bedoel het. Sy het ook geweet dat sy gefaal het; dat sy nie toegerus was daarvoor om ’n dertigjarige man groot te maak nie. Sy onthou net dat sy van een dag na die volgende verander het. Die skille het van haar oë afgeval. Wat ’n raak spreekwoord, dink sy nou waar sy op die vloer sit. Sy was blind; daar was figuurlik skille oor haar oë, en meteens het dit afgeval. Sy kon weer helder sien.
“Jy is te ernstig,” het hy haar verwyt. “Môre sal vir homself sorg. Jy moet leef vir vandag.”
“Ek kan nie,” het sy erken. Sy het probeer en gesien dis onmoontlik. Sy het anders grootgeword, sy het ander waardes gehad. Haar pa is dood toe sy op hoërskool was – ’n hartaanval. Toe sy die aand gaan slaap het, was hy nog daar. Sy het haar huiswerk klaargemaak, hom nag gesoen soos altyd, en gaan slaap. Toe sy wakker word, was daar vreemde mense in die huis en ’n ambulans voor die deur.
“In sy slaap,” het haar ma gesnik. “Toe ek wakker word, was hy al koud.”
Miskien was dit daar waar die verandering ingetree het, is dit waar haar verantwoordelikheidsin ontstaan het. Haar ma was verpletterd, drywend. Sy kon geen besluite neem nie. Sy, Danielle, moes vir alles sorg. Sy het die predikant te woord gestaan, by die begrafnis haar ma ondersteun en in die maande en jare daarna het sy net al meer en meer op haar jong skouers geneem. Haar pa het hulle goed nagelaat, maar haar ma kon geen besluit neem nie. Alles was te veel vir haar. Danielle het elke maand die rekeninge betaal.
Sy is ingeroep wanneer die prokureur oor die bereddering van die boedel kom praat het. Sy onthou nou nog hoe sy tydens haar matriekeksamen moes onderhandel met die man wat die dak reggemaak en nuwe geute aangesit het. Haar ma het vinnig verouder; toe Danielle haar sekretariële kursus begin het, het haar ma gekla sy is te alleen, sy wil die huis verkoop. Weer eens het sy alles gereël, vir haar ma ’n woonstel gekoop in ’n kompleks vir bejaarde mense. Dis waar sy nou nog woon, veilig en afgesonder van die werklikheid, omring van weduwees wie se lewens ewe beperk is, gelukkig en tevrede. As daar ’n probleem opduik, soos ’n rekening wat sy nie verstaan nie, bel sy vir Danielle.
Miskien omdat haar ma so hulpeloos was, het Danielle prakties geword. In die jare voordat sy vir Danie ontmoet het, was haar lewe georden. Sy het ’n begroting gehad en daarvolgens geleef. Sy het nooit geld gemors nie: as sy iets gekoop het, was dit duursaam en nodig. Selfs met klere het sy nie soos haar vriendinne elke nuwe modegier slaafs nagevolg nie. Sy het min gekoop, maar elke kledingstuk was duursaam en elegant, sy kon dit jaar na jaar dra. Wanneer sy nou na haar kas kyk, is sy bly hieroor.
Waarom het sy dan met Danie getrou? Waarom het sy so vinnig getrou? As hulle ses maande verloof was, sou sy besef het hoe hy regtig was. Dan kon sy betyds kop uitgetrek het en was sy nie nou in so ’n penarie nie.
Sy het haar ma gebel en vertel van haar planne. Haar ma was bly dat sy so na aan Cissie sou wees, maar neulerig omdat Danielle so ver weggaan.
“Hoekom kan jy nie in die huis aanbly nie?” wou sy weet. “Ek sien uit na jou kuiertjies elke naweek.”
“Dis nie moontlik nie. Ek werk nie meer nie en daar is baie skuld. Ek moet die huis verkoop.”
Sy kon hoor haar ma verstaan dit nie. In haar ma se oë is daar geen probleem wat haar dogter nie kan oplos nie.
“Ek sal skryf,” het sy belowe. “En bel.” Toe sy die gehoorstuk neersit, het sy besef dat haar ma nooit gevra het hoe dit met haar gaan nie. Sy wou weet hoe die swangerskap vorder, sy het opgewonde vertel van al die truitjies en kombersies wat sy vir haar eerste kleinkind brei, maar sy het nooit gevra hoe dit regtig met Danielle gaan nie. Al wat sy gesê het, was: “Nou weet jy hoe swaar dit is om ’n weduwee te wees.”
Nee, wou sy sê, ek weet nie. Pappa was lief vir Ma tot hy dood is. Hoe rou ’n mens as jy lankal niks meer voel nie?
Hoofstuk drie
Hoofstuk drie
Neil Greyling fluit ’n toonlose deuntjie terwyl hy deur die verkeer vleg. Hy is bly, soos elke keer wanneer hy in die stad kom, dat hy nie permanent hier hoef te bly nie. Dit sal hom mal maak. Hy kyk na die ander motoriste – dit lyk nie asof dit hulle pla nie. Party sit en tik met hulle vingers op die stuurwiel, ander staar onsiende en ingedagte deur die ruit terwyl hulle wag vir die verkeerslig om te verander.
Hy was net ’n paar dae hier en hy kan nie wag om terug te kom op die plaas nie. In die hotel waar hy tuisgegaan het, het hy verstom voor die venster gestaan en afkyk na die verkeer, die nimmereindigende lawaai van motors en sirenes. Die sonsondergang het vir hom besoedel gelyk, asof hy daarna kyk deur ’n gordyn van uitlaatgasse en rook.
“Koop vir my iets moois in die stad,” het sy vriendin Mieke vir hom gesê.
“Wat?” wou hy weet. “Ek weet nie wat jy wil hê nie en ek gaan nie veel tyd hê om in die winkels rond te loop nie.”
“Iets om te dra,” het sy gesê. “Toe, man, ek was maande laas in die stad. Koop vir my iets moois.”
Hy het moedeloos deur die winkels geloop. Hy was seker al die verkoopsdames staar na hom en wonder wat hy daar maak. Om vir homself klere te koop, is moeilik genoeg en iets wat hy so vinnig moontlik doen. Binne tien minute het hy vir homself hemde, sokkies, ’n nuwe trui en ’n lekker leerbaadjie bymekaargeraap en daarvoor betaal, maar om te besluit wat vir Mieke mooi sal wees, was ’n byna onbegonne taak. Hy het dit amper oorweeg om mevrou Steyn te bel en te vra of sy dit nie vir hom wil doen nie. ’n Ander vrou sal ten minste weet wat nou mode is en wat nie. Maar haar stem was so ontegemoetkomend oor die telefoon toe hy afgespreek het wanneer om haar te ontmoet, dat hy dit liewer nie gedoen het nie.
Die verkeerslig verander en hy ry weer.
Hy hoop die vrou gaan suksesvol wees. Na die fiasko van die afgelope maande sedert sy ma se dood, was hy min of meer gereed om die gastehuis toe te sluit en van die hele onderneming te vergeet. Die vrou wat waargeneem het, het klaarblyklik gedink sy kan heeldag op haar bed lê en lees. Sy het nie gesorg dat kos gekoop word nie, sy het nie toesig gehou oor die werkers nie. Alles het verval. Toe een egpaar – gereelde gaste wat jaarliks ’n week lank in die winter kom – toevallig noem dat hulle beddens nooit opgemaak is nie en dat hulle ’n week lank met dieselfde handdoeke moes klaarkom, het hy mevrou Delport ingeroep en gesê hulle het haar dienste nie meer nodig nie. Onder sy ma se bekwame leiding het alles glad verloop. Daar was elke dag vars blomme in die eetkamer en die versorging van die gaste was haar prioriteit.
Neil tuur na die straatname en ry stadiger. In hierdie voorstad loop die strate nie parallel nie, maar waaier uit soos die speke van ’n wiel. Hy probeer onthou wat mevrou Steyn gesê het. As sy Cissie se niggie is, kan sy nie te sleg wees nie, het hy besluit toe Cissie van haar vertel het. Cissie is een van die knapste boervrouens in die distrik. Toe Piet met die stadsmeisie op die plaas aangekom het, was almal skepties, maar sy het vinnig bewys dat daar niks is wat sy nie kan leer nie. Nou wen haar ingelegde vrugte en groente pryse op die landbouskou, sy kan biltong maak en vleis bewerk, sy voorsien die tuisnywerheid op die dorp van beskuit en gebak.
“Danielle is die regte mens,” het sy vir hom gesê. “Ek weet dit net. En sy moet wegkom uit die stad. Haar huwelik was nie so idillies soos almal aan die begin gedink het nie. Hy het hulle geld gemors en nou is sy alleen en verwagtend.” Meer wou sy nie sê nie en hy het ook nie uitgevra nie. Die swangerskap is natuurlik ’n komplikasie, maar hy is bereid om filosofies te wees. Hy hou van kinders – om