Môre lê ver. Ena Murray
was, het sy besluit wat haar optrede teenoor die nuwe plaasbestuurder sal wees. Sy sal hom koel uit die hoogte groet en met haar houding goed laat verstaan waar sy plek is. En nou is hy nie eens hier nie!
“Waar is Paps se voorman dan?” vra sy ongeërg en begin vir haar tee skink.
Haar pa frons effens en kyk haar tersluiks aan. Snaaks, hy kry die gevoel dat sy dogter nie van die nuwe man hou nie. “Jy bedoel my nuwe bestuurder?”
Sy begin haar tee roer. “Is daar ’n verskil?”
Hy frons nou dieper. “Jy weet ek hou nie van daardie benaming ‘voorman’ nie, Tania. Rocco Roux is in elk geval ’n volbloed bestuurder. Ek laat die bestuur van die hele plaas net so in sy hande, kwalik ’n voorman se werk.”
Sy frons ook nou, maar ontwyk haar pa se oë. “Is dit so verstandig, Paps? Hy is ’n vreemdeling, al hemel sy getuigskrifte hom hoe hoog op.”
Bertus Erasmus glimlag effens. “Daar is geen getuigskrifte nie.” Hy sien sy dogter se verbaasde blik. “Soos jy so pas gesê het, kan ’n mens nie altyd op getuigskrifte reken nie. As elke getuigskrif wat gegee word die waarheid en niks anders as die volle waarheid vertel nie, is daar nie slegte mense op aarde nie – en ons albei weet dis nie die geval nie. Ek het my nog nooit baie aan getuigskrifte gesteur nie. Hierdie man het bloot net ’n brief aan my geskryf en die bewyse van sy kwalifikasies ingesluit en sy telefoonnommer verstrek indien ek hom sou wou bel. Hy was die enigste onder die talle aansoeke wat ek ontvang het wat geen getuigskrifte en lofliedere oor homself ingesluit het nie. Ek het hom gebel en dadelik van die man se stem gehou.”
“Paps! Maar jy kan nie sommer ’n man in so ’n belangrike pos aanstel net omdat sy stem oor die telefoon jou beïndruk nie!”
Haar pa glimlag. “My liewe kind, ek beroem my op ’n klein bietjie mensekennis en oordeel. As ek dit nie gehad het nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek is nie. My werknemers wat ek in die verlede aangestel het, het ek verkieslik nog altyd volgens my eie persoonlike indrukke aangestel, liewer as om getuigskrifte te lees. Ek het my nog baie selde misgis. Ek is ook oortuig dat ek in hierdie geval nie verkeerd geoordeel het nie. Ons het netnou die plaas so ’n bietjie deurgery en ek is oortuig dat Rocco sy boerdery ken.”
“Dis nie te sê dat hy betroubaar is nie,” hou sy dogter koppig vol, en haar pa se wenkbroue lig.
As dit nie belaglik sou klink nie, sou hy amper wil dink dat Tania doelbewus iets aan die soek is om teen die nuwe plaasbestuurder in te bring. Maar sy ken die man nie eens nie!
Hy kyk met groter aandag na haar. Sy lyk glad nie stralend gelukkig soos sy behoort te lyk nie. Sy kommer verdiep. Niemand weet hoe hy hom oor hierdie dogter van hom bekommer nie. Sedert sy vrou twee jaar gelede oorlede is, het hy sy bes gedoen om nie te oorbeskermend teenoor haar te wees nie.
Hy het vroeër nooit enige bekommernis oor Tania gehad nie. Hy het geglo dat sy kind reg grootgemaak is en dat sy, ten spyte daarvan dat sy as rykmansdogter grootgeword het, in haar wese opreg en kerngesond was. Dis eers sedert haar ma se dood dat Bertus Erasmus kommer begin ondervind het. Dis nie dat Tania heeltemal ledig is nie. Sy help hom baie met sy korrespondensie en so meer, maar sy is nie gebonde nie, en dis of hy die afgelope twee jaar ’n rusteloosheid by sy kind begin opmerk het. Dis of sy aan die rondval is, aan die rondsoek na iets sonder om dit op ’n bepaalde naam te kan noem.
Daar is byvoorbeeld haar twee vorige verbreekte verlowings. Hy het hom reeds jare gelede, toe sy nog ’n kind was, voorgeneem dat hy haar nooit sal probeer beïnvloed in die keuse van ’n lewensmaat nie. Albei vorige twee kere het hy vaag onrustig gevoel, en dit het later tog geblyk dat sy onrus gegrond was. In albei gevalle het dit duidelik geword dat hierdie jong mans meer belanggestel het in wat hulle uit ’n miljoenêrskoonpa sou kon kry as in wat hulle eintlik aan die dogter het.
Ook hierdie derde verlowing van Tania stem hom nie gelukkig nie, hoewel hy sy bes doen om haar dit nie te laat agterkom nie. Op die oog af is Ewald Serfontein ’n oulike jong man wat, te oordeel na die uiterlike, al ver gekom het vir sy jare. Hy is die eienaar van ’n hele reeks motelle langs die kus, en staan onder sy vriende bekend as die “motelkoning”. Hy het nog nie juis kans gehad om sy aanstaande skoonseun goed te leer ken nie. Daarvoor is hy self, asook Ewald, te bedrywig. Maar tog is daar iets wat al bly hinder.
Hy bekyk weer sy dogter tersluiks. Miskien is dit Tania self wat hom hinder. Hy kan nie van die gevoel ontslae raak dat sy hierdie keer maar net sommer verloof geraak het sonder om werklik verlief te wees nie. Tania se vriendinne, wat hoofsaaklik uit haar skooldae dateer, het die afgelope tyd die een na die ander in die huwelik getree. Hy het ’n nare gevoel dat sy dogter se derde verlowing sommer net plaasgevind het om in pas met die res te bly.
Nie dat Tania nie kan kies en keur nie. Dis miskien juis die probleem. Haar vriendinne, minder ryk en minder aantreklik, het nie so ’n wye keuse gehad nie. Daarom was dit vir hulle makliker, maar sodra jy alles of almal kan kry, word die keuse moeiliker, soms só moeilik dat jy op die ou end geen keuse het nie. Hy is bevrees dis nou wat met sy kind gebeur.
Sy blik dwaal weg oor die oop, ruim grasperke voor hom.
Die indruk is altyd daar dat dit fantasties moet wees om so ’n oorvloed aan besittings te hê. Die indruk bly totdat jy die dag miskien ontdek dat jy een van daardie bevoorregtes is, en dan besef jy dat dit eintlik ’n wanindruk is. Want saam met aardse skatte vermeerder ook die kommer en verantwoordelikheid. Hy het hom dit nooit ten doel gestel om eendag ’n miljoenêr te word nie. Maar die een suksesvolle transaksie het tot ’n ander gelei. Dit het omvangryk geword, later omtrent buite beheer geraak. Dit het vorentoe bly rol, met elke draaislag groter en onstuitbaarder geword. Die ou spreekwoord dat geld geld maak, het vir hom waar geword.
Maar hoewel dit gerieflik is om ’n multimiljoenêr te wees, is dit beslis nie maklik nie. Oor sy sakebelange bekommer hy hom nie veel nie. Hy het net daardie inherente vermoë om te weet wat ’n goeie saketransaksie is. Hy kan aanvoel as ’n ding gesond is en of dit die moeite werd gaan wees. Nee, sy bekommernis is oor sy dogter en dat die aardse skatte wat haar pa versamel het, op die ou end nie geluk nie, maar ongeluk oor haar gaan bring – soos reeds gebeur het.
Twee keer was sy al verloof en moes sy ontdek dat dit eintlik nie om háár gaan nie. Gaan dit ’n derde keer gebeur? Hy sug diep en sy dogter se stem sny deur sy gedagtes.
“En nou, Paps? Waaroor die diep sug?”
Hy kyk na haar kant toe. “Dis oor jou, my kind.”
“Oor mý?”
“Ja. Ek het die gevoel dat jy nie gelukkig is nie. Is jy, Tanie?”
“Maar natuurlik, Paps!”
Sy blik is skerp en ondersoekend. “Dis nie so natuurlik om gelukkig te wees nie, my kind. Die teenoorgestelde is die meeste van die tyd waar. Geluk is nie iets wat vanselfsprekend daar is nie. ’n Mens moet daarvoor werk, opoffer, soms selfs tot by die punt van selfverloëning. Geluk is nie iets wat met geld gekoop kan word nie.” Sy oë pen sy dogter s’n vas. “Nie al my geld kan jou geluk koop nie, Tanie. Solank jy dit net onthou.”
Haar oë is verward. “Ek begryp nie heeltemal ...”
“Ek het al die indruk begin kry, my kind, dat jy dink dat ons besittings ons hoër stel as ander mense.” Hy glimlag skeef. “Eintlik moes ek nooit ’n miljoenêr geword het nie. Ek pas nie in by hierdie groep mense nie.”
“Paps!”
“Dis waar, Tania. Ek is op my gelukkigste tussen gewone mense. Maar jy, my kind, jy het ’n manier om deesdae op mense neer te sien wat minder as ons het.”
“Paps! Ek was nog nooit ’n snob nie!”
“Nee, nie heeltemal snobisties nie, maar die gevaar is groot dat jy een kan word.” Bertus Erasmus is ’n reguit man, en hy huiwer ook nie nou om reguit te praat nie. “Jou optrede teenoor ons nuwe plaasbestuurder, byvoorbeeld. Jy sien neer op die man, en dit staan my nie aan nie, Tania. Dis geen skande om eerlik met jou hande en liggaamskragte ’n bestaan te maak nie.”
“Dis nie ... dis nie